Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Cybersakkies!

Andries Bezuidenhout

In sy song “Cybersakkie” sing Valiant Swart:

Kaapstad en Jo’burg, Kingston en Peru
sakkie ken die oerwoud, sakkie ken sneeu
sakkie op die underground, sakkie op die net
sakkie op die Boeing sakkie, in die bed

Die sakkies het nou cyber geword en hulle reis deur die hele wêreld. Sommige doen dit op Boeings en op die underground, maar baie doen dit op die net. Mense is geneig om baie opgewonde te raak oor nuwe tegnologie. Sogenaamde “futuriste” dink altyd aan die moontlikhede wat byvoorbeeld die internet of virtual reality aan die mensdom sou bied. Goedgelowige beleggers het miljarde dollars verloor toe die “dot com”-revolusie nie heeltemal gedoen het wat die entrepreneurs belowe het nie.

Maar tog moet so ’n asemrowende flop ’n mens nie laat dink dat die internet niks kan doen nie. Wat ’n mens daarmee kan regkry, is dalk juis nie so spectacular nie — eerder ’n aantal revolusies in die kleine. Daar is nie ’n gelui van klokke of die geloei van sirenes nie, maar stilweg is jong Afrikaanse rock bands besig om die internet in te span om hulle musiek by mense uit te kry wat dit andersins nooit sou gehoor het nie. Stadig is daar nuwe gemeenskappe wat ontstaan rondom ’n gedeelde belangstelling in musiek — die cybersakkies, soos Valiant Swart sing.

Die internet as kommunikasiemiddel kom ook net op die regte tyd, want die afgelope paar jaar het die gehoor vir Afrikaanse rockmusiek baie verander. Dit is in die eerste plek ’n groter gehoor, maar dit is ook een wat baie wyer oor die aarde versprei is.

In die laat 1980s en vroeë 1990s het die rock bands maar meestal rondom Universiteits- en Technikonkampusse gespeel. Dit is waar jy die grootste konsentrasie van rock-aanhangers gekry het. Dit was mense was hulself as “alternatiewes” gesien het, maar soos Dagga-Dirk Uys uitgewys het, is die “alternatiewe” tyd verby. Ons het ’n politieke bestel wat min of meer demokraties is, maar ’n paar ander dinge het ook gebeur:


“Ek kuier in jou voorhuis tussen mikrogolwe se gesuis …”

’n Hele generasie van “alternatiewe” studente werk nou in die rekenaarbedryf, in banke, as onderwysers, in die staatsdiens, of hulle het hulle eie besighede. Hulle woon nie meer naby die kampusse nie, maar in die klinkersteensuburbs. Hulle luister nog steeds na Johannes Kerkorrel, Koos Kombuis en Valiant Swart, maar ook na die nuwe bands, soos Karen Zoid, Beeskraal en Spinnekop. Om hierdie rede is baie van die suksesvolle venues nie meer net naby die kampusse nie, maar in die suburbs. Goeie voorbeelde hiervan is Café Barcelona in Pretoria, High Street Teater in Durbanville en Sirocco’s in Gordonsbaai.


“Ons is gesoute reisigers …”

’n Tweede belangrike verandering is die feit dat baie van die jong rock-aanhangers vir lang tye nie meer in die land is nie. Baie doen aansoek vir die twee jaar “working holiday visa” in die Verenigde Koninkryk. Waar hulle in die verlede in hulle 20s ’n ideale gehoor vir gigs sou gewees het, is hulle doodeenvoudig nie in die land nie. Baie sit in Londen, maar ook elders in die wêreld.


“Sy dra te veel eyeshadow …”

Verder het die luisteraars van rockmusiek uitgebrei doodeenvoudig omdat meer mense nou daarna luister wat nie in die verlede daarna geluister het nie. Cover-sangers soos Theuns Jordaan stel baie nuwe mense voor aan die musiek van die rockers, en sekere TV-programme, soos Geraas en Draadloos, speel ’n belangrike rol. Tog is daar steeds die probleem dat radiostasies nog te hoofstroom in hulle benadering is en nie kanse waag op nuwe jong bands nie. Hulle speel eerder die resepmatige en middelmatige pop wat Afrikaanse musiek so ’n slegte naam gee.


“Mijn hart ligt in het avondland …”

Nog ’n verandering is die bewuswording van goeie Afrikaanse musiek in België en Nederland, onder andere danksy ’n kunstenaar soos Stef Bos. Waar die Afrikaanse gemeenskap van CD-kopers maar betreklik klein is en baie keer met min tevrede is, is hierdie redelik welaf markte met ’n baie sterker bewustheid van goeie musiek en kultuur. Mense luister doodeenvoudig versigtiger na lirieke en waardeer kwaliteitinstrumentasie op ’n opname. Dis ’n mark wat by verre nog nie genoegsaam ontgin word deur Afrikaanse rockers nie.

* * *

As Dagga-Dirk Uys nou weer ’n Voëlvry-toer moes beplan, sou hy baie anders te werk moes gaan. Om by of naby die kampusse te stop is doodeenvoudig nie genoeg nie. Die tyd is ook verby wat ons gratis reklame kry omdat konserte verban word. (Gelukkig het Karen Zoid darem al besef dat meer drastiese stappe soms waardevolle reklame tot gevolg het!)

Nee, die ruimtes waar die luisteraars van rockmusiek bymekaarkom, het baie verander — hulle woon in Garsfontein, Bloemfontein, Springs, Linden, Londen, Leiden, Melville, Belville, Parys, Patensie, Eersterust, Rustenburg, Amsterdam, Swellendam, maar ook nog in Hatfield en Stellenbosch. Sommige bly in Sydney of Toronto, en soms sal jy een of twee in Tokio aantref.

Hoe de duiwel kry jy jou musiek by al hierdie plekke uit? Daar is nie maklike antwoorde nie, maar die internet en e-pos help tog ’n bietjie.

Manuel Castells, ’n sosioloog van die Universiteit van California-Berkeley, praat oor hoe daar sekere “hubs” en “nodes” in die informasie-eeu ontstaan het. Hierdie hubs en nodes is die raakpunte waar mense saamkom — dit is ruimtes wat dalk nie werklike plekke is soos ’n club of ’n kroeg nie, maar plekke waar baie informasie uitgeruil word en soms verkoop word. Baie keer is dit plekke op die internet waar interaksie tussen mense kan plaasvind. In Afrikaanse musiek is daar reeds ’n aantal sulke hubs/nodes.

KlankKas en LitNet se brieweblad is een van die belangrikstes. Hier debatteer mense sake waaroor hulle sterk voel, Katvrou en Piet Pompies skryf resensies van die gigs wat hulle bywoon, en kunstenaars voer anonieme vendettas teen hulle kompetisie (soms tot ergernis van lesers, maar soms ook as vermaak). Daar is gereelde interaksie, maar die interaksie word deur Etienne en Erns gemodereer.

’n Plek waar meer direkte interaksie plaasvind, is Valiant Swart se website (www.valiant.co.za/praat). Daar het vroeg reeds ’n gemeenskap van mense gevorm, die meeste met skuilname. Stadig het die mense mekaar begin ontmoet by venues en festivals. Hulle bespreek hulle voorkeure en afkeure in musiek, maar ook algemene sake van die dag. Daar vind ’n minimum moderering plaas — die gemeenskap reguleer maar self die reëls. Op ’n manier het die forum ’n baie breër funksie as ’n fan club vir Valiant (wat dit ook is), maar die gesprekke gaan oor so ’n wye aantal onderwerpe dat daar soms mense deelneem wat nie so bekend met Valiant se musiek is nie. Die feit dat mense onder ’n hele aantal skuilname kan skryf, maak ook dat daar soms baie giftige gesprekke plaasvind, maar dis gelukkig die uitsondering.

Dan is daar websites waar daar geen interaksie plaasvind nie, maar aangesien die inligting so vars, volledig en op datum is, besoek baie mense dit bloot om uit te vind wat aan die gang is. Een so ’n website is Vetseun (www.fly.to/vetseun). Dit is merkwaardig hoe ingelig hierdie ou is — as iets goeds of interessants in Afrikaanse musiek gebeur, kan jy maar weet dat daar ’n plekkie op sy website daarvoor is. Dan is daar www.samusic.co.za, wat ’n afdeling oor Afrikaanse musiek het, asook www.musiek.co.za, wat spesialiseer in inligting oor Afrikaanse musiek. Brandpunt (www.brandpunt.co.za) is ’n webtydskrif wat redelik onlangs begin is. Dit het wonderlike onderhoude met musikante, maar ook ander interessante mense op die cutting edge van Afrikaanse kultuur.

’n Ander nuttige node is websites waar ’n mens mp3’s wettig kan aflaai. Meestal maak bands songs (of snitte daaruit) beskikbaar sodat iemand kan hoor hoe klink die musiek voordat hulle besluit om CD’s te koop. www.samp3.com is ’n baie gebruikersvriendelike website — daar is nie net Afrikaanse musiek nie, maar Suid-Afrikaanse rock in die algemeen. By elke mp3 is daar ’n skakel na ’n plek waar ’n mens die CD kan koop, indien daar een te koop is.

Dan is daar tydskrifte wat per e-pos versprei word. By verre die lewendigste is die SA Rock Digest, wat weekliks uitgepos word. ’n Mens kan elke Maandagoggend lees oor nuwe bands, resensies van gigs, en jy kan uitvind waar jou gunsteling-band gedurende die maand optree. ’n Mens kan ook vrae vra — baie keer wil mense byvoorbeeld weet waar om ou langspeelplate in die hande te kry. Die top 20 mp3 downloads op www.samp3.com word ook elke week gelys, en Brian Currin, die redakteur, het ’n gereelde program op SAfm.

Nog ’n belangrike punt is dat CD-winkels baie versigtig is om CD’s van nuwe bands te bestel. Hulle loop die risiko dat dit dalk nie sal verkoop nie, of dalk is die persoon wat die CD’s bestel, heeltemal clueless oor byvoorbeeld Afrikaanse rockmusiek. Gevolglik is een van die grootste frustrasies vir jong bands om hulle CD’s by hulle fans uit te kry. Gelukkig is daar ’n aantal baie goeie aanlyn CD-winkels wat spesialiseer in Suid-Afrikaanse musiek. Twee hiervan is www.soundissue.co.za en www.oneworld.co.za. Dan het www.kalahari.net ook ’n afdeling vir Afrikaanse CD’s, maar aangesien hulle nie uitsluitlik in Suid-Afrikaanse musiek spesialiseer nie, is die versameling redelik beperk. Die voordeel van goeie aanlyn CD-winkels is dat mense wat nie in Suid-Afrika woon nie, ook die CD’s kan aanskaf.

* * *

In ’n wêreld waar groot platemaatskappye die beste tyd vir hulle eie kunstenaars se musiek op die radio koop, waar baie min radiostasies nog Afrikaanse musiek speel, en waar die aanhangers en potensiële aanhangers van rockmusiek regoor die land en die wêreld versprei is, moet veral jong rock bands nuwe maniere vind om hulself aan die publiek bekend te stel. Die internet is ’n baie nuttige medium daarvoor. Dit beteken dat om ’n website te hê, amper so belangrik is as om goeie instrumente, klanktoerusting en ’n selfoon te hê. Toe ons ons eie band, die Brixton Moord & Roof Orkes begin het, het ons gesorg dat ons ’n website het, en dat ons ’n paar mp3’s beskikbaar gehad het vir mense om af te laai — lank reeds voor ons aan ’n CD begin werk het. Vreemd genoeg is ons musiek eerste in Nieu-Seeland op die radio gespeel, nog voor iemand in Suid-Afrika die moeite gedoen het. Chutney de Ridder uit Kaapstad, wat toe nog nie die band live gehoor het nie, het die eerste rubriek oor ons geskryf nadat hy ons raakgesurf het.

Maar op die ou end is niks belangriker as om self na die mense toe te gaan nie — om die land vol te toer, en om selfs ’n draai in Londen te maak as ’n mens kan. Die energie van ’n live rock show kan jy in woorde beskryf, jy kan dit oor ’n web-cam dophou, of jy kan dit op die TV sien, maar niks kom nog naby die persoonlike interaksie tussen ’n band en ’n crowd nie. Dit sal ook nog baie lank wees voor virtual reality daardie rush kan naboots.

’n Mens kan tog nie die band met vrot tamaties oor die internet bestook nie — gedrag wat ek natuurlik om selfsugtige redes nie sou wou aanmoedig nie.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.