Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die woestyn is nie ’n opdringerige landskap nie

Andries Bezuidenhout

Rivier o Rivier, jy’s die diepste woord wat ek ken
op jou kon ek vaar na die see en na haar
in die hoop om haar hart te wen,
maar woestyn is die woord waardeur ek moet reis
om haar hart te wen … — Gert Vlok Nel

Die Namib is die wêreld se oudste woestyn. Die eerste keer wat ek die woestyn binnegery het, het iemand anders die kar bestuur en ek het aan die slaap geraak. My eerste gewaarwording daarvan was dus nie ’n geleidelike een nie. Die stadige oorgang van bosveld na savanna het ek nie gesien nie. Of die gras wat van kleur verander — van wit na geel. Die bossies en stekelrige graspolle word dan al minder — soos die hare op ’n ou man se kop. Dan besef jy — ek’s nou ín die woestyn. Dis amper soos daardie dae waarop jy besef dat die seisoen verander het; die dae wanneer die boom in jou tuin se blare begin val en die oggend se byt net effens kouer as gewoonlik is.

Maar dit sou ek eers later ervaar — die geleidelike oorgang van die aarde se kleur en tekstuur. Toe ek hierdie eerste keer in 1989 wakker word, was dit asof ek op ’n ander planeet was. Dit was op die grondpad tussen Usakos en Hentiesbaai. Ons het stilgehou en uitgeklim. Dis moeilik om die ongelooflike stilte wat jy hoor te beskryf. Soos Leonard Cohen in ’n gedig geskryf het:

You tell me that silence
is nearer to peace than poems
but if for my gift
I brought you silence
(for I know silence)
you would say
“This is not silence
this is another poem”
and you would hand it back to me.

Hoe beskryf ’n mens daardie stilte? Hoe beskryf jy die afwesigheid van die white noise van die stede, die naakte barheid van die aardkors — onvermoei deur plante se wortels wat die lewe daaruit suig? Hoe beskryf jy die gevoel as jy op ’n plek staan waar die klippe en sand sonder ’n tussenganger die hemel omhels? Jy besef bloot hoe solied die aarde is, en daardie besef veroorsaak ’n vreemde gevoel van geborgenheid. Jou voete van klei staan op ’n rare rotsmassa — en jy kan die horisonne duidelik sien. In die nag is die sterre helderder as op enige ander plek. Jy kan amper voel hoe die aarde met duiselingwekkende spoed onder jou voete om die son tol, en hoe die son sy plek in die sterrestelsel gevind het. Drie van die wêreld se mees invloedryke godsdienste het nie verniet in ’n woestyn ontstaan nie.

Julle dink seker nou ek trip op acid. Dis nie die geval nie. Ek sit net in Johannesburg, waar geboue, bome, mure, diefwering en elektriese heinings ’n mens se visie versper. (Soos Toast Coetzer van The Buckfever Underground gesê het: “The Highveld is a shit place to be in winter”.) So ek probeer om minstens een keer per jaar die Namib of die ander droë plekke in ons land te besoek. As ek byvoorbeeld Stellenbosch toe moet gaan vir die Woordfees, vlieg ek nie. Ek ry met my dieseltrok, omdat ’n mens dan deur die Karoo kan ry en in plekke soos Colesberg en Beaufort-Wes kan oorbly. Daar’s min dinge wat so mooi is soos die uitsig oor die Knersvlakte as jy met die Van Rhynspas van Calvinia af Kaap toe ry. Is dit nie ’n wonderlike naam nie? Knersvlakte.

Dan is daar woorde soos Dorsland en Moordenaarskaroo. Naby Upington vertel die name van klein nedersettings of stasies hoe mense die landskap ervaar het: Putsonderwater, Sonderpan, Brakbos, Rooilyf en Rugseer. Dink net hoe vreemd sou dit nie gewees het nie as ’n mens jou plaas se adres kon beskryf as: “Iewers tussen Rooilyf en Rugseer”.

Dis natuurlik maklik vir ’n stadsjapie om oor sulke dinge te bespiegel. Hier draai ek net ’n kraan oop of bestel ’n Jack Daniel’s as ek dors is. Ek woon nie op byvoorbeeld Spoegrivier of Soebatsfontein naby Springbok nie.

Dan is daar ander wonderlike name, soos Bulletrap, Nigramoep, Kommaggas en Koííngnaas. In Namibië is daar benewens Nama en Afrikaanse name ook Duitse woorde wat ontnugtering beskryf, soos Teufelsbach — die duiwel se rivier, as my vertaling korrek is. Ai, sal ek ooit in my leeftyd die geleentheid kry om deur Platbakkies of Stofvlei te ry?

Helaas, die meeste van die tyd sit ek hier in Johannesburg. Dan moet ek musiek gebruik vir my reise deur die woestyn. Dink maar aan Koos Kombuis se “Atlantis in jou lyf” van sy CD Madiba Bay. (Koos Slaptjip speel die mooiste saksofoon op hierdie opname.) Hy sing oor ’n naamlose muse, magiese figure, en oor sy soektog deur die woestyn:

Op ’n reis deur die woestyn
verdwyn ons trane in die sand
Op ’n gravelpad na die see
soek ek die unicorn se strand.

Hierdie “gravelpad na die see” laat my altyd aan daardie pad tussen Usakos en Hentiesbaai dink. Jy ry ook verby die Spitskoppe — die berge met die rooi skynsel wat so op hulle eie uit die sandwoestyn uit opstaan.

Verder sing Koos:

Ek grawe kaalhand in die grond
op soek na woorde en witblits
Maar Vader Tyd se uurglas sak
soos ’n deurkosyn in Lüderitz.

Hier verwys hy na Kolmanskop net buite Lüderitz — die spookdorp wat stadig deur die woestyn teruggeneem word. Dis vreemd om op ’n duin bínne ín ’n huis te staan en dan met wankelrige trappe na die tweede verdieping te klim om van bo af te sien hoe die sand as ’t ware stadig oor die huis begin spoel. Mense wat in die woestyn woon, moet gedurig vee, anders verdwyn hulle huise in die sand. (Dit laat my ’n bietjie aan “Die Groot Vrot” dink.)

Dan sing Koos:

Ek weet jy is hier iewers
in die klei van Afrikaans
Maar ek ken nog nie jou naam nie
jy sing waar die flaminke dans

jy’s die voodoo wat my vashou
jy’s die vloek wat my laat skryf
die Saharas in jou oë
en Atlantis in jou lyf.

Dis vreemd hoe baie liriekskrywers wat oor die woestyn skryf, gereeld beelde van water en die see gebruik. Dink maar aan Valiant Swart se “Song vir Swakopmund” van ’n Jaar in die Son af, die CD wat hy en die einste Koos saam aangepak het. Hy sing ook oor Atlantis:

as Swakopmund se mis
so goud en koper skyn
die juweel van die Skedelkus
op die heup van die woestyn
loop ek met die strand langs
met die planne wat ek maak
want daar iewers lê Atlantis
en daar onder lê die Kaap.

Daar is min plekke so aardig en so mooi soos Swakopmund. In die dae toe die jetty nog veilig was vir mense om op te loop, kon jy terugkyk na die dorp toe van diep in die see — amper asof jy op ’n statige boot verbyvaar. Maar die roes het die oorhand gekry, en die jetty se ysterraam het stadig verweer:

as Swakopmund se roes
so groen en skimmel slaan
en die ooswind kom te vroeg
oor die oudste duine aan
staar ek oor die water
na die dinge wat ek sien
in die liggies se weerkaatsing
en die sakke van my jeans.

As ek na hierdie song van Valiant luister, onthou ek piekniekmandjies en bottels rooiwyn op Swakopmund se jetty, die soutstrate, die amper oordadige koloniale Duitse argitektuur wat so aardig in die woestyn kom staan het. Ek onthou Café Anton se lemoensap en gebak waarmee ’n mens jou babbelas kon wegdokter. Ek onthou ’n ontmoeting met die beeldskone Saba Douglas Hamilton, ’n natuurbewaarder van Kenia wat die olifante van die Kaokoveld kom bestudeer het. Op die strand leer sy ons om “Nkosi Sikilel’ iAfrika” te sing, al is ons soldate wat ’n ander land beset. Haar naam beteken “sewe” in Swahili — omdat sy op 7 Julie 1967 gebore is. Ek was twee jaar jonger as sy — negentien jaar oud. Ek sou haar later weer by die Mini Cult Cinema in Hillbrow raakloop. Ons het van Pretoria af deurgery om Hair of ’n movie oor Led Zeppelin te gaan kyk. Ek kan nie onthou watter keer dit was nie. Maar ek was te skaam om weer met haar te gaan gesels. Wat sou ek sê? Iets soos: “Uhm, I’m one of the army guys you met in Swakopmund …”?

Beslis nie in Hillbrow in 1990 nie. Met my lang hare en baard was ek ’n heel ander mens. ’n Jaar in die woestyn het daarvoor gesorg. Ten minste moes ek nie sprinkane eet nie. Maar my vingers het onhandig begin leer om kitaar te speel. Eers het my linkerhand se vingerpunte gebloei, maar vinnig het die eelte hard geword. Ek kon die akkoorde van nuwe songs speel, soos:

Plant vir my ’n Namibsroos
verafgeleë welwitchia
Hervestig hom in Hillbrow
En doop hom Khayelitsha …

En:

I hear that you’re building your little house
deep in the desert
You’re living for nothing now
I hope you’re keeping some kind of record …

* * *

Die Namib is nie die enigste woestyn op ons subkontinent nie. Die woestyn loop as ’t ware al van die Karoo af met die see langs teen die Weskus op. Na die binneland toe word dit die Kalahari, en later kom die Namib, wat in die suide van Angola eers weer plek maak vir graslande en tropiese plantegroei. Teen die Atlantiese Oseaan, net suid van die Oranjerivier, lê die Richtersveld. Hier is van die mooiste berge in die hele suidelike Afrika en ’n plekkie met die naam Lekkersing. David Kramer sing oor hierdie barre landskap:

O ja vanaand stap ek alleen
Op die pad na Lekkersing
Daar’s ’n wet wat jou kan mal maak
En ’n wind wat die reën kan bring
I’m carrying a cardboard suitcase
And a plastic Christmas tree
I bought a tin of canned peaches
And a jacket that fits me.

Die karakter in die song het waarskynlik by die diamantmyne by Alexanderbaai, Oranjemund, of Kleinzee gewerk. Die sekuriteit by hierdie myne is erger as by lughawens in die VSA. Ten spyte daarvan slaag werknemers van die myne steeds daarin om diamante uit te smokkel. Volgens oorlewering maak hulle ’n deal met mekaar. Een waagmoedige persoon sal ’n vuurhoutjieboksie met diamante in probeer verduister. As hy gevang word, kyk die ander kamerade na sy familie tewyl hy in die tronk is. As die diamante suksesvol uitgesmokkel word, deel almal in die wins:

Matchbox full of diamonds
Bucket full of rain
I’m as happy as a hotel
In the springtime
When the flowers bloom again.

Is dit nie ongelooflike beelde nie! “Matchbox full of Diamonds” kom van David Kramer se plaat Eina af. Dis ook die plaat waarop die meisie sonder die sokkies vir die eerste keer haar verskyning gemaak het — in 1989. Soos in “Meisie sonner sokkies” het die oënskynlik opgewekte deuntjie ’n baie hartseer ondertoon:

Miskien vir jou is die plek lelik
Maar vir my is die plek mooi
Hoekom sal ons nou hier bly?
Want die Here het ons hier gegooi
I got a son they call him Blondie
God made him differently
Married a lady there in Springbok
And he never comes to visit me.

David Kramer is ’n meester van die understatement. Dieper insig tref ’n mens selde soos blindheid op die pad na Damaskus. ’n Mens moet juis versigtig kyk — dinge waarneem en deurdink terwyl jy deur kaal en vaal landskappe reis. Dis hiér waar jou gedagtes kan groei. Insig kom júis dalk in die woestyn omdat die natuur soveel meer subtiel is — ’n mens moet amper tussen die kleure, kontoere en skakerings se lyne lees. Soos met ’n goeie song.

Die Namib, buite Swakopmund
Foto: Erns Grundling




LitNet: 8 April 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.