
 
SkryfNet III se inwonende skrywers

Marlene van Niekerk studeer aan die universiteite van Stellenbosch, Amsterdam en Witwatersrand. Sy doseer aan die Universiteit van Stellenbosch by die Departement Afrikaans en Nederlands. Sy dig en het n kortverhaalbundel en roman (Triomf) op die rakke.
Francois Bloemhof het in die vroeë jare negentig die eerste De Kat-prys vir die beste debuutroman verwerf met Die nag het net een oog. Hy is dadelik as rillerskrywer gebrandmerk, maar het hom sedertdien, gerugsteun deur verdere literêre pryse, as onkategoriseerbaar bewys. Hy het al 23 boeke die lig laat sien. Daar is twee webruimtes aan hulle gewy: Christo se Amptelike nie-amptelike François Bloemhof-webwerf en Jaco en Ernst se oorspronklike François Bloemhof-webbladsy.
SkryfNet III se skrywers

Trisa Hugo is gebore, en het grootgeword en gematrikuleer in Brits. Sy is baie jonk getroud, het twee dogtertjies gekry in die middel 70s en toe op die moeilike manier haar honneurs in Sielkunde behaal, deur Unisa. Sy het lank navorsing gedoen by die RGN, maar deesdae bedryf sy twee besighede saam met haar man n kwekery en n Verimark Franchise.
Susan Lombaard het buite Ogies op n plaas grootgeword. In 1999 voltooi sy haar B-graad in Bedryfskommunikasie aan die Potchefstroomse Universiteit, asook n honneursgraad in Taalpraktyk en Skryfkuns. Gedurende 1998 en 1999 het sy as assistent by die ATKV-Skryfskool op Potchefstroom gewerk, waartydens sy verskeie skryfkursusse meegemaak het. Sy was in 1999 redakteur van die joernalistiek-honneursgroep se tydskrif, Greep. Tans woon sy in Centurion, en sy werk as joernalis by die ATKV se maandelikse tydskrif, Die Taalgenoot.
Anna-Marie Radloff is op Klerksdorp gebore en bevind haar in hierdie stadium van die geveg in Pretoria. As mediese dokter het sy haar roots gaan soek deur n jaar in die Angola bosoorlog te gaan heel en heul. Sy praktiseer tans as n privaat konsultant in Gesondheidsbestuur en Sisteem Analise. In haar vrye tyd molesteer sy mense verbaal op SêNet.
Marita van Aswegen woon op n plaas buitekant Bloemfontein. Sy het tot op datum hoofsaaklik jeugverhale geskryf en het nog geen volwasse roman of kortverhaalbundel gepubliseer nie. Daar is wel kortverhale, n novelle, vervolgverhaal en agterblaaie vir tydskrifte aanvaar.
Fanie Viljoen is gebore in Welkom en woon tans in Bloemfontein. Hy werk by Sanlam en is deeltyds besig met n BA-graad deur Unisa. Tussenin maak hy tyd vir skilder en skryf. Hy is lid van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging. In 1999 was hy n finalis in De Kat en Human & Rousseau se Vonkfiksie kompetisie. In 2000 was hy tweede in die beginnersafdeling van RSG se radiodramakompetisie. Drie van sy kort-kortverhale het ook al in Sarie verskyn. Die inspirasie vir Wag het gekom toe hy motorwagte dopgehou het in De Aar. Die storie is egter fiktief.
|