|
Verdere gedagtes oor Blomme vir LeonCoenraad WaltersBlomme vir Leon 1.Soos in die geval van Parker se hygroman is daar die netjiese intrige (hoewel Parker se verhaal n baie langer tyd bestryk en ook geografies die net wyer span om sowel New York as die Afrika-wildernis te omvat). Of dit oortuigend is dat Malherbe se hoofkarakter so gou sy gestorwe geliefde sal vergeet, is debatteerbaar; daarom oortuig die lange jare van Parker se storie my meer. Haupt beweer dat Malherbe die dialoog goed hanteer. Ja, seker, net so goed soos Ena Murray: stokkerig, onoortuigend, vol inligting wat eksplisiet oorgedra word. Malherbe se roman lees soos n Trap-der-jeugd van die gay lewenstyl! In hierdie opsig is dit veel meer verteenwoordigend as die verhale van Koos Prinsloo en Johann de Lange. Alles goed en wel: soos Joan Hambidge in haar LitNet-bespreking van n Man se man deur Brand Vermeer opgemerk het, dit is goed dat hierdie boek verskyn het om iewers op die platteland n kloset-gay se fantasieë OOP te maak. Malherbe lewer dus n bepaalde bydrae, maar hy en sy karakters praat te veel en doen te min! Maar, soos Ena ons geleer het, dit is sekerlik n kenmerk van die genre. 2.Een van baie gay-verwante onderwerpe wat ter sprake kom, is die rol van godsdiens. Hoor wat sê Zirk op bl. 116 aan Leon: Jy wat so n streng Christelike opvoeding gekry het: is n Christen nie juis veronderstel om plesier en vreugde uit die lewe te kry nie? Dan móét dit mos sonde wees vir n gay Christen om sy lewe om te wroeg en hom in n donker kas toe te sluit en homself van die samelewing af te sluit sonder om voluit te leef. Klink of hy n klap van Christina Landman weg het … Tradisioneel is gay karakters eksplisiet ateïsties, meestal omdat die georganiseerde godsdiens hulle verwerp. Hul reaksie op dié traumatiese ervaring is om God die rug toe te keer. In Edmund White se mees onlangse roman, The married man (Chatto and Windus, 2000), sê die hoofkarakter: Im an atheist, too … I hate it when people say theyre agnostics, dont you? En dan dink hy by: Especially gays, the pathetic nitwits, whove been tortured and insulted by every known religion. In een van die eerste eksplisiete gay romans wat geskryf is, Maurice van E.M. Forster, verloor Maurice ook sy geloof soos hy stelselmatig sy homoseksualiteit erken en ontdek. Dit word voorgestel in n toneel waartydens Maurice die kapel tydens n diens verlaat. Dit kan n mens nou nog verstaan. Maar die uitbeelding hiervan in die filmweergawe (die Merchant-Ivory produksie van 1987) gaan my verstand te bowe. Maurice verlaat nie sommer enige kapel nie, maar die kapel van Kings College in Cambridge, een van die heel, heel mooiste kapelle, tereg allerweë bekend vir die pragtige fan vaulting van die plafon. En hy loop nie sommer op enige punt uit die diens uit nie, maar terwyl die koor sing en Kings College se kapelkoor is wêreldberoemd vir hul pragtige sang. En hulle sing nie maar sommer een van hierdie dodelik vervelige Anglikaanse kerkliedjies nie; nee, hulle sing die hemelse toonsetting van die Miserere deur Allegri, met die hemelhoë swewende sopraanlyn in die eggokoor! Nee! Het die man (of ten minste die filmmakers) dan geen estetiese sensitiwiteit wat sterker is as weersin in die godsdiens nie?! 3.Maar nodig? Prettig? Vinnige (vlakkerige) vermaak? Lekker ontvlugting? Beslis! Hopelik is hierdie nie die laaste roman in sy soort nie, maar sal Malherbe en sy opvolgers leer en ontwikkel en uiteindelik kan skryf soos David Leavitt, Edmund White, Felice Picano, Ethan Mordden, Adam Mars-Jones, Andrew Holleran en Alan Hollinghurst (om maar net enkeles te noem). Dan sal die oemf wat Haupt soek, sekerlik daar wees.
|
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |