|
Heldhaftige Harry en die heksejagCharles Malan
Party mense sou daaroor kon lag, maar die geskiedenis het veral vir hekse geleer dit is beter om hierdie soort jagtog dodelik ernstig op te neem. Hulle verbrand steeds hekse in Venda. Waarom gebeur dit dat die letterkunde telkens in die Westerse jagtog bygesleep word? Terwyl ouers nou angstig horinkies in hulle kleuters se inkleurboeke begin soek, is dit gerade om te besin oor dit wat in die boesem van die volk self gebeur in die besonder oor die voorkoms van die Bose, insluitende satanisme, die okkulte, heksery, towery, perversie en ander afwykings wat volgens die jagters selfs die wiegie van die volkshuishouding bedreig. Die letterkunde en ander kunste moes natuurlik al plaaslik dikwels tydens die heksejag deurloop immers, kuns is boos, het D.J. Opperman gewaarsku. Die heksejag teen die Sestigers is ingelui met dié teen Sewe dae by die Silbersteins, waarin Etienne Leroux nie eens die seksdaad eksplisiet beskryf nie. Hy beskryf wel die sataniese in die orgie van n Walpurgisnag, wanneer Swart Jan op die vroutjies losgelaat word. Nou moet die arme Harry Potter plaaslik die mantel van Leroux se aanvanklik onskuldige Henry van Eeden oorneem. En dit terwyl Harry juis die vaandeldraer is vir die goeie magte wat die Bose oorwin. Harry is veel onskuldiger as Henry wat sy Eden-onskuld betreklik gewillig onder leiding van sy Boerementors op die wynplaas verloor. Wat skuil dus agter die nuwe heksejag? Uit die internetdiskoers en lesersreaksies in Beeld is dit opvallend dat die visier vir die aanval op Satan gestel is op die onsigbare, die okkulte en vae magiese rituele. Dit is trouens presies soos Leroux die Bose in Die derde oog beskryf het: Die vyand is onsigbaar. In Harry se wêreld, en juis in die stukke uit die Potter-verhale wat Maretha Maartens aanhaal, is daar hoofsaaklik tekens en oorvertellings van die magiese. Satan kry nie n gesig nie, Swart Jan verskyn nie self nie. Dit laat belangrike oop plekke in die storie, want dit sit me. Maartens en ander lesers se verbeelding op loop om die oop plekke met hulle eie afleidings in te vul. Die verbeelding kan Satan se grootste bondgenoot wees. Dit is na eeue se oefening maklik vir die Calvinistiese verbeelding om vorm aan die onsigbare, magiese magte te gee. Die eerste Christene se stryd was juis teen magie, wat veel meer as towery of heksery is. Vir die heidene was magie n manier om die onsigbare magte meganies deur rituele, spreuke, ens. te manipuleer, in die besonder deur animistiese natuurmagte te gebruik. Die Christelike godsdiens behels in teenstelling met magie juis onderwerping aan n hoër mag, en verwerp manipulasie van magte as sonde. Dit is welbekend dat die eerste Christene letterlik n sondebok in die simbole van die heidendom kon vind. Satan is versinnebeeld deur die bokgod Pan / Dionusos met sy horings en hoewe wat met die animistiese, magiese magte in die natuur en rituele, veral seksueel van aard, verbind was. Harry is nog maagdelik (so veronderstel / hoop die lesers) seks is dus buite sig, maar gewis nie die ander vorme van die Bose nie. Magie is orals. Niemand ken die Bose beter as kinders nie vra maar vir talle skrywers soos Henry James, William Golding en Chris Barnard. Trouens, as n mens glo aan die enorme opvoedkudige waarde van sprokies om kinders meer van die wrede lewe te leer, het jy hoë waardering vir die Grimm-sprokies. Oorspronklik het hulle veel meer van die Bose gehad voordat hulle deur puriteinse oorlewering gesuiwer is. Demoniese magte, heksery, towery, geweld en wat meer het maar te dikwels die grondslag van intriges gevorm. Rooikappie het wonderbaarlik oorleef, amper uit die wolf se pens. Die sielkundige Carl Jung, Leroux se ghoeroe, het n verklaring vir die heksejag wat ons periodiek beleef. Die skadu-argetipe is die negatiewe drifte en begeertes in onsself wat ons onderdruk en nie wil konfronteer nie. Die kollektiewe skadu kom te voorskyn in tydperke van sosiale hoogspanning, soos in Nazi-Duitsland toe die Jode as sondebok uitgewys is. In die huidige Suid-Afrika waarin die sataniese in moord en misdaad gemanifesteer word, is dit logies dat die Bose agter elke bos gesien sal word. Veral omdat dit swart is. Die jagseisoen is oop. Die letterkunde is, ook vir jong lesers, n bruikbare sondebok. Natuurlik is dit so dat Harry met die Bose kennis maak, en let wel op n wyse wat vir hom en kinderlesers skrikwekkend is. Daar is verwysings na manipulasie, moord, swart magie, offerandes, al die manifestasies van die Bose. Moet die skrywer Rowlins nou verder gaan en na elke gruverwysing skryf: Kindertjies, dis satanies en sonde, hol!? D.H. Lawrence het gemeen dit is die taak van die priester om mense se harte skoon te maak, maar dié van die skrywer om hulle oë skoon te maak. Dit gaan in die literatuur om oogskoonmaak, nie morele traktaatjies nie. Diegene wat nogtans letterkundige tekste as voorskrifte vir n lewenstyl wil lees, behoort juis jammer te wees dat die goeie te maklik oor die Bose in die Potter-boeke triomfeer. Is dit nou n realistiese voorskrif vir n lewe in die boosaardige Suid-Afrika? Dit moet nogal moeilik wees vir n verbondsouer, soos me. Maartens na haarself verwys, om opbouende dog geloofwaardige storietjies met die wenslike konteks vir hulle kinders te vind of te skryf. Dit moet ook vir hulle moeilik wees om Tsjekof te verstaan as hy daarop wys dat elke negatiewe beeld in die letterkunde sy eie positiewe teenbeeld oproep. Wanneer gaan ons ophou om kinders se vermoëns te onderskat om self hierdie teenbeeld te kan onderskei en sonder leiding met die goeie Harry in sy stryd teen die Bose te identifiseer? In n land en konteks soos hierdie is dit juis van kardinale belang dat kinders van kleins af met die skadukant van die lewe gekonfronteer word, trouens met die skadu self en die Bose in sy talle gedaantes. As ouers bang is dat Satan hulle bloedjies in hierdie konfrontasie soos in die geval van n Faust gaan afrokkel, is dit n mosie van wantroue in hulle vermoë as ouers om die smal weg aan te dui. Dit lyk nie baie vrugbaar om me. Maartens se persoonlike voorkeure as skrywer of leser aan te val nie; trouens, die skryfbedryf is seker die mees demokratiese van almal. Hekse, heiliges, hygskrywers, helde, huigelaars en hoere skryf en lees almal lustig saam. Pienk boekies is steeds loskop voor gay porno wat gewildheid betref. Laat me. Maartens dus liefs in vrome vrede haar beskermde jongelinge verder beskerm, met potte vol winter, of wat ook al. Laat sy elke nuusuitsending met sy swart hekse en swart wolfhonde afskakel. Intussen sal ons van n ouer, wyser geslag ons kleinkinders teen die heksejagters beskerm en die beste leesstof help bewaar deur die Grimms, Rowlins, Tolkien, Dahl al die mite- en magieskeppers. Ons sal laer trek rondom ons brose held Harry. Hierdie gewaande geveg teen die jagters is natuurlik self n mite wat in Harry se wêreld hoort, want dit is totaal onnodig. Ons agterkleinkinders gaan Harry se heldedade lees lank nadat die pienk boekies in die vergetelheid vergeel het. Maar mite ofte not, ons ervaar in die hitte van die sataniese stryd nogtans angs oor die toekoms van die magiese kinderryk in hierdie droewe land. Is Liewe Heksie die volgende om verbrand te word? Gaan me. Maartens se kinders Rooikappie te lese kry wanneer hulle mondig word, en wat dan? Gaan die polisie se eenheid vir satansjag nou boerbokke in plaas van wolfhonde gebruik om sondaars te rim? Ons maak maar tekens teen die bose oog en prewel, Wyk, Satan!
(Lees ook LitNet se resensie van die eerste twee Harry Potter-boeke.) |
|||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |