Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Sonder rose, blou lug en stroop: die Afrikaanse liefdeslied …

Andries Bezuidenhout

Die Afrikaanse liefdeslied is seker so oud soos die taal self. Dink maar aan die alombekende “My Sarie Marais”. Helaas, soos soveel ander Afrikaanse liefdesliedere is dit ’n vertaalde een — die oorspronklike geliefde was so ewe ’n “sweet Elly Rhee”, wat ter wille van die rym van Tennessee af gekom het. Engels, nogal. Ten minste het die mense wat ons “tradisionele” volksliedere vir ons uitgedink het, dit by die Duitsers gaan haal — soms met selfs meer afgryslike resultate as gevolg. Maar wag, as ’n mens die arsenaal stroperige oorspronklike liefdesliedere in Afrikaans in ag neem, is “Sarie Marais” glad nie so sleg nie.

Ek het nou weer deur my Die klein FAK-sangbundel geblaai. Die songs is in tematiese afdelings ingedeel — soos “Volk en Vaderland”, “Natuurskoon” en “Besinning”. Liefdesliedere het so ewe in twee afdelings beland — heel eerste “Nooiens en Kêrels” en dan “Skeiding en Verlange”. Nou wonder ’n mens wat die FAK sou dink, binne die konteks van pogings om ’n minder homofobiese samelewing te bou, van die idee om ’n afdeling vir “Kêrels en Kêrels” en “Nooiens en Nooiens” te skep. Hulle sal waarskynlik voel dat die sangbundel dan sal word soos die persoonlike classifieds: “Gelukkig getroude paartjie op soek na biseksuele vrou met die oog op ’n standvastige verhouding”. Dan het ons dalk “Kêrels, Kêrels en Nooiens”, of “Nooiens, Kêrels en Nooiens”. Goeiste! Gee die pinkie, dan gryp hulle die hele … Stop! Stop!

Ek spot nou met ernstige dinge. Ter wille van die feministiese lesers van LitNet moet ek tog uit een van die juweeltjies in die “Nooiens en Kêrels”-afdeling aanhaal. Die song se naam is “Die Afrikaanse Pop”. Dis geskryf deur ’n ene “Jannie” en is in die koerant De Goede Hoop gepubliseer. Ek kan nie al die versies aanhaal nie, maar almal besing die deugde van nooiens van verskillende nasies: die Franse nooi, die Skotse blou-oog-lassie, en die miss uit Engeland word almal oorweeg, maar op die ou end voel die minnesanger dat hulle deugde glad nie opweeg teen dié van die Afrikaanse pop nie. My gunsteling is die een oor die Duitse Fräulein:

Die Fräulein uit die gawe land van worsies en van bier
is ’n bekoorlik’ singertjie en tuis by die klavier;
maar hoe jou frikkadel te braai en hoe te kook jou sop,
daar kom sy by die hak nie van die Afrikaanse pop!

Na versigtige oorweging kom die sanger tot die gevolgtrekking:

Laat ander sê wat ander wil, maar hierso staan ek by:
Jy kan geen beter wyfie in die hele wêreld kry:
Gesond, beskeie, sag en soet en vlytig boonop,
Sy’s tog ’n alte liewe ding — die Afrikaanse pop!

Hm, dalk moes die skrywer meer plaaslik ondersoek ingestel het. Wat van die Zoeloe-nooi, of die Tswana-lassie? Maar nou skryf ek myself heeltemal vas — ek trap waarskynlik ook die polities korrekte landmyne by die dosyne af. Vergewe asseblief my voortvarende onsensitiwiteit.

Oor die soetsappige “seemeeu”-liefdeslied in Afrikaans het ek min te sê. Dalk net dat dit maak dat ’n mens baie versigtig moet wees as jy wel die inspirasie kry om een te skryf. Miskien is dit my onvermoë om goed Engels te praat wat maak dat ek net baie meer krities op Afrikaanse love songs is — hulle klink om een of ander rede vir my net baie makliker stroperig. Dis juis hoekom ek baie groot respek het vir mense wat goeie liefdesliedere in Afrikaans kan skryf. Ek het een keer probeer, maar het nooit die moed gehad om dit in die openbaar op te voer nie. Op die ou end het ek ’n deel van die wysie gebruik om ’n pragtige liriek wat Moord, ons drummer, geskryf het, te toonset. (Die persoon vir wie ek die oorspronklike song geskryf het, moet baie lief vir my wees, want sy het my vergewe. Altans, ek dink sy het, of dalk het sy maar net gedink die song was baie swak.)

Wat die skryf van ’n liefdeslied soveel moeiliker as ander songs maak, is die feit dat ’n mens baie eerlik moet skryf oor iets wat baie persoonlik is — sonder om in die proses in clichés of potte vol stroop te beland. In ’n poging om nie soetsappig oor te kom nie, kom baie liefdesliedere afgestomp, verwyderd, koud of doodeenvoudig onsensitief oor. Daar is min mense wat die perfekte balans tussen rou emosie en voldoende afstand kan behaal. Juis dít is waar die kuns van liriek skryf inkom, want dit ís ’n kuns: net soveel soos enige ander kunsvorm.

Eerder as om hier verder swartgallig oor soetsappigheid te raak, wil ek ’n paar wonderlike Afrikaanse liefdesliedere uitlig. Ek wens baie keer ek kon ’n mp3 van elke song waaroor ek skryf, hier beskikbaar stel vir mense wat dit nog nie gehoor het nie. Ek raak net so opgewonde oor ’n mooi wysie of verwerking as lirieke — maar ongelukkig beperk die medium ons hier. Ek wens ons kon eerder saam ’n drankie drink met ’n CD-speler met groot luidsprekers en gesels oor die musiek. Aan die ander kant: daar’s waarskynlik ’n paar mense wat vir Francois Williams met die vuiste sou bydam by so ’n byeenkoms. Arme Klara Majola sou vreeslik bloos oor al haar rassistiese uitlatings (hoop ek), en ek kan net dink wat Jannie Kraakbeen te sê sou gehad het (ek sien hy’s deesdae stil).

Miskien is Valiant Swart ’n goeie plek om te begin, juis omdat baie min van sy songs oor liefde handel. Hy het ook al lekker met stroperige love songs gespot — dink maar byvoorbeeld aan “Ware Liefde” op Die Mystic Boer, sy eerste CD:

Ware liefde pypkan my chronies
Dit sing ek vanaand vir die maan wat my oë verniel
Waarom het jy my nie vertel nie?
Ek weet nie eers waar om jou te bel nie
En al wat ek van alles oorhet is ’n foto en ’n stukkende siel …

Maar Valiant het nie altyd sy tong in sy kies nie. Op dieselfde CD is “Die Son se Song”, ’n baie mooi liefdeslied met sterk beelde uit die natuur:

iewers roep die dromme
iewers waai die vlag
iewers draai jou liefde
soos ’n rukwind in die nag

die donderwolk-kolomme
die hemelruim se krag
jou horisonne toor my
teen die einde van die dag

jy dans vir my ’n reëndans
jy slaan vir my ’n drom
jy bring vir my die weerlig
en jy sing die son se song …

’n Ander baie mooi een is “Whisky en Reën” op Maanhare. Soos goeie whisky word Valiant se songs net beter en beter soos hy ouer word:

al daai nagte wat met my weghol
as ek jou soek tussen die people
as ek jou wegsluk oor die tafel
whisky en reën.

Aan die einde van die song sing hy:

hier’s vir jou ’n heildronk
vir die hoekoms en die eensaam
al daai nagte wat ons deurstaan
ons twee is whisky en reën
baby ons twee is whisky en reën.

Waar Valiant selde die onderwerp aandurf, het Koos Kombuis ’n hele arsenaal van liefdesliedere in sy koker. Dis merkwaardig dat op Ver van die ou Kalahari, daardie eerste kasset wat hy gemaak het toe hy nog André Letoit was, nie minder nie as ses van die elf songs min of meer oor die vele liefdes van sy lewe gehandel het. (Dit sluit nou nie die hidden tracks op die latere CD in nie.) Hierdie liefdesliedere was egter veel meer as net dit — in amper elkeen van hulle gebruik hy die verhoudings tussen mense om te wys hoe ’n bestel met so ’n obsessie met ras en rassuiwerheid, mense se lewens kon beduiwel. Hy wys dat politieke protes juis die sterkste kan wees as dit die persoonlike as vertrekpunt neem. Dink maar aan “Coca Cola nooi”. Die song is allermins idealisties oor die verhouding tussen wit en swart tydens die dae van die sogenaamde ontugwette:

Toe vat ek jou na ’n wrede straat
met graffiti teen die mure en haat
snags is daar bendes en polisie wat baklei
maar steeds klou jy soos ’n label aan my sy
some say love it is a river
maar hier is saamwees stomper as ’n razor
how’s your handle mate, rook nog ’n pyp
want die’s mos die flipside van die Fairest Cape.

Die Coca Cola nooi het haar ewige liefde verklaar, maar toe sy wou bly, was die antwoord “nee” — want “altyd is ’n lang tyd”.

“Ontug in die lug” spot ook met die ontugwette — “op die stasies in lokasies, skep ons wrywingsituasies, en daar is ontug in die lug, ontug onder die brug, ontug orals waar jy ry, ja, dis ontugtyd vir jou en my.” Ek is mal oor die dubbelsinnigheid van die “wrywingsituasies”.

Dan is daar nog “Valerie”, “Elmarie”, met skreeusnaakse puns op NP van Wyk Louw se “Ballade van die Bose”, en ook nog “Lady van die bo-dorp”. ’n Ander een, “Lalie”, bly een van die mooiste liefdesliedere ooit, al is “’n dooie boyfriend” aan die woord. Ek wens soms Koos wil van sy nuwe reggae-version ontslae raak en weer die ou een sing. Dis die eerste song wat ek op my kitaar leer speel het.

Alhoewel Koos dit duidelik maak dat sy verhouding met Lisa van “Lisa se Klavier” ’n platoniese een was, bly dit darem een van die mooistes. Die pragtige klavierverwerking op Niemandsland dra net soveel by tot ’n song wat reeds baie mooi is. Ek onthou ook die video wat daarvoor gemaak is — donker, rokerige scenes met ’n beeldskone Lisa wat sit en speel voor ’n klavier met verskillende soorte kersblakers op. Koos met sy mus en ’n sigaret in die mond. Later staan hy met sy dreadlocks langs die bergie onder in die straat.

Soos die einste Koos Kombuis nou die dag gesê het, was daar nou al pogings gewees om David Kramer se “Meisie sonder die sokkies” na te aap. Mense kan maar hard probeer, maar dis onmoontlik om dit te doen. Hulle kan maar oor bokkies en rooi rokkies sing — David Kramer se songs se sterkte lê juis in hulle oënskynlike eenvoud. Maar agter sylangse verwysings, die toevallighede in sy songs, wag die versteekte wêrelde waarna hy verwys:

Ek droom van jou voor die sendingkerk
In jou wit hoed en jou mooi rooi rokkie
Bokkie met die blou doek op jou koppie
Die klokkie in my hart wil okkie stoppie
Vanaand sing ek soos ’n bok wat blêr
Want die verlange hou nooit oppie …

Wat maak van “Meisie sonder die sokkies” so ’n suksesvolle liefdeslied? In die eerste plek is die deuntjie en die verwerking daarvan ongelooflik catchy. Niemand kan ook daardie klank van David Kramer se blikkitaar namaak nie. Ons hoor die verliefde wat rondhardloop “soos ’n hoenderhaan met sy kop afgekap” — hy sing opgewek, hy gebruik onkonvensionele beelde om na hom en sy bokkie te verwys, maar tussen al die vrolikheid, die speelse rymelary, skuil daar iets hartseers. En dís die kuns wat David Kramer bemeester het soos niemand anders nie — die ironiese speel tussen teenoorgesteldes deur juis die hartseer te onderspeel. Hy steek sy hartseer weg agter bravade.

Die feit dat Clarabelle van Niekerk die land verlaat het, is ’n groot verlies vir Afrikaanse musiek. Gelukkig het sy ’n paar jaar gelede weer ’n CD opgeneem — Roep die Engele bly een van my gunstelinge. Daar is ’n hele aantal uitstekende songs op hierdie CD, maar ’n love song wat uitstaan, is “Bly ’n bietjie” — een wat vertel van “groot blink vliegtuigvoëls wat in die wolke verdwyn” en “mamba-treine wat diep in tonnels skyn”:

Ek is moeg moeg moeg moeg vir tasse
wat op beddens lê
En vreemde poskaarte
wat bittermin sê

Ek soek soek in leë kamers
om myself te kry
en hoor hoe die foon alleen
in die donker lui

En die wêreld gaan om en om
en mense gaan en kom
so om en om en om
so bly net ’n bietjie by my …

Anton Goosen is natuurlik ’n meester van die liefdeslied. Dink maar aan “Kruidjie-roer-my-nie” — die gebruik van onkonvensionele beelde wat nou al deel van die volksmond geword het. Tog bly een van sy mooistes vir my “’n Brief vir Simone”:

Ver onder my druis stadsgeluide
die hart van Hillbrow wat flink aanstap
die straatpredikante en die hari-krisjna-profete
groot rooi bus snork verby
die laataand-koerantverkopertjies skree
in die meganiese gramadoela-oerwoud.
Hysbakke gly op en af
- blitspatrollie skeur deur die nag -
en ek sit op die Hillbrow-toring,
en wag vir sonop en skryf ’n brief vir Simone
En ek wil jou hê Simone …


Daar is nog so baie goeie love songs in Afrikaans. Dink maar aan Karen Zoid se “Engel”, aan André Swiegers se “Blou”. Ook Johannes Kerkorrel wat ’n ou, ou lied gevat het en nuwe betekenis daaraan gegee het — “Al lê die berge nog so blou”.

Maar ek wil afsluit met iemand wat waarskynlik meer oor “Besinning” as liefde geskryf het — Koos du Plessis. Soms was hy ongelooflik sinies. Dink maar aan: “Met orrelbegeleiding kom die voorspel tot die skeiding, maar dis alles reg, die liefde is ’n vuur. Van die vurige hofmaak, hoor ons later in die hofsaak. Die liefde is ’n skadu teen die muur …” Sjoe. Maar tog het hy ’n pragtige liefdeslied vir sy vrou Mornay geskryf:

Maar jy, Mornay, sien skaduwees en kyk verby, Mornay
die dae dryf soos wolke verby
En jou oë laat my glo dat daar iewers nog sin is;
dat iewers, ná alles, daar nog ’n begin is.
Want verby is verby en die toekoms is helder vir my, Mornay
want die toekoms is jy.
Die nag raak soms kil;
jou lag raak soms stil …
Maar jy, Mornay, kan woordeloos my hart verbly …

Tussen al die sinisme op Koos du Plessis se Herbergier staan “Mornay” uit, lê die liefdeslied amper ongemaklik. Tóg, van agter die amper oordadige rym skemer oomblikke van wanhoop deur: “Soms, as ek vergeet, pak skimme my beet …”

Karla du Plessis het ’n baie sensitiewe toonsetting gedoen van die einste Koos Doep se “Herinneringe”. Dis op Woordeloos, haar eerste CD, met ’n wonderlike verwerking deur Peter McLea. Elke keer wat ek daarna luister, is ek verstom oor die subtiele ondersteuning wat die baskitaar aan die klavier en die snare verleen. Met “’n sestal geskommelde letters spel jou tweelettergrepige naam” kry ons ’n aanduiding dat ook hierdie gedig/liriek vir Mornay geskryf is. Die laaste twee verse:

Vergete is die lag in jou oë
of die tranespoor oor jou wang
maar soms in die nanag onthou ek
hoe diep ek na jou kon verlang

Want wat ek vir altyd wou vashou
het die tyd uit my hande laat gly
en wat ek so graag wou vergeet het
is vir ewig gebalsem in my.

Só eenvoudig. Só elegant. Tog amper wanhopig. Veral hierdie laaste vier reëls laat enige liriekskrywer vir ’n rukkie stilbly. Ons kan maar net leer by die meesters.

Op sy eerste plaat, Skadu’s teen die muur, is nog ’n siniese liefdeslied. “As jy my kon volg” is meer bekend en dalk minder persoonlik as “Mornay” of “Herinneringe”:

As jy my kon liefhê tot alles vergaan
en nooit ooit die skeiding sou vrees
sou ons die lewe kon leer verstaan
’n oomblik gelukkig kon wees

Maar ons is nog jonk en die wêreld is oud
en voor ons het almal gefaal.
Neem nou my hand, want die nag is koud -
dis dalk die heel laaste maal.

Vir Koos du Plessis sou ’n mens nooit van soetsappigheid kon beskuldig nie. Dalk eerder swartgalligheid. Maar dit sou ook onregverdig wees. Dalk is “sinies” die regte woord, al is dit ook dalk te hard. Miskien is ’n gesonde tikkie sinisme juis wat ’n goeie liefdeslied nodig het.

Maar wie is ek nou om te praat? Ek kon nog nie eers een skryf nie.


boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.