SpookNet — rubriek oor aktuele sakeArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Het die Afrikaner ’n sterk leier nodig?

Gedurende Januarie vanjaar gaan rus ek in die Groot-Karoo uit van die lewenslange harde lewe in die ou Transvaal. Sela en apologie aan Valiant Swart en Piet Botha. Dis die derde keer dat ek op X kom en teen dié tyd ag my gasheer en gasvrou my blykbaar bekend genoeg om my na die maandelikse ete van die plaaslike tennisklub saam te nooi. Diep onder die indruk van hierdie eer begeef ek my graag na hierdie belangrike geleentheid in X se sosiale lewe. Na die gebruiklike verduidelikings van hoe ek die lewe “daarbo” uithou, dwaal die gesprek in die rigting van die politiek. ’n Paar dames van die ouer garde vra my uit oor die politiek en beken die een na die ander dat hulle nou meer as ooit na ’n sterk leier soek. Soos Israel van ouds, reken hulle skynbaar, is ook ons nou herderloos. Heeltemal hopeloos. “Maar tannie,” probeer ek, “sodra ons ’n leier het, hou ons op dink, en dink is wat ons nou moet doen.” Die saad, voel dit my, val maar so tussen die kakiebos en die droë rivierloop.
    Filosofies gesproke, sien ek minstens twee kwessies wat verband hou met hierdie hernieude versugting na ’n leier. Eerstens is daar die geloof aan ’n sterk individu wat die chaotiese werklikheid onder beheer moet bring. Miskien die grootste van alle nasionale subjekte sedert die opkoms van die nasiestaat was Napoleon, ’n man wat skynbaar sy volk kon verenig en die werklikheid aan sy wil onderwerp — die individu as beliggaming van die nasionale strewe. In die geval van die Afrikaners is hierdie rol ten beste deur Verwoerd vervul wat die kritici van apartheid in die vorm van byvoorbeeld die Gemenebes in 1960 met min of meer dié woorde moerland toe gestuur het: “Geen selfrespekterende staat kan toelaat dat ander state hulle in sy huishoudelike state inmeng nie.” Dit was nou vir jou ’n kragtige individu wat die werklikheid onder beheer kon bring. In sekere sin is die drang na ’n sterk leier ’n diep kollektiewe drang om beheer oor die werklikheid te stig. Dit lyk my egter of hierdie versugting altyd met trauma gepaardgaan. Na die Anglo-Boereoorlog en die Depressie het sterk leiersfigure telkens op die toneel verskyn en myns insiens die funksie gehad om die aandag van die trauma weg te lei deur dit oënskynlik met trefsekere optrede te besweer. Daar was byvoorbeeld hernieude oproepe na ’n Afrikanerstaat en die Reddingsdaadbond. Hiermee wil ek nie sê dat daardie inisiatiewe nie ook belangrik was nie. Maar ek wil wel sê dat dit ontstaan het uit ’n begeerte om trauma te besweer en selfs weg te werk.
    Na 1994 en die trauma van die verlies aan politieke mag gebruik Afrikaners verskillende strategieë om hul identiteit te probeer beveilig. Daar is blykbaar by veral jongmense ’n herontdekking van die kerk. (Laat ons nie vergeet nie watter allerbelangrike rol die kerk nog altyd binne ons gemeenskapslewe gespeel het. ’n Roman soos Karel Schoeman se Verkenning wys dat ons in daardie opsig nog nie veel verder as die agtiende eeuse organisering van ons gemeenskapslewe gekom het nie.) Daar is die herontdekking van die geskiedenis, waarvan die Anglo-Boereoorlog seker nie op ’n beter tyd na die Kommissie vir Waarheid en Versoening kon kom om ons weer ’n stukkie morele selfrespek te gee nie. En dan is daar die versugting na ’n sterk leier.
    Die gevaar lyk my egter dat ons met die huidige versugting na ’n sterk leier die risiko loop om nogmaals ’n trauma te probeer wegwerk, hierdie keer die trauma van die verlies aan politieke mag. Myns insiens het ’n filosoof soos Johan Snyman reeds oortuigend aangetoon dat die wyse waarop die trauma van die Anglo-Boereoorlog destyds nie deurleef is nie, maar eerder geïnstrumentaliseer is as deel van ’n toenemend keiharde Afrikanernasionalisme, uiteindelik minstens ’n deel van die verduideliking moet wees waarom dinge na 1948 so lelik ontspoor het. Moet ons nie eerder bloot erken dat ons midde-in nog ’n trauma is nie en hierdie trauma met ons laat werk, sonder om dit nogmaals met ’n sterk leier te probeer besweer? Vrywaar ons ons nie sodoende minstens gedeeltelik van moontlike toekomstige historiese magsvergrype nie?
    Tweedens is daar die bepaalde magskonteks waarbinne hierdie versugting na ’n sterk leier opklink. Myns insiens is daar drie belangrike vorme van mag binne die staat, naamlik kulturele, ekonomiese en politieke mag. Dit is sekerlik nie die enigste vorme van mag binne die staat nie, en die drie staan ook nie los van mekaar nie. Histories was die Afrikaner se magstryd eerstens om politieke en daarna om ekonomiese en kulturele mag. Hoewel daar byvoorbeeld al aan die begin van die negentiende eeu pogings tot republiekstigting in die Kaapkolonie was, het die eerste Pretoriase Afrikaanse sake-onderneming na my wete eers in die veertigerjare ontstaan. Soos reeds gesuggereer, was die twintigste eeuse Afrikanermagstryd hoofsaaklik politiek van aard en dan veral in reaksie op die trauma van die Anglo-Boereoorlog. Die politieke magsoorname van 1948 is gevolg deur ’n ekonomiese opbou tot waar Afrikaanssprekendes deesdae die grootste koopgroep in die ekonomie is en werkloosheid minder as in die meeste Wes-Europese lande is. Is die versugting na ’n sterk leier vanuit ’n magsoogpunt nie ’n reaksionêre teruggryp na verlore politieke mag nie? Het dit nie tyd geword om eerder ons kulturele en ekonomiese situasies kreatief te ontgin nie? Myns insiens bestaan die gevaar dat die opkoms van ’n sterk leier nogmaals die ontkenning van trauma en die verbygaan van ’n kans op ekonomies kulturele kreatiwiteit kan beteken.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.