NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Hanru Niemand
(oorspronklik van die Paarl) is tans ’n tweedejaar-Sielkundestudent aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy hou egter vol dat enige ooreenkomste tussen laasgenoemde universiteit en “StudenteDorp” bloot toevallig is. “Die Verhale van Jacobus Grimm” is sy eerste gepubliseerde werk.
  Hanru Niemand

III: Aankoms en landing

Die verbanning van die blues

Hanru Niemand

“Ek sê jou, Jacobus, hierdie’s die lewe.” Tim Banjo leun agteroor en teug behaaglik aan sy whiskey. Hulle luister na ’n bebaarde man genaamd Rob, wat sing:

oh come all ye masochists
jump and jive
’cos pain is your friend
it makes you know you’re alive

Dis nou al ’n paar maande dat Jacobus en Tim Banjo gereeld Die Blou Barbier/The Blue Barber besoek. Tim Banjo het sopas ’n set gespeel, die derde laaste een van die aand, wat daarop dui dat hy besig is om opgang te maak in die plaaslike scene.

“Hel, mens kan actually hier léwe,” gaan Tim Banjo aan, “en, hier is actually iets om voor te lewe. Dinge kan hier verander. Ek bedoel, kyk, hier’s live music, goedkoop wettige drank.” Hy is seker daar is nog goed wat hy kan opnoem, maar sy kop laat hom vir die oomblik in die steek. Dit is egter die beginsel wat saak maak. “Dis al klaar so anders as die buitewêreld. Hell, it’s a good place to start, if nothing else.”

“Van wanneer af is jy ’n idealis? Dit was maar altyd ons groupies wat onsself oortuig het dat ons vir ’n saak of iets staan. Jy’t eintlik niks te sê gehad nie, en jy was trots daarop.” Sy wantroue jeens alles omtrent StudenteDorp is nog ver van afwesig. En Die Blou Barbier/The Blue Barber se koffie is ook nie baie lekker nie.

“Mens raak ’n idealis as jy sien dinge kan actually beter wees. Rêrig-êrig konkreet bestaande werklik beter.”

“Seeing is believing?”

“Ja, amper. Maar wat jy sien, is nog steeds minder as wat jy glo. Besides,” hy pouseer om ’n dramatiese sluk van sy whiskey te vat, “jy’t hiernatoe gekom om vir my te kry om dinge vir jou draagliker te maak, nie waar nie? So, wie’s die idealis?”

“Ek het nie gesê ek is nie een nie.” Hy wil probeer verduidelik dat hy skepties is, en dat die plek se koffie nie lekker is nie, maar hy besluit dat dit te lank gaan vat. Die musiek is in elk geval te hard om te praat. Of dit sal wees, sodra Big Ben Blue die verhoog betree.

Big Ben Blue klim legendaries op die verhoog. Net vir ’n oomblik stel hy sy volle enorme gestalte ten toon as hy regop staan, sy hoed met sy hand ’n tikkie gee om erkenning te ontvang. Dan gaan sit hy, sy hoed laag oor sy oë getrek, sodat net sy boskasie van ’n baard sigbaar is. Hy laat sy kitaar klein lyk, en sy hande lyk onbeholpe groot, dit is, voordat hy begin speel. Dit is nie net omdat hy ’n reus is dat Big Ben Blue ’n legende is nie. Hy is in die eerste plek ’n musikant, ’n musikant wat nooit iets terughou nie. Hy sou selfs sonder ’n mikrofoon kon sing, dink Jacobus. Die skare is weldra in ’n beswyming; vrouens en mans begin opstaan en wieg, drankie in die hand; almal het op hul gesigte uitdrukkings van genoeglikheid en plesier by die aanhoor van die musiek van Big Ben Blue. Sommige mans en vrouens voel die behoefte om hierdie plesier met mekaar te deel. In een uithoek is Danté besig om skitterende wawiele te maak, met sy vroulike bewonderaars wat vir hom hande klap. Hulle hou wel glad nie van blues nie, maar kan nie die kans mis om Danté te sien wawiele doen nie. Ten minste is Marlene nie hier nie, dink Jacobus. Sy sou natuurlik die plek uitgeskel het as ’n kapitalistiese plan om die massas se opium te wees. Of sy sou die Afrikaners vir hul lamsakkigheid uitskel omdat hulle na Engelse musiek luister. Of sy sou almal chauviniste noem. Maar sy is nie nou hier nie, en hy wil nie meer aan haar dink nie. In die uithoek lyk dit vir hom of die Danté-bewonderaars in hul dronkenskap selfs die musiek begin geniet. Dan is daar dalk hoop.

Tim Banjo leun terug in sy stoel, met sy bene wat rus op die tafel voor hom. “Dis dalk nie Kansas nie, Jacobus, maar dis donders naby aan Kanaän, as jy my vra.”

Agent Swiegers is verbouereerd. Hy het nog nooit so iets gesien nie. Tog is hy bly hy is hier, en trots dat sy intuïsie oor die onheiligheid van blues-byeenkomste so in die kol was. En trots dat hy uiteindelik die BeskermingDiens Akademie se lesing “’n Agent moet goeie intuïsie hê, en dit opvolg” kon toepas. Om in te pas het hy iemand se leë whiskeyglas gevat en vol water gaan tap. Nou neem hy foto’s met sy Spesiale Uitgawe-Polshorlosiekamera (spesiaal ontwerp vir geleenthede waar agente in die geheim hul intuïsies moet opvolg). Niemand kom agter hy neem foto’s nie, want hy hoef net sy pols te draai in die rigting van dit wat hy wil afneem, en sy linkerpinkie te trek. Niemand sal ook die flits gewaar nie, veral aangesien hier so baie groupies en handtekeningjagters is wat met hul professionele kameras (met zoomlense) foto’s van Big Ben Blue neem. Dankie tog vir die Tegniese Afdeling van die BeskermingDiens, dink Agent Swiegers ingenome terwyl hy in ’n gelykbenige posisie stelling inneem, met sy knieë effens gebuig, en sy linkerarm voor hom soos ’n Amerikaanse voetbalspeler.

“Hou Agent Roux nie van blues nie?”

“Ek dink nie so nie. Ek sien haar nie eintlik inpas in hierdie scene nie,” sê Jacobus, en staaf sy spekulasie as hy opmerk hoe een of ander dronkie hom gedra soos ’n Amerikaanse voetbalspeler wat ’n veltie vang.

“Pity.”

Die Sersant slaan met netjiese houe van sy BeskermingDiens-Vlieëplak na die vlaag muggies wat hom grensloos irriteer. Hulle glip egter met gemak deur die fyn gaatjies van die Vlieëplak, tot Die Sersant se frustrasie. “Byleveld!” roep hy sy assistent. Byleveld kom gedwee ingesluip. “Sê vir die Tegniese Afdeling hulle moet vir my ’n Muggieplak ontwerp, een met baie fyner gaatjies.”

’n Paar minute later (want die Tegniese Afdeling van die BeskermingDiens is baie knap) is Byleveld terug met iets wat baie soos ’n tafeltennisraket lyk.

“Wonderlik!” Die Sersant is baie ingenome, en Byleveld sluip verlig by sy kantoor uit.

Agent Swiegers se klop aan sy kantoordeur versteur Die Sersant se veldtog teen die muggies, wat met gemak die dreigende tafeltennisraket ontwyk. “Wat is dit, Swiegers?” vra hy moeg-geïrriteerd.

“Ek het iets om vir u te wys, Sersant.”

Terwyl hy sy foto’s op Die Sersant se rekenaar aflaai, kom Agent Swiegers met ’n skok agter dat hy vergeet het om sy mou voor die lens te verwyder. Gelukkig vir hom het hy die module Dink op jou Voete 344 aan die BeskermingDiens-Akademie met lof geslaag (hy was inderdaad die topkandidaat).

“Soos u kan sien, lyk die toekoms maar donker. Dis nag, spreekwoordelik.” Hy voeg die ‘spreekwoordelik’- gedeelte by, aangesien hy nie verwarring wil veroorsaak nie. Dit is immers 11:00 in die oggend, en mens moet nie jou seniors verwar met sulke teenstrydighede nie.

“Indrukwekkend, Swiegers. Ek mag jou dalk net by myself aanbeveel vir ’n bevordering tot Senior Agent.”

Swiegers sluk aan die knop in sy keel. Die vorige Senior Agent is vyf jaar gelede dood en is nog nie vervang nie, omdat Die Sersant iemand soek wat waardig is om die amp te dra. O, die trots, die onuitspreeklike trots!

“Wanneer, na jou wete, is daar weer so ’n byeenkoms, Swiegers?”

“Volgende Woensdagaand, Sersant.”

Die Sersant is bekommerd. Die omvang van die beweging se bedreiging vir orde in die StudenteDorp oorskry al die ervaring wat hy in die 29 jaar van sy amp as Die Sersant opgedoen het.

“Hierdie byeenkomste moet permanent stopgesit word. Volgende Woensdagaand slaan jy toe op Die Blou Barbier/The Blue Barber, en jy maak hom permanent toe. Daarna doen jy dieselfde met alle soortgelyke instellings. Gebruik al die manskappe wat jy nodig het. As jy suksesvol is, sal ek myself baie maklik oortuig dat ek jou moet bevorder tot Senior Agent.”

Swiegers loop met ’n bonsende hart in die gange van die BeskermingDiens. Elke nou en dan gee hy ’n klein sprongetjie en klap sy voete teen mekaar. Met een van dié spronge kry hy dit reg om homself in die lug te pootjie, en hy kom met sy gesig voor Agent Ryna Roux se stewels te lande. Hy ruk homself dadelik regop, veral toe hy sien voor wie hy te lande gekom het. Agent Roux is immers een van sy groot mededingers. Hy ruk sy skouers terug, stoot sy borskas uit, en sê smalend: “Raai wie gaan die volgende Senior Agent wees.” Dis nogal seer om sy bors so uit te stoot, aangesien hy talle ribbes gekneus het met die val, maar nogtans dwing sy trots hom om sy postuur te behou.

“So, dis hoekom jy soos ’n afkoppadda rondspring.”

“Na Woensdagaand sal jy my met meer respek moet behandel, Agent Roux.”

“Woensdag?”

“Ons gaan Die Blue Barbier/The Blue Barber toemaak. Permanent.” Hy spoeg die “p” uit met mening.

“Ek sien.” Sy maak asof sy geweldig teleurgesteld is, en skuur by hom verby.

Die Sersant is bedonderd. Die fokken tafeltennisraket werk nie. “Byleveld!!” bulder hy. Hy steek die raket na hom uit en sê: “Sê vir die Tegniese Afdeling hulle moet met iets BAIE beter vorendag kom, voor ek my moer spreekwoordelik strip en die afdeling sluit.” Byleveld skuifel uit. Minute later is hy terug met wat lyk soos ’n kannetjie pepper spray. “En dit?! Wil hulle nou hê ek moet soos ’n vroumens oorlog voer teen die donderse muggies?! Sê vir hulle ek soek ’n MAN se wapen!! Sê vir hulle hul dae is getel!!” Byleveld skuifel uit. Minute later is hy terug met iets wat lyk soos ’n kruis tussen ’n flame thrower en ’n sprinkaanspuitkan. Met skitterende tande, wat hy spesiaal vir die geleentheid geborsel het, kondig Byleveld aan: “Die BeskermingDiens Spesiale Uitgawe-Muggie-nemesis!”

“Aahh, dis beter,” sê Die Sersant terwyl hy die gifsilinders aan sy rug vasgespe. “Bliksems! Gáán julle dood tegemoet!” Hy spuit driftig die gifgasse in sy kantoor. Byleveld, wat nie ’n masker ophet soos Die Sersant nie, moet stikkend uitskuifel. ’n Blink idee skiet Die Sersant se gemaskerde kop te binne. Hy tree uit sy kantoor, omdat niemand hom met sy masker op kan hoor nie, maar hy nie daarsonder in sy kantoor kan oorleef om met Byleveld oor die interkom te kommunikeer nie. Buite haal hy sy masker af en sê vir Byleveld: “Sê vir Agent Swiegers ek het ’n blink idee vir ’n aanvalstrategie wat ek met hom wil bespreek.”

“So, wat doen jy môreaand?”

“Daar’s goeie blues by Die Blou Barbier/The Blue Barber. Ek en Tim Banjo gaan kyk altyd. Hy speel ook. Jy wil nie dalk saamkom nie?”

“Ja! Dit sal lekker wees!”

Ryna se drif verras Jacobus. Hy’t nie gedink sy hou van blues nie. In elk geval nie so baie dat sy só geesdriftig sou wees nie. Maar dis ’n baie lekker verrassing.

“Jacobus?”

“Ja?”

“Jy weet, ons het nog nooit getango, so tussen die tafels deur nie.” Sy glimlag.

“Waarvoor wag ons?”

Net voor Big Ben Blue gaan sit, neem Marlene haar kans waar. “Chauviniste! Almal van julle! Ek glo dit nie! Hier is julle klomp besig om die mense in ’n beswyming te sing, terwyl daar geen ontsag vir hedendaagse probleme is nie. Waar is my muffin?! Waar is my muffin?! Tipies Afrikaner! Sal na fokken Engelse crap luister, maar nie die moeite doen om ’n muffinwinkel byderhand te hê nie. Nee, ons eet mos lekker peanuts!”

“Sy is so voorspelbaar,” kreun Jacobus Grimm. Dit was so ’n lekker aand tot nou toe. Ryna het hier styf teen hom gesit, en sy’t gelag vir al die nonsens wat Tim Banjo gesels. Sy pas nogal verbasend goed hier in. En nou’t Marlene die hele aand kom onderbreek. Wat soek sy in elk geval hier? Sy kom nooit hier nie. Tim Banjo maak van die onderbreking gebruik om aan te kondig dat hy “’n pis gaan vang” en verlaat die tafel. Ryna se kakebeen klem vas, asof sy ontevrede is met hoe dinge verloop. Dit maak Jacobus ook ongemaklik. Maar dan lag hy weer, want Big Ben Blue het begin sing:

Hey, Woma,
why don’t you go fuck yourself
and while your at it
you can check your mental health

Hy’t dit duidelik sopas opgemaak, en Marlene is woedend. Maar Big Ben Blue sing net voort. Ryna lyk asof sy haar die verloop van dinge weer laat welgeval.

Buite Die Blou Barbier/The Blue Barber verduidelik Agent Swiegers vir die soveelste keer die strategie. “Marais, Heunis, Fourie en Schoeman, julle kom saam met my. Ons sal hulle daar uitjaag met die vergassers. Die res van julle vorm ’n kordon om die plek, en arresteer almal wat uitkom. Het julle almal dit?” Hulle knik almal instemmend, vir die soveelste keer. Agent Swiegers voel dat die strategie nou duidelik is. Nadat die kordon gevorm is, roep hy uit, vol van trots: “Reg, op my bevel, manne. Storm!” Hulle skop die deur oop en begin dadelik die stikgas spuit. Agent Swiegers voel tevrede dat die manskappe alleen genoeg spuitwerk doen, en besluit om met sy Spesiale Uitgawe-Polshorlosiekamera inkriminerende foto’s te neem. Dié slag het hy ’n kortmouhemp aan.

Agent Ryna Roux sien hoe die deur oopgeskop word. Sy pluk dadelik vir Jacobus op en skree bo die musiek uit: “Kom saam met my!” Sy lei hom aan die arm, en in die proses word Danté en sy bewonderaars, asook Marlene, deel van die prosessie. Hulle kom tot stilstand in ’n stillerige hoek van die vertrek. “Luister nou mooi. Hier is die luik wat lei na die kelderverdieping. Dis lugdig. Bly hier tot ek julle kom haal. Daar’s genoeg suurstof vir ’n paar uur. As julle uitgaan, gaan julle julle in die BeskermingDiens vasloop.”

“Waar’s Tim Banjo?” roep Jacobus uit.

“Ek gaan hom nou soek.”

“Ek kom saam.”

“Nee! Gaan in!” Jacobus wil nog teëstribbel, maar Danté het hom aan die arm beet en skree histeries: “Dwaas! Red jouself!” Met dié trek hy en sy bewonderaars hom saam met hulle. Ryna is al buite sig.

Agent Swiegers merk die struweling in die stil uithoek van die vertrek. Die vabonde moenie dink hulle gaan ontsnap nie, dink hy vasberade. Hy neem sy gelykbenige posisie in en lê die gesigte van Jacobus, Marlene, Danté en ’n paar bewonderaars vas. Voordat hy hulle egter by die kelder kan uitgas, word sy masker behendig van sy kop afgehaal. Hy draai verbaas om, om net nog meer verbaas te word deur die gesig wat hy sien. Dan tref ’n netjies skop hom teen die slaap, wat hom bewusteloos laat in die verstikkende gas. Die tafelpoot aan sy linkerkant is die laaste ding wat hy afneem.

Tien minute later maak Ryna die luik oop en klim met die trappe af na die kelderverdieping. Sy skud haar kop as antwoord op die vraende uitdrukking op Jacobus Grimm se gesig. “Maar jy sal hom kan loskry? Net soos jy ons losgekry het?”

Ryna knik. “Ja, maar dit gaan moeilik wees. Ek sal dalk eers moet wag dat die stof gaan lê.”

In die weke wat volg, slaan wyle Agent Swiegers se taakmag toe op die oorblywende blues-setels. Die inligting wat hy ingesamel het voor sy dood daardie Woensdagaand, was deeglik, en sy strategie steeds duidelik. Van sy Spesiale Uitgawe-Polshorlosiekamera se geheue is die gesigte van Jacobus Grimm, Danté en Marlene herken as voortvlugtende (dit wil sê die BeskermingDiens het hulle nie gevang nie) blues-ondersteuners.

Jacobus Grimm lig sy kop hoopvol as Ryna langs hom kom sit waar hy koffie drink. “Is hy nie in aanhouding nie?”

“Ek’s bevrees nie.”

“Nou waar kan hy wees?” Sy stem klink soos ’n pleitende kind s’n.

“Ek weet nie, Jacobus, ek weet nie,” sê Ryna, en streel met haar hand oor sy drie dae oue baard.

Aankoms en landing:
I: Botsing met die gereg
II: Op soek na Tim Banjo
IV: Die blues underground
epilog

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.