|
Helize van Vuuren gee hoog op oor Ingrid Winterbach se Buller se plan Ingrid Winterbach op haar beste in Buller se planAndries VisagieDepartement Afrikaans Universiteit van Zululand
In Steynshoop, n fiktiewe dorp wat baie herinner aan Ladysmith, vertoef Ester Zorgenfliess sowat twee weke nadat sy aanvanklik slegs die begrafnis wou bywoon van Selene Abrahamson, n vorige geliefde van haar neef Boeta Zorgenfliess. Dit word egter gou duidelik dat Ester nie net haar neef wil ondersteun nie, maar ook haarself wil gerusstel oor die gemoedstoestand van die bekende skilder Fonny Alexander wat herstel nadat sy wreed aangerand is. n Verdere rede vir Ester se verblyf in Steynshoop is haar wens om die talentvolle sanger Jan de Dood te sien optree in die Steynhuis, n gereelde bymekaarkomplek van intellektuele en kultuurmense uit die nabygeleë stad. Ook die jong man, Daan Theron, en sy groepie mansvriende besoek gereeld die Steynhuis in die (tevergeefse) afwagting om Jan de Dood te sien optree. Daan word ook na Steynshoop aangetrek deur die gerug dat daar n orakel in die omgewing woon met die besondere gawe om mense se lewens vir hulle te kan uitlê. In die loop van die roman maak Ester kennis met n uiteenlopende aantal mense waaronder die boemelaar Mfazakhe Mhikize en n groepie uitgelese vroue wat gereeld saamkuier in die Steynhuis. Sy wend verskeie pogings aan om Fonny Alexander se intense mistieke ervarings te verstaan, ervarings wat volgens die redakteur van n plaaslike tydskrif, Bennie Potgieter, vir haar as metafoor moet dien in haar herstel van die aanranding en verraad van n vorige geliefde. Na n paar indringende gesprekke met Fonny en na verskeie besoeke aan die Steynhuis vertrek Ester Zorgenfliess weer na haar tuisstad om haar aan te sluit by haar man en kind. Die romangebeure word aan die begin en teen die slot aangevul met n verslag oor die Engelse generaal Redvers Buller wat n vernederende nederlaag teen die Boeremagte tydens die slag van Colenso gely het. Die plan van Buller waarvan daar in die titel sprake is, was om in n triomftog na Bloemfontein op te mars. Hy moes egter noodgedwonge hierdie plan laat vaar om die Boere by Colenso aan te durf. Die hieropvolgende nederlaag lei uiteindelik tot sy professionele ondergang. Geweld en verlies is ook voortdurend op die loer in die verhaalhede wat ontstellend baie lyk op die huidige toestand in KwaZulu-Natal: Fonny Alexander word aangerand en terwyl Ester Steynshoop besoek, word die jong Sid buite die Steynhuis doodgeskiet in n aanval wat vermoedelik met dwelmhandel te make het. Ook die fortuinverteller mevrou Kriek word in haar huis doodgeslaan. Dood en verlies is n werklikheid waarmee n groot aantal karakters moet saamlewe: Ester verwerk die onlangse dood van haar ma, Boeta is bedroef oor die dood van Selene Abrahamson, en Debora Barach rou oor haar antie wie se boedel sy moet oorneem. Buller se plan is egter nie n somber roman nie: Ingrid Winterbach is immers bekend vir die fyn humor wat insluip in feitlik elke hoofstuk wat sy skryf. Vergelyk byvoorbeeld die oneerbiedige humor waarmee die groep uitgelese vroue in die Steynhuis improviseer op die publikasie van die briewe wat Boervroue aan hulle mans geskryf het tydens die Anglo-Boereoorlog:
Met hierdie wrang humor karakteriseer Ingrid Winterbach ook die groep vroue wat kennelik nie meer leef in n era waarin heldeverering die enigste vorm van diskoers was waaroor Afrikaners van hulle Boerevoorsate mag praat nie. Trouens, Buller se plan sluit aan by die afstandelike, ironiese blik waarmee Afrikaanse romanskrywers vanuit die jare negentig terugkyk op die Anglo-Boereoorlog. In Verliesfontein van Karel Schoeman en in Op soek na generaal Mannetjies Mentz van Christoffel Coetzee word die oorlogsgebeure ook byvoorbeeld vanuit n Engelse perspektief beskou en is die Boere nie sonder meer die helde van die stryd nie. n Interessante aspek van Ingrid Winterbach se werk is die elegante, sagte, nie-aggressiewe narratief wat sy gebruik. Sy maak met ander woorde nie staat op n vinnige opeenvolging van gebeure om haar leser tot oorgawe te verlei nie, maar vertoef eerder by uitvoerige en virtuose beskrywings van die onderskeie karakters. In Buller se plan kry n mens myns insiens n sleutel tot die waardering van hierdie roman by monde van die skrywer Alberta Bourgeois. Sy sê: karakter is handeling (121). Ingrid Winterbach se nuwe roman kan beskou word as n karakterroman waarin die steeds vollediger karakteriserings as t ware die motor vorm wat die romangebeure voortdryf. Ester Zorgenfliess se feitlik daaglikse roetine om n vaste aantal plekke in die dorp te besoek, bepaal uiteindelik ook grootliks die struktuur van die roman. Ester drink elke dag tee in die Dorpskafee langs die plastiekplant sonder huidmondjies, sy gaan sit elke dag op die bankie onder die plataanbome by die historiese kerk en gaan feitlik elke aand na die Steynhuis. Elke plek het sy gereelde besoekers met wie Ester gesprekke aanknoop. Hierdie gesprekke dra by tot die karakterisering en die karakterisering dra die handeling in die roman. As n mens die roman in ruimtelike terme kan beskryf, is dit moontlik om te praat van n spiraalvormige struktuur: dieselfde sirkel van vasgestelde besoekpunte word by herhaling bestryk in n beweging wat uiteindelik uitloop in die slot. Ingrid Winterbach se nuutste roman is na my mening saam met die uitstekende Karolina Ferreira die beste in haar oeuvre. Buller se plan is by uitstek deurgekomponeerde prosa wat nietemin baie meer toeganklik is as haar vorige roman, Landskap met vroue en slang. Ingrid Winterbach bevestig met haar nuutste roman dat sy een van die belangrikste prosaïste is wat tans in Afrikaans skryf. Haar styl is uniek en deurdag en het die skittering van juwele. Gaan lees Buller se plan dis n fees vir die verbeelding. |
|||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |