SpookNet — rubriek oor aktuele sakeArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Van Wyk Louw se denke krities beskou

Pieter Duvenage

Hoe beoordeel ’n jonger geslag Afrikaanssprekendes (en Afrikaners) die filosofiese nalatenskap van NP van Wyk Louw (1906-1970)? Hierdie vraag het die afgelope tyd brandend geword na aanleiding van JC Steyn se biografie1.

Hoewel Steyn se biografie ’n omvangryke historiese en kultuurfilosofiese blik gee van dié oer-Afrikaner- en Afrikaanse intellektueel, en feitlik deur die bank positiewe reaksie in die Afrikaanse literêre establishment ontlok het, kan dit ook krities uitgedaag word.

In hierdie sin vra Steyn se werk om verdere debat, verkenning en kritiek omdat hy, in die nagloed van 1994, ’n bepaalde sosiaal-politiese perspektief op die Afrikaanse kultuur van die 20ste eeu bied. Na my mening is daar twee aspekte van die biografie waarop krities ingespeel kan word: a) NP van Wyk Louw se problematiese filosofiese nalatenskap en b) Steyn se poging om dit te rehabiliteer.

Hoekom is Louw se filosofiese nalatenskap vandag problematies? Dit is nou meer as ooit duidelik dat alhoewel Louw in die vroeë-dertigerjare met figure soos Hegel, Kant, Husserl, Heidegger en Nietzsche kennis gemaak het, hy hom nie in hulle denke verdiep het nie (hoofstuk 4). Louw het ook baie gou ’n vooroordeel gedeel wat tot vandag breed deur die Afrikaanse wêreld loop, naamlik dat filosofie gevaarlik vir kuns is. Vandaar sy uitspraak in 1933 dat die abstrakte denke daartoe bygedra het dat “ek ... die aarde nie gesien [het] nie” (p106). Iets van hierdie vooroordeel bestaan ook teenoor die eksistensialisme wanneer Louw in die Europese somer van 1953 na Frankryk reis en ’n groepie Franse jong mense skepties betrag (p670).

’n Mens kry ook nooit die gevoel dat Louw in Amsterdam, en terug in Suid-Afrika, enige poging aangewend het om met die na-oorlogse kontinentale filosofie in gesprek te tree nie. Dit sou tog immers verwag word van iemand wat homself as denker beskou het, en ook so deur die Afrikaanse publiek van die jare vyftig en sestig ontvang en geëer is.

Meer provokatief: hou die blinde kolle en mistastings in Louw se opvatting van die kunswerk en politiek nie verband met die feit dat hy nie die nodige filosofiese spitwerk gedoen het nie?

Wat Louw se opvatting van die kunswerk betref, kan die volgende gesê word. Dit is ’n bekende feit dat hy die kunswerk, en in sy geval die letterkundige kunswerk, op ’n modernistiese wyse as outonoom geïnterpreteer het.

In hierdie verband is hy deur Hellinga se stilistiek op linguistiese grondslag beïnvloed. Vandaar sy aversie in enige poging om ’n gedig histories te benader of om die skrywer agter die boek te gaan soek. Interessant genoeg sou Louw dus byvoorbeeld probleme met ’n biografie oor homself gehad het. Dit is egter ironies dat hy, ten spyte van sy outonomie-benadering, so stewig aan politieke debatte in die Afrikaanse openbare sfeer van die sestigerjare deelgeneem het.

Net soos Louw ten opsigte van kuns ’n redelik rigiede modernistiese posisie ingeneem het, was dit ook die geval met sy siening van die politiek. Hoewel ’n mens sou kon aanvoer dat hy vanaf ’n meer aggressiewe verdediger van nasionalisme in die jare dertig (via Nietzsche, die aristokratiese ideaal en bloed-en-bodem-argumente) tot ’n versigtiger verdediger van nasionalisme in die jare vyftig en sestig gevorder het, het Louw nooit werklik buite die raamwerk van nasionalisme beweeg nie. Ten spyte van sy bemoeienis met die liberale begrip in die jare vyftig het Louw nooit getwyfel oor die sentrale rol van die groep of nasionaliteit in die politiek nie.

Dit is dus ’n interessante vraag met watter begrip van die subjek Louw in sy besinnende opstelle gewerk het. Hoewel hy die belang van die outonome kunstenaar met sy profetiese en geniale rol op sterk individualistiese basis beklemtoon, sien hy die politiek as iets wat deur nasionale groepe gestuur word.

Wanneer hierdie twee aspekte saamgedink word, wil dit voorkom asof die groep die individuele kunstenaargenie nodig het om die hoër waardes van die outonome kunswerk as “profeet” aan die volk oor te dra. Louw het nooit hierdie standpunt, met al sy anti-demokratiese implikasies, prysgegee nie. Dit is dan ook hierdie opvatting en die aanliggende opvatting van rasionaliteit wat sterk deur Gerrit Olivier gekritiseer is, maar ongelukkig nie deur Steyn in sy biografie verreken word nie.

Een van die grootste raaisels rondom Louw se denke is dat hy twee gebeurtenisse van hierdie eeu, naamlik die Tweede Wêreldoorlog en die 1968-opstande van studente en werkers onderskat het.

In die eerste opsig is dit ’n bekende feit dat Louw pro-Duits en anti-Joods was (al wil mens ook hoeveel kwalifiserings hieroor opper). My lesing van Louw se houding na die nederlaag van die Nasionaal-Sosialisme is dat dit, soos by Heidegger, eerder met ’n stilswye as verantwoording gepaard gegaan het. Het Louw die aardskuddende implikasies van die Jodevernietiging — om Lyotard te parafraseer — misgekyk, of het hy besluit om dit te ignoreer? Dit is veral die laaste deel van die vraag wat brandend bly, gegee Adorno se uitspraak dat poësie na Auschwitz onmoontlik is.

Rakende die opstande van 1968 sou ’n mens kon redeneer dat Louw reeds te sieklik was om daarop te reageer, maar aan die ander kant het die vraagstukke van dié tyd ’n lang aanloop gehad. Ek beklemtoon laasgenoemde gebeurtenis omdat die 1968-revolusie via denkers soos Lyotard, Deleuze en Guattari, Derrida, Foucault en Baudrillard ons siening van moderne ideologieë oor die politiek (sosialisme, nasionalisme en liberalisme) en mensbeskouings drasties verander het. ’n Jonger geslag kan nie anders as om na Louw deur hierdie bril te kyk nie.

Teen hierdie agtergrond van die problematiese aard van Louw se filosofiese nalatenskap is dit geregverdig om te vra in hoe ’n mate JC Steyn daarmee in die reine kom.

Eerstens moet mens opmerk dat Steyn self vir ’n konvensionele of modernistiese biografie gesorg het. Dit het ’n duidelike begin en einde. Daar is sprake van die Subjek-digter wat te midde van al die “groot” literêre en politieke debatte staan. Hier is nie sprake van ’n geskiedenis van “onder-af” nie, maar eerder van “bo-af”. Hoewel “kleiner” aspekte rondom Louw se lewe uit die verf kom, word dit gou weer in die groot narratief oor die digter/denker ingeweef. Dit is juis binne hierdie groter narratief dat die fragmentariese en partikuliere aspekte van die geskiedenis verlore raak.

In Steyn se polities-literêre rekonstruksie van Louw verdwyn sy eggenotes en kinders soms te maklik ten aansien van die groter gebeure. ’n Mens wonder onwillekeurig wat ’n feministiese lesing hiervan sou maak.

’n Tweede probleem is dat Steyn sy biografie by Louw se grootouers begin (p3-8), sonder om die wêreld wat daarvóór lê te verken: die Afrikaans-Hollandse wêreld wat ons talige en fisiese omgang met hierdie land gestempel het.

Anders gestel: in watter mate maak die Afrikaner se Europees-Afrikaansheid dat hy nog sekere koloniale of selfs post-koloniale motiewe in hom ronddra? Dit beteken nie dat Steyn sy biografie nog langer moes gemaak het nie, maar eerder dat so ’n perspektief met sekere inkorings elders (bv die lang aanhalings in hoofstuk 5) gepaard kon gegaan het.

’n Laaste probleem met Steyn se werkswyse is dat sy eie politieke agenda sterker na vore tree soos die biografie ontvou. Waar dit nog in die eerste deel — Louw se Kaapse jare — onderbeklemtoon word, kom dit baie sterk na vore in sy hantering van die jare sestig (deel II). In hoofstuk 22 verwys hy byvoorbeeld na 1963 as ’n jaar van krisis op literêr-kerklike (dreigende sensuurwetgewing) gebiede (Beyers Naudé se ostrasering), maar hy verswyg die politieke brandpunt van daardie jaar — die ANC Rivonia-verhoor.

Steyn se steun aan die Jaap Marais-argument dat dit ekonomies met Suid-Afrika baie goed gegaan het is darem te dik vir ’n daalder. Marais word verder as Verwoerd se “beste LV” en ’n lojale interpreteerder van Louw geskets (p1060). Uiteindelik is hierdie deel van die biografie ’n kwalik versluierde pleidooi vir ’n tipe neo-nasionalisme.

Ten slotte: reageer ek nie te sterk vanuit die hede teenoor ’n figuur wat homself nie kan verdedig nie en wie se wêreld, vir my generasie altans, grootliks ontoeganklik geword het?

Ek huiwer om die vraag oop te laat, want ek wil die insig van Benjamin wakker hou dat die geskiedenis sy revolusionêre kant vertoon wanneer onverwagse momente uit die verlede die gemeenplasighede van die hede ondermyn.

Pieter Duvenage doseer filosofie aan die Universiteit van die Noorde. Hy is redaksielid van Fragmente: Tydskrif vir Filosofie en Kultuurkritiek en mede-aanbieder van Spookstasie.


1 JC Steyn, Van Wyk Louw: ’n Lewensverhaal. Kaapstad, Tafelberg, 1998

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.