|
Stemme uit die bos: Besinning oor Oppikoppi Wired 2005, in ses deleAndries Bezuidenhout“Daar is musiek hier wat mense saamsnoer op ‘n manier wat hulle ‘n dekade en ‘n half gelede nie geweet het bestaan nie ...” Toast Coetzer, Rapport, 14 Augustus 2005. Deel 5 Dis die laaste aand. Dis kort voor middernag. ‘n Groot skare spring op en af. Sommige balanseer verbete aan bierglase voor hulle in die stof neerslaan. Sommige staan op. Ander bly lê. Op die verhoog, onder flitsende ligte, spring Francois van Coke van Fokofpolisiekar die lug in. Hy skree: my skoene is deur vroue slawe Hy gooi ‘n bottel water in die gehoor in, buk vooroor en kots op die verhoog. Toe die laaste tromslag stil word en die band van die verhoog af steier, val een van die drum-kit se simbale om. ‘n Tegnikus tel dit op. Vir ‘n oomblik vibreer dit nog op die staander. Oppikoppi Wired 2005 is amptelik verby, maar nie-amptelik stroom mense teen die koppie uit na die boonste kroeg. Beyers speel musiek en mense dans op die toonbank. Ek sit op ‘n muur, sluk aan my drankie en hou die mense vir oulaas dop. Hierdie kroeg voel al soos my eie voorkamer. Die mense hier voel soos familie. Sommige ís inderdaad familie. Ek onthou hoe Hilda, my jongste suster, een jaar van die kroegtoonbank af agteroor geslaan het. Sy’t doodluiters opgestaan en weer verder gedans. Sy kan haar broers onder die tafel in paartie. Sy woon nou in Australië. Vir ‘n paar uur sit ek hier bo met my nuwe bril. Ek kan almal goed bekyk: Liela, Toast, Erns, Francois, Anita, Karien, Angola, Karla, Jacques, Ronel, Dirk. Ander slaap reeds in hulle tente. Ek hou van die plek en ek hou van die mense. Hoe het dit alles begin? Deel 1 ‘n Dekade en ‘n bietjie is ‘n lang tyd. Ek probeer onthou. Ek weet nie of 1994 ‘n goeie óésjaar was nie, maar dit was oor die algemeen ‘n goeie jaar. Dit was ‘n jaar van nuwe beginne. Een van daardie nuwe beginne het ‘n groot impak op musiek in Suid-Afrika gehad. Ek kan nie meer heeltemal onthou in watter maand dit gebeur het nie. Ons het nie juis geweet wat om te verwag nie. Dis iewers naby Thabazimbi, het hulle gesê. Nee man, dit gaan lekker wees. ‘n Hele spul van ons het met Volkswagen Beetles, bakkies en ander krokke (“skorokoros”) opgeruk vir die naweek. Koelbokse is met drank gepak, rugsakke is vol t-hemde en jeans gestop, en ons ghettoblasters moes sluk aan tapes met onder andere Nirvana, Koos Kombuis, Bob Dylan en Valiant Swart. Miskien was dit ook dáárdie naweek wat ons Johnny Cash ontdek het. Teen hierdie tyd het ons dit darem al ‘n paar keer gedoen – die reis uit die stad op soek na goeie musiek. Eers was daar Houtstok, net duskant Pretoria. Toe was daar Rustlers Valley tussen die Oos-Vrystaat se rooi kranse. Maar hierdie keer was anders – dit was meer low-key. Koos Kombuis en Valiant Swart sou op ‘n plaas naby Thabazimbi speel. Ons het die omgewing reeds redelik goed geken, want as studente, met baie tyd op hande, het ons gereeld op my vriend Willem se pa se plaas op die pad tussen Dwaalboom en Thabazimbi gaan uitspan. Willem was ‘n fotograaf en ons het baie pret met die tipe landskappe en props wat jy op ‘n Bosveldplaas vind, gehad. Een keer het ons aan ‘n fotoverhaal begin werk wat losweg op Milan Kundera se The Unbearable Lightness of Being gebaseer was. Ek moes die rol van Thomas vertolk. Op die eerste raampie moes ek poseer met een van daardie tange waarmee ‘n mens ‘n bul in ‘n os verander. Die byskrif sou lui: “Thomas is ‘n dokter.” Die tweede raampie het ons gebou met ‘n bed in die middel van ‘n droë dam. Die byskrif sou wees: “Thomas het baie lovers …” Ek sal maar nie sê wat op die bed gebeur het nie. Ons het ewe groot pret gehad met die rekonstruksie van die ongeluk aan die einde van die boek – daar was genoeg ou trekkers en ander wrakstukke op die plaas. Arme Thomas. Arme Therese. Ons wou die fotoverhaal by die kunsfees in Grahamstad verkoop, maar het dit (on)gelukkig nooit voltooi nie. Ek wonder of Willem nog daardie films het … Nietemin, Oppikoppi se afdraai was op die pad wat ons gewoonlik na Willem se pa se plaas toe gery het – net waar die grondpad begin – verby Northam en die myn by Swartklip. ‘n Mens ry Oppikoppi binne met ‘n grondpad wat oor ‘n heuwel kronkel. As jy teen die ander kant van die bult afry, kry jy eers ‘n groot swembad. Dis waar ‘n aantal mense reeds tente opgeslaan het. Maar as jy regs swaai, is daar ook in der waarheid ‘n koppie – een met ‘n kroeg en ‘n aantal rondawels. Langs die kroeg was ‘n uitkykpunt oor die Bosveld. Alles was baie stylvol ingerig – dit was duidelik dat die eienaars (Boors en Tes) nie net goeie smaak vir musiek gehad nie. Koos en Valiant se klanktoerusting is in die kroeg opgeslaan en die paartie het begin – verwoed. Tes het ons in een van die rondawels laat bly. Omtrent tien van ons het dié aand op die vloer uitgepass. Toe ons aan die einde van die naweek vir die rondawel wou betaal, het Tes net geglimlag en gesê dis okay, ons moenie worry nie. Koos en Valiant het hulle name op die muur geverf en meer as ‘n hoofstuk in the history of South African rock music het begin. Die volgende jaar is die eerste groot Oppikoppi rock festival aangebied. Van toe af het ek nog net een Oppikoppi gemis – en dit was as gevolg van kanker. Toe ek wakker word na die narkose, het ek die verpleegster plegtig meegedeel dat ek nou Oppikoppi toe gaan. Sy het ongelukkig ‘n stokkie daarvoor gesteek. Soms moet mens net jou bek hou en doen wat jy wil … Deur die jare was daar baie hoogtepunte. Battery 9 se version van “Kouevuur”. Hulle het heel laaste gespeel – by die verhoog langs die swembad. Daarna het ek deur die nag gedans (Dirk Uys het pas sy techno-fase begin beleef en hy het die hele aand sulke lekker trance gespeel). Ek kan onthou toe David Kramer by die Fonteine gespeel het. Befokte musiek, awesome ligte. Toe vlieg ‘n helikopter oor. Ek het gevoel ek kan in vrede doodgaan. Daar was ook Carlo Mombelli, wat nuwe wêrelde in abstrakte jazz oopmaak. En Piet Botha saam met Vusi Mahlasela – Vusi se backing vocalist, Queen, sing saam op “Goeienag Generaal”. Koue rillings. Koos Kombuis saam met die Warmblankes. Die Zap Dragons, of een van hulle manifestasies: “How did we know? They never ever told us … How did we know, they only told us lies …” Elke jaar gaan ‘n mens terug Bosveld toe. Elke jaar is daar nuwe verrassings. Alhoewel Oppikoppi oorwegend deur Afrikaanssprekende mense besoek word, is dit nie ‘n Afrikaanse rockfees nie. Dis deels hoekom dit so dinamies bly – Afrikaanse musiek word nie in ‘n kraal toegespan en weggebêre nie. Dit is deel van Suid-Afrikaanse musiek. Dis deel van die hele wêreld. Ons kan wat ons doen, vergelyk met wat ons medemusikante in ander tale skree, grom, sing en prewel. As jy Oppikoppi besoek, kan jy Mafikizolo, Fokofpolisiekar en The Narrow hoor. Soms moedig die organiseerders samewerking tussen musikante aan – waar anders kon ‘n mens vir Koos Kombuis en Gito Baloi saam hoor speel? Deel 2 Nou is dit die Jaar van Onse Here Twee Duisend en Vyf. Meer as ‘n dekade later. Oppikoppi het ‘n groot jaarlikse gebeurtenis geword. Hierdie jaar noem hulle dit “Wired”. Die plakkate het dreigende doringdraad op. Oppikoppi vat altyd iets waarlik Suid-Afrikaans, span dit styf en draai dit met tange tot dit ‘n heel ander betekenis kry – soos die naam van die plaas waar alles gebeur. Vrouedag val hierdie jaar op ‘n Dinsdag, so die arme mense wat nie werkloos is nie, moet verlof insit om al drie dae te kan bywoon. Ek oorweeg dit om die Vrydagaand in die pad te val, maar ‘n verkoue hou my by die huis. My eie optrede is eers Sondagaand om nege. Moet ek nie maar by die huis bly en eers die Sondagoggend in die pad val nie? Wat van die koue? Wat van die stof? Sê nou ek puncture my stembande? En stembande kan jy nie opjack en omruil nie ... Nee wat. Ek kan nie vir Bacchus Nel mis nie. Ook nie vir Liela Groenewald nie. En wat van Matthew van der Want? So, Saterdagoggend word ek vyfuur wakker. Ek laai die dieseltrok met matrasse, komberse, my kitaar en baie Strepsils. Dis lekker om alleen Bosveld toe te ry – verby Lanseria, die Hartebeespoortdam, die pad Pilanesberg toe en uiteindelik die afdraai by Northam. Ek sit Valiant Swart se “Kopskoot” in die CD shuttle. Hierdie jaar speel hy weer saam met Anton L’Amour – soos daardie eerste naweek: as die bakkie jou bring Die trok se dieselenjin klink soos ‘n wasmasjien as die stad se verkeersligte verdwyn en die pad deur die Bosveld egalig begin te loop. Geen stukkende Volla nie. Geen gerekte tapes meer nie. Ek het wel ‘n bril en ‘n hardnekkige bierpens, maar dis nog lekker. Wonder bo wonder mis ek ook die polisie se tradisionele padblokkade. Ek het reeds ‘n one-liner vir hulle reg gehad – “Hei ouens, het die War on Terror nou Bosveld toe gekom?” Die oorspronklike plaas lyk nou heel anders. Daar is nog kroeg en rondawels op ‘n koppie, maar daar is nou vier permanente verhoë. Die grootste hiervan is die James Phillips Mane Stage. Regs langsaan is die Most Amazing Myn Stage. Op hierdie twee verhoë speel die groot bands – meestal variasies van rock, maar ook jazz en kwaito. Die bands op die twee verhoë wissel mekaar af. Elke uur is daar om die beurt iemand wat kitare en tromme op een van die verhoë looi. Die meeste van die duisende mense wat elke jaar die fees bywoon, loop, slinger en val sonder ophou tussen hierdie twee verhoë. Kieskeurige mense met meer durf en stamina kan twee ander verhoë ook besoek. Teen die hange van die een koppie is die Sipho Gumede Stage – dis waar die DJ’s mense laat dans, maar elke nou en dan kom stem iemand kitare in en maak live musiek. In die nag word die doringbome met verskillende kleure lampe verlig. Ek skat ‘n mens kan die effek benadruk deur die vernuftige gebruik van chemikalieë. Op die hoofkoppie is die Gito Baloi Maine Stage. Hier speel die rustiger acts – meestal akoesties. Van hier af kan jy die son sien ondergaan oor die bosveld terwyl Steve Newman sy kitaar speel. (Rus in vrede, Gito Baloi.) Deel 3 Hierdie jaar was die jaar van die stem. Oppikoppi het weer bewys dat Suid-Afrikaners kan Sing – met ‘n hoofletter. Etienne Creux, Pretoria News se “man on the spot”, het opgemerk dat die vroue die mans ver agterlaat. Ek dink ek stem dalk saam. Dink maar aan Liela Groenewald. Sy is een van die instellings by Oppikoppi en is uiteindelik besig om ‘n CD op te neem. Jonathan Crossley, een van die land se beste kitaarspelers, het haar ondersteun. Dis altyd moeilik om iemand se stem te beskryf sonder om verwysingspunte elders te moet soek, want ‘n mens loop die gevaar om die sanger te beledig deur nie die eiesoortigheid van haar stem te erken nie. Die beste baken om Liela se stem te beskryf is waarskynlik Joan Baez, maar ‘n mens móét haar self hoor sing. Koop die CD as dit vrygestel word! ‘n Ander ongelooflike vrouestem was Anika, wat hierdie keer sonder Rokkeloos daar was. Dan was daar Luna, wat van agter haar klawerbord die gehoor om haar stem gedraai het. Freshly Ground het vir musikale kinke en draaie gesorg, met ‘n suiwer stem wat kan toor met fyn-ontwikkelde vokale tegniek. Karen Zoid het mense soos altyd aan haar lippe laat hang. Ek dink tog daar was ‘n man wat die vroue ore kan aansit as dit by die stem as instrument kom. Ek moet bieg dat ek baie skepties was oor Chris Chameleon se toonsettings van Ingrid Jonker se gedigte. Is dit werklik nodig om nou weer ‘n dooie digter se woorde uit die water te gaan hengel? Hoekom skryf hy nie sy eie lirieke soos in Boo! nie? Ek het dus tot nou toe nog nie die CD aangeskaf nie. Chameleon het op die Gito Baloi Maine Stage gespeel. RSG het dit ook lewend uitgesaai. Sulke hype maak my ekstra skepties. Maar sy vertoning het my verstom. In die eerste plek kon hy, met net ‘n kitaar en sy stem as instrumente, met die gedigte speel sonder om die betekenis daarvan te verkrag. Ek dink nie ‘n mens kan dit “sensitiewe toonsettings” noem nie. Dis veel meer as dit. Chris Chameleon verstaan dat die stem ‘n musiekinstrument is – dat dit veel meer kan doen as net die woorde sing. As hy sing oor ‘n pop wat val – oor die verlies van onskuld – kan jy die pop hóór val. Verder het ek opnuut respek vir hom gekry as entertainer – hy kon die Oppikoppi-gehoor uit sy hand laat eet sonder om die radiogehoor te vervreem. Hy het deurgaans uitstekend met albei – die mense voor hom en die mense by die huis – gekommunikeer en dit net so maklik laat lyk. Sulke professionaliteit is raar. Dan was daar natuurlik The Narrow – Hanu moet een van die beste stemme in Suid-Afrikaanse rock wees. Ek het ook baie van Fokofpolisiekar se unplugged set by die Sipho Gumede Dance Stage gehou. Francois wys dat hy dit kan afpull sonder die distortion en overdrive. Natuurlik was daar ook een van my hoogtepunte – Valiant Swart. Hulle het al my gunstelinge gespeel, maar tot my ontsteltenis kom ek agter dat ek die enigste een is wat dans en al die woorde ken. Die meeste mense om my lyk asof hulle die musiek vir die eerste keer hoor. Ek hoop maar ek het op ‘n slegte kol beland. ‘n Entjie vorentoe deel Adriaan en Cecile darem my entoesiasme. ‘n Ander verrassing was Rian Malan. Weer eens was ek skepties – is hy ‘n skrywer wat ‘n kans kom vat? Maar nee, hy weet duidelik wat hy doen. Baie soos James Phillips, goël hy met Afrikaans soos net Engelse mense kan. Hy skryf die musiek vir die Radio Kalahari Orkes (wat ek ongelukkig gemis het omdat ek moes regmaak vir my beurt). Rian se eie optrede – by die Gito Baloi Maine Stage – het mense skoon van hulle voete af geslaan. Met ‘n growwe stem waarmee hy sing-praat, slaan sy slim lirieke jou reg voor die oë. Soos ‘n mens van die skrywer van “My Traitor’s Heart” verwag, steur hy hom nie aan politieke korrektheid nie en gaan torring hy aan wonde wat nog besig is om te genees. Maar hy doen dit met ‘n fyn sin vir humor. Ek dink nou aan die een van die swendelaar wat pille aan witmense verkoop wat hulle kwansuis swart maak – dan kan jy “jouself met jouself by die huis versoen” en ‘n “empowerment-vennoot” word. Hy sing oor mense wat emigreer en huis toe verlang – “jy’s ‘n optimis en ek’s nou Kanadees”. Hy het ook ‘n pragtige ballade oor Coenraad Buys geskryf – een van die mees kleurryke figure in die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat mooitjies in Malan se lewenslange obsessie met wit mense in Afrika inpas. Deel 4 Sondagaand agtuur. My beurt. Ek en Liela en Karla staan reg vir ‘n sound check. My keel is seer en my stem is hees. Ek suig benoud aan my pakkie Strepsils. Ek onthou die advertensie met Dracula. Ek gooi ‘n Jägermeisster in my keel af – miskien sal dit help. Ons probeer “Fortuinverteller”. Liela en Karla sing pragtig, maar ek kom glad nie by die boonste note uit nie. Ek klink soos ‘n padda wat te veel slym gesluk het, of soos ‘n tienerseun wie se stem breek. “Andries, probeer maar volgende jaar weer om in die koor te sing.” Kug, hoes. “Goed, Juffrou.” Met die optrede gaan dit nie veel beter nie, maar genadiglik toon die gehoor begrip. Met twee van die songs moet ek in die middel ophou. Ek’s nie seker of dit die stem of die Jägermeissters is nie. As ek maar by die huis gebly het en vandag eers gekom het. Die koue! Die stof! Maar soos my stem opwarm, gaan dit ‘n bietjie beter. Van die mense ken darem die woorde en hulle sing saam. Dit help om my gemoed te lig. Ek is verlig toe ek die laaste noot brul. Nou kan die paartie begin. Fok die verkoue. Die wêreld lyk mooi van bo van ‘n kroegtoonbank af. “Waai windjie waai, die dae gaan verby ...” Ja, met eisj. Ek kom vyfuur die volgende oggend weer by my trok aan. Deel 6 Dis Dinsdagoggend drie-uur. Ek sit nog op my muurtjie by die kroeg op die koppie. Op die toonbank dans mense nog voort. Ek is moeg, maar ek weet dat ek nie nou sal kan slaap nie. Ek het vier CD’s aangeskaf. Niemandsland van Koos Kombuis moes ek weer koop omdat Devan Pillay nog nie my kopie teruggegee het nie (Devan, as jy hierdie lees, wat onwaarskynlik is, kan jy nou maar die CD hou!) Verder het ek Trying To Do Something About This Goddamn Terrible Bleak Winter, The Buckfever Undergound se live opname, Monoloog in Stereo van Fokofpolisiekar, en Ses Songs van Rian Malan in die hande gekry. Laasgenoemde is deur Lloyd Ross van Shifty Records opgeneem. As ek huis toe ry kan ek altyd die nuwe CD’s in die dieseltrok se shuttle sit ... In die donker is die kampeerplekke stil. Ek ry stadig sodat die trok nie stof opskop nie. Ek draai uit op die teerpad en trap dan die diesel plat. ‘n Paar kilometer voor Northam swaai ek net betyds vir ‘n koedoe uit. Naby die Hartebeespoortdam sing Rian Malan met sy Engelse aksent en sy growwe stem: Gee pad, daar voor, Só verander simbole, só verander tye – musiek vertel die stories, of soms is dit net ‘n hees gil uit die maag. Op ‘n manier het die musiek by Oppikoppi met die dekade langs by ‘n ander plek uitgekom. Om die waarheid te sê, dit het op baie plekke uitgekom. Daar’s baie meer variasie en die kwaliteit is oor die algemeen baie beter as aan die begin. Dit gaan baie goed met Suid-Afrikaanse musiek. Tog, Kerkorrel se “funky nuwe rock ‘n roll ossewa” het nou weer ‘n “vrot ou ossewa” geword. Agter “brand die brûe” en “voor lê moeilikheid”. Koos Kombuis kom selde nog Oppikoppi toe en die mense ken nie die songs van Valiant waarvan ek hou nie. “Dis nie my skuld nie,” sê Fokofpolisiekar. Hulle is reg. Dis nie hulle skuld nie. Dis niemand se skuld nie. Ek stop met die dieseltrok by die huis in Johannesburg. Die son kom amper op. Al brand die brûe agter ons en lê daar moeilikheid voor, is daar Oppikoppi tussenin. Dis in daardie oomblikke tussenin wat ons waarlik mense is – wanneer ons uitvind wie ons is. My stem voel al beter. Ek hoop nie die skade is permanent nie.
|
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |