SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

Tweede verslag - SkryfNet X

IL de Villiers

Klik telkens op die digter se naam om die verslag te lees:
Pieter du Plessis
Illona Edwards
Magda Janse van Rensburg
Antoinette Klein
Loammi Wolf


Pieter du Plessis

Oor Gedig 1 - weergawe 2: "Krismis-regime"
Ek het in my eerste opmerkings gesê die gedig loop effe in die sand met die slotstrofe. Die digter het daaraan gaan werk en dit lui nou:

My hart wurg deur die sif
wat gebruik is
vir die herderspastei
toe jy bel
duskant onthou
verby.

Dis ‘n veel bevredigender slot as die eerste poging.

Die digter het van my wenke gebruik gemaak – dankie – en (weer om Merwe Scholtz aan te haal): die gedig staan op eie voete. Indien die digter voortgaan om ‘n bundel te bou, kan hierdie gedig een van die groeipunte wees, liewer ‘n vertrekpunt in ‘n bont wêreld van kleinhandel, fees, eet, “godsdiens”, onrus en verlange “duskant onthou verby”.

Maar: hoewel die gedig “staan”, sê “Dr. Gut” vir my dat die vers nog sterker gemaak kan word. Die digter se prerogatief…

Oor Gedig 2 - weergawe 2: "Melville nagte"
Die digter stap nog steeds in die voetspore van sy eie nostalgie, maar hierdie keer “storm” hy met sy gedagtes oor ‘n leë stuk papier. Vreemd laat dit my na D.J. Opperman verlang, met Kalahari’s wit papier – daardie ou meester van vorm, metafoor en rym. Maar hierdie digter se “storm” klink nog nie reg nie. Want die gedig “storm” nie : dis eintlik ‘n fyn herinnering aan Mellville-nagte met ‘n geliefde.

Vanaf strofe twee werk die gedig en ek hou daarvan. Hy het geluister na my raad en die slot verander na:

alles van die strate, die klavier
en sy note
het ons tydelik verlaat.

Dis veel sterker as die vorige “jou muse het my tydelik verlaat”. Die muse moes daaruit, maar ek soek nog ‘n sterker beeld aan die slot, soos ek ook steeds my bedenkinge het oor die begin van “voetspore van my eie nostalgie”. Dis ‘n goeie gedig en ‘n bietjie ekstra werk en dink en oor en oor in die gedagtes rol, sal die gedig ten goede kom en sterk maak.

Ek hou van Du Plessis se werk. Dit is werd om daaraan te bly beitel voor finale publikasie. Hy kan die taal van die poësie praat.

Illona Edwards

Oor Gedig 1 - weergawe 2: "Whether paraffin of lampolie"
Ek het my bedenkinge en voorstelle oor hierdie gedig in my eerste opmerkings gestel. Die digter het slegs vormfoute reggemaak. My bedenkinge bly dieselfde.

Hierdie tipe selfgesprek van ‘n prostituut – trouens, die hele prentjie – is, behalwe vir die Kaapse agtergrond, nie nuut nie. As dit “okay” is om die prostituut met die “valuables van ‘n Pawn Shop” te vergelyk wat die “quality het van ‘Second Hand Goods’”, is dit seker “okay” dat dit “slim” is maar vir my niks nuuts sê nie. En dis jammer, want die prentjie van ‘n Kaapse prostituut wil-wil uit die verf kom.

Daar is al baie én beter geskryf oor die emosies, vrese en fronte – die weerloosheid en futiele uitdagendheid voor die lewe - van ‘n prostituut. Maar hierdie gedig kon net sowel in prosa geskryf gewees het. Van ‘n sekere poëtiese binding d.m.v. metafore, ritme, wat van woorde poësie maak, is hier min sprake.

Die digter het ‘n eie kyk op sake en kan woorde hanteer, maar hier klim sy nie in die “lyf” van die prostituut nie. En die selfgeprek word nie poësie nie.


Oor Gedig 2 - weergawe 2: "Ek sit op iets met wiele"
Die digter het aan hierdie gedig gewerk – ten goede.

Maar ongelukkig het sy die slotreël behou: ”Maar styfraak is nie vir my begewe.” Die gedig loop met ‘n verbete noodwendigheid na ‘n slot van seksuele onmag, maar daar kan tog beelde wees om dit beter uit te druk. Kan die digter nie hier ‘n plan maak nie? Of wil sy iets sê met “nie vir my begewe”? Dan moet ek my domheid erken en sê ek verstaan dit nie. Hoe kan iets vir jou begewe word? Of maak sy juis die woord pas om die totale seksuele gestremdheid te beklemtoon? ‘n Soort neologisme?

Dis ‘n sensuele gedig, maar ook van totale onmag én dit werk, ook soos sy dit nou verwerk het. Sy het deeglik in die lyf van die verlamde geklim, en in die seksgedagtewêreld van so ‘n gestremde. Maar sy kan gerus nog oor die slot dink. Haar prerogatief…

Illona se werk het baie moontlikhede. Haar sinisme getemper deur volop hart, is boustof vir goeie verse.


Magda Janse van Rensburg

Oor Gedig 1 - weergawe 1: "Kiewiet"
Die digter het twee veranderinge aangebring: “hinkend” vervang “krombeen” en “hoop op oorlewing” word nou “hoop en drome”. Die eerste is nie juis ‘n verbetering nie en hoop en drome” is ‘n verslegtering, om met J. C. Bloem te praat.

Ek het nog nie in ‘n kiewiet se kop gekyk om te weet of sy “drome” het vir haar kroos of wat ook al nie. Dalk dat hulle ‘n beter nes kan vind as sy?

Verder bly ek by my eerste opmerkings. Die digter het nie aandag gegee nie en ons moet dan ooreenkom dat sy haar eie “Dr. Gut” volg.

Oor Gedig 2 - weergawe 1: "Vlieër"
Hier is slegs die slotreëls verander.

Ek bly by my aanvanklike kommentaar.

Die slotreëls:

Futloos
Onderwerp aan my genade

versterk ongelukkig nie die gedig nie. “Fuloos” is ‘n futlose woord en “onderwerp aan genade” ‘n cliché. Die “pap plastiek” is vorentoe geskuif – ook m.i. geen verbetering nie.

By my eerste lees het ek hierdie gedig redelik hoog aangeslaan. Nou, by die herlees, én met die verandering, hinder die gebrek aan ‘n sterk metafoor of twee, en begin dit al meer vir my klink na slim, fyn spel met woorde en vorm. Die emosie soek om iewers uit te kom. Maar of dit slaag, moet die digter self oordeel.

En hier het ek ‘n vraag aan alle deelnemers: hoekom word leestekens oor die algemeen soos die pes vermy? Dit sorg nie noodwendig vir beter kwaliteit poësie nie. Dis ‘n mode wat ek self aangehang het, net om die onthalwe van die mode. In my eie geval het dit gesorg vir van my swakste verse. Of dalk is ek outyds.

Leestekens in die poësie help die leser om agter die kap van die gedig se byl te kom. Gebrek aan leestekens, met geen bindende ritme of vorm of innerlike eenheid nie, laat die leser wonder oor blote verstandelike maakwerk. Gedagtig aan die ou Tagtigers se spreuk “Vorm en inhoud is een”, verwonder ‘n mens jou soms aan die vorm. Maar dan kom die volgende vraag: wat van die inhoud?

Beskou hierdie laaste opmerking nie net as van toepassing op hierdie digter nie, maar die meeste digter wat so te werk gaan. Dalk help haar interessante vorm – soos hierdie digter se driedubbele kelk – om die leser tot dieper insigte te lei. Jammer, ek is sekerlik dom, maar hierdie gedig het my iewers verloor.


Antoinette Klein

Oor Gedig 1 - weergawe 2: "Brekvis"
Laat my maar ruiterlik erken: ek het by die eerste lees nie geweet of brekfis met ‘n f of ‘n v gespel word nie! Maar ter versagting: die woord brekfis (met f of v) het my nog nooit aangestaan sedert die dae toe ons geslag nog op skool oor Anglisismes geraps is nie. En ek vul nie blokraaie in soos vele van my ouderdom nie.

Maar ek is nog nie te oud om te weet nie dat “die room van jou lippe lek” deur baie minnaars op baie beddens, matrasse, komberse en selfs tafeldoeke op ‘n sandstrand as voorspel tot die drama gefluister of gekreun word. Niks nuuts nie. “Gaar word vir jou” is dalk ook “gebruiklik”, maar wat is die “geel” wat sag word ? Ek weet dit gaan om die eier maar verstaan nogtans nie die beeld nie, en sien eerder Qatar Airways se TV-advertensie van die saggekookte eier: vir my geheel onvanpas as advertensie. Verderaan word gesê die “geel” is “van my hart”. Jaloesie? Geel = weerloos? Geel = lekker? Geel = koors? Wat presies sê die digter?

In die eerste weergawe van die gedig was die versugting “ek wil jou brekvis wees”. Ek het gereken dit werk nie, ook nie met die v nie. Die tweede weergawe se slotreël “sou jy net nader kon wees” is nog meer onbevredigend.

Die gedig is gelaai met sensualiteit, maar dit bou nie op tot ‘n ware, ontploffende klimaks nie. (Verskoon die seksuele konnotasie.) Wanneer ‘n digter dit op die terrein van die sensuele en seksuele waag, moet dit nie met flou slotreëls soos “sou jy net nader kon wees” ontman of ontvrou word nie.

In die digter se bio staan dat sy fyn met haarself kan spot. Ek hoop sy lees my kritiek op die vers in hierdie modus. Die gedig kan beslis iets word, dalk as sy dit ses maande in die laai bêre en dit dan weer uithaal en bedink en bewerk.

My eerste besware is nie besweer nie. Weer: alles is die digter se eie keuse…


Oor Gedig 2 - weergawe 2: "Genesis"

Die digter het die eerste swak strofe geheel weggelaat. Dis ‘n verbetering. Maar sy verloor nog steeds die “paradys”, terwyl Opperman se “verlore paradys” by my bly eggo saam met sy “trossies nastergal”. Dis die probleem: die paradys, Eva, die verlorenheid, die lus wat roep, die vrees vir verwerping, die soek na genade…daar is al soveel oor geskryf deur die eeue. Maar dalk kry die digter die genade om die tema nuut te laat klink. En die woord “verlistinge” kan m.i. maar waai.

Hier is ‘n soort aantreklikheid in die gedig, ten spyte van die ou-ou tema. Weer: oor na die digter…

Dalk sal dit help as sy weer kyk wat ek in my eerste verslag oor die gedig geskryf het.


Loammi Wolf

Oor Gedig 1 - weergawe 2: "'n pa se liefde"
Die digter het die titel verander van “‘n pa se liefde” na die “blues van liefde”. Dit plaas my effe in ‘n probleem van verstaan. In die eerste weergawe het ek gereken ek weet waarvan sy praat. In die tweede laat die nuwe titel my twyfel.

Die digter het die gedig aansienlik uitgebrei, maar “doodskus van die liefde” klink na ‘n kortverhaal uit ‘n ou tydskrif en die slotreël “en die liefde skoppensboer” is onbevredigend. Eugène Marais het nou maar eenmaal die woord “skoppensboer” so deeglik gebruik en uitgesuig dat min digters dit weer in Afrikaans kan gebruik.

As my vermoede korrek is dat dit nog steeds om “‘n pa se liefde” gaan, sou ek haar aanraai om die gedig in te kort, en weer nader te beweeg na die eerste weergawe.

Ek hou van hierdie gedig. Sy het ‘n paar winste ingebring: “vaalblas die môredou”. Maar ‘n paar brandnetels ook saamgebring: “tristesse”, “wegtuur” ens.

Daar moet nog aan die gedig gewerk word tot “Dr Gut” vir haar sê: Genoeg.

Oor Gedig 2 - weergawe 2: "koggelmander hoop"
Die digter het heelwat aan hierdie gedig gewerk.

In my eerste reaksie het ek aanbeveel dat sy aan hierdie gedig moes timmer tot hy perfek is. Sy het probeer om die slot te versterk, maar ek is bevrees dit klink nie beter as die eerste weergawe nie. Die “reënboog”-beeld wat “buig”, val uit die pas en die leemte tussen strofes drie en vier bly.

Ek het dit in my eerste weergawe ‘n “knap gedig” genoem. Ongelukkig het my gevoelens oor dié gedig effe suid gedraai, veral omdat die veranderings wat sy aangebring het, m.i. nie verbeteringe is nie. Terug na die skryfbord om ‘n gedig wat baie beloof (het) met die “toor”-tema soos Alladin se lamp te laat blink.



Klik hier vir algemene wenke
Klik hier vir IL de Villiers se eerste verslag
Klik hier vir Lucan Malan se eerste verslag
Klik hier om die gedigte te lees


LitNet: 19 Julie 2006

Wil jy reageer op SkryfNet X? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / terug


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.