|
Die Chelsea Hotel en Hotel Royale …Andries BezuidenhoutEk is in Roxy Rhythm Bar, een van Melville se musiekplekke, om te luister wat Karen Zoid deesdae doen. Ek voel effe ontuis in die glitzy omgewing. Laas toe ek na haar geluister het, was in Brixton, in die Abelarde Sanction. Maar dié is intussen gesluit en Karen het baie vinnig baie famous geword. Voor sy begin, stel sy 'n nuwe band voor. Hulle noem hulself Kobus! Die mense gaan mal. Karen staan self nie terug nie. Almal spring as sy sing: "Afrikaners is plesierig …" Dit moet 'n vreemde ervaring vir Roxy se eienaars wees. Ewe skielik nooi Karen nóg 'n gas om op die verhoog te klim. Roxy word stil terwyl sy op haar eie sing: Oh Lord, won't you buy me a Mercedes Benz? Haar stem het 'n rou kwaliteit soos 'n Janis Joplin van ouds. Maar sonder die hulp van die band vul sy Roxy se drieverdiepingruimte met haar stem. 'n Jaar of wat later met Aardklop gebruik ek die geleentheid om haar weer te sien. Die Elgro Hotel se saal is stampvol. Hierdie keer het sy 'n hele band om haar te ondersteun terwyl sy sing: Sy was 'n engel met 'n angel(Klik hier om te luister na "Engel met 'n angel") Die applous wil nie ophou nie. Mense klim op hulle stoele. Amanda buig en glimlag. As hulle stil word, sê sy: "There's life in the old lady yet." 'n Mens raak altyd opgewonde as daar jong musikante is wat nuwe dinge doen. Elke geslag musikante rebelleer darem gewoonlik so een keer en bring sodoende vernuwing mee - deur gebruike en reëls te verbreek. Daar was die geslag van musiek-en-liriek. Dan was daar Voëlvry. En toe bars dinge los en ontplof in alle rigtings … Maar daar is musikante wie se loopbane oor 'n aantal generasies strek. Om een of ander rede kry ek altyd 'n gevoel van vervulling as die veterane stééds goeie musiek maak. In die proses wys hulle hoekom mense hulle in die eerste plek bewonder het. Dink maar aan Bob Dylan en Leonard Cohen, of aan Anton Goosen en Amanda Strydom. Ongelukkig is daar altyd sommiges wat in die slag bly - vir wie rebellie op 'n persoonlike vlak te veel raak. Daar is Janis Joplin en Jim Morrison. Of Koos du Plessis en Johannes Kerkorrel. Hulle word legendes, maar word die voorreg ontneem om nog songs te skryf. Ons moet tevrede wees met wat hulle vir ons nagelaat het. Dié wat oorleef, moet op 'n wrang manier saamleef - of soms selfs kompeteer - met hoe ons die ontslape legendes onthou. Amanda Strydom sing in "Hotel Royale" van mense soos Janis Joplin, James Phillips en John Lennon. Leonard Cohen het weer vertel van die keer toe hy Janis Joplin in die Chelsea Hotel in New York ontmoet het. Toe hy by die hysbak instap, vra sy vir hom of hy Kris Kristofferson is. Hy antwoord toe, "Lady, I am Kris Kristofferson." Hulle is toe saam na haar kamer toe, waar hulle toe vir iets soos drie dae gebly het sonder om uit te kom. Cohen beskryf die toneel so: I remember you well in the Chelsea Hotel, Ons is lelik, maar die musiek behoort aan ons. 'n Mens kan Cohen se wrang glimlag hoor as hy dit sing. Maar Janis Joplin is vroeg in haar loopbaan dood, toe die slang wat sy in haar arm ingespuit het, haar pik. Leonard Cohen kan dit op so 'n mooi manier stel: Ah but you got away, didn't you babe, 'n Ster wat verskiet. 'n Smack shooting star, wat heeltemal te vinnig gery het - al was dit met 'n Volksie en nie 'n Mercedes Benz nie. Vir my was Amanda Strydom altyd nog daar. Sy was deel van my kulturele landskap. Dís hoe nuwe generasies voorgangers ervaar. Hulle was net dáár - op die radio, die TV, en in die teaters. Ek was verstom toe ek onlangs weer 'n opname van 'n TV-reeks oor die geskiedenis van Afrikaanse musiek kyk. Daar was mense met polkadot-rokke en Purdy-bobs, en programme met name soos Musikale Mallemeule. 'n Hele paar name was baie bekend - soos Amanda s'n. Waar Leonard Cohen sing oor die stedelike landskap van New York, gaan een van Amanda se mooiste songs oor die landelikheid van Suid-Afrika. Dis woorde soos doringveld, slingerpad en koppies wat beskryf waar ons woon: Ek loop die pad al lank, my lam Van die ander name op daardie program het ek glad nie geken nie. Baie van die mense het van die toneel af verdwyn. Van hulle het darem geld gemaak, en woon waarskynlik in gerieflike aftree-oorde. Die skoonmaker moet elke week die goue plaat teen die muur afstof. Besoekers probeer verbouereerd onthou hoe daai deuntjie nou weer geklink het … die vyf weke wat hulle daarna geluister het was net so kort. Maar daar was so baie … Wat maak dat sommige mense se stemme sterk bly in die ewige kakofonie van reklame en populêre kultuur? Wat maak dat hulle kan praat oor generasies heen? Om 'n boek met lirieke te kan publiseer beteken dat 'n liedjieskrywer 'n sekere status bereik het. Aanvanklik begin 'n mens met 'n paar note, 'n paar woorde. Dan word dit songs. Later, as jy hard werk, en met 'n bietjie geluk, kan jy 'n plaat maak. As genoeg mense daarvan hou, kan jy 'n tweede een opneem. Na 'n aantal plate kan jou "best of …"-versameling uitkom. Maar dis slegs vir 'n paar beskore om daardie songs in boekvorm te publiseer. In die wêreld van Afrikaanse musiek is daar 'n klein en uitgelese gemeenskap mense wat nog hul lirieke in boekvorm kon publiseer. Gewoonlik word dit gedoen met die oog op ander mense met kitare of dergelike instrumente - dan word die woorde saam met kitaar-akkoorde en soms melodielyne gepubliseer. Anton Goosen het lank gelede reeds so 'n boek gepubliseer. So ook Koos du Plessis. Valiant Swart het een gepubliseer toe sy veertigste song opgeneem is. Koos Kombuis se song-boek is onlangs weer uitgereik - met 'n paar nuwes by. Anton Goosen sal waarskynlik binnekort 'n nuwe een uitgee - dit sal 'n baie lywige boek moet wees. Nou kan ons Amanda Strydom se naam by die lys voeg. Kaalvoet word deur Genugtig! uitgegee. Die omslag beskryf dit as 'n bundel met "liedtekste". Benewens 37 lirieke bevat die boek 'n hele aantal foto's. Kaalvoet is dus beide 'n liriekbundel en 'n foto-album. Dis die algehele benadering wat dit so 'n interessante boek maak. As 'n mens 'n bundel met jou lirieke in publiseer, moet jy dink oor hoe om dit te orden. Soms gebruik mense die plate waarop die songs verskyn het - soos met Nick Cave s'n. Soms laat hulle die songs sommer in alfabetiese volgorde aantree. Amanda het anders besluit. Haar lirieke word in temas ingedeel en in verskillende onderafdelings georden. Uit die afdelings kom 'n mens agter hoe universeel die temas is wat sy deur die jare in haar musiek aangespreek het. Sy haal die indeling uit die liriek van "Trippe Trappe Trone" op Op 'n klein blou ghoen: Om 'n sonkie te skryf vat baie my pel Wel, met Kaalvoet beantwoord sy self die vraag. Oor alles. Waar Amanda 'n uitstekende vertolker van ander mense se songs is, wys sy ons met hierdie bundel in hoe 'n mate sy deur die jare 'n aansienlike versameling songs opgebou het - met baie dink, baie voel, en baie struktuur daaragter. Die eerste afdeling gaan oor die liefde. Hier tref ons byvoorbeeld "Ek loop die pad", "Stoom" aan. Ook een van haar mooiste songs, juis omdat dit die idee van 'n liefdeslied ondergrawe, is "Liefdeslied": Almal smeek my maande lank om 'n liefdeslied te skryf Die tweede afdeling handel oor politiek. Hier is "Die lied van ou Suid-Afrika" en "Die Pas". Ook "Hoor hoe brom die wind", waarin sy rock in haar taal, is hier ingesluit. Die afdeling kyk dus ook vorentoe. Gaan lees gerus - en luister ook na, dit gee 'n mens koue rillings! - "Izinyanya (Die Vergetenes)". Dis op Verspreide Donderbuie: Daar onder in die mielies langs 'n Vreemd genoeg is "Strydom/Amandla" nie by die afdeling oor politiek ingesluit nie, maar saam met die songs oor die menslike kondisie, soos "Hotel Royale" en "Brille en pille blues". Dalk sê dit vir ons iets oor hoe Amanda politiek beleef - as iets baie persoonlik. Hierdie afdeling is die een met die meeste lirieke in. Oor die nagevolge van daardie berugte "Amandla" wat die volk so geskud het, sing sy: Strydom/Amandla manies depressief Hierdie een bly een van my gunstelinge! "Ek het gedroom", die lied wat "Miss Mandy" vir Johannes Kerkorrel geskryf het, is ook in hierdie afdeling. Soos Leonard Cohen, het Kerkorrel ook oor 'n Chelsea Hotel geskryf - die een in Hillbrow, waarvan die vensters en deure nou met houtplanke toegespyker is: En die ligte gaan aan in die Chelsea Hotel Amanda verwys ook hierna as sy Ralph aan die woord stel: "Miss Mandy, onthou jy hoe't ons Saterdae geloop Die Chelsea Hotel en Hotel Royale … Dan is daar 'n afdeling oor die blou planeet se siek, met lirieke soos "Doekvoet" en "Vistenk", wat handel oor ons voorstedelike hokke. Die bundel word afgesluit met 'n afdeling oor reise en gebede, met die Karoo, water, donderbuie - weer die Suid-Afrikaanse landskap van "Ek loop die pad". Die uitstekende titelsnit van Verspreide donderbuie is ook in hierdie afdeling. Wat maak dat Amanda nog die pad kan loop? Wat maak dat sy steeds uitstekende albums kan maak wat die SAMA-toekenning wen? Ek weet nie. Dit sou aanmatigend wees om antwoorde te wil gee. Wat 'n mens egter opval van Kaalvoet, is dat sy skryf oor dinge waarvan sy baie weet. Sy slaag daarin om die persoonlike te verwoord op 'n wyse wat dit universeel maak. Baie het al oor dinge soos die liefde, politiek, die menslike kondisie en die blou planeet se siek geskryf, maar min kry dit reg om daaroor te skryf op 'n nuwe manier. Min mense slaag daarin om die Suid-Afrikaanse landskap se kontoere, of ons eie kamers se mure, op so 'n wyse te ontgin dat ons op 'n ander manier daarna kyk of luister. Leonard Cohen sluit op sy siniese manier af as hy oor Janis Joplin sing: I don't mean to suggest that I loved you the best, Dis al, net soms dink ek weer aan jou. En dis die Chelsea Hotel wat my daaraan herinner. In landelike Suid-Afrika sing Amanda Strydom: Maar nou loop ek alleen, my lam Op die ou end moet ons wat agterbly maar oorleef.
LitNet: 3 Desember 2004 Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |