Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Groot Kunstefees- en Teaterindaba
Moontlik gemaak deur/Supported by:
Klik hier vir Aardklop se tuisblad
Klik hier vir Sanlam se tuisblad
Klik hier vir die KKNK se tuisblad
Jan-Jan Joubert
Jan-Jan Joubert
Klik hier vir jou daaglikse Beeld
  • Klik hier vir die nuutste Plus!
  • Klik hier vir jou daaglikse Volksblad
  • Klik hier vir kunsnuus en hope vermaak!
  • Skryf vir ons/ Write to us: webvoet@litnet.co.za

    Resensente is nie reklame-agente

    Jan-Jan Joubert* slaan terug

    Ek gaan my hou by die rol van die twee grootste Afrikaanse kunstefeeste, en die rol van resensente op kunstefeeste.

    Kunstefeeste het miskien nie heeltemal die regte benaming nie, en dis dalk 'n wortel van die kwaad. Dit lyk asof kunstefeeste 'n spieël ophou na dié deel van die Afrikaanse gemeenskap wat verkies om dit by te woon, maar dat die gemeenskap nie aldag weet of hy hou van wat hy in die spieël sien nie. Mens sou dus wou aanvoer dat die kunstefeeste eerder kultuurfeeste is, met die kunste een van die belangrikste faktore. In hierdie geval word kultuur in sy mees onbevange definisie bedoel, naamlik die gewoontes van 'n groep mense.

    Dit verstom my altyd dat mense met soveel stelligheid die kunstefeeste tipeer, want veral die KKNK is so multifasettig. Wat is die wáre KKNK? Die lesingreeks? Die swaar dramas? Die rock-konserte? Die vlooimark? Die straatteater? Die gekuier en gedrink?

    'n Mens kan eweseer vra wat is die ware Suid-Afrika - Transkei, Johannesburg, die Kaap, Zoeloeland? Sekerlik is die antwoord: oral en nêrens. Dis alles deel van 'n geheel, en mens hou van sommige aspekte meer as van ander.

    Boonop verskil kunstefeeste. Oudtshoorn is stewig in die hand van die korporatiewe borge, so uiteenlopend as Parmalat en die Wes-Kaapse regering. Alles word streng en netjies gereël en elke klein opstootjie word ontleed as aanduidend van 'n wending in die klaarblyklike bestaan van 'n Afrikaanse identiteit.

    Aardklop is minder deftig en minder opgesmuk, minder omvangryk, en gaan met minder wroeging gepaard. Dis moeilik om pretensieus te wees daar tussen die mielies, en Potch is minder onverbiddellik Afrikaans as Oudtshoorn. Mense in die noorde van die land weet baie goed dat Afrikaans 'n minderheidstaal is.

    Maar vir my is albei op 'n eie manier lekker, en op 'n eie manier sleg. Miskien moet mens kyk na wat mense verwag as hulle na die feeste gaan. En nogmaals is dit moeilik om nie aan te voer dis 'n uiteenlopende spul verwagtings nie.

    Baie mense gaan om die uitvoerende kunste te geniet, soos die kaartjieverkope aandui. Ander gaan eerstens om uit te span en met vriende te kuier. Kunstenaars gaan soontoe om geld te maak. En party mense gaan soontoe omdat hulle meen hulle word as Afrikaanse mense oorbodig gemaak in hierdie land, en hulle soek 'n Afrikaanse plek, al is dit net vir 'n kort tydjie.

    Daar is baie mense wat 'n samevloeiing van party van bogenoemde in verskillende mate ervaar, en sommiges wat glad nie met party aspekte sal saamstem nie.

    Wat ek nie kan verstaan nie, is hoekom soveel mense hulle geroepe voel om hul eie mening oor wat van die kunstefeeste en die taalgemeenskap verwag word, en hoe hulle daaraan tekort skiet, onverdraagsaam en byna balhorig aan die groot klok te hang.

    Die een wil opsluit hê die uitvoerende kunste moet die enigste meetsnoer wees, en is dan gewoonlik soos 'n beer met 'n seer tand want niks is ooit heeltemal goed genoeg nie.

    'n Ander meen nee wat, dis sommer alles pretensie. Ons mense soek net ligte vermaak en wil asseblief tog nie hoor die wêreld is kompleks nie. En die peil van jou vertoning word gemeet aan jou verkope.

    Die afgelope tyd het verskeie debatte in Afrikaans gewoed wat, ontdaan van nuanse, aan dié kapstokke gehang kan word. Hierdie debatte het 'n sekere persoonlike inslag en smerigheid gemeen, en ek wonder hoekom die peil so laag is.

    Dit maak my moedeloos dat om jou in 'n diskoers oor Afrikaans te begewe, ook beteken om jou bloot te stel daaraan om by die venyn ingesleep te word. Verdraagsaamheid is nie tans 'n kenmerk van Afrikaanse debat nie.

    Daarmee bedoel mens nie debat moet futloos wees nie. Dit lyk net soms asof niemand 'n mening kan huldig sonder om in iemand anders se persoon in te klim nie, en asof niemand 'n stelling kan maak sonder dat diegene wat van hom verskil, 'n persoonlike verdagmakery op tou sit nie.

    Dit bring my by die rol van resensente en resensies op kunstefeeste.

    Die doel van 'n resensie is om die resensent se mening te gee of dit die moeite werd is vir die publiek om die toegangprys te betaal om 'n aanbieding by te woon. Uiteraard word dus veronderstel dat 'n resensie subjektief is. Die verwagting by die leser en die kunstenaar is dat die resensie onbevange, eerlik en gegrond sal wees. Die resensie is nooit die enigste mening, of die laaste woord nie. Geen resensie kan voorgee om dit te wees nie. Die resensent is feilbaar, maar as 'n publikasie se resensies onsinnig is, sal die publiek wel ophou om dit te koop. Die mark is 'n meedoënlose meester, en die besluitnemers by 'n publikasie moet resensies sif, sny en op verantwoordbare wyse persklaar maak.

    Feeskoerante doen dus binne beperkte begroting en die menslike swakhede waaraan ons almal onderworpe is, hul bes. Boonop moet mens 'n fyn balans handhaaf tussen die kuns- en leefstylaspekte van die feeste, want lesers soek albei in die feeskoerant.

    Gegewe bogenoemde is dit verstommend hoe erg kunstenaars op resensies reageer. Die ster van 'n heel gangbare godsdienstige eenvroustuk het 'n slag hartverskeurend gehuil omdat die koerant 'n positiewe resensie van haar stuk nie vroeër gepubliseer het sodat meer mense dit kon kyk nie. Die swaar grimering het letterlik van haar gesig gespat, so erbarmlik het sy geween. Ek het nog nooit tevore of sedertdien so iets aanskou nie.

    Natuurlik is dit verstaanbaar dat kunstenaars en vermaaklikheidsterre sterk sal voel oor resensies. Elke produksie is tog die gevolg van 'n baringsproses, hetsy self geskep of ingestudeer. Elke produksie bevat die blootstellende en ontblotende daad om daardie sielsgoedere te paradeer, met elke kunstenaar wat sy bes doen. Die kunstenaar sit soveel moontlik van homself in, en ervaar kommentaar op die produksie alte maklik as kommentaar op homself. Geen goeie resensent bedoel dit egter so nie.

    Die belangrikste rede vir kunstenaars se gevoeligheid is dat dit geld kos om enige aanbieding na die kunstefees te bring, en dat daardie geld in die water is as niemand kom kyk nie. Hiervoor moet die resensent deernis hê, maar die leser verwag 'n eerlike mening of dit die geld werd is om die produksie by te woon. Dit is die primêre rol van die resensent.

    Die verhouding tussen resensent en kunstenaar is dus een waar elkeen binne sy vermoë 'n subjektiewe oordeel vel oor 'n poging tot kuns. Die rol van 'n resensent is nie om as reklame-agent op te tree nie. As jy van 'n stuk hou, verduidelik jy hoekom. As jy nie daarvan hou nie, verduidelik jy hoekom. Die lesers is nie dom nie; hulle sien gou deur iemand wat 'n byltjie wil slyp of 'n powere argument voer. Hulle eet nie alles vir soetkoek op nie.

    Sekerlik sal daar vele kunstenaars met wrokke in hul hart kan vertel hoe dié of daardie resensent hulle benadeel het - hetsy gewaan of werklik. En ek is seker die meeste resensente sal toegee dat oordeelsfoute al begaan is. Enigiets anders sou domastrant wees.

    Maar ek wil my pleidooi oor resensies afsluit op dieselfde noot as die punt waarop ek oor die aard van kunstefeeste begin het. En dit is 'n oproep om minder heftigheid en 'n ruimer lees van resensies. Kunstenaars moet resensies lees op dieselfde manier waarop hulle verwag dat die resensent hul produksie moet beoordeel - fyn. Kyk na die taalgebruik en laat ruimte vir konteksgebonde afwykings van die standaard, vir satire, humor, ironie en understatement. Resensente moet vreesloos en eerlik resenseer sonder persoonlike aanvalle. Enigiets anders is 'n ondiens.

    As ons ruimte laat vir 'n veelheid menings, hetsy in ons beoordeling van kunstefeeste of resensies, kan dit net bydra tot 'n ruimer, progressiewer debat wat sal uitstyg bo die persoonlik nydige en die Afrikaanse leefwêreld dalk vorentoe sal neem.







    *Jan-Jan Joubert is in Pretoria gebore, maar het op die ouderdom van drie jaar danksy sy ouers ontsnap na Durban, en is 'n KwaZulu-Nataller in hart en niere. Hy het aan Kovsies en Maties studeer, waar hy 'n hoëronderwysdiploma en twee honneursgrade (in geskiedenis en joernalistiek) verwerf het. In 1997 het hy by Beeld begin werk, waar hy onderwysverslaggewer was. Nadat hy by die Kaapse kantoor van Rapport en as politieke verslaggewer by Die Burger werksaam was, word hy as Beeld se presidensiële verslaggewer aangestel. Hy is tans Beeld se parlementêre beriggewer, en pendel dus tussen Pretoria en Kaapstad. Hy is 'n gereelde redaksielid van Krit, en deel van Beeld se span by Aardklop.



    21 September 2004

    Have your say! To comment on this piece write to webvoet@litnet.co.za, and become a part of our interactive opinion page.

    Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe / to the top


    © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.