Kannemeyer-toereArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Storietoere se reiskalender vir 2003

Vir 2003 beplan John Kannemeyer en Wium van Zyl, naas ’n aantal reise waarvoor daar steeds aanvraag is, ook roetes wat vir toergangers in ’n groot mate nuut sal wees. Die negedaagse Kalahari-toer en die reis op die voetspoor van Uys Krige, Jan Rabie en DJ Opperman deur die Suid-Kaap was die afgelope jaar so gewild dat dit weer aangebied gaan word, terwyl ’n nuwe negedaagse toer die wêrelde van CJ Langenhoven en Dalene Matthee — Oudtshoorn en Knysna — sal verken. Die reeds bekende toer na Sutherland deur die Ceres- en Twanka-Karoo word ook weer aangebied. Telkens word toergangers gelei op die voetspoor van skrywers, maar terselfdertyd word hulle goed op die hoogte gebring van dikwels haas onbekende aspekte van streke waardeur die roetes gaan.

Ten einde teleurstelling te voorkom, word voornemende deelnemers versoek om so gou moontlik hulle plekke by prof Wium van Zyl by (021) 976-5755 (telefoon en faks) of wvanzyl@uwc.ac.za te bespreek.

Die program is soos volg:

1. Krige-Rabie-Opperman-reis, 20-23 Junie

Hierdie reis sluit oornagtings op Onrust naby Buffeljagsrivier en Stilbaai in. Tydens die reis sal deelnemers die Kaapstad en Stellenbosch van hierdie drie skrywers leer ken en kennis maak met Onrust, waar Krige se Oupa Dominee sy vakansiehuis gehad het en waar Krige self die laaste agtien jaar van sy lewe in sy huis Swartdakkies langs die “flikkerende vlei” gewoon het. ’n Besoek word ook gebring aan Onrust se tweelingdorpie Vermont, waar Jan Rabie en sy kunstenaarsvrou Marjorie Wallace hulle in 1971 gevestig het en waar hulle, soos vroeër in hulle Groenpuntse huis, baie skrywers en skilders gul ontvang het.

Die reis gaan verder na Franskraal aan die Suid-Kaapse kus, waar Opperman telkens ná sy werk op Stellenbosch kom uitspan het en waar hy opwindende gesprekke met sy baie vriende en kennisse kon voer. Van daar gaan die bus deur die golwende landskap van die Overberg na Stilbaai, waar besoekers bekend gestel word aan dié rustige stranddorp met sy ou visvywers en die plaas Riethuiskraal langs die rivier, waar Jan Rabie saam met sy broers ’n heerlike jeug gehad het.

Op die terugweg ry ons deur Riversdal, waar Rabie gematrikuleer het, verby Krige se geboorteplaas Bontebokskloof en deur Montagu waar sy skilderbroer François lank gewoon en gewerk het.

Prys: R2 750; bybetaling van R150 vir enkel-akkommodasie.


2. Loerie-toer, 11-19 Julie

Hierdie reis munt uit deur die groot verskeidenheid wat toergangers ervaar: vanaf Klein Karoo en Overberg tot die nat suidelike gebiede van bos en see; van olifante, voëls en apies tot die ruie varings en bome van die oerbos; van skilderagtige bergpasse en klowe tot die uitgestrektheid van die Klein Karoo; van asemrowende ritte per bus tot ’n vaart per boot en ’n trekkerrit die ruigtes in. Omdat Knysna binne die somerreënvalgebied val, sal ons na alle waarskynlikheid stralende, oop winterdae geniet.

Die negedaagse toer neem ons vir die eerste drie dae deur die Overberg op die N2 na CJ Langenhoven se Klein Karoo. Ons bereik Ladismith deur die Garcia-pas naby Riversdal en reis in drie dae oor die indrukwekkende passe rondom Oudtshoorn, insluitende Meiringspoort en die Swartbergpas. Binne die bestek van drie dae verken ons naas die boeiende en veel bewoë geskiedenis van Langenhoven die wêreld van die Klein Karoo: die geskiedenis, die boereplase, die volstruisnywerheid, die grotte, die folklore en die spookstories.

Op die vierde dag van die reis gaan ons na Knysna, waar ons van die oesters eet waarvoor dié dorp so beroemd is en die winkels van die nuwe Waterkant langs die strandmeer besoek. Ons wandel in een van die mooiste dele van die bos en ry deur Kom-se-bos, Gouna en ander bekende herkenningspunte van Dalene Matthee se romans. Toergangers vaar op die strandmeer, gaan per trekker die “onbewoonde” westelike Kop op verby duikers en loeries, en wandel op die bosbokroete met ’n asemrowende uitsig op die see en dorp. ’n Tweede besigtiging van die bos neem ons by die Rheenendal-afrit na Krisjan se Nek en die myngedeelte, met ’n besoek aan Meulbos en die spookdorpie van die mynwerkers. Oos van Knysna stap ons by die Tuin van Eden met sy ongelooflike natuurskoon, besigtig ons die olifante in die Olifantpark en sien ons ’n groot verskeidenheid apies uit verskillende dele van Afrika en Suid-Amerika.

Die rit gaan verder oor betowerende bergpasse tot by Stormsrivierbrug. Met die Choo-Tjoe-stoomtrein reis ons verby die mere en oor die Kaaimansrivierbrug na George, waar die bus vir ons wag vir ’n besoek aan Mosselbaai met sy Dias-museum.

Die laaste oornagting is in ’n luukse hotel op Witsand, voordat die terugreis deur die Overberg en die Klein Karoo ons op die negende dag na Kaapstad en Stellenbosch terugneem.

Prys: R6 400; bybetaling vir enkelkamer: R250.


3. Kalahari-toer, 13-21 September

’n Opwindende toer met oornagting in twee nasionale parke — Augrabies en die Kgalagadi-Oorgrenspark — op die voetspoor van die Hobsons, PJ Schoeman en Elizabeth Vermeulen, maar ook van hedendaagse skrywers soos Jan Spies, Donald W Riekert en Willem D Kotze. Met hierdie reis kom deelnemers op die hoogte met die wêreld van die Noord-Kaap wat vir baie mense onbekend is en ongenaakbaar lyk. Tydens die toer sal u aan die hand van deskundige gidse ook bekend gestel word met die geografie, geskiedenis, en fauna en flora van die gebiede wat u gaan besoek. Om die Kalahari-leeumannetjies met hul bruin maanhare te sien, is ’n belewenis.

Prys: R6 400; R150 bybetaling vir enkelkamer.


4. Louw-toer, 1-4 Oktober

’n Toer na die wêreld van NP van Wyk Louw en WEG Louw en Karel Schoeman se Hierdie lewe. Ons besigtig die Louw-manuskripte in die Stellenbosse Universiteitsbiblioteek. Dan vertrek ons rigting Tulbagh, aar ons die middagete geniet. Ons oornag in Kagga-Kamma, een van die laaste Boesman-tuistes, waar ons die sonsondergang teen die kranse van die Skurweberge kan bewonder.

Die volgende dag reis ons na die Roggeveld oor die Ouberg-pas, waar ons stop om die panoramiese uitsig oor die Ceres-Karoo te beleef. In Sutherland geniet ons die gasvryheid en boerekos van die plaasmense en bekyk in die aand Van Wyk Louw se “blomgroot sterre”. Ons laaste oornagting is in Matjiesfontein met sy ou koloniale glorie.

Prys: R2 750; R150 bybetaling vir enkelkamer (wat vir die tweede aand nie gewaarborg kan word nie).


5. Eendaagse literêre rondreis deur die Boland, 22 November

Die eendaagse literêre reis deur die Wes-Kaap, waaroor deelnemers in die verlede in ekstase was, het nou reeds ’n instelling geword. Die reis begin by die Waterfront in die Kaapstadse hawe en gaan van daar via Groenpunt, Drieankerbaai, Clifton en die middestad op die spore van digters en skrywers na Stellenbosch, die Paarl en Dal Josafat. Binne die bestek van een dag kan deelnemers ’n hele stuk fassinerende geskiedenis meemaak.

Prys: R250.


boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.