|
Demone in die venstersAndries BezuidenhoutMoenie vir my alleen agterlaat Dis Kersdag. Soos altyd probeer ek om so ver as moontlik van familiebyeenkomste af te bly. Gewoonlik vlug ek na die Namib of die Karoo, maar hierdie jaar is dit Kenia. Ons ry van Naivasha af terug Nairobi toe. Ons het gedink ons sal dalk vir 'n dag of twee langs Naivasha se meer gaan uitspan en die Skeurvallei van nader leer ken, maar daar was geen plek vir ons in enige van die herberge nie. Al die kampeerplekke was ook reeds geneem. Nou probeer ek die slaggate met ons gehuurde kar dodge. Die ander padgebruikers ry ook soos maniakke. Irma neem hulle deur die voorruit af met haar digitale kamera. Hulle het ons gewaarsku om nie self te bestuur in Kenia nie. Ons moes maar geluister het. Ek moet só op die pad - of eerder, wat van die pad oor is - konsentreer dat ek sukkel om die asemrowende omgewing te waardeer. Foto: Irma du Plessis Baie van Suid-Afrika se bergpasse is deur Italiaanse krygsgevangenes gebou. Italianers kom immers van 'n land met onbeskofte berge. Hulle weet hoe om klippe te breek en te pak. Dink maar aan die stomme Mario Salviati, of daardie song van David Kramer oor Italiaanse klipkappers: The Italians built the road Die pas waaroor die pad van Navaisha na Nairobi loop is ook deur Italiaanse krygsgevangenes gebou. Met Naivasha agter jou ry jy eers deur 'n uitgestrekte vallei. Jy sien grasvelde, netjiese Kikoejoe-landerye en sulke regte Afrika-akasiabome met plat doringdakke. Regs van jou is Berg Longonot wat 'n vulkaan soos 'n nies in sy krater terughou. Die Skeurvallei het millennia terug ontstaan as gevolg van 'n groot skeur in die aardkors - dit loop al langs die ruggraat van Kenia af tot in Tanzanië. Kort voor ons by die voet van die pas aankom, sien ons twee vroue langs die pad staan. Oor twee uur gaan dit donker wees. Ons kan hulle nie net daar los nie. Die huurkar het darem 'n agterste sitplek wat beskikbaar is. Ons stop om hulle op te laai. Ons passasiers is twee Kikoejoevroue van Thika wat op pad Nairobi toe is om na een of ander profetes met die naam Lucy te gaan luister. Ja, sê ons, ons het haar tent langs die Uhuru-snelweg sien staan. Hulle is self predikers, sê hulle. Hulle wil weet of ons Christene is. Is ons gered? Soos Suid-Afrika, het Kenia 'n mengelmoes gelowe, kerke, denominasies en sektes - 'n mens weet nie altyd wat om groepe wat religie op 'n georganiseerde wyse beoefen te noem nie. Die Kikoejoes glo tradisioneel aan Ngai, wat van Berg Kenia af neergedaal het om die eerste mense te skep. Die Masai glo aan Enkai, wat eeue gelede so kwaad was dat hy met sy vuis teen die aarde geslaan het. Volgens legende is dit hoe die Ngongheuwels buite Nairobi onstaan het - die kneukelberge wat Karen Blixen lank gelede van haar koffieplaas af kon sien. Islam is eeue lank reeds sterk gevestig langs die kus as gevolg van interaksie tussen Afrikane en Arabiere - dis hoe die Swahilitaal en -kultuur ontstaan het. Toe Vasco da Gama in 1498 verby Mombasa en Malindi reis op soek na Prester Johannes en Indiese speserye, was hy ontsteld om te sien dat mense ook in Afrika Moslems is. So gretig was hy om Christene in die Ooste te vind dat hy gedink het Hindoetempels is Christelike katedrale. Lakshmi het vir hom al soos Santa Maria gelyk, en "Hispar, Visno en Brama", soos die Portugese dit aangeteken het, was die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Die misverstand het 'n diplomatieke debakel in die kleine veroorsaak. Ten spyte van die diep historiese wortels van Islam langs die kus het sendelinge en Europese kolonialiste tog daarin geslaag om die Christendom te vestig - veral in die binneland. As 'n mens deur landelike Kenia ry, kry 'n mens amper die gevoel dat die Katolieke kerk 'n sterker rol as die staat speel - orals sien 'n mens skole, klinieke en hospitale wat deur die kerk aan die gang gehou word. Dit sou dalk gehelp het as die kerk na die paaie ook kon kyk … Maar onlangs is daar 'n oplewing in meer charismatiese tipe kerke. Die koerante het geskryf oor Katolieke katedrale waarvan die loodglasvensters deur vandale uitgeslaan is. Blykbaar was daar demone in die vensters wat verwyder moes word. So daar kry Kenia toe nou ook 'n ikonoklastiese beweging … Ek probeer om die debatte op SêNet oor godsdiens sistematies te vermy. Tog, as 'n mens oor musiek in Suid-Afrika skryf, moet jy die saak op 'n stadium aanraak. Dis spesifiek rockmusiek wat 'n besonder komplekse verhouding met religie en die kerk het - veral in 'n konteks waar die kerk so 'n groot rol in mense se lewens gespeel het. Ek verwys hier spesifiek na die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die ander twee "susterskerke". Toe ek besluit het om maar eerder nie "aangeneem" te word in standerd nege nie, was my ontstelde pa se argument dat ek eendag 'n getuigskrif van 'n dominee gaan nodig hê om 'n werk te kry. Op die ou end was dit toe nooit nodig nie. Die kroeë en klubs waar die band speel, vereis nie sulke dokumente nie. Nietemin, daar is twee redes hoekom religie 'n besonder interessante tema in Afrikaanse musiek is. 'n Mens kan seker verwys na die ikonoklastiese bewegings van Afrikaanse musiek wat sekere onaantasbare simbole met kitare as beitels bygedam het. Die een is die kritiek van die Voëlvry-beweging teen die kerk. Vir my is die tweede ietwat meer onverwags en self 'n bietjie meer interessant - die meer onlangse fokofpolisiekarfenomeen. Ek moet bieg dat dit my heel onkant betrap het. Ek was onder die indruk dat die NG Kerk se mag lank reeds gebreek is. Uit die dringendheid waarmee van die jonger bands kwessies soos godsdiens aanspreek, blyk dit nog nie die geval te wees nie. Daar is egter ook interessante verskille tussen Voëlvry se kritiek op die kerk en van die jonger bands s'n. Op 'n manier was Voëlvry meer polities. Die kerk is deur die bank met apartheid en die staat verbind en as sodanig bespot en afgekraak. Ironies genoeg, noudat daardie band gebreek is, is die kerk selfs 'n weerloser teiken. Dit word nou nie meer vir apartheid blameer nie, maar vir wat dit in wese is. Tydens Voëlvry is die simboliese heilige koeie van die staatskerke telkemale ingespan in lirieke om die betekenis daarvan die verdraai of te verander. Die naam "Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band" verwring reeds betekenis - die naam van twee van die susterskerke word die naam van 'n rock band. Reeds in "Piekniek by Dingaan" word "Wat 'n vriend het ons in Jesus" verander na: Wat 'n vriend het ons in PW, Verder word "gee jou hart vir Jesus" verander na "gee jou hart vir Hillbrow", wat 'n simbool van 'n ander Suid-Afrika word, een waar 'n "man op die stoep tussen Hillbrow Records en Esterol Books" vra of jy vir Jesus ken, en waar 'n Hare Krishna vra wat jy soek. Die stedelike sendeling word maar een van vele stemme in 'n wêreld waar ons "survive met 'n helse lot pyn". Koos Kombuis, of eerder sy voorganger André Letoit, het selfs 'n draai in die hof gemaak oor 'n gedig wat die "Onse Vader" ietwat gewysig het. Hierin is gevra dat die Koninkryk net onder die Republiek moet kom staan en dat die NG Kerk asseblief 'n bonusobligasie moet wen sodat hulle kan ophou met hulle gebedel. In een van sy digbundels skryf hy oor Jah wie se onsigbare ryk en majesteit oor elke groepsgebied blink, en wat vloek oor elke apartheidsmuur. Hy sluit die gedig af met: EK GLO IN JAH Rastakultuur word ingespan om die amptelike teologie te ondergrawe. Maar in die proses word 'n ander teologie geskep - 'n meer menslike benadering tot godsdiens. Hy sing ook oor die "kil torings van klein dorpies" en merk elders op: "Was dit nie vir julle kerk nie, was ek lankal al 'n Christen …" En toe stort alles in duie. Die kerk moet erken dat hulle gedwaal het in hul leerstellings oor apartheid. Natuurlik knak dit meer as net politieke sekerheid. As die kerk oor die politiek verkeerd kan wees, is daar dan nie ook ander sake waaroor die mense met die "sleutels tot die poorte van die hemel" - die kerklike tug - miskien die kat aan die gat beetgehad het nie? Sê nou maar net hulle het die poorte per ongeluk verkeerdelik vir iemand toegesluit! So, ek was onder die indruk dat godsdiens en die kerk as tema in musiek iets van die verlede was. Maar ek het 'n groot fout begaan. In rockmusiek was daar nog altyd 'n fassinasie met die bose. Dink maar byvoorbeeld aan Black Sabbath. Of dalk selfs Iron Maiden se "Number of the Beast". Toe ek nog op skool was, was daar waarskynlik baie min skoolseuns wat nie die frase "Woe to you, oh earth and man …" sou kon voltooi nie. Deur tot by "let him who has understanding reckon the number of the Beast, for it is a human number …" En dan bars Iron Maiden se kitare los in alle glorie, met ou Eddie wat oor hulle skouers loer. Tog dink ek die meeste van hierdie bands het die duiwel meer as 'n bemarkingsmiddel beskou eerder as religieuse erns. Ek bedoel, Ozzy Osbourne kom maar skadeloos oor op sy reality show. Meer onlangs, in Suid-Afrika, spot Kobus! nogal lekker met hierdie hele ding van rockmusiek en die duiwel. Hulle het al 'n slag of wat ten sterkste ontken dat hulle naam staan vir "Kom Ons Besing U Satan!" Natuurlik het niemand ooit sulke aantygings gemaak nie. Altans, nie waarvan ek weet nie. Op die verhoog lyk Francois Blom en Theo Crous ook nogal soos twee Draculas in hulle swart pakke. Twee jaar gelede, by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn, het ek agter twee tannies gesit en luister hoe Kobus! hulle nuwe CD aan die mense bekendstel by die RSG-verhoog. "Hulle trek tog so netjies aan," het die een gesê. "En daardie seun hou die noot darem baie mooi," het die ander een beaam. "Jou oooooeeeeeeeee, jou oooooeeeeeee …" sing Francois Blom. En die anties is te clueless om agter te kom waarmee die twee besig is. Kobus! se benadering tot religie blyk een van spot te wees. Op hulle eerste CD sluit hulle 'n gospelnommer in wat amper oortuig. Net daarna, in "Gee raat!", sing hulle: Sê my Gelowige Grysaard wat staan jou te doen Waar Kobus! se tonge meestal redelik diep in hulle eie kieste is, is fokofpolisiekar ietwat meer ontsteld. Om die waarheid te sê, hulle songs is voel woede en angs. Tog, so tussen die woede skemer 'n pittige humorsin deur. Hulle het 'n oproer in die kleine veroorsaak toe hulle die band se lirieke in 'n omslag gesit het wat soos die kerk se jeugsangbundel lyk en dit vir hulle fans by Kaktus op die Vlaktes uitgedeel het. Nietemin, in "Hemel op die platteland" sing hulle: Kan iemand dalk 'n god bel Hierdie liriek drup van woede en sarkasme. Die hemel word 'n plek vir al die dose, iewers in die platteland. "As jy met vuur speel sal jy brand" klink soos 'n kreet om hulp: Elke oggend is ek in die hel In "Maak of braak" sing hulle oor "dooie mense" wat "maak asof hulle my ken" en oor die begrafplaas … waar ek bly lag al die geraamtes vir my Hulle sing oor die "die ewige kind" wat "agter in my kop" benoud bewe. Sy "toegestikte mond" word oopgekrap. Verder sing hulle: nes stilgebore babas huil ek nie oor die onregverdigheid Heavy stuff! Maar die een wat mense seker die meeste ontstel, is "Tygerberg vliegtuig", waar hulle sing: As 'n vliegtuig sou kon val bo-op Tygerberg vanaand 'n Mens kan die liriek seker op baie maniere lees. Vir my is dit interessant hoe die voorstede vir fokofpolisiekar steeds 'n benoude plek is. As jy 'n bietjie afwyk van wat van jou verwag word, sit hulle 'n 666 op jou voorkop. Dus moet jy maar probeer vasklou aan wie jy is. As 'n mens kyk na een van Trike se lirieke, hierdie keer oor die Wesrand, word soortgelyke sentimente uitgespreek. Dit kom van hulle CD Volle militêre eerbetoon: Dit was die Wes-Rand, Trike is een van die min Afrikaanse acts wat boosheid vol in die gesig probeer staar. Hierdie einste voorstede is ook die plekke waar mense met vroom bakkies dinge aan kinders doen wat moeilik is om te verwoord. Tog probéér Trike om iets daaroor te sê in "Ragel in 'n ander eeu": Kruispad, kruispad In "Swart" spreek hulle die tema van die verkragting van babas aan: Kan iemand my tog uithelp, Christian Friedrich Leipoldt was die leraar van die Nederduitse Gereformeerde Gemeente in Clanwilliam van 1884 tot 1910. Hy was ook die vader van C Louis Leipoldt. In John Kannemeyer se biografie van Leipoldt word vertel dat dominee Leipoldt baie lief was om viool te speel - Bach, Mozart en Beethoven. Dit het die gemeente egter ontstel. Hulle het 'n afvaardiging gestuur om hom te vra om op te hou om sulke onstigtelike musiek te maak. Hy het gedwee sy viool weggepak. Eers jare later, verswak deur 'n beroerte, het hy in gebaretaal weer daarna gevra. Hy is met die viool in sy hand oorlede. Sommige Afrikaanse musikante staan baie krities teenoor religie. Dit beteken nie dat kwessies van moraliteit - van goed en boos - nie aangespreek word nie. Trouens, dit word gedoen met 'n dringendheid wat 'n mens nie kan ignoreer nie. Van die gevestigde beelde word met beitels getakel en lelik verniel. Hier en daar word 'n loodglasvenster uitgeslaan. 'n Mens weet nie altyd of beter antwoorde op moeilike vrae gegee word nie. Dalk is die antwoorde meer tentatief en staan op minder rotsvaste fondamente. Maar dis ook 'n goeie ding as mense nie meer hekse verbrand nie. Soms is twyfel 'n baie goeie ding. Maar hoe beantwoord 'n mens nou hierdie vraag van die twee vroue agter in die kar? Ek probeer verduidelik oor hoe godsdiens maak dat baie vroue in my kultuur nie van die vuiste en tonge van hulle mans kan skei nie. Ons praat oor die kerk en apartheid. Ek sê ek het baie respek vir mense soos Beyers Naudé en Desmond Tutu. Ons kom by die voet van die pas aan. Die Italiaanse krygsgevangenes het 'n kapel hier gebou. Ons vra of hulle sal omgee as ons stop om dit van nader te besigtig. Hulle sê hulle gee nie om nie, maar bly tog in die kar sit. Die kapel is van klip gebou, met pragtige reliëfwerk wat deur kundige hande uit sandsteen gebeitel is. Foto: Irma du Plessis Hierdie kapelletjie aan die rand van die Skeurvallei sal klein lyk as dit reg langs die Notré Dame of die Domkerk in Utrecht moet gaan staan. Maar op 'n manier is dit vir my net so mooi. Ek dink ook aan die sandsteenkerk met die looddak op die toring by De Hoop net buite Oudtshoorn. Dit staan so eensaam in die Karoo omdat die verwagte dorp nooit rondom die plek van aanbidding ontstaan het nie. Ek wonder oor my aversie teen die georganiseerde beoefening van religie - ontmoetings van die bemoeisiekes. Aan die ander kant het kerke ook wonderlike geboue tot stand gebring. Soms word daar ook na mense omgesien. Soms, ten spyte van onverbiddelike teologie en inkwisisies, is daar 'n sagte kant. Toe ons verder ry, praat ons oor die mense wat die vensters van die katedrale uitslaan. Hulle voel dis reg. Daar's demone in daardie venters. "We have to tear it down," sê hulle oor die Katolieke kerk. "Don't you think that's rather intolerant?" wil ek weet. "Don't you think God is greater than denominations? Perhaps God is even greater than religions," waag ek dit. Die atmosfeer in die kar word yskoud. "Maybe there's even a demon in this car," sê die een. Vir lank ry ons in stilte. Dit word nag. Toe ons aankom in Nairobi, laai ons hulle in River Road af, die straat waar almal ons gewaarsku het om van weg te bly. In die donker vat dit ons 'n rukkie om weer die pad na ons backpackers toe te kry.
|
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |