|
|
Skryf vir ons/ Write to us: webvoet@litnet.co.zaBroers en susters, laat ons bid én klapMarguerite Robinson* bely haar liefdeEk glo in die kerk van die teater. Ek glo in die krag van verdonkering. Die stilte. Die afwagting. En dan gebeur dit. Binne 'n oomblik gee jy jou oor aan 'n ander magiese werklikheid. Waarheen gaan ek weggevoer word? Hoe ver gaan jy my vat? Hoe groot is die sprong? Hoeveel vertroue het jy in my? Hoeveel geloof? Dit kan almiskie klink of hier een of ander verdwaalde evangelis op 'n seepkis beland het, maar soms wonder ek of ons veral in die Afrikaanse teater nie deels die pad byster geraak het nie. Feeste spring soos paddastoele op. Ja, dis waar dat dit 'n kunstekringloop vir kunstenaars skep, wat 'n welkome uitkoms bied. Maar dit skep ook 'n kitskultuur waar gehalte soms aan die kortste ent moet trek, met spertye wat al hoe vinniger op mekaar begin volg en feesomstandighede wat allermins ideaal is. Onder die gehoor word daar miskien 'n ongesonde binge-kultuur geskep. Dis genoeg om jou miskien een of twee keer 'n jaar letterlik te "ooreet" aan die uitvoerende kunste, jou fix te kry en dan trek ons almal volgende jaar weer vrolik op en maak weer so. Intussen bestaan daar kwalik nog iets soos 'n ernstige Afrikaanse teaterstuk met 'n speelvak van drie weke. Beslis nie in die noorde nie. En die feesbesture? Dit wissel van suiwer kopers/aanbieders wat nie 'n sent hoef uit te haal om iets te vervaardig nie, tot die groteres wat jaar na jaar 'n balanseertoertjie moet doen tussen dit wat jou hart wil hê en dit wat jou sak sê. In Aardklop se geval is dit haas onmoontlik, as 'n fees wat vyf dae duur, om te droom daarvan om met 'n nuwe toneelstuk net gelyk te breek. Maar die probleem wat ek deels by die Afrikaanse familie van my kerk begin bespeur, het eintlik niks daarmee te make dat die teaterkerklandskap in 'n tentepredikery ontaard het nie. Dat almal getrou hul tente opslaan en van die een saamtrek na die ander trek. Dat die kollekte by sommige dienste mildelik instroom (gewoonlik hoe harder hulle lag, hoe meer gee hulle), en dat dit by ander maar baie karig is. Hoe is dit dan dat die mens nou maar eenmaal nie die ernstige boodskap wil aanhoor nie? Maar dat die wyn vloei, daar is geen twyfel nie. Genoeg daarvan. Gaan ek te lank op dié trant aan, kla die predikante my van kettery aan. Waarby ek eintlik wil uitkom, is iets wat ek noem "solar plexus"-teater: iets wat jou hard op die krop van jou maag slaan, maar terselfdertyd ook heelwat stof tot nadenke bied. Tot vir weke daarna. Wat nie sommer ligtelik in jou klere gaan sit nie, wat jy nie gou afmaak met "Dit was nou lekker" nie. Iets soos Peter Verhelst en Luk Perceval se Aars! en Tom Lanoye se Mamma Medea - albei ingevoer en hier in onverbeterlike vertaalde produksies van Marthinus Basson aangebied. Albei val binne die kader van die universele teater. Hoewel ek my grootliks by die toneel wil hou, wil ek tog ook die tango-operita Maria de Buenos Aires hierby insluit. Die oorsprong weer eens in die buiteland, die regisseur die einste Basson. Dis goed en wel dat die hele wêreld en sy maat uiteindelik Phantom of the Opera te sien kry, maar daar moet iets fout wees met ons groter kerk se mense dat Maria de Buenos Aires na tien vertonings by vier verskillende venues tot 'n einde gaan kom sonder dat 'n enkele haan daarna kraai, 'n enkele teaterbestuur met oortuiging na vore tree en sê: Dít is die tipe produksie wat ek vir twee tot drie weke in 'n behoorlike teater wil aanbied. Vroeër vanjaar begin ek ernstige onttrekkingsimptome kry en hunker na die moeder van alle kunstefeeste in Suid-Afrika: die National Arts Festival in Grahamstad. Ek was in 2000 laas daar. Tóé het ek uitgewerk dat ek binne tien jaar sewe feeste meegemaak het: drie as mediabestuurder van die fees en vier as resensent. Weens werkdruk kon ek egter letterlik net die laaste dag en 'n half van 2004 se fees inpas. Manna uit die hemel. Gekies na behoefte en volgens geloof en die geskiedenis (die oorlewering van resensente) en met die geluksgodin aan my kant: This Is Not an Intellectual Show, Tshepang (uiteindelik!), Maria de Buenos Aires (wou dit met die Engelse byskrifte sien), Honour (op die Australiese dramaturg af), Black and Blue en Green Man Flashing (eintlik by proxy, want dié sien ek 'n week later in Johannesburg omdat die laaste vertoning in Grahamstad uitverkoop was). This Is Not an Intellectual Show is performance poetry met vier swart vroue, waaronder twee benoemdes vir die DaimlerChrysler-prys vir SA Poësie 2005. Dis 'n onbeskaamde viering van swartwees en vrouwees en die gehoor is meelewend. Dié kerk se mense is g'n louwarm spul nie. Die bleekgesigte is presies drie. Daar was al 'n dapper poging of drie onder die bekvegters, maar ek het nog net Antjie Krog onder die Afrikaanse whiteys gesien wat woorde so onbevange uit haar eie binnegoed kan gaan haal. Dit is wat woordkuns wil wees - nie die versigtige omgaan met versies nie, maar waaragtige teater. Lara Foot Newton se Tshepang gaan soos William Kentridge se Ubu and the Truth Commission destyds vir jare en jare in my geheue lê. Reëls wat ek nie gaan vergeet nie, beelde wat by my gaan spook, selfs reuke. Maar vir hierdie artikel sal ek volstaan met die ooglopende, omdat dit amper vir my 'n metafoor word vir wat ek op 'n manier bepleit. Die groot hoop growwe sout op die verhoog. Die stom vrou met die bagasie op haar rug wat op die hoop sout sit en, terwyl die gruwelverhaal van 'n dorp vertel word waar daar "nie juis veel gebeur nie", dit met tussenposes sit en fyn maal dat jy wil mal word daarvan. En dit voel letterlik of daar sout in die mensdom se wonde ingevryf word dat dit die hel uit jou brand. Asof Foot Newton wil sê: Vóél, jou bliksem. Kán jy nog voel? God, is daar énigiemand daar buite wat nog iets vóél? Mike van Graan beskryf sy Green Man Flashing as 'n politieke riller. 'n Bemarkingsfoefie? wonder 'n mens. Maar as jy dit eers te sien kry besef jy dis die mees ironiese, gepaste beskrywing denkbaar. Green Man Flashing is vreesloos eerlik. Dit beeld Suid-Afrika as 'n politieke-riller-bestel uit sonder om doekies om te draai, sonder vrees vir die heilige koeie. Sosiopolitieke drama, met die klem op die drama. Wanneer Jennifer Steyn lostrek en sê sy is moeg om verskoning te vra omdat sy wit is, omdat sy 'n vrou is, om 'n verkragtingslagoffer te wees, trek die rillings teen jou ruggraat af. Dit slaan jou op die krop, maar terselfdertyd wil jy opspring en haar dawerend toejuig. En die uiteindelike keuses wat velerlei van die karakters in dié politieke riller maak? Dit lê alles opgesluit in die titel - een van die mees geskakeerde titels in jare. Die groen mannetjie flits wat sê jy mag maar loop, maar as daar nou 'n taxi teen 'n stinkspoed aangejaag kom, gaan jy in goeie geloof steeds die pad oorsteek, of is die risiko net te groot? En vir weke lank spook hierdie groen flitsende mannetjie by my. Enersyds as 'n simbool van ons land: ja, dit is 'n aanvaarde padreël, maar wetteloosheid het die absolute mag van reëls opgehef, andersyds as 'n persoonlike simbool: flitsende groen boodskappe in die kop, maar die hart/siel/lyf flits sy eie boodskappe en iewers moet jy dit alles teen mekaar opweeg om uiteindelik 'n besluit te neem. Mag die gode jou behoed dat jy die regte besluit neem en heelhuids anderkant uitkom. Black and Blue val half in die kader van iets soos magiese realisme, uit dieselfde stal as dié van die groep wat die veelbekroonde Baobabs Don't Grow Here opgetower het. Soos Baobabs is dit ook 'n aangrypende teaterjuweel. Dis veel ligter in aanslag as Tshepang en Green Man Flashing, maar worstel ook met die eietydse, met rasseveralgemenings. 'n Wit vrou vasgevang in haar benouende blou (letterlik en figuurlik) bestaan begin mettertyd deur haar kontak met 'n swart tuinwerker as't ware blom. Mens sou jou kon misgis en dink Black and Blue verwys na 'n gewelddadige verhouding, na iemand wat pimpel en pers geslaan is. Iets daarvan lê tog onder die oppervlak - jare se slae (hetsy met die sweep of die tong) wat uitgedeel is en nou moet daar genesig gevind word. Soveel soos ek Tshepang loof vir die sout wat in die wonde gevryf word, net soveel loof ek Black and Blue vir die salf. Albei is nodig, albei het bestaansreg, want albei staan in sy tyd. Natuurlik is daar nuwe Afrikaanse dramas wat met universele temas omgaan wat 'n mens werklik raak en waarvan sommige die toets van die tyd gaan deurstaan, maar vir dié skrywe wil ek by wyse van vergelyking by 'n andersoortige tendens in die Afrikaanse drama stilstaan - dié in gesprek met die verlede: ter toeligting, ter verheldering, ter ironisering, ter begrip. Ek sonder enkeles uit ter illustrasie: meer onlangs Saartjie Botha se 1975 en Malan Steyn se Drie Susters: 'n Plek; 'n paar jaar gelede Pieter Fourie se dokumentêre drama Boetman is die bliksem in! (gegrond op Chris Louw se boek en aan die hand van die debatte wat in Afrikaanse koerante gevoer is). Moontlik is daar ook ander wat van toepassing is, wat ek dalk nie gesien het nie of wat my nou ontgaan. Vergewe my dus. 1975: 'n o so onbenullige jaar, wat in die mond van twee joernaliste in gesprek in sy onbenulligheid 'n onheilspellende voorspel word tot die geskiedenis, maar ook inspeel op die persoonlike herinneringe van die spelers (Jana Cilliers en Antoinette Kellermann) en later letterlik 'n spel van retoriek en herhaling word. Na my mening Botha se mees volwasse en gewaagde drama tot op hede. Drie Susters: 'n Plek leen by die Drie susters-tekste van Anton Tsjechof en Reza de Wet en speel af in die jare tagtig in die dorre Karoo. Die tyd van diensplig, Grensvegter, liedjies soos "Troepie-doepie" en kubuskulture. Malan is 'n meester van ironie en interteks en skep 'n godverlate vlakte van die verlede met heelwat humor, wat vreemd genoeg die gehoor dié dag wat ek dit gesien het, totaal ontgaan het. Of is my humor awelinks? Oor Boetman/Boetman is daar meer as genoeg gesê - diegene wat nie daarvan kennis geneem het nie, is waaragtig bossies, maar daai stuk moeë geskiedenis gaan ek nie nou weer hier oprakel nie. Die punt is: dit is ook in gesprek met die verlede. Wat die drie se gesprek met die verlede gemeen het, is 'n intellektuele diskoers - in laasgenoemde se geval van wisselende gehalte oor die volk so mildelik deelgeneem het. Daar is hoegenaamd nie fout daarmee om tot die intellek per se te spreek nie, maar is daar nou nie 'n groter uitdaging wat wag nie? Ek kry die gevoel dat Van Graan en Foot Newton hul vinger op die pols van (Engelse) Suid-Afrikaanse teater het. Antjie Krog sny tot op die been in A Change of Tongue in (Engelse) Suid-Afrikaanse letterkunde. Gesien uit die 'n sosiopolitieke sfeer van die nóú. In 'n kitsregiekursus wat Ilse van Hemert onlangs vir Aardklop aangebied het, sê sy drama moet sy tyd weerspieël. Wat ís ons tyd? Is dit enersyds 'n tyd vir suiwer intellektuele besinning, steeds in gesprek met die verlede, en andersyds gelate ontvlugting, om te lag en te lag en te lag …? Die einste Saartjie Botha sê per geleentheid in 'n gesprek vir my: "Ons gehore wil vermaak word, hulle wil nie geraak word nie." En momenteel is ek stom. Maar ook nie stiksienig nie. Want natuurlik moet daar balans wees met al die skakerings tussenin, maar dit moet nie te veel oorhel na die eenkant toe nie. Nie die priesters nie, nie die politici nie, maar die teater was nog altyd die voorloper, die wegwyser, wat jou tot besinning kan roep en oneindige genesing kan bied. Ek sal my geloof in my kerk behou. Die tyd uitkoop.
Sy was die kunsredakteur van Beeld tot in 1997 toe sy die mediabestuurder van die destydse Standard Bank Nasionale Kunstefees in Grahamstad geword het, waar sy die ongelooflike 25ste herdenkingsfees in 1999 meegemaak het. Sy het 'n dramagraad aan UP verwerf en het in haar tweede jaar die Don Lamprecht-prys vir die beste student in praktiese toneelkunde gewen. Sy ly aan slaaploosheid, verkies José Cuervo bo die druif en is verslaaf aan sigarette en poësie. Sy is bekend vir haar hoede, ringe en kragwoorde.
Have your say! To comment on this piece write to webvoet@litnet.co.za, and become a part of our interactive opinion page. Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |