|
'n T-Bone, 'n vet seun, 'n troeteldierwinkel, pyn en 'n agterkamerTheunis EngelbrechtCD’s van die maandT Bone Burnett: The True False Identity Oom T Bone het ’n indrukwekkende CV, al sê dit nie hoe hy aan sy bynaam gekom het nie (sy naam is Henry). Hy het al in 1965 begin plate maak as produksieleier van country-, rock & roll- en Texas blues-groepe. Hy het self ook baie albums gemaak, soos Criminal Under My Own Hat, wat in 1992 vir ’n Grammy benoem is. Loer ’n mens op sy webwerf, sien jy hy het ook die musiek geskryf vir twee van Sam Shepard se teaterproduksies, asook vir ’n produksie van Bertolt Brecht se Mother Courage and Her Children. In 2002 het hy vier Grammys gewen: twee vir die klankbaan van O Brother, Where Art Thou? (as produksieleier), een vir die beste tradisionele folk-album vir Down from the Mountain, en ook as produksieleier van Sam Phillips se Fan Dance. In 1995 het hy ’n Grammy gekry as produksieleier van Tony Bennett en kd lang se CD A Wonderful World. Hy het ook die leisels gehou by die opname van die verruklike Cassandra Wilson se nuwe CD, wat later vanjaar uitgereik word. (Irriteer die woord produksieleier ook vir julle soveel as vir my? Mense praat tog nie so nie. Hulle praat van ’n producer.) Ewentwel, hy was ook aan die stuur van sake van baie flieks se klankbane, soos Cold Mountain, A Mighty Wind, Crossing Jordan, en meer onlangs Walk the Line. ’n Mens durf The True False Identity dus met hoë verwagtinge aan. Die eerste twee songs, “Zombieland” en “Palestine Texas”, het my dadelik in hul bekoorlike greep vasgevang, en my vriendin Jana-Mariana getuig sy het dit ook so ervaar. Die begeleiding laat mens baie aan Tom Waits se meer onlangse tipe klank klink, maar die oomblik as oom T Bone die eerste woorde van hierdie CD sing, besef jy hy is nie ’n blote nabootser nie: “Accentuate the positive, destroy all the negatives before the black mass media get a hold of them.” Burnett se sosiale en kulturele kommentaar is deurgaans baie skerp en hy het duidelik sy vinger op die pols van die tydsgees. Luister maar na “Fear Country”, “Hollywood Mecca of the Movies” en “Blinded by the Darkness”. Hy goël ook lekker met woorde. Die volgende kom uit “Palestine Texas”: “Frank who was swank robbed a bank with a tank for a prank. Sam who was glam ran a scam from Siam to Vietnam. Dean who was clean had a scene with the queen for a magazine. Joe wasn’t slow but didn’t know how to blow all the dough from the show.” Haar hoogleraars van die woord kan maar hul neuse optrek vir sulke lirieke, maar sy wat Jana-Mariana is hou daarvan, sê my vriendin. As Sound Bites ’n hotel was, het The True False Identity ’n vyfster-gradering gekry. En, herinner Jana-Mariana ons, as dit ’n kunswedstryd was, beslis ’n hele paar goue diplomas. En wie kan met Jana-Mariana stry? Fatboy Slim: Why Try Harder: The Greatest HitsSê die woord dansmusiek en mense is onmiddellik op hul hoede of trek hul neuse op, want hulle dink aan doef-doef-doef-sokkie-sokkie of doef-doef-doef-disko-disko. Jana-Mariana sê: “’n Mens het tog gereeld nodig om na vinnige, opgewekte musiek te luister wat weer ’n geratel in jou geknakte gebeentes laat losrittel. Wat my betref is Fatboy Slim die koning van dansmusiek. Al die ander ou DJ’tjies wat dink hulle is popsterre kan maar gaan doppies (of outoppies) blaas – hulle is baie lig in die broek. Fatboy Slim het gravitas! Hy vermy al die clichés, is besonder vindingryk met sy eksperimente en kook ’n brousel van klank op wat vulkanies prut.” Dankie, Jana-Mariana. Why Try Harder skop op ’n hoë noot af met die uitsonderlik onweerstaanbare “Funk Soul Brother”. Dan volg die een treffer na die ander: van “Praise You”, “Weapon of Choice”, “Gangster Trippin”, “Right Here Right Now” tot “Everybody Loves a Carnival” (wat ’n prys verdien as een van die lekkerste dansliedjies in menseheugenis), “Don’t Let the Man Get You Down”, “Demons” en “Slash Dot Dash”. Almal funky, groovy songs met ’n genadelose beat – so lekker dat die soms te uitgerekte herhalings van musikale frases ’n mens nie eers moeg maak soos wat met ander dansmusiek gebeur nie. Wat hierdie CD nog meer die moeite werd maak, is die DVD met tien musiekvideo’s wat jy daarmee saam kry. Die video’s is befok en ’n visuele orgie. As die video van “The Joker” byvoorbeeld nie jou hart steel nie, en as hierdie CD jou nie vrolik op ’n bandelose wyse laat voel nie, moet jy onmiddellik jou naaste kopdokter gaan spreek. Jana-Mariana se slotsom: “Hierdie CD en DVD het wat my betref baie meer medisinale waarde as enige pilletjie of stropie en sit jou op ’n lekkerder trip as wat menige drug kan.” Rockprofessors en hul dwalende studente het nog altyd skeef opgekyk wanneer ek sê ek hou van Pet Shop Boys. Hoekom? Oor hul sardoniese lirieke, gelaai met ironie en wrang waarnemings van die oppervlakkigheid van die materialistiese verbruikerskultuur en menseverhoudings in so ’n sosiaal-politieke konteks. (Jammer as ek soos ’n leunstoel-sosioloog klink.) En boonop word hierdie kommentaar op so ’n deadpan en droë manier gelewer deur die groep se sanger, Neil Tennant. En natuurlik het hulle ook al heelwat gedenkwaardige tunes geskryf. Fundamental het my dus met ’n gevoel van teleurstelling gelaat met die eerste drie luisterslae. Dit klink maar net na dieselfde ou storie oor en oor, en vir die eerste keer irriteer Tennant se sang my werklik. Hy klink of hy sy neus of poepolletjie - of waarskynlik albei - toeknyp wanneer hy sing. Maar o wee, die krag van breinspoeling! Met die vierde luisterslag – en die eerste met oorfone - het ek regtig van enkele nommertjies begin hou, soos die ligvoets-sexy “Minimal” en die byna vrolike “Integral”, asook gevoelige, hartseer ballades soos “I Made my Excuses and Left” en “Indefinite Leave to Remain”. Die waarnemings – veral van brose verhoudings – is steeds skerp, maar Pet Shop Boys het al beter albums gemaak en al is Fundamental luisterbaar, kom dit nie naby aan CD’s soos Very, Bilingual en Nightlife nie. Dit is ook met skok en afgryse dat ’n mens op ’n stickertjie voor op die CD-boksie lees die Britse musiekpublikasie NME sê dis Pet Shop Boys se beste album in langer as ’n dekade. Dit wys jou ’n mens moet niks glo wat jy lees nie. En as die Britse geelpers-poniekoerant The Sun sê die album is briljant, dan moet jy weet iewers is iets beslis nie pluis nie. Luister een keer en dink twee keer voordat jy besluit om te koop. Hurt: Vol 1 Die titel van die CD laat ’n mens dink dis die eerste in ’n reeks van kompilasie-CD’s gemik op mense wat daarvan hou om te huil of gekwets voel oor sake van die hart, of dat dit bedoel is vir mense wat van sadomasochistiese slaapkamerspeletjies hou, maar nee, Hurt is die naam van ’n rockgroep en Vol 1 is die titel van hul debuut-CD. As jy hou van Nirvana, Metallica, Tool en daai snare, sal Hurt net die ding vir jou wees, sê Jana-Mariana, wat vir Sound Bites hierna gaan luister het. Dis nie slegte musiek nie – trouens, dis baie stewige en heavy-skop-in-die-ballas-rock wat nie bedoel is vir mense met swak gesondheid nie. “Heavy” is die woord hier. Gelukkig is die ouens van Hurt slim genoeg om die harde, donderende dele af te wissel met stukke wat sagter is, maar wat juis vanweë die onderbeklemtoonde aard daarvan meer onheilspellend klink as die kere wanneer daar gebrul en gebraak word asof alle hel op aarde losbars. Jana-Mariana sê sy dink die strykorkes op die intense dele klink indrukwekkend, maar moes toe in die CD-boekie die volgende verneem: “Orchestral samples included in this recording from the Vienna Symphonic Library.” Kan jy nou meer. Wat mense darem ook nie deesdae alles kan aanvang nie. Die platemaatskappy wat Hurt se debuut uitgereik het, het nie hul geld gemors nie en dié kort-duskant-indrukwekkende CD sal ongetwyfeld die harte van talle rockliefhebbers verbly, al is dit nie almal se koppie gesondheids-, rooibos-, kamille- of Chinese tee of dagga nie. Met die intrapslag het ek al van dié debuut van die Britse groep Editors gehou. (’n Mens wonder wat ’n klomp redakteurs in ’n agterkamertjie sal aanvang?) Die groep het nie juis ’n unieke of eiesoortige klank nie, maar hulle skryf lekker tunes en speel dit met passie, energie en oorgawe, en daar is geen aansitterigheid of aanstellerigheid nie. Op plekke klink die sanger soos Michael Stipe of Dave Matthews, en op ander plekke weer soos ’n kombinasie van die twee, en op ander songs klink hy weet anders. Interessante verskynsel, én ek was sober toe ek daarna geluister het. ’n Baie lekker CD. Jana-Mariana stem saam. Nie versmaaibaar nie. ’n Lekker ontdekking. En dat sy dink die ouens in die groep is so sexy dat sy hulle graag aan hul hare na ’n agterkamer sal wil sleep. Die sanger het ook ’n lekker soulful stem, sê Jana-Mariana. Dit druk al die regte knoppies. Net wanneer ’n mens begin dink jy is moeg vir Billy Joel, kom hy met hierdie dubbel-CD wat by ’n konsert opgeneem is en beïndruk jou opnuut. Op die verhoog klink sy treffers selfs nog beter as op die ateljee-opnames, want dit het ’n effens rouer energie. ’n Mens verluister jou aan die professionaliteit van Joel en die musikante. Die man is boonop ’n meer as bogemiddelde liriekskrywer. Jy kry die meeste van sy treffers op hierdie CD – van “Angry Young Man”, “My Life”, “New York State of Mind”, “Don’t Ask Me Why”, “Saigon” en “She’s Always a Woman” tot “We Didn’t Start the Fire”, “It’s Still Rock ’n Roll” en “Piano Man”, wat maar ’n classic bly. Daar is altesame 32 liedjies op die CD. Dankie, seer geagte platemaatskappy, ek het dit geniet om daarna te luister en is beïndruk met die gehalte daarvan. Dixie Chicks: Taking the Long Way Van die begin af het ek gewonder hoe kan ’n mens ’n groep met so ’n naam ernstig opneem. Vroeër vanjaar hoor ek dié drie Amerikaanse dames het vir George Bush skerp gekritiseer, en toe is die patriotiese Amerikaners so kwaad vir hulle dat die Chicks dadelik om verskoning gevra het. Noem hulle musiek maar iets soos country-folk-rock, noem dit wat jy wil, maar ek was heel verras en kan met ’n skoon gewete sê dis lekker musiek. Tienduisend maal beter as iets soos die Spice Girls of Destiny’s Child, byvoorbeeld. Dis darem mooi as so ’n groep dames so lekker saam harmonies sing. Hulle klink amper soos die Indigo Girls wat ge-OD het op Bioplus. Sien ’n mens dat Rick Rubin die produksieleier was, kan jy verstaan hoekom jy uiteindelik van die CD hou (die eerste keer het dit my nie juis meegevoer nie – maar musiek wat oor ’n lang ruk op ’n mens groei is altyd lekker om na te luister). Dit laat mens lekkerkry op dieselfde manier as wat Sheryl Crow se eerste CD ’n mens byvoorbeeld laat lekkerkry het. ’n Mens hoop hierdie chicks lê nog baie goue eiers en dat hulle sal wegbly van die dicks, is Jana-Mariana se kommentaar.
|
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |