NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Hanru Niemand
(oorspronklik van die Paarl) is tans ’n tweedejaar-Sielkundestudent aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy hou egter vol dat enige ooreenkomste tussen laasgenoemde universiteit en “StudenteDorp” bloot toevallig is. “Die Verhale van Jacobus Grimm” is sy eerste gepubliseerde werk.
  Hanru Niemand

IV: Aankoms en landing

Die blues underground

Hanru Niemand

Dit is ’n sonskynwinterdag en die orkes speel ’n dodemars by Agent Swiegers se begrafnis. Oor sy kis is die vlag van die BeskermingDiens gedrapeer. Soos die kis laat sak word, word ’n geweersaluut deur ’n dosyn manskappe van die Artillerie Afdeling afgevuur. Hulle weet presies hoe. Hulle het dit immers geleer in die BeskermingDiens Akademie. Die res van die begrafnisgangers is almal manskappe wat saluerend hulde bring aan een van die grotes van die BeskermingDiens. (Gerugte het die ronde gedoen dat hy die volgende Senior Agent sou wees.) Nou is daar net vier Agente oor, wat stelling langs Die Sersant ingeneem het: Agente Roux, Wessels, Jonker en Coetzer. Die trane rol oor hul wange. “Die enigste troos op so ’n droewige dag,” het Die Sersant vroeër gesê, “is dat Agent Swiegers nie verniet gesterf het nie. Nee, nie verniet nie! Agent Swiegers het gesterf vir orde, vir eendrag! Orde en Eendrag in StudenteDorp! En is dit nie waarvoor die BeskermingDiens daar is nie? Agent Swiegers het dus op daardie noodlottige Woensdagaand van die verbanning van die blues sy roeping, sy taak hier in StudenteDorp, in die volledigste manier moontlik volvoer ...” Hy het ’n pouse gemaak sodat sy allemintige alliterasie by die begrafnisgangers kon insink. “ ... en so die hoogste prys betaal. Selfs dit, selfs dit, sou dalk vir ons ’n skrale troos gewees het, as dit nie was dat Agent Swiegers selfs ná sy dood, met behulp van die inligting en strategie wat hy nagelaat het, die stryd teen die blues-beweging tot voltooiing kon bring, en ’n oorwinnig aan die BeskermingDiens kon besorg nie!” ’n Kreet het onder die manskappe opgegaan, en hulle het hul swart berets in die lug opgegooi, en dit weer behendig gevang, soos hulle geleer is in die BeskermingDiens Akademie.

***

Jacobus Grimm drink moedeloos sy koffie in die StudenteSentrum. Tim Banjo is nou al vir meer as ’n week skoonveld. Ryna sê hy is nie gevange geneem nie, en hy het al al sy vriende in die Buiteland gebel om te hoor of Tim Banjo nie by hulle aangeklop het nie. Maar hy is nêrens nie. Om alles te kroon is Big Ben Blue ook skoonveld. Hy is ook nie gevange geneem nie, volgens Ryna. En sonder Big Ben Blue lyk dit asof die StudenteDorp dalk nooit weer blues gaan hoor nie. Gelukkig het Ryna dit reggekry om Rob uit die tronk te kry, sonder dat die BeskermingDiens amptelik daarvan weet, natuurlik. Hy sien hoe Ryna by die trappe afkom.

“Ek het ’n idee,” sê sy toe sy langs hom sit.

“Ja?”

“’n Ondergrondse blues-beweging.”

“’n Ondergrondse blues-beweging,” herhaal hy skepties.

“Ja, Rob is uit die tronk uit, en ’n paar ander regulars van Die Blou Barbier/The Blue Barber is ook al vry. Julle kan aanhou blues speel in ’n ondergrondse klub, en net versigtig wees dat die BeskermingDiens julle nie uitvang nie.”

“Dis beswaarlik ’n beweging.”

“Jy weet wat ek bedoel. Net aangaan soos vroeër.”

“Maar waar? Enige plek sal mens mos dadelik kan hoor as daar blues gespeel word.”

“Dis hoekom dit ondergronds moet wees. Letterlik. En ek weet van ’n versteekte kelder ’n paar blokke van Die Blou Barbier/The Blue Barber af.”

“Klink vir my fine. Ek dink jy hoef nog eintlik net met Rob te gaan gesels.”

“Nee,” sê sy. Sy roer effens verleë in haar koffie. “Ek dink nie ek moet nie.”

“Hoekom nie?”

“Ek vermoed hulle gaan my nou bietjie fyner begin dophou in die BeskermingDiens.”

“So wie dan?”

“Jy.”

“Ek?” Hy stik amper in sy koffie. “Ek ken die man skaars!”

“Hy sal jou gesig herken. Jy was mos ’n regular.”

“Maar hoe gaan ek hom in die hande kry? Hy’s voortvlugtend, net soos ek.”

“Jý’s maklik genoeg om te kry.”

“Ja, maar hy weet nie soos ek dat die BeskermingDiens-manskappe ’n klomp useless poepholle is nie.”

“Hy bly in ’n huis drie huise af in die straat van Die Blou Barbier/The Blue Barber.” Ryna is ’n bietjie geïrriteerd

“Hoe weet jy al die dinge?”

“Ek werk vir die BeskermingDiens.”

“O ja, ek bly vergeet.”

***

“She knows of a hidden cellar close by which is perfect for the purpose, apparently,” sê Jacobus Grimm in Rob se sitkamer.

“Cool and everything, but can we trust this chick?” Rob rinkel die ys in sy leë whiskeyglas. Sy oë lyk verlep.

“With your life. Besides, why would she tell us of the place? It’s not as if you could carry on without something like it, and the BeskermingDiens doesn’t want you to carry on. So what would her reason be to double cross us?”

“So you guys want me to start the thing up again?”

“Yes.”

Rob steek ’n sigaret op, en maak sy glas weer vol. Hy dink ’n rukkie na, en dan begin hy lyk soos Job sou gelyk het as ’n enkele verlore kameel aan hom terugbesorg is. Hy glimlag amper. “We can call it Die Versteekte Kelder/The Hidden Cellar.”

“Laat my weet as jy iets beplan.”

***

Agent Wessels klop senuweeagtig aan Die Sersant se kantoordeur. Hoekom sou hy hom ontbied het? Sy vertoningslys die afgelope tyd lyk tog goed. Hy hoop nie dis slegte nuus nie.

“Sit, Wessels,” sê Die Sersant gul, en Wessels ontspan merkbaar. “Ek het ’n opdrag vir jou. Ek is bekommerd oor die leemte wat gelaat word wat betref die aanbod van eietydse musiek, ná die verbanning van die blues natuurlik.” Agent Wessels knik instemmend. Darem ’n insigtelike man, Die Sersant. “In my tyd het ons na plate geluister in die rustigheid van ons eie huis, met vrugtesap byderhand vir ingeval ons dors geword het. Maar ek bly in voeling, Wessels, ek bly in voeling.” Mens moet onteenseglik altyd in voeling bly, meen Wessels, en knik goedkeurend. “Daarom het ek met ’n blink idee vorendag gekom.” ’n Man wat sy plig besef, Die Sersant. “ONS SKEP ONS EIE AANBOD,” sê hy, en hy benadruk elke woord met ’n tik van die vlieëplak op sy leerhandskoen. “Dis tog so duidelik! So maklik soos dit. Ons ontwerp ons eie idool, verkoop hom aan die mense, en hou hulle tevrede genoeg wat betref hul aanvraag na eietydse musiek, dat hulle nie maklik in opstand kom nie. Terselfdertyd kan ons gesonde waardes by hul inprent.” Soos orde en eendrag. “Ek het klaar met Cornelissen van die Navorsing Afdeling gepraat. Jy moet hom help met die insameling van inligting omtrent watter produk die beste sal werk. Dit sal ook jou werk wees om te sorg dat die mense van die idool hou. Dankie Wessels, dit sal al wees.” Agent Wessels staan op, trots dat Die Sersant soveel vertroue in hom het om so ’n groot en spesiale taak aan hom toe te vertrou. “Ja, Wessels,” sê Die Sersant net voor Agent Wessels by die deur uit is, “as jy dié een goed afhandel, kan ek myself dalk oortuig om jou te bevorder tot Senior Agent.”

Agent Ryna Roux help Agent Wessels op vanuit die Heimlich-maneuver wat hy effektief op homself toegepas het toe hy van opgewondenheid in die gange van Adminstrasie A wou bollemakiesie slaan.

“En nou, Wessels, hoekom so opgewonde? Het jou vrou jou gelos?”

“Nee, dit sal ongelukkig nooit gebeur nie. Nee, Roux, ek is pas ’n groot taak opgelê, en dit kan my bevordering beteken.”

“Wat moet jy doen, die blues verban? Dis al klaar gedoen, Wessels.”

“Nee, iets veel meer interessant. Ek moet ’n popster skep.”

“Ek sien.” Wessels loop verby. Sou Die Sersant met so ’n idee opgekom het? Of is Wessels besig om mal te raak? As mens dit kan regkry, is dit seker nie so ’n slegte idee nie, wat haar nog meer laat wonder of Die Sersant dit uitgedink het. Sy is gerusgestel deur haar ontmoeting met Agent Wessels. Toe Die Sersant haar ontbied het, het sy gewonder of hy haar nie dalk oor die vingers gaan tik oor die ge-tango’ry met Jacobus Grimm nie. Nou wonder sy of hy nie dalk vir haar ook iets in gedagte het nie.

***

“Maar ek doen dit net ter wille van ondersoek, Sersant,” verdedig Agent Ryna Roux haar aksies.

“Ek gee nie om nie. Hierdie ge-tango’ry met Jacobus Grimm moet end kry, Roux. Dit verwar ons manskappe. Hulle kan nie altyd die spreekwoordelike kloutjie by die oor kry nie, en gevolglik is hulle verlam. Jy sal onmiddellik alle bande met Jacobus Grimm verbreek.”

“Ek verstaan, Sersant,” sê sy met styfgeklemde kake. Jacobus gaan dit nie goed vat nie.

***

Jacobus skud sy kop in ongeloof. Hy het tot nou toe gedink dat hy min of meer al alles gesien het. Hy is al gewoond aan Danté en Marlene se manewales. Maar nou is hier ’n nuwe karakter, ’n effens oorgewig mannetjie, met ’n weglêsnor, wat van tafel tot tafel gaan in die StudenteSentrum en blykbaar telkens iets neerskribbel in ’n enorme lêer wat hy probeer wegsteek onder sy baadjie, wat klaarblyklik skaars onder normale omstandighede oor sy boepie sou kon span. Hy sien hoe hy Danté se bewonderaars nader, en hoe hulle hom eers laat kyk hoe Danté ’n skitterende wawiel voltooi. Die mannetjie probeer hande klap sonder om sy groot lêer by sy baadjie te laat uitsteek. Verbeel dit hy dit hom, of is Danté baie beïndruk met die koddige mannetjie. Hy streel met sy lenige hand oor die mannetjie se lêer wat tog noodwendig uitsteek. Dit is dan op hierdie punt dat die mannetjie hom uit die voete maak. Jacobus kry die arme man jammer. Net toe hy gedink het hy’s weer veilg tussen die rugbykykende massa, loop hy hom vas in Marlene. En hy maak die fout om haar ’n vraag te vra. Dit is nie lank nie, of sy klap hom dat sy snor wapper in die bedompige lug van die StudenteSentrum. Jacobus Grimm drink sy koffie en glimlag soos ’n man wat uit ondervinding geleer het, en dit is in hierdie onbewaakte oomblik dat Ryna haar by hom aansluit.

“Waarvoor lag jy?” vra sy vriendelik.

“Daai ou daar anderkant.”

“O, dis Wessels,” proes sy.

“Wessels?”

“Hy’s ’n Agent. En hy’s blykbaar besig met navorsing, sodat hulle ’n idool kan skep.”

“Wat?!”

“Ja.”

“Dink jy hulle sal dit regkry?” Jacobus Grimm dink wrewelrig terug aan sy dae in die Buiteland. Slogans soos “Gebruik ’n kondoom!” en “Dis darem kief hier in ons land!” ricochet in sy kop.

“Moontlik.”

“Shit, Rob sal sy gat moet roer.”

“Ja.”

“Hoe’s jy so stil vandag?” Gewoonlik is sy heel babbelrig, en Jacobus hou daarvan, want dit beteken hy hoef nie die geselskap aan die gang te hou en stupid goed kwyt te raak nie.

“Jacobus,” sê sy en slaan haar oë af na die koffie wat sy driftig roer, “ek kan nie meer met jou tango so tussen die tafels deur nie.”

“Hoekom nie?” Hy beweeg skaars sy lippe.

“Dis Die Sersant. Hy sê ek kan nie met jou in die openbaar gesien word nie. Dit verwar glo die manskappe.”

“En toe sê jy nie vir hom dat sy manskappe in elk geval ’n klomp useless poepholle is nie, en dat dit sý probleem is, en nie joune nie?”

“Jy weet ek kan dit nie doen nie.”

Jacobus kyk haar half ongelowig aan. Hy is totaal uitdrukkingloos, behalwe vir sy lippe wat baie styf op mekaar vasgeklem is. Ryna staan op en loop by die trappe op.

***

Agent Wessels is bly sy navorsing is voltooi. Hy dink nie hy sou dit langer in die StudenteSentrum kon uithou nie. Maar hy het genoeg inligting ingesamel, genoeg om ’n redelike afleiding te maak oor watter produk sal verkoop in StudenteDorp. Dit is duidelik dat die oorgrote meerderheid mense jong mans verkies. Maar die jong mans moet uitsonderlik skoon geskeer wees, en gespierde boarms, skitterwit tande, blou oë, en kort hare hê. Bowendien moet hulle stywe broeke en moulose frokkies dra. Agent Wessels is beïndruk met Cornelissen. Die bevindinge van die navorsing strook met sy hipotese dat mense enigiets sal koop solank die sanger sexy is. Agent Wessels vee ingedagte en met heimwee oor sy weglêsnor en bepeins sy tanende status as sekssimbool. Hy voldoen nie eers meer aan die kriteria wat dié wat van die normale afgewyk het, daargestel het nie. Daar was net twee wat afgewyk het. Die een, ’n vreemde man met ’n rooi-en-wit gestreepte broek, het sy serp driftig oor sy skouer gegooi en hom gevra of dit dan nie so duidelik soos daglig is dat hy inderdaad die perfekste idool van alle tye is nie. Die ander, ’n vet vrou met wilde hare, het hom gevra vir watter kapitalistiese komplot hy hierdie inligting insamel, of hy besef met watter platonistiese pot stront hy besig is as hy ’n idool wil skep, of hy dan geen ontsag het vir hedendaagse probleme nie, en waar haar muffin is. Hy het haar egter daarop gewys dat Plato se klem op idees en nie idole was nie. Toe klap sy hom. Alles deel van sy plig. Die dinge wat hy nie al moes verdra vir orde, vir eendrag nie.

Agent Wessels ruik die reuk van sukses. Dinge begin nou wonderlik in plek val. Om Die Idool op te spoor was nie moeilik nie. Hy het net sy taak gedelegeer na Manskap Fokkema in die Werwing Afdeling. Sy was al in al wat ’n BeskermingDiens-tydskrif is se swimsuit editions, en sy ken ’n hele gros outjies wat aan die kriteria van die titel “Die Idool” voldoen. En om die skare hier te kry was daarna ook nie baie moeilik nie. ’n Eenvoudige pamflet (op elke tafel in die StudenteSentrum) met Die Idool se foto daarop, stywe broek en al, asook die woorde Kom kyk, dalk is jy sy Droommeisie! was voldoende. Nou drom die dames van so om en by die twintig jaar in hul uitsonderlike massas op die Plein saam, en kyk met groot afwagting in die rigting van die groot verhoog en bonkige luidsprekers. En nou is dit die oomblik van waarheid. Die aankondiger, Byleveld, sê met skitterwit tande, wat hy spesiaal vir die geleentheid geborsel het: “Dames en Here, Die BeskermingDiens bied aan: Die Idool!” Die skare gaan mal. Danté maak uit pure opgewondenheid ’n skitterende wawiel, maar sukkel vanweë die lêer wat by sy stywe baadjie wil-wil uitval. Tog is dit wat hom betref ’n fabulous accessory, só next year. Dit is immers in sy aard om die modewêreld ’n volle jaar vooruit te wees. Dan begin Die Idool sy eerste liedjie, “Wees my Droommeisie”, sing. Sy tande is selfs skitterwitter as Byleveld s’n, sy skouers rimpel gespierd en sy boarms glinster goudbruin in die son. Die skare van dames van so om en by die twintig jaar gaan mal. As Die Idool begin met sy volgende liedjie, “You’re my (Baby)”, is die skare in ’n beswyming. Fokkema, jou doring, dink Wessels. Hy draai na Agent Roux, wat langs hom staan.

“So wat dink jy, Roux?” Hy glimlag breed, en jy kan amper sy tande agter sy snor sien.

“Dit lyk goed, Wessels,” gee sy toe, “maar ek dink tog jy moet net ’n opvolg-opname maak, om te kyk presies hoe baie die skare van Die Idool hou. Dan kan jy presiese inligting aan Die Sersant deurgee.”

Hy kyk haar onseker aan. Van wanneer af is sy so hulpvaardig met hom? “Goeie idee, Roux.”

Hy stap in die skare in net soos Die Idool met sy derde liedjie, “Oh, Baby”, begin. Dit is een van daardie liedjies wat die skare se deelname vereis, sodat Die Idool die risiko dat hy dalk sy woorde sal vergeet, kan minimaliseer. Dit gee ook die skare die indruk dat hulle deel in sy glorie. So kondig hy dan met skitterende tande en wiegende heupe aan dat die skare agter hom moet aandans terwyl sy backtrack met ’n tussenspel (wat baie soos die res van die track klink) besig is. Die dans is nogal ingewikkeld, maar die skare, wat oorwegend uit dames van so om en by die twintig jaar bestaan, ondervind geen probleme nie. Wessels is egter in die moeilikheid. Kort voor lank bevind hy hom op die grond nadat van die gewigtiger dames hom per ongeluk omgestamp het. Die Idool se elmboë skiet in alle rigtings soos hy sy gechoreografeerde dans uitvoer. Sy dans is egter klaar met nog heelwat tussenspel oor. Maar van Die Idool word verwag om op sy voete te dink. Weer kondig hy aan: “Dans agter my aan!” Die eerste paar star-jumps doen hy alleen, deels omdat die skare eers sy rimpelende skouerspiere wil bewonder, deels omdat hulle nie weet wat de donder hy nou doen nie. Maar hulle volg hom weldra. Agent Wessels, in die omtrek van ’n hele paar gewigtige dames, het nooit ’n kans gestaan nie.

***

Jacobus skud sy kop in ongeloof. Dit is selfs erger as in die Buiteland. Alhoewel, Die Idool het darem nog nie gesê hoe kief dit in StudenteDorp is nie, dink Jacobus. Maar hy het te vinnig gedink, want tussen twee liedjies neem Die Idool sy kans waar en sê met ’n vuis gebal in oorwinnig: “Gebruik kondome! Dis wat ek doen!” Die skare juig, bly oor die belofte wat Die Idool vir hulle inhou. “Viva StudenteDorp! Viva die BeskermingDiens!” gaan hy aan. Iemand trek Jacobus se hande uit sy hare uit en druk ’n opgefrommelde stukkie papier daarin. Voor hy vir Rob kan hallo sê, is hy al reeds vinnig aan die wegloop. Jacobus frommel die papier oop. Tonight, 20:00. At Die Versteekte Kelder/The Hidden Cellar. We are up and running. And not a moment to soon, apparently. Rob

Aankoms en landing:
I: Botsing met die gereg
II: Op soek na Tim Banjo
III: Die verbanning van die blues
epilog

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.