Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Van ‘n geslypte diamant tot rowwe straatgatte

Theunis Engelbrecht

Om opgeslurp te word in die worsmasjien van die musiekwêreld is min of meer dieselfde as oorvretery. In Januarie is die musiekbedryf gelukkig nog stil ná die helse kommersiële orgie van die laaste drie maande van verlede jaar, waarvan die Krismismark die kersie op die reeds oorlaaide ou koek was.

Maar dis skaars Maart of almal is al weer hewig aan die skarrel en stadig maar seker begin die konstante stroom nou weer spoed optel. Die afgelope twee weke (vir dié wat dit nie weet nie, hierdie rubriek is ‘n tweeweeklikse round-up van vars, nuwe CD’s) het die volgende hier beland om geluister te word: 12 Songs (Neil Diamond), Impressions (The Strokes), Electric Blue (Erasure), Long Walk to Freedom (Ladysmith Black Mambazo), You’re Beautiful – Acoustic Love Songs (verskeie kunstenaars), Testify (P.O.D.) en Duets – The Final Chapter (The Notorious B.I.G.).

En raai met watter een is ek die meeste beïndruk? Neil Diamond. Regtig. Ek maak nie grappies nie. Laat die tromme roffel, want dis weer tyd vir …

CD VAN DIE MAAND!

Neil Diamond: 12 Songs (Columbia)
Klik op CD en koop dit nou!

Neil Diamond – 12 Songs

Ja, ons almal weet Neil Diamond was jare lank miljoene voorstedelike huisvroue se versinnebeelding van die romantiese ideaal en dat hulle hulself tot in ‘n sopnat toestand kon opwerk oor hom, kan jy nou meer. Ons weet ook Hot August Night was ‘n vuurwarm plaat en The Jazz Singer ook nie te sleg nie. Toe hy egter You don’t bring me flowers saam met Barbra Streisand opgeneem het, het hy my begin verloor. Dit was darem net te erg vir enige mens met stabiele geestesgesondheid.

In 2003 het die befaamde musiekregisseur en -produksieleier Rick Rubin vir Diamond laat weet hy sal graag ‘n paar liedjies saam met hom wil opneem. En dié van julle wat “Sound Bites 2” gelees het, sal weet Rubin is nie sommer ‘n hierjy-mannetjie nie. Hy het al saam met onder andere The Beastie Boys en Red Hot Chili Peppers gewerk, en was ook vir die laaste tien jaar van Johnny Cash se loopbaan sy produksieregisseur. ‘n Groot gees.

Dit sou egter onregverdig wees om te sê die CD is goed net omdat Rubin die regisseur was. Diamond het 12 baie goeie liedjies geskryf vol diepte en warmte, maar ook met die skop van emosionele intensiteit hier en daar (soos die einde van “Hell Ya” en “Evermore”). Die verwerkings en orkestrasie is bykans tot op die been gestroop. “Ons wou hê al wat aan die einde moes oorbly, is die hart van die musiek,” sê Diamond in die CD-boekie. “Die uitgangspunt was eenvoud en eerlikheid.” En daarin het hy en Rubin meesterlik geslaag. Hy wou hê Diamond moes kreatiewe energie tap uit die Bruce Springsteen diep binne hom. En hy beskryf 12 Songs met drie woorde: “Intiem, emosioneel, persoonlik”. En dit is wat jy kry. Rubin is ook baie in sy noppies omdat hy dit kon regkry om ‘n bietjie van ‘n Velvet Underground-klank ingewerk te kry in die liedjie “Save me a Saturday night”. Diamond wys wat in hom steek, en as ‘n kreatiewe herlewing is dit merkwaardig.

Oor die muur?

Ladysmith Black Mambazo: Long Walk to Freedom (GMP)
Klik op CD en koop dit nou!

Wat die res betref, kan mens maar kortpad gaan. Ek sien in die Sunday Times (26 Februarie) skryf Bongani Madondo dat Ladysmith Black Mambazo moet aftree, want volgens hom is hulle nou oor die muur. Dit alles na aanleiding van hul jongste CD, Long Walk to Freedom. Toe ek sien watter liedjies daarop is, het ek gedink: Hoeveel keer moet ou immergroen-treffers nog opgedis word? Want daar is onder meer “Shosholoza”, “Homeless”, “Diamonds on the soles of her shoes”, “Mbube”, “Amazing Grace/Nearer my God to Thee” en die volkslied (sonder “Die Stem”, dankie tog.)

Al wat dié album anders maak, is dat LBM ‘n paar groot name gekry het om saam met hulle te sing: Zap Mama op “Hello My Baby”, Melissa Etheridge op “Diamonds on the soles of her shoes”, Sarah McLachlan op “Homeless”, Natalie Merchant op “Rain Rain Beautiful”, Taj Mahal op “Mbube”, Emmylou Harris op “Amazing Grace/Nearer my God to Thee”. En op “Shosholoza” word die krane oopgedraai, met Lucky Dube, Bhekumuzi Luthuli, Hugh Masekela, Vusi Mahlasela, Nokukhanya Phuzekhemisi en Thadiswa Mazwai wat saamsing.

Ek het die CD een keer deurgeluister en gedink ag, dis darem nie te vrot nie, maar ook dat ek baie sterk twyfel of ek ooit weer daarna sal luister, want daar is te veel ander goeie nuwe CD’s. Al wat vir my werklik uitgestaan het, is die weergawe van “Diamonds on the soles of her shoes”, waarop Melissa Etheridge saamsing.

Ek sal nou wel nie self vir LBM die ouetehuis toewens nie, maar hierdie CD het maar net by my een oor ingegaan en by die ander uit.

Deur die ore genaai?

The Strokes: First Impressions of Earth
Klik op CD en koop dit nou!

The Strokes het al ‘n heel skaflike reputasie vir hulself opgebou, maar hul derde CD, First Impressions of Earth, is ook maar by die een oor in en die ander uit en ek het vir ‘n oomblik gewonder of hulle musiekliefhebbers nie deur die ore naai nie. Hulle is ‘n lekker gatskop-rockgroep, ‘n klomp rowwe, streetwise jolgatte, maar dalk het ek te gou na First Impressions of Earth geluister nadat ek na The Rolling Stones se A Bigger Bang en System of a Down se Hypnotize en Mesmerize geluister het, en dan klink dit maar nóg vis nóg vlees. Daar is so baie rockgroepe, en ook so baie wat goed is, dat mens maar selektief moet wees. My maatstaf is altyd: Sal ek ‘n CD nog geniet wanneer ek eendag op die ouetehuis se stoep sit? En ek is bevrees ek sal nie vir The Strokes saamvat soontoe nie. (Ek vermoed Neil Diamond se 12 Songs sal dit wel maak.) En as ek na jong rockgroepe wil luister, sal ek eerder na Razorlight se Up all Night luister – en daar is nog honderde ander.

Vir nagklubprinsesse asook bakvissies van al vier seksuele oriëntasies

En liewe genade tog, wat sal ‘n mens sê oor Andy Bell se Electric Blue? Hy was/is die sanger van Erasure, hy is gay, hy hou van elektroniese dansmusiek, hier en daar is ‘n interessante klankie, maar op die lang duur raak sy stem irriterend. Die teikenmark is gay mans wat van dansklubs hou en bakvissies van al vier seksuele oriëntasies. Tematies gesproke is die inhoud baie dun en basies: verliefdheid, wanhopige wellus, gebreekte harte, eensaamheid, snot en trane, die adrenalien van lekker seks. Dié CD sal helaas ook nie die paal haal wanneer ek eendag in die ouetehuis sit en wil dans nie. Dan sal ek eerder na Toots & The Maytals se CD True Love luister om die bene ‘n bietjie te laat ratel.

‘n Spook maak weer ‘n CD

As daar enige LitNet-lesers is wat versot is op hulle rap en hip-hop (deesdae is albei terme baie generies en ‘n nogal breë sambreel om pop onder te speel), gaan luister maar self na P.O.D. se Testify en The Notorious B.I.G. se Duets – The Final Chapter. Albei is tot barstens toe vol van dit van hierdie soort musiek waarvan ek wel hou: dis hardegat, dis streetwise, die kitare is donderend en dreunend, en van die lirieke kom baie na aan straatpoësie – as hulle net die lirieke in die CD-boekies wil publiseer, sal dit ook al klaar vir ‘n meer interessante ervaring sorg, maar nee.

Ondanks die meer aantreklike aspekte van hierdie musiek raak ‘n mens gaandeweg meer bewus van die verskriklike macho-aanslag. Die aantygings van vrouehaat, homofobie en die verheerliking van geweld in hierdie musiek is ook ‘n debat op sy eie. En ‘n mens kan ook net soveel keer die word “Yo!” hoor voordat jou kop soos ‘n yo-yo begin voel.

The Notorious B.I.G. is al ‘n paar jaar nie meer met ons nie nadat hy die emmer op gewelddadige wyse geskop het, maar dit het nie sy platemaatskappy verhinder om ‘n paar van sy ou opnames te vat, kunstenaars ateljee toe te nooi, hulle stemme by syne te voeg en dit dan te recycle as Duets: The Final Chapter nie. Die kunstenaars wat op die wa gespring het, is Diddy, Eminem, Jay-Z, Snoop Dogg, Ludacris, Faith Evans, Nelly, 2Pac, Mary J Blige, Missy Elliot, R Kelly, Korn, en selfs Bob Marley se stem is ook uit die argiewe opgediep om by dié van The Notorious B.I.G. gemeng te word. Skaamteloos. Vier liedjies het my wel beïndruk: “1970 Somethin’”, “Hustler’s Story”, “Ultimate Rush”, “Just a Memory”.

Stroop, kougom en spookasem?

Compilation: You’re Beautiful: Acoustic Love Songs
Klik op CD en koop dit nou!

“Compilation” CD’s met liefdesliedjies is altyd baie gewild, en die groot korporasies wat pop en rock en R&B (en al die ander aannaaisels daarvan) bemark, weet dit terdeë. Ongelukkig het ‘n mens al rede om deesdae skepties te wees as jy so ‘n compilation kry, want hoe ouer ‘n mens word, hoe moeiliker word dit om stroop en kougom en spookasem te verteer.

Daarom is You’re Beautiful: Acoustic Love Songs ‘n aangename uitsondering op die reël. Dis meer stewige spyse, al is dit ook nou nie almal van volgraan-gehalte nie. Ryan Adams doen ‘n kwaai weergawe van Oasis se treffer “Wonderwall”, en KD Lang sing Neil Young se “Helpless” op ‘n heel bevatlike wyse. Verder is daar kunstenaars soos David Gray, REM, Daniel Powter, Dido, Craig David, Sting, Damien Rice (wie se liedjie “Cannonball” die hoogtepunt op die CD is), Alanis Morissette, Sheryl Crow, Eric Clapton, Jet, Fleetwood Mac en Lou Reed. ‘n Stewige spulletjie. (Net jammer wie ook al die CD saamgestel het, het dit bederf deur Leann Rimes se besonder afskuwelike “How do I live” hierby in te sluit.

As jy by iemand wil vlerksleep, of jou geliefde wil hê jou stronk moet weer ‘n bietjie vonk, kan hierdie CD dalk net help. (Burp.)





LitNet: 7 Maart 2006

to the top / boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.