Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Groot Kunstefees- en Teaterindaba
Moontlik gemaak deur/Supported by:
Klik hier vir Aardklop se tuisblad
Klik hier vir Sanlam se tuisblad
Klik hier vir die KKNK se tuisblad
Louis Heyneman
Louis Heyneman
Klik hier vir jou daaglikse Beeld
  • Onderhoud met Claire Johnston
  • Klik hier vir jou daaglikse Volksblad
  • 'n Soeke na Koos Doep, die mens
  • Skryf vir ons/ Write to us: webvoet@litnet.co.za

    'n Opgewasemde spieël

    Kunsjoernalis en uitvoerende hoof van die Kaapse Filharmoniese Orkes, Louis Heyneman*, sê, "Ons kry waarskynlik net wat ons verdien: niks minder en niks meer nie. Ons het klaar kuns met vermaak verwar."

    Die digitale revolusie van die 21ste eeu het ons almal onkant betrap. Die afgelope twintig jaar het die wêreld rondom ons so ingrypend verander dat ons nie eens meer agterkom hoe dit ons kuns en kultuur binnegedring het nie. Ons e-pos en SMS in plaas daarvan om briewe te skryf. Ons praat die lingua franca van die wêrelddorp. Ons smaak in motors, modes, musiek en die visuele kunste is verfynd en gesofistikeerd.

    Ons is Pa en Ma ver vooruit. En terloops, as jy my vies wil maak, moet jy probeer voorgee dat ons Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners minder van 'n globale kultuur weet of verstaan as ons Engelssprekende landgenote. Ons, soos al die fyn beskaafde mense van ander wêreldstede, is ewe getroue (en selfvoldane) slawe van die globale kultuur.

    Maar die wet van gemiddeldes bring 'n vloek van sy eie. Hoe meer mense hierdie wêreldkultuur deel, hoe minder elitisties (oeps, vloekwoord) en hoe vlakker word dit. Die vervlakking van die kunste is geensins 'n tipies Suid-Afrikaanse fenomeen nie. 'n Vriend uit Londen beaam onlangs dat gewone teaters in Londen moeilike tye beleef. Die toeriste staan in lange toue om die groot, skouspelagtige musiekblyspele soos Phantom of the Opera en extravanganzas soos River Dance te sien. Ernstige teater en klassieke musiek trek goeie gehore net as die uitvoerende kunstenaars groot sterre is. Soos sokker die David Beckhams van die wêreld as trekpleisters gebruik, moet die ernstige kunste ook van dié soort tegnieke gebruik maak om gehore te trek.

    Die sogenaamde "ernstige" kunste is 'n intellektuele spieël van die mens en sy gewoontes. Maar in Suid-Afrika het die spieël opgewasem. Die digitale revolusie aan die een kant, en die druk om deel van Afrika te word aan die ander kant, het gelyktydig gekom - ons bevind ons dus in 'n unieke situasie ten opsigte van taal, identiteit, kultuurtradisie en lewensbeskouing. Geen ander volk moes juis in hierdie oorgangstyd tussen die hippie-era van die sestigs en die inligtingsontploffing van die tagtigs so vinnig in pas kom nie. En amper vergeet ek van die groot aanpassings ten opsigte van moraliteit, godsdiens en etiese waardes.

    Ons kunstefeeste - die beste en slegste daarvan - weerspieël maar net wat in die werklike lewe aangaan. Ons verdien net wat ons kry. Niks meer nie, niks minder nie. Maar terwyl dit nou nie net ons skuld is dat ons kunstefeeste oppervlakkige kultuurkermisse geword het nie, laat my toe om met mening te teef oor alles wat verkeerd is.

    Ons is so behep daarmee om cool en verdraagsaam te wees dat enige poging tot ernstige kuns as elitisties afgemaak word. Alles moet eenvoudig inklusief (lees: grootste gemene deler) wees en as iets ideologies nie 'n wêreldkultuur omhels nie, is dit veragtelik, eng, snobisties … 'n onheilige komplot deur behoudende rassiste om hulself ten koste van ander gemeenskappe intellektueel te vermaak.

    Die eerste nasionale kunstefees in Suid-Afrika was die breinkind van prof Guy Butler, die Engelssprekende boere-gentleman van Grahamstad. As inwoner van 'n ietwat geïsoleerde Oos-Kaapse universiteitsdorp wou hy die aandag op sy tuisdorp vestig en terselfdertyd intellektuele stimulasie rondom die kunste aan die gang sit. Die Grahamstad-resep was destyds 'n nuutjie in Suid-Afrika en 'n besoek aan die fees was 'n opwindende kunsuitstappie vir kunstenaars, plattelanders wat nie gereeld by die teater kon uitkom nie, akademici wat naarstiglik op soek was na 'n verhoog vir hul kunseksperimente, huisvrouens wat sedert hul universiteitsdae in die alledaagsheid van hul voorstedelikheid vasgevang was, studente op soek na 'n vakansiejol, en kunshandwerk-entoesiaste wat van hul leersandale, gehekelde skinkbordlappies of makramé-potplanthouers ontslae wou raak.

    Teater was aanvanklik sterk verteenwoordig, selfs eksperimentele teater. Die rolprentkuns, skryfkuns, dans, ernstige musiek, visuele kunste en kunspolitieke debatte het die prentjie voltooi. Kuns ter wille van kuns dus, nie noodwendig om den brode of ter wille van die ideologiese gewete van 'n nasie nie. Maar in die jare sewentig was 'n kunstefees, helaas, nog 'n kunstefees.

    Reeds in die vroeë jare tagtig is gekla dat Grahamstad te Eurosentries is, dat die hoofdoel van kuns ideologie en transformasie moet wees. Grahamstad moes tot elke prys 'n spieël van die Nuwe Suid-Afrika word.

    En terwyl daar 'n nuwe wêreld van kuns uit Afrika vir baie entoesiaste oopgegaan het, was daar ook 'n groot groep wit Suid-Afrikaners wat verveeld met ons enigste nasionale kunstefees geword het. Niemand sou dit durf sê nie, maar die gemiddelde feesganger se bubble het gebars. Hulle wou nie gekonfronteer word met protesteater, protesmusiek en proteskuns nie.

    'n Kunstefees kon ook nie sonder borgskap uit die private sektor bestaan nie. Enersyds was die borge onder druk om hierdie ommeswaai te help bewerkstellig en andersyds het borge skaarser en skaarser geword. Die korporatiewe sektor het in landsbelang dit hul plig geag om transformasie in die kunste te help bespoedig, maar kleiner en individuele borge het, soos baie feesgangers, stilletjies weggeskram. Vir hulle was die gedwonge verafrikanisering van die kunste politieke bagasie wat hulle probeer vermy het. Om sake te vererger, het swart kunstenaars verontwaardig kultuurmoord geskree en is selfs produksies van twyfelagtige gehalte gedwonge en ter wille van transformasie na Grahamstad geneem.

    Ons eerste nasionale kunstefees was o so polities korrek, maar in die harte van baie feesgangers volksvreemd en irrelevant. Afrikaanssprekendes (en cool stadsjapies) sou dit nooit ruiterlik erken nie, maar hul was nie lus om hul beursies te skud vir kuns wat hul gemaksones binnegedring het nie.

    Die gebrek aan Afrikaans was nie die enigste rede hoekom die KKNK en later Aardklop tot stand gebring is nie. Dat Oudtshoorn en Potchefstroom onbeskaamd 'n bepaalde nis van kunstefeeste najaag, is niks ongewoon nie. Elke kommersiële produk op aarde mik na 'n bepaalde mark. Maar die kommersialiteit van ons feeste verseker dat kuns ter wille van die kuns bysaak bly. Steve Hofmeyr, Kurt Darren, Dozi en Patricia Lewis is deesdae die ware trekpleisters. En te oordeel aan die groep nuwe populêre sangers en bands wat jaarliks debuut maak by ons feeste, het ons feeste 'n reusagtige mark geword waar kunstenaars die volk kom toets. Byna soos 'n toetsbaan vir nuwe motormodelle. As dit by die volk byval vind, is hulle reg om die produk op groot skaal op die res van die nasie los te laat.

    Daarteenoor het klassieke musiek van die begin af aan die agterspeen gedrink. Die redes lê voor die hand: tydelik-ingerigte venues wat nie akoesties geskik is vir byvoorbeeld kamermusiek of simfonie-orkeste nie, 'n informele feesgehoor wat van die een opvoering na die volgende hardloop, die hoë koste van groot ensembles, ens.

    Maar die eintlike rede is die gees van die fees. Die ernstige kunste werk nie regtig op feeste nie. Dis nie in die mode om jou lyf te intellektueel te hou op 'n fees nie. Die ernstigheid bederf die pret! Bier en wors en 'n onbeskofte groep rockers is nou eenmaal soveel meer sports as kunsliedere of 'n boekvoorlesing. Kunstefeeste is ook 'n soort vakansie-uitstappie, 'n plek waar jy jou hare kan laat loshang en jou maniere by die huis kan los.

    As markkragte dan die verloop van ons kultuurfeeste bepaal, waar pas die ernstige kunste dan in? Het iemand 'n plig om te sorg dat ons as volk intellektueel kunssinnig bly? Of is ons soos die res van die Westerse wêreld gedoem tot 'n globale kitskultuur?

    Het die staat 'n verantwoordelikheid om die ernstige kunste te finansier? In lande waar kunste-borgskappe van belasting aftrekbaar is, kan ryk individue besluit hoe persoonlike belasting aangewend word. Toe dié lastige kwessie enkele jare gelede by 'n nasionale kongres geopper is, het verteenwoordigers van die staat duidelik laat blyk dat die Departement van Kuns en Kultuur liewer al die belasting wil invorder en dan self sal besluit hoe om dit te verdeel. Maar wie bepaal die prioriteite? Wie besluit tussen kunsvlyt in 'n landelike gebied of Shakespeare in die stad? As maatskappye toegelaat word om regstreeks geld aan die kunste te gee, is beweer, sal hulle onder mekaar 'n slim transaksie uitwerk om die staat te verkul.

    Die Departement van Kuns en Kultuur het wel sy aanvanklik anti-Eurosentriese sentiment van 1994 laat vaar. Sedert verlede jaar ondersteun die Departement weer simfonie-orkeste, weliswaar op klein skaal. Maar sonder dat daar 'n langtermyn-, gestruktureerde borgplan is, gaan daar nie werklik vooruitgang ten opsigte van die ernstiger kunste wees nie.

    In die Kaap sit ons met 'n nuwe minister vir kultuursake, sport en ontspanning wat openlik in sy begrotingstoespraak in Junie verklaar het dat sy department se prioriteite transformasie, ontwikkeling en die bekamping van armoede en ongelykheid is. Mnr Chris Stali se toespraak, wat wemel van rassistiese stellings, word sewentig persent aan sport gewy. Volgens hom is sy departement tans besig om 'n nuwe befondsingsbeleid uit te werk. En hy sal seker maak dat dit die diversiteit van die Wes-Kaap weerspieël en deeglik bydra tot die ekonomiese bemagtiging van al sy mense. Die strategiese plan is om volhoubare werksgeleenthede te skep. Hy verwys na wêreldklas-produksies en noem die onlangse opvoering van Phantom of the Opera by name. Ek hoop hy het die fantoom gesien, want hy het twee van die onlangse funksies van die Kaapse Filharmoniese Jeugorkes, wat grootliks uit kinders uit benadeelde gemeenskappe in die Kaapse Vlakte bestaan, misgeloop deur op die laaste nippertjie te laat weet hy kan nie meer kom nie!

    Mnr Stali is blykbaar 'n groot sportliefhebber. In die einste begrotingstoespraak sê hy dit is die wit mense wat sportsoorte soos jag van die swart volkere in hierdie land weggeneem het. Sy mense was uitstekende spiesgooiers, maar die kolonialisme en apartsheidwette het die spiesgooiers opsetlik gedwing om hulle spiese neer te lê. Nou is jag as 'n sport net vir 'n klein minderheid.

    Terloops, mnr Stalin, ek bedoel Stali, eens op 'n tyd was ons almal jagter-insamelaars. Die grootste deel van die wêreld koop hul vleis en kos nou by supermarkte. Dis nie net in Suid-Afrika wat julle met opset verplig is om julle spiese neer te lê nie. Die hele bose wêreld met sy nywerheidsomwenteling en nare ontwikkelings het ons almal ingehaal. En onthou asseblief, dit was nie ons wat sokker, selfone of BMW's op julle afgedwing het nie. Dit was die twintigste eeu wat ons almal aan die nuwe euwels van ons tyd verslaaf gemaak het.

    As dit by die kunste kom, sit die korporatiewe wêreld ook dik van die filistyne. Al die groot maatskappye begroot jaarliks vir sogenaamde sosialeverantwoordelikheidsprogramme. Maar dikwels word die keuse van borgskappe oorgelaat aan beeldpoetsers in die Skakelafdeling van die maatskappy. Die meeste van hulle stel in sport belang, maar weet weinig van die kunste. Enkele jare gelede was die kunstenaars in Suid-Afrika lelik omgekrap toe een van die telekommunikasie-reuse miljoene rande spandeer het om 'n oorsese balletgeselskap en orkes deur die land te laat toer, terwyl hy die geld in ons eie kunstenaars behoort te belê het. Dis uiteraard Suid-Afrikaners wat dié maatskappy se winste verseker. En ek sal graag wil weet hoeveel Nedbank met sy kunste-kredietkaarte en TV-advertensies oor die kunste jaarliks (in rand en sent) in die kunste belê. Nie aan promosies of advertensies nie, maar aan die kunste self ... veral sedert Ivor May en Nedbank se paadjies geskei het.

    DaimlerChrysler het pas aangekondig dat hy die Philharmonia of the Nations onder leiding van die Duitse dirigent Justus Frantz Suid-Afrika toe bring. En dit terwyl die maatskappy aansoek na aansoek om finansiële steun aan die ontwikkeling van ons eie jong musici (selfs uit agtergeblewe gemeenskappe) afkeur.

    So kan mens aangaan. Miskien moet ons die vuurvreter Mike van Graan aanstel om 'n indeks op te stel van presies hoeveel maatskappye in Suid-Afrika regstreeks aan die kunste spandeer. Maar ons is almal te bang om die vraag te vra, omdat dit dalk ons eie borgskappe sal beduiwel.

    Enige beskawing word gebou op 'n volk se vermoë om kuns en kultuur te verstaan en deel te maak van sy daaglikse lewe. Ons is nie masjiene wat ontwerp is om 'n taak te vervul en dan uit te brand nie. Ons vermoë om onsself deur middel van die kunste uit te druk, gee betekenis aan die lewe op aarde. Om ons kunssinnigheid uit te leef, maak ons meer menslik.

    Sonder die ernstige, intellektuele, elitiese kunste word ons almal slawe van massavermaak en oppervlakkige elektroniese plesiere. As die kitskultuur van die wêreld ons beskawing begin oorheers, sal ons kunsvaardighede kwyn - en simfoniese musiek, ballet, opera, kamermusiek, teater, die skone kunste en kunstedepartemente by skole en universiteite sal hierdeur geraak word.

    Ons sien dit reeds by ons kunstefeeste. Die shows wat die meeste mense trek (lees: die meeste geld maak) is die "beste" kuns. Ons het klaar kuns met vermaak verwar. Ons kry inderdaad net wat ons verdien. Die Amerikaanse rolprentaktrise Lana Turner het glo gesê: "I got everything I never wanted." Ek kon hierdie aanhaling nie op haar amptelike webwerf vind nie, maar dit maak nie saak of sy dit werklik gesê het nie. Solank ons kinders ons nie daarvan beskuldig dat hulle nooit die leë wêreld wou gehad het wat ons vir hulle nagelaat het nie.







    *Louis Heyneman het aan die Paul Roos-Gimnasiaum gematrikuleer en die grade BMus (Musiekwetenskap) en Hons B Joernalistiek (cum laude) aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. Op Stellenbosch was hy hoofredakteur van Die Matie (1979) en begin sy loopbaan by Die Burger, aanvanklik in die algemene redaksie en later as lid van die kunsredaksie. In 1983 sit hy sy nadgraadse studies aan die wêreld se oudste joernalistieke skool, Columbia-Missouri, in die VSA voort met 'n studiebeurs van die Rotariërstigting.

    In 1987 word hy adjunkredakteur van De Kat en in 1991 direkteur van die Oude Meester Stigting vir die Uitvoerende Kunste. Sedert 2001 is hy uitvoerende hoof van die Kaapse Filharmoniese Orkes. Hy skryf gereelde musiekrubrieke in onder meer De Kat, Insig en tans Die Burger. Hy was onder meer lid van die KKNK Kunstekabinet, die Unisa Musiekstigting, die Rupert-Musiekstigting, die Sentrum vir Teaternavorsing aan die US en die Internasionale Advieskomitee van die Galgary Internasionale Orrelfees.



    16 September 2004

    Have your say! To comment on this piece write to webvoet@litnet.co.za, and become a part of our interactive opinion page.

    Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe / to the top


    © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.