SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Andries Visagie resenseer Ingrid Winterbach se Buller se plan

Buller se plan

deur Ingrid Winterbach
(Human & Rousseau: Kaapstad. 1999. Prys: R59. ISBN 0-7981-3995-1)

Helize van Vuuren
Universiteit van Port Elizabeth

’n Kalahari.net-resensie

Buller se plan
Koop by Kalahari.net
Naas JM Coetzee se Disgrace, is Buller se plan vir my die verrassendste en fassinerendste roman wat in 1999 verskyn het. Én net so meesterlik ...

Oeuvre van Lettie Viljoen / Ingrid Winterbach

Ingrid Winterbach lê met dié sesde roman finaal haar skuilnaam, Lettie Viljoen, af. In Mei 1983 het die onbekende “Lettie Viljoen” in Stet ’n lang stuk prosa gepubliseer onder die titel “ ’n Wolkie so groot soos ’n man se hand” (pp 20-23). Dié fragmentariese teks het opgeval deur die humoristiese jukstaponering van die vroulike protagonis se waarneming teenoor die “rewolusionêre bewussyn” van haar Marxisties-georienteerde eggenoot-in-die-struggle, en verder ook deur die soepelheid van die taalgebruik en die verfrissende van die eietydse spreektaal daarin. Hierdie kenmerke van Lettie Viljoen / Ingrid Winterbach se skryfstyl is bevestig in haar eerste novelles, Klaaglied vir Koos (1984) en Erf (1986).

André P Brink het destyds na Klaaglied vir Koos verwys as ’n teks wat registreer soos “ ’n hipergevoelige seismograaf” (Rapport, 20/1/85) en onder die hofie, “ ’n Novelle vol uitdagings vir die ernstige leser” het hy Erf beskryf as ’n novelle “wat die leser kwel, uitdaag, genot verskaf, tart, oprui en bevredig” (Rapport 21/12/86). Dieselfde geld Buller se plan. Oor haar eerste vollengte roman, Belemmering (1990), het Gunther Pakendorf die volgende te sê gehad:

    Lettie Viljoen herinner ’n mens ’n bietje aan John Miles: ’n intelligente en afhanklike skrywer wat haar eie ding doen en ietwat eenkant staan van die literêre establishment en sy organe. Sy het in die middel-tagtigerjare stillerig op die literêre toneel verskyn met twee treffende korter tekste, Erf en Klaaglied vir Koos. Met Belemmering het sy nou getoon dat daar voortaan met haar as een van die belangrikste jonger Afrikaanse skrywers gereken moet word. (Die Burger 14/05/91)

Dis egter eers met die meer toeganklike Karolina Ferreira (1993) dat Lettie Viljoen / Ingrid Winterbach die erkenning van die literêre establishment ontvang het deur die toekenning van die M-Net-prys in 1994 en die Ou Mutual-prys in 1995. Dié roman “oor die liefde en begeerte ... is gestruktureer (...) rondom ’n byna hipnotiese herhaling van Karolina Ferreira se daaglikse bedrywighede op die Vrystaatse dorp Voorspoed (...) en bedien hom van ’n konvensionele narratiewe struktuur” (Louise Viljoen in De Kat, Maart 1994).

Die indruk wat die vroeë resepsie van haar werk laat, is dat die oeuvre van Lettie Viljoen / Ingrid Winterbach afgestem is op die ernstige leser, die fynproewer, buiten vir die meer toeganklike Karolina Ferreira, waarin daar ’n sterker “plot” en spanningslyn is as in Belemmering. Haar nuutste roman, Buller se plan, is ook besonder toeganklik, en báie vermaaklik.

Buller se plan

Buller se plan het op die oppervlak veel in gemeen met Karolina Ferreira. Dis eweneens gesitueer op ’n klein dorpie, Steynshoop, en weer is daar “ ’n byna hipnotiese herhaling” van die hoofkarakter, Ester Zorgenfliess, se daaglikse bedrywighede oor sewentien dae se verblyf op die plattelandse dorp. Ook Ester is soos Karolina ’n “droomgeteisterde reisiger ‘in transit’ ” (Viviers, 1996). En ook in Buller se plan is daar sterk feministiese elemente, soos in Karolina. Maar terwyl Karolina deur die dans byna misties vervoer word na ’n ander wêreld, neem die mistieke belewing in hierdie sesde roman ander vorme aan.

Die titel, Buller se plan, verwys na Sir Redvers Buller se strategie tydens die Slag van Colenso in die Anglo-Boereoorlog. Die roman is geraam met ’n oorvertelling uit Pakenham se The Boer War van Buller se mislukte veldslag by Colenso. Steynshoop is anderkant Colenso geleë. Weliswaar is dit ook ’n dorp met oorlogsgrafte, koeëldoppies uit die Anglo-Boereoorlog in die veld, ’n blokhuis, en ’n historiese Steynhuis. Die titel het oënskynlik meer metaforiese duiding as realistiese lading. Dit sou kon dui op Ester (en die ander karakters) se “plan” met hul lewens, en hoe dikwels sulke planne oneffektief is weens tussenkoms van die dood, verlies van geliefdes, en die noodlot.

In Steynshoop ontmoet Ester Zorgenfliess haar neef, Boeta Zorgenfliess, vir die begrafnis van ’n vorige geliefde van hom. Ester wil ook haar skilder-vriendin, Fonny Alexander, besoek wat onlangs gewelddadig deur ’n groep mans verkrag is. Die verkragting roep ’n vergelyking op met Lucy in Coetzee se Disgrace ... Is dit toevallig dat albei skrywers ’n daad van verkragting as sentrale episode verwerk in hul romans oor post-apartheid Suid-Afrika? Indien nie, watter kommentaar lewer dit op ’n samelewing waarvan verkragting die kwintessens van die tydsgees suggereer? Dit is van die vrae wat ’n saamlees van hierdie twee sterk romans by die leser laat opkom.

Ester bly sewentien dae op die dorpie, gaan tuis in die Gemoedsrus Kamers, en beweeg daagliks geroetineerd, feitlik ritualisties, deur die dorp. Soggens loop sy eers deur die dorp en beskou elke gebou, die natuur, en die mense. Daarna drink sy tee in die Dorpskafee, “langs die plant sonder huidmondjies” wat sy as rusgewend ervaar, en gaan sit dan oorkant die straat by die historiese kerkgebou op ’n bankie onder plataanbome. Sy praat met verskeie karakters wat om die beurt gereeld daar kom sit: Deborah Barach (die “vrou in swart”), Mfazakhe Mhikize met sy supermarktrollie en bedelry vir geld, en die vrou met die swaksinnige maar heldersiende kind. Daarna besoek sy die herstellende Fonny. Smiddae gaan sy rus in die Gemoedsrus Kamers waar sy slaap en intens droom. Met sonsondergang stap sy na die openbare telefoonhokkies voor die poskantoor, waar sy die “heerlike” sonsondergange aanskou en veral vir Boeta opbel om te verneem na sy psigiese toestand. Saans trek sy aan en verkeer sosiaal in die Steynhuis met diverse groepe vrouens en mans. Hulle wag almal op die musiekgroep Jan de Dood en sy Bende, wat nooit opdaag nie. Intussen word daar gesellig gekuier en veral druk gesels. Die Steynhuis is ’n beperkte ruimte, ’n soort mikrokosmos waarin die karakters afgesluit is van die groter wêreld buite. Hierbinne word die gebeure en situasie daarbuite gereflekteer en bespreek in gesprekvoering.

Die beeld van die eietydse Suid-Afrika wat in gesprekke tussen die groepe vroue in Buller se plan na vore kom, is nogal donker gestem:

    Hulle donder mekaar buite op, sê Ester toe sy gaan sit. Niks ongewoons nie, sê Truth Pascha, hulle donder mekaar gereeld hier op. Wie? vra Ester, wie doen dit? Verskillende faksies, sê Truth Pascha, as dit nie die een groep is nie, is dit die ander greop. Dis nou hoe dit in die land gaan — op groter en kleiner skaal. Murder and mayhem, sê Alberta Bourgeois. Sy lees vanoggend ’n mevrou Kriek is op die dorp vermoor, sê Ester. Sy het haar geken, sê Marta Vos, sy háát hierdie fokken land. Die dinge wat mense aan mekaar doen raak ál buitensporiger, sê Alberta Bourgeois, dis of daar ’n kranksinnigheid soos ’n swart wind oor die land opgesteek het — mans kap hulle vrouens met byle dood, moeders steek hulle kinders aan die brand, mense maak sonder aarseling iedereen dood wat hulle teëgaan (...) Sy is elke dag dankbaar as sy niks aan eie lyf ervaar het nie, sê Johanna Jakobsen. (Sy moet weet, dink Ester, as sy in ’n mediese veld is, wat mense daagliks aan die lyf ervaar). Maria Wildenboer sê sy weet nie of dinge nou soveel anders as vantevore is nie — wanneer het dit nou eintlik beter gegaan? Vroeër? Wanneer vroeër? (p 88; my beklemtoning)

Teenoor die beeld van oorheersende waansin en geweld daarbuite bied Maria Wildenboer die siniese kommentaar dat dit nog nooit vroeër juis “beter gegaan” het nie. Die geweld en dood van die Anglo-Boereoorlog wat deur die titel opgeroep word, is voor die hand liggende ondersteuning van haar opmerking. So ook die intertekstuele verwysings na ander tydsgewrigte wat deur die roman geaktiveer word: Ou Testamentiese Bybelse tye, die apartheidsera, die Jode-vervolging ...

“Karakterhandeling” is, soos wat Alberta Bourgeois (Alberta die Burgerlike) beweer, waarskynlik die “motor” van die roman, soos Andries Visagie by die bekendstelling van Buller se plan in Mtunzini opgemerk het. Hoewel hier nie ’n opvallende sterk plot is nie, belig die interaksie van Ester met die diverse karakters telkens die dryfvere wat elkeen stuur. Hieruit kom die handeling in die roman voor — Ester verwerk die dood van haar moeder, Boeta verwerk die verlies van ’n geliefde, Fonny stoei met haar religieuse waansin in die nadraai van die verkragting, Daan Theron soek die heldersiende “talking head”, en so meer. Almal wag op Jan de Dood se besoek. Die tema van die dood is die een deurlopende draad wat die fyn-gestruktureerde roman bind. Hiervoor gee die buiteblad en motto die toon aan.

Die treffende buiteblad-ontwerp is in sober swart met slegs ’n detail uit Holbein se skildery die “French Ambassadors” (1533). Dié detail is ’n verwronge weergawe van ’n skedel (Holbein se naam beteken “skedel” en hy plaas dié surrealistiese detail as ’n soort handtekening in sy andersins ryklik-realistiese skildery). Die verwronge skedel dui op die sentrale tema in die roman: dood en verganklikheid, met as keersy die onsigbare geestelike wêreld soos beleef deur heldersiendes of mistici. Die motto sluit by die voorblad aan — dit is uit die mistikus William Blake se geïllustreerde “poem-pictures” “The Gates of Paradise” (1793):

    The Catterpiller on the Leaf
    Reminds thee of thy Mother’s Grief

Die etse beeld die menslike lewe uit — van embrio tot graf.

Die “catterpiller” kan as die “pillager”, die “Great Reaper” of die Dood gelees word in Blake se kosmologie. In Winterbach se roman is die dood van Ester se moeder nog vars in haar geheue, sy droom oor haar (en haar dooie vader) en onthou die uitgerekte doodstryd. Ander karakters sterf of het naastes wat onlangs gesterf het. Die rouproses en bewussyn van verganklikheid is sentraal in Ester se bewussyn.

Die spanning in die roman word meegebring deur elke aand se gewag op die koms van die musikant Jan de Dood en sy Bende — klaarblyklik met sterk allegoriese toespelings (almal wag op die dood, die dood kom onvermydelik, net die uur daarvan weet ons nie). Verder is daar ook Daan Theron se soeke na die “talking head” êrens in of buite die dorp wat die toekoms kan voorspel. Hy ken egter nie die man se adres nie en dit word ’n lang speurtog. Daar is ook die onopgeloste moord op mevrou Kriek, die heldersiende waarsegster, en die soeke na die skuldige. Fonny Alexander se herstel na ’n groepsverkragting en haar aflegging van haar skilderkuns vir ’n fanaties-mistieke godsdiensbelewing, vorm ’n sentrale fokus in die hoofkarakter se belangstelling.

Humor, gelag en die dood

Maar by ’n eerste, oppervlakkige lees word die leser veral op humoristiese wyse vermaak en ontlok die beskrywings en dialoog in die roman veral gelag. Nou kan mens wel vra: hoe rym dit dat ’n swaarwigtige tema soos dood en verlies so ’n humoristiese roman tot gevolg het? Dat gelag in die aangesig van die dood besonder funksioneel is, beklemtoon Leonid Plyushch in History’s Carnival:

    The role of laughter, essentially, is to help us overcome fear, death, and everything deadening and dying. It has been said that Rabelais’s laughter broke ground for the French Revolution (...) Bakhtin aptly calls it the “carnival culture”. Laughter destroys the old and moribund and gives birth to the new. (1979: 301-302)

’n Voorbeeld van karnivaleske humor is die groep mans se bespiegeling by die oorlogsgrafte in die veld oor die bewussynstroom van ’n eenvoudige Engelse soldaat in die Anglo-Boereoorlog:

    Jakes vra: Wat sou deur die loop van ’n enkele dag deur die gemoed van ’n ongeletterde Kakie gaan, van skouspelagtige sonsopkoms tot skouspelagtige sonsondergang? Heroïese gedagtes, sê Salmon, die een heroïese gedagte na die ander: Wat sal ek eet? Waar sal ek kak? Sal ek die dag oorleef? (p 31)

Die humor en gelag in Buller se plan word ontlok deur buitengewone vernuftige manipulering van die taalmedium. Humor is reeds ’n ingebedde element in die naamgewing — van dorpe, karakters, en geboue. Die roman begin met ’n geografiese beskrywing:

    Ester Zorgenfliess ry vroegoggend uit die stad. Sy ry deur die dorpe Ongesien en Roukrans. Weenen is verlate, behalwe die Sondwela Trading Store op een stowwerige hoek. Op Bitterheid drink sy tee in die Wimpy. (my beklemtoning)

Mev Zorgenfliess (“omvou deur ’n vlies van sorge” dui op ’n ietwat beswaarde middeljarige vrou) ry deur die fiktiewe dorpe “Ongesien” en “Roukrans”. Ook die bestaande dorpsnaam, Weenen, kry in hierdie konteks nuwe lading as die plek van trane. Dat sy op Bítterheid tee drink in die Wímpy, het ’n sterk satiriserende effek deur die naasmekaarstelling van die banale restaurant met die swaargelaaide emosie in die dorpsnaam, wat onvermydelik op mevrou Zorgenfliess geprojekteer word. Gelukkig kry sy in Steynshoop wel blyplek in die “Gemoedsrus Kamers”. In die leser se bewussyn registreer die emosies waardeur die mevrou gaan via die naamgewing as volg: van rou (Roukrans) via geween (Weenen) en bitterheid na gemoedsrus ... As dit later blyk dat haar moeder nie te lank gelede nie gesterf het, is hierdie suggestie-via-naamgewing besonder funksioneel.

Die kriptiese suggestie via naamgewing van die verloop van die rou-proses is ook van toepassing op die stadia waardeur Boeta Zorgenfliess gaan in sy verwerking van die verlies van sy geliefde Selene Abrahamson. Dit blyk uit die tallose telefoongesprekke in die “openbare telefoonhokkie voor die poskantoor” wat Ester en Boeta feitlik daagliks met mekaar voer. Ook in dié gesprekke is daar ’n element van oordrywing wat tot humoristiese effek lei. Vergelyk:

    Soms dink hy daar rus ’n vloek op hom — hy gaan nooit iemand kry wat hy liefhet nie. Hy gaan altyd die verkeerde persoon kies. Hy gaan altyd die helse option kies. Altyd die pad deur die hel kies — tot anderkant uit! Hy gaan altyd suffer, en suffer, en suffer. Soms dink hy, sê Boeta: Waar begin dit en waar eindig dit?! Hy wil net weer op sy voete kom! Hy wil net weer ’n gevoel van vrede hê! En dan kom Selene se gesig weer by hom op, soos sy daar by die undertakers gelê het. En hy dink: Sy is dood en die kind is dood! Niemand was daar om hulle te red nie! Waar was hy?! Besig met sy eie blinde burrowings soos ’n fokken mol! (p 51)

Die Verwoerdhuis op die dorp “bewaar” die verlede as ’n “Apartheidsmuseum”:

    opgedra aan die argitekte en implementeerders van die apartheidsera. Die helde, sê Alberta Bourgeois. Dit is geborg deur die Orania-stigting, se Truth Pascha, doktor Verwoerd se pak waarin hy doodgesteek is in die parlement is daar — vars gepress en ge-Preen. Die wurm van Tsafendas in ’n bottel. ’n Canfruitbottel, sê Alberta Bourgeois. Die visstok, die slaapklere, die warmwatersak, die goue vulpen, alles, alles! sê Truth Pascha. (p 85)

Later word die gebou onteer deur vandale en die Orania-stigting onttrek hul geldelike steun. Die vroue-koor vertel vir Ester in staccato-terme van die gebeure:

    al die exhibits weggeneem, houtplanke voor die deure en vensters gekap, en ’n dreigbrief aan die stadsraad geskryf. Ja, sê Marta Vos, al die exhibits is weggeneem! Die canfruitbottel met die wurm! sê Alberta Bourgeois. Die visstok! sê Marta Vos. Die vulpen! sê Lily Landmann. Die warmwatersak! sê Maria Wildenboer. Die familie-albums! sê Marta Vos. Die dagboeke met skematiese voorstelling van die verdelings van die tuislande! sê Truth Pascha. (pp 144-145)

Eksperimentele styl

Die oordrywing van Boeta se emosionele sorges — kompleet met die oordrewe punktuasie van vraagteken gekombineer met uitroepsteken — staan skerp in kontras met die eindeloos-herhaalde beskrywings van Ester se daaglikse geroetineerde, byna rituele handelinge in die dorp. Deel van die tekstuele geraffineerdheid van die roman is die eksperimentele styl — passasies wat oordrewe intense emosie beskryf (gereflekteer deur die oormatige gebruik van uitroepstekens en vraagtekens, selfs naasmekaar) naas passasies van herhaling-met-variasie van dieselfde geroetineerde handelinge.

Nog ’n stylhebbelikheid in die roman is die weergawe van indirekte rede deur monotoon dieselfde werkwoord te gebruik — téén die gebruiklike opvatting van “swak styl” aan voornemende skrywers in. Die naasmekaarstelling van so ’n inkanterende passasie náás een wat oordrewe emosies weergee, werk humoristies in op die leser, het ’n lagwekkende effek. Vergelyk die beskrywing van ’n aand in die Steynhuis:

    Soos die aand vorder, praat die vroue oor alles en nog wat. Hulle praat in ’n stadium oor Ross Bekker en Sid. Lily Landmann het gehoor dat ... Maria Wildenboer het gehoor dat ... Alberta Bourgeois het gehoor dat ... Hulle praat oor Ross Bekker se werk. Truth Pascha dit is oral hoog in aanvraag (...) Hulle praat oor Sid ... Truth Pascha sê hy was ... Maria Wildenboer sê hy was ... Alberta Bourgeois sê hy was ... Ja, sê almal ... A, God, Marta ... Lily Landmann  ... No problem, Truth Pascha ... (...) Die vroue praat oor hulle vooruitsigte. Marta Vos  ... (...) Truth Pascha  ... Johanna Jakobsen, wat meesal baie min sê, sê sy het die vooruitsig van ’n minder druk tyd waartydens sy ’n aandkursus in Viëtnamese kookkuns wil doen. Hierop reageer die vroue besonder geesdriftig. (pp 88-89)

Die eenselwigheid en parallelismes in die bostaande passasie, wat herinnner aan die kenmerkende styl van die Oostenrykse skrywer-satirikus, Thomas Bernhard (inkanterende herhaling van sinselement), word nou afgewissel deur ’n passasie waarin die vrouens se “over the top”-entoesiasme weergegee word (kompleet met uitroepstekens en opeenstapeling van “O...!”-uitroepe):

    O, roep hulle — Oosterse kos! Daar is niks soos Oosterse kookkuns nie!
        Hulle praat oor resepte. O, ’n skeutjie neutmuskaat hierby! O, ’n paar eetlepels Franse konjak daaroor — onverbeterlik! O, dit hier! O, dat daar! O, verruklik!), onvoorstelbaar — ’n onvergeetlike smaak!
        Hulle praat oor tuine. O, die varings wat so vervuil. O, die sprinkaan in die hibiskus! O, die lastige dit. O, die ontkiemende dat. O, die tricky snoei van die laatsomerroos. Alle potplante vrek in haar huis, sê Alberta Bourgeois. Maria Wildenboer het dit reggekry om die pieperige dwergkatjiepiering in ’n pot te kweek. (So ’n terapeut wil ’n mens hê, dink Ester.)
        Hulle praat oor bome. O, die lieflike sipres. O, daardie boom met die rooi blomme! Die sagte slap blomme van die magnolia as dit soos ’n tapyt onder die struik lê! (p 89)

Die effek van die verwewing van dié twee passasies — monotone verslaggewing van waaroor gepraat word en wie wat sê met die vrouens se oordrewe emosies by die diskussie van resepte, tuine en bome is satiriserend. Dit suggereer ’n bloot-registrerende waarnemer-luisteraar, maar uit die styl van die verteller se weergawe kom suggesties van eerstens die monotonie van gesprekke, en tweedens die banaliteit van so ’n “jubelende sesstemmige koor” van vroue bymekaar sterk na vore. Hoewel daar metikuleus elke keer berig word presies watter individuele vrou wat sê, is die eindeffek een van ’n kollektiewe eenselwigheid van hierdie “koor”.

Nog ’n voorbeeld van monotone verslaggewing-met-humoristiese-effek is die passasie waar berig gedoen word oor wie met wie dans in die Steynhuis terwyl hulle wag vir die musiekgroep van Jan de Dood en sy Bende:

    Jonah Voorsanger dans met Dorothea van Dorp. Die Freudiaanse terapeut dans met ’n man. Die vrou met die bekommerde gesig dans met die man met die vae buitelyn. Die skrywer met die bob en die bril dans op haar eie. Die historikus dans met die man wat oor Kwaadwilligheid skryf (...) (p 65)

Die beskrywing word op die spits gedryf deurdat dit vir feitlik ’n bladsy aanhou — steeds met dieselfde basiese sinstruktuur (“X dans met Y”, “Later dans Y met X”). Die enigste variasie in die sinstruktuur kom teen die einde van die passasie wanneer daar ’n katalogus volg van wie “nié dans” nie.

Dié katalogustegniek waarmee detail opgestapel word, dui op ’n intertekstuele verwantskap met Georg Perec se Life: A User’s Manual, een van die “skrywers sonder mededoë” teenoor die leser wat Winterbach volgens eie segging besonder aanspreek. Die ander skrywers is Kafka (veral Amerika en Metamorfose) en Thomas Bernhard (sy noem spesifiek Old Masters en The Lime Workers in Engelse vertaling). ’n Mens kan aflei dat Winterbach self ook so ’n “meedoënlose” skrywer is.

Nog ’n voorbeeld van hierdie bewuste manipulering van die tekstuur van die prosa deur herhaling van dieselfde sinstruktuur, is die pejoratiewe beskrywing van Woodgate, die Engelse minnaar van die gestorwe Selene Abrahamson:

    Woodgate, sê hy weer, en gooi sy hare minagtend oor sy skouer. Hy is so Éngels. Hy is so beláglik. Hy is so hoogdráwend. Hy is so gewígtig, Hy het so min verbéélding. Hy is so vervélig. Selene het hom geháát. Sy het hom verág. Hy is so passé. Hy is so onbeskryflik onnósel. So oníngelig. So pséúdo. So ’n phoney. So gevéins. (p 44)

Die opeenstapeling van pejoratiewe met die sinstruktuur “Hy is so x...” is terselfdertyd ook ’n ontginning van die oorgebruik van aksenttekens wat dui op intense emosie. Die eindeffek is egter lagwekkend en satiriserend van die spreker. Die monotonie van die inkanterende diskoers suggereer op voortreflike wyse ’n hewig-emosionele en realistiese monoloog.

Taal as motief en Bakhtiniaanse diskoerse in die roman

Dit is duidelik dat Winterbach in Buller se plan haar taalmedium meesterlik manipuleer vir bepaalde effekte. Maar taal is ook ’n belangrike motief, wat dui op ’n metatekstuele bewussyn. Die kwaliteit van hul Afrikaanse taalgebruik kom ter sprake in ’n gesprek tussen die vroue:

    “My taal gaan na die honde,” sê Alberta Bourgeois op ’n bepaalde punt.
    “My taal is lankal na die duiwel,” sê Truth Pascha.
    “Net Johanna praat nog suiwer,” sê Lily Landmann.
    “Die taal van die patologie vereis dit,” sê Johanna Jakobsen. (p 122)

Net soos die Freudiaanse terapeut na die “taal van die patologie” verwys, word daar ook ’n wye spektrum taalgebruik uit verskillende sfere in die roman weergegee. Fonny Alexander besig religieuse taal, die taal van die mistiek: “God het met haar sy menslike en sy goddelike natuur gedeel! Hulle was één! Sy was in God en God was in haar! Niks kan vir haar ooit weer dieselfde wees nie! (...) Haar oë gloei soos kole” (p 96). Hiernaas is daar die argaïese literêre taal van Marais se “Winternag” (“die velde in sterlig en skade”, p 127) wat meermale aangewend word om die natuur te beskryf en so ook die verlede op te roep. Daar is die taal van dwelmgebruikers: “beste dope”, “kak dope”, ’n “trader”. (p 97)

Onvermoë om te praat en die dood

Talle karakters sukkel ook om hulself uit te druk in woorde. So droom Ester een nag kort na haar aankoms, maar “haar stem bly vasgevang in haar keel — sy kan dit nie uitkry nie” (p 22). Die waansinnige en asketiese Mfazakhe Mhikize, die latter-day Van Gogh-met-supermarktrollie, word beskryf as “die man met die knop in die keel” (p 81):

    Met moeite bring hy die woorde diep uit sy liggaam uit — hy wurg aan hulle. (...) Hy praat soos iemand wat verleer het om te praat en weer opnuut moes leer om sy stem te gebruik. (p 70)

By haar moeder se sterfbed kon Ester ook nie praat nie: “Eers toe sy dood is, het die woorde by my losgekom”. (p 158)

“Buitengewone sintese van plekke en inhoude”

’n Boeiende stukkie metatekstuele kommentaar ingebed in Buller se plan op die aard van Winterbach se prosakuns, is die beskrywing van Jan de Dood “as kunstenaar in die tradisie van Frank Zappa”:

    soos Zappa goed geskool in ’n klassieke tradisie. Hy is eklekties. Hy is minder op sy gehoor gerig as die meeste kunstenaars. Hy het ’n merkwaardig intense selfingekeerdheid tydens optredes. Sy stemomvang en konsentrasie is groot. Ester wil weet waar hy vandaan kom. Hosea sê: Boksburg, Benoni, Germiston, Springs, Randfontein, wie weet? Hosea lag, vryf met sy hand deur sy hare. Hy bring dit alles bymekaar, sê hy, Zappa en die Oosrand. Hy maak sy eie buitengewone sintese van plekke en inhoude. (p 65; my beklemtoning)

In Ben Watson se ontleding van Zappa se oeuvre aan die hand van Adorno, The Negative Dialectics of Poodle Play word gewys op die moeilikheidsgraad van sy oeuvre as gevolg van die komplekse verwysingsraamwerk:

    I’d advise you that, given the complex, and peculiar nature of Frank Zappa’s lyrics, with their abundance of bizarre, obscure and arcane ‘inside’ references, any attempt at a ‘literary analysis’ is certainly going to be fraught with infinite peril. (1993: 534; my beklemtoning)

Veel van hierdie kommentaar kan net so op Buller se plan van toepassing gemaak word. Dit is ’n prosateks wat in baie opsigte net so verwikkeld is ten opsigte van die verwysingsraamwerk as TS Eliot se modernistiese gedig, The Waste Land (1922). Die innoverend-eksperimentele styl en humoristiese inslag maak egter dat ’n “label” ontbreek vir hierdie tipe prosa. Dit pas nie netjies in enige van die bestaande periodekodes soos modernisme of post-modernisme nie.

Verby die oppervlakgegewens — vrou besoek klein dorpie, bly sewentien dae, en verken die dorp en sy bewoners — is Buller se plan ’n fyn-gestruktureerde filosofiese en historiese roman wat handel oor mistieke belewing, die verhouding tussen hede en verlede, feministiese en estetiese kwessies.

Die roman speel intertekstueel met verwysing na ’n hele aantal periodes. Verwysings hierna word ingebed soos “spore” in die naamgewing (Ester, Vouet) of ander leidrade. Hulle vorm uiteindelik betekenis-trope in die roman soos die spirituele wêreld (heldersiendheid / profete / sieners / godsdiens / mistiek), die verlede (Anglo-Boereoorlog / soldate / blokhuis / konsentrasiekamp), kreatiwiteit en verbeelding (musiek, skilderkuns en letterkunde).

Die keuse van die kleinerige dorp as milieu is op sigself veelseggend. Anders as met die sogenaamde “Jim goes to Jo-burg”-motief waar die beweging in romans soos Cry the Beloved Country en Swart pelgrim uit die platteland na die stad is, beweeg hierdie hoofkarakter en baie van haar mede-figurante “uit die stad” na die dorp. Selfone bestaan nie vir Ester nie: sy maak gebruik van die “openbare telefoonhokkie voor die poskantoor”. As verbruiker is Ester se behoeftes beperk: sy drink tee in die dorpskafee, eet af en toe daar, en verder koop sy eenmaal ’n nuwe rooi rok om na die Steynhuis te dra. Ook hierdie kapitalistiese handeling is egter simbolies gelaai: “haar mooi rooi rok ... wat sy gekoop het by die vrou met rooi hare soos die noodlot” (p 140). Tog dring die “nuwe Suid-Afrika” deur in die leser se bewussyn via dialoog en fenomene soos die klomp swart “trollie-mans”, ’n resente maatskaplike fenomeen. En veral ook via die sporadiese voorvalle van oënskynlik lukrake geweld (die moord op mevrou Kriek, op Sid, die verkragting van Fonnie, en die navorsing van Bennie Potgieter oor wellusmoorde aan die Rand).

Die dorp het ’n ryk Anglo-Boereoorlog geskiedenis met slagvelde en blokhuise in die veld. Die dorpsnaam, Steynshoop, en name van dorpsgeboue en strate is heenwysings uit die hede na die verlede: Steynhuis, Verwoerdhuis, Steynstraat. Die titel, Buller se plan, hou die herinnering aan die oorlog heeltyd in die bewussyn. Maar ook karakters se name wys terug na die 1899-1902-tydsgewrig. Daar is mnr Mbulelo, die “talking head” na wie verwys word as “Siener van Rensburg redivivus”, Daan Theron wat inligting uitsnuffel oor die “vooruitsienende man” (die “talking head”) wat heenwys na die verkennerkorps van Danie Theron in die Boere-oorlog. Die minnaar van die dooie Selene heet Woodgate, ’n naamgenoot van ’n minder bekende majoor-generaal oor wie Pakenham in sy The Boer War skryf. Dikwels word die stamboom van ’n karakter uitgelê met verwysing na watter rol die oupa-grootjie in die Anglo-Boereoorlog gespeel het.

Nog ’n tydsgewrig en verwysingsraamwerk is die Bybelse tye van die Ou Testament. Opvallend baie van die karakters het Bybelse name: Ester, Deborah Barach, Samuel Levitan, Hosea Herr, Jonah Voorsanger. Ester lees saans in die Gemoedsrus Kamers in die Bybel “wat die Gideoniete daar vir haar gelaat het”. Soos Pakenham se The Boer War is die Bybel ’n sentrale interteks — veral die profetiese boeke uit die Ou Testament. Die voorname van al hierdie karakters wys heen na profete of sieners: Ester, Deborah, Hosea, Samuel, Jona. Almal figure met die vermoë van “sien”, die toekoms te voorspel, die ondeurgrondelike te deurgrond. Dat waansin dikwels met inspirasie en die ware profetiese gees geassosieer is, is sekerlik ook ter sake in hierdie roman oor gegrepenes, besetenes en kunstenaars.

Ook op die verhaal van Nebukadneser wat waansinnig geword het en soos ’n os gras gevreet het, word gesinspeel in die storie van Boetie Karel wat ’n episode van sinsvervoering beleef: “Hier steek Boetie Karel nou die grens oor van die waarneembare wêreld (...) hy praat in geen verstaanbare taal meer nie” (1999:166-7). In die lofsang van Debóra (Rigters 5) kom die verhaal voor van die vrou Jaël wat die leier van die Kanaäniete, Sisera, in haar tent eers aan die slaap gemaak het, en toe sy slape met ’n tentpent deurboor het. Dié verhaal van vrouevergelding skakel intertekstueel met die ander sterk interteks in Buller se plan: die verhaal oor Artemisia Gentileschi en haar beroemde skildery, “Judith en Holofernes” (dié verhaal kom uit die apokriewe boeke). Die twee minnaars word uitgebeeld waar Judith die hoof van Holofernes met ’n swaard afsny. (Hierdie geweld deur die vroue Jaël en Judith kontrasteer met die verkragting van Fonny deur ’n groep mans.)

Fonny Alexander word as ’n latter-day Artemisia uitgebeeld. Sy skenk ook vir Ester die “brandende boek” met die verhaal van Artemisia daarin.

Die apartheidsera word opgeroep deur verwysings na die Verwoerdhuis op die dorp, en die bestaan van sowel ’n Sendingkerk as ’n historiese dorpskerk. Die navorsing wat Samuel en Hosea doen oor die dorpsgeskiedenis handel oor die geskiedenis van die Jode en die Duitse gemeenskappe vroeër. Die sinagoge is tot niet — verwysing via afwesigheid. Indirek fungeer hierdie navorsing ook as heenwysing na die Jode-vervolging en die holocaust tydens die Tweede Wêreldoorlog.

’n Ander periode wat sterk verteenwoordig is in Buller se plan via intertekstuele verwysings na musiek, letterkunde en die skilderkuns, is die “goue” sewentiende eeu. Benewens deurlopende verwysings na Gentileschi (1597-1651), figureer die musiek van Montiverdi (1567-1643) via sy klaagsang Orfeu. (Dit handel oor Orpheus en Euridiké, en sy pogings om na die doderyk te gaan agter sy gestorwe minnaar aan). Die kunshandelaar-karakter Simon Vouet is ’n naamgenoot van ’n briljante Franse skilder (1590-1649).

Al die periodes waarna verwys word, lewer voorbeelde van sieners of profete, geïnspireerde begenadigdes of kunstenaars op. Dié figure suggereer kontak met die wêreld anderkant die waarneembare, die geestelike wêreld van die onsterflike siel. Hiervan is Fonny se mistieke visoene, die swart “talking head” se “vooruitsienendheid”, die “bosiende kind”, Boetie Karel en die “heldersiende” mev Kriek, almal voorbeelde.

Hoewel Buller se plan dus ’n sterk realistiese inkleding het, kan dit ten slotte ook as ’n filosofiese ontginning van verskillende bestaansmoontlikhede van die gees gelees word. Verby die sterflike liggaam is daar die ander wêreld van die gees: vandaar al die vergelykings met “onderwater swem”, “ondergronds gaan”, “die grens van die waarneembare wêreld oorsteek” die “oureole” om Fonny se kop en om die plataanbome in die sonsondergange voor die poskantoor.

Visuele inslag

Opvallend in die roman is die sterk visuele inslag (Winterbach is, soos Breytenbach, skilder sowel as skrywer). Teenoor die oormaat aan swart (veral geassosieer met Deborah Barach, die “vrou in swart” wat die rouproses om ’n dooie visueel uitbeeld) is daar dwarsdeur die roman ook dikwels die kleur rooi in alle skakerings. So is Redvers Buller ’n “donkerbloedige man (sigbaar aan sy dieprooi gelaatskleur)” (p 11). Die Steynhuis se sentrale vertrek is “karmosynrooi” geverf (p 33). Fonny se bloed is, soos dié van Artemisia, “helder vermiljoen (...) rooi soos die bloed van martelare (...) rooier as (...) vantevore” (p 44) na die aanval. Klaarblyklik staan swart as visuele herinnering of simbool van die dood, terwyl rooi simbolies die kleur van bloed, van lewe en erotiese belewing is.

Slot

Ester keer ten slotte huis toe:

    Laat Maandagoggend, net voor middagete, steek Ester Zorgenfliess weer die modderbuin Tugela kort voor die dorpie Colenso oor. Sy drink nie dié keer tee by die Wimpy of Bitterheid nie. Sy is haastig om by die huis te kom. Sy was lank weg, veel langer as waarop sy bedag was, en sy is gretig om haar geliefdes weer te sien. (p 167)

Binne die romanverband is die suggestie dat Ester nie net fisies nie, maar ook geestelik terugkeer uit die rouproses na haar moeder se dood. Sy “drink nie meer tee op die Wimpy by Bitterheid nie”: die bitterheid is afgelê. Die rouproses is voltooi, sy het haar versoen met die dood, al het Jan de Dood op ironiese wyse nooit opgedaag nie. Sy keer terug na die lewe. Sy was op meer as een manier lank “afwesig” van haar geliefdes.

****

Dit is gepas dat Ingrid Winterbach die skuilnaam Lettie Viljoen aflê met die tour de force van Buller se plan. Die skrywer mag “meedoënloos” wees, maar die eindproduk is humoristies, meesleurend en besonder indrukwekkend.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.