Wie is ons? - van die redaksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Van Etienne van Heerden, Redakteur: LitNet

Januarie 1999

LitNet — die boekehuis met baie wonings

LitNet is ’n webruimte wat breed loop, en Suid-Afrikaanse literatuur ’n kleim in die kuberruim wil laat afpen.

Meertaligheid is vir LitNet van groot belang, omdat dit ’n Suid-Afrikaanse webwerf is. LitNet is tans hoofsaaklik Afrikaans, maar sal mettertyd ook na ander tale uitbrei. Uiteindelik sal dit Suid-Afrikaanse literatuur in verskillende tale as onderwerp hê, met as uitgangspunt Afrikaanse literatuur.

Veelsydigheid en verskeidenheid word van meet af aan beklemtoon — vandaar die slagspreuk “Die boekehuis met baie wonings”. LitNet bied verskeie subruimtes of kamers vir ’n verskeidenheid aspekte rondom skrywers, boeke, en lesers. Die dae vir ’n eensydige literêre tydskrif is verby — LitNet wil ’n joernaal word wat verskeidenheid huldig en stimuleer.

Ideologies wil dit ’n ruimte bied vir verskeie — liefs opponerende — standpunte. Bowenal wil LitNet debat stimuleer en vrae vra oor ’n verskeidenheid aspekte rondom skrywerskap, literatuur, taal, uitgewers, akademiese sake, leeskringe, ensomeer.

LitNet wil veral die jonger geslag skrywers en boekmense ook by die gesprek rondom boeke betrek — daarom is jonger skrywers soos Francois Bloemhof, Sonja Loots, Izak de Vries, Anoeschka von Meck, Tom Dreyer en Jaco Botha aktief op die ruimte.

Bekende en omstrede name uit die vorige dekade is ook terug — Dan Roodt van Taaldoos-faam, Johan van Wyk, Andries Oliphant en Marlene van Niekerk. Hierdie skerp denkers sal elk ’n eie rubriek behartig.

LitNet bestaan uit verskeie subruimtes of kamers, elk behartig deur ’n individuele versorger van dié spesifieke ruimte. Iedere ruimte sal op gereelde basis, onder leiding van die versorger, nuwe materiaal plaas.

LitNet wil aan die een kant lesers sonder ’n spesifiek akademies-teoretiese instelling betrek. Daarom, byvoorbeeld, word ’n kamer of subruimte met die naam “LeesKringe” — behartig deur Izak de Vries — geskep. Hier word leeskringe landwyd betrek en boeke wat vir leeskringe aantreklik mag wees, voorgestel, asook wenke vir leeskringbesprekings rondom spesifieke boeke gegee.

Daarbenewens wil LitNet lesers met groter akademiese belangstelling betrek. Daarom sal ’n ruimte, “SeminaarKamer”, geskep word, waar akademiese opstelle, resensie-besprekings en ander diepte-besinnings geplaas sal word. Akademici word aangemoedig om hul opstelle of voordragte hier te toets aan ’n wye gehoor, voordat hulle dit, byvoorbeeld, aan akademiese joernale voorlê.

LitNet wil lesersbelangstelling in die boek stimuleer, en daarom is daar onderhoude met skrywers op die ruimte “Die mond is nie geheim nie”, boekaanbevelings op “BoekeBazaar”, kort nuusbrokkies en warmnuus oor boekmense in “Riemtelegram” (behartig deur Elmari Rautenbach), en word ’n “Van A tot Z” van skrywers beplan, wat individuele webruimtes vir die skrywers van die verskillende uitgewershuise sal behels.

Gesprek rondom boeksake is ook belangrik, en SêNet bied ruimte aan diegene wat ’n opinie te lug het of oor iets te kla het — of wat geesdriftig oor die een of ander saak is.

LitNet glo dat die boek nie in ’n vakuum geproduseer word nie. Met die oog op wyer debatte, wy ’n ruimte soos “Grasperk” (versorg deur Dan Roodt) aandag aan byvoorbeeld die verslag van die Waarheids- en Versoeningskommissie, en betrek “Gillespiestraat” (deur Johan van Wyk) sake rondom die konsep “Suid-Afrikaanse literatuur”.

Omdat LitNet nuwe skryfwerk wil stimuleer, is daar twee ruimtes waar nuwe skryfwerk van beide gevestigde en ongepubliseerde skrywers ingewag word. PoësieNet, behartig deur Johan Lodewyk Marais, wat sy spore verdien het as redakteur van die poësietydskrif, Ensovoort, sal, benewens nuwe poësie, ook resensies oor digbundels plaas. NetFiksie word behartig deur Nèlleke de Jager, wat by ’n Kaapse uitgewery werk en veral gemoeid is met die skryfwerk van nuwe skrywers.

LitNet wil sy lesers ook ’n internet-toekoms inlei en aan ander webruimtes voorstel. Sonja Loots loop in “LitDorings” haar voete moeg op soek na interessante literêre webruimtes. Terselfdertyd wil LitNet die verlede bekyk, en Leana Lategan, in “Uit NALN se sarkofaag”, vee die stof van interessante museumstukke af.

Die drie Kannemeyers is ook aktief op LitNet: vir die hardebaarde is daar Anton Kannemeyer en trawante se “Bitterkomix”, vir reislustiges word John Kannemeyer se befaamde literêre toere bekend gestel, terwyl kunstenaar Mark Kannemeyer gereeld nuwe gesigte tot sy “SkrywersGalery” sal toevoeg.

Die literêre fotograaf, Philip de Vos, sal in die ruimte “Gogga se oog” sy skrywersfoto’s uitstal, en die een en ander oor elke foto vertel.

Buitelanders se blik op die Suid-Afrikaanse literatuur was nog altyd belangrik. Robert Dorsman, bekende vertaler en kenner van ons literatuur, skryf in “Vlieënde Hollander” oor Suid-Afrikaanse literatuur.

LitNet is ’n onafhanklike literêre joernaal wat slegs op die internet beskikbaar is. Ons borge is 24.com en Kalahari.net. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal. Die menings van bydraers is hul eie, en kopiereg berus by skrywers.

LitNet sal binnekort weekliks nuwe materiaal plaas. Ons hoop jy word ’n gereelde besoeker!

— Etienne van Heerden

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.