Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Om te sing oor die soektog na Breyten Breytenbach

Andries Bezuidenhout

In sy gedig oor koningin Victoria praat Leonard Cohen oor hulle gedeelde “incomparable sense of loss”. ’n Mens kan ’n weergawe van hierdie gedig, wat Cohen eenkeer self in sy hotelkamer opgeneem het, hoor op sy CD Live Songs — dis die heel laaste track op die CD. Ek hou nogal van die idee dat ’n opname in ’n hotelkamer sonder ’n gehoor as ’n “live song” beskou kan word. In sommige musikante se ideale wêreld sal alle vertonings waarskynlik sonder gehore plaasvind — veral sommige van die lede van die gehoor wat gewoonlik heel voor sit, omdat die meeste van die songs gewoonlik reg bo-oor hulle koppe gaan omdat hulle aan die gesels raak net as die sanger hom- of haarself verdiep in ’n song soos “Queen Victoria”:

Queen Victoria,
I am cold and rainy,
I am dirty as a glass roof in a train station,
I feel like an empty cast iron exhibition,
I want ornaments on everything,
because my love, she gone with other boys.

Is dit nie wonderlike beelde nie! Ek het vir die eerste keer besef wat Cohen bedoel met die vuil van ’n glasdak by ’n stasie toe ek by Victoriastasie in Londen opkyk. In die dae van stoomtreine moes dit selfs vuiler gelyk het. Ek het heeldag met die tune in my kop rondgeloop.

Verderaan sing hy:

Queen Victoria,
the Twentieth Century belongs to you and me.
Let us be two severe giants not less lonely for our partnership,
who discoloured test tubes in the halls of Science,
who turned up unwelcome at every World’s Fair,
heavy with proverb and correction
confusing the star-dazed tourists
with our incomparable sense of loss …

Op die opname sing-praat Leonard Cohen die gedig, terwyl hy net so elke nou en dan aan een van sy kitaar se snare peuter as agtergrondmusiek. ’n Mens kry amper die idee dat hy die wysie uitgedink het terwyl hy met die opname besig was.

Cohen kan so mooi oor verlies sing.

Maar hoekom dink ek nou aan Leonard Cohen? O ja. Ek verneem die Afrikaanse naam Koen is ’n verafrikaansing van die Joodse naam Cohen. Volgens oorlewering is die Cohens afstammelinge van die oorspronklike Hebreeuse priesters. Dus neem ek aan die Koens is ook.

Albert de Vos se WolfmanWaaroor ek eintlik wil skryf, is Albert de Vos (ook bekend as bloot AD) se uwe CD, Wolfman. Soos baie van Cohen se songs dink ek hierdie CD gaan grootliks oor verlies. En soos Cohen het Albert ’n wonderlike sin vir humor (veral galgehumor) en ironie. ’n Sin vir humor is wat maak dat iemand oor iets soos verlies kan sing sonder om swartgallig of soetsappig te raak. Daar’s min dinge so pateties soos ’n man met ’n vals kitaar wat staan en wroeg en wroeg en wroeg en wroeg en nie agterkom dat niemand meer na hom luister nie. Om slim te kan wroeg is ’n groot kuns. En dit bring my nou terug by Koen. ’n Karakter met die naam van Kelvin Koen maak sy verskyning op Wolfman. Die song begin met ’n haunting elektroniese ritme. Dan hoor mens Albert se droë stem:

daar’s baie dinge wat nie sin maak nie:
hoe kon al die diere pas in Noag se ark,
waar eindig die heelal,
hoe werk die aandelemark?

’n Mens kan nie help om reeds hier al ’n siniese glimlag te gee nie. Verder sing hy:

hier kom die storie van Kelvin Koen
almal wonder, almal vra,
hoekom het hy daai dag daai ding gedoen?

Dan begin hy om ’n bietjie meer te vertel oor hierdie Kelvin Koen wat die vreeslike ding gedoen het:

sy pa het hom gewys wat is reg
sy ma het hom geleer wat is verkeerd
hy was altyd netjies en skoon geskeer
met ’n dubbelgarage en ’n grasperk so groen …

Verder het Koen nooit in sy neus gekrap nie, hy het sy vrou en kinders voor werk gesoen, en hy was die kaptein van die krieketspan. Teen hierdie tyd weet ons Koen was ’n voorbeeldige lid van die gemeenskap, maar hy het iets vreesliks aangevang:

wat het hom makeer,
was dit die weer of die agtuurnuus,
was dit ’n klein roesplekkie?
ons weet nie wat het hom laat crack nie …

Teen hierdie tyd brand ’n mens om uit te vind wat hierdie Koen gedoen het het. Hoekom het hy daai dag daai ding gedoen? Julle sal maar self die CD moet koop om uit te vind — ek wil nie die storie hier weggee nie. Ek haat dit as fliekresensente die storie so weggee. Dit vat al die pret uit die fliek uit.

* * *

Wolfman is AD se tweede CD. Ek luister al vir ’n geruime tyd na Diep Karoo, sy debuut. Die titelsnit op Diep Karoo is my gunsteling — Albert het ’n gawe om ongewone akkoordprogressies en onkonvensionele rymtegnieke (soms ignoréér hy doodeenvoudig rym) te gebruik om ongelooflik mooi songs te skryf. Op Diep Karoo sing hy:

miskien slaap jy in ’n hemelbed, miskien op ’n stuk karton,
miskien is jy ’n prostituut, miskien is jy ’n non,
miskien hou jy van kerk toe gaan, miskien van laataand kroeë,
maar aan die einde van die pad, dit moet jy weet,
wag die Diep, Diep Karoo ...

Op die omslag van Diep Karoo bedank Albert “die lewe in die ou en nuwe Suid-Afrika” wat “swart humor” verskaf het. Hy gee ook erkenning aan ’n aantal musikante wat met die maak van die CD “saamgesweer” het — onder andere Barry van Zyl, een van Suid-Afrika se beste percussionists, en Willem Möller, wat die produksie behartig het, maar ook ’n hele aantal instrumente speel. Willem se Sharp Street Studios was al verantwoordelik vir ’n hele aantal ander baanbreker-CD’s — onder andere Die Mystic Boer, Valiant Swart se eerste CD. Hy was ook natuurlik ’n lid van Johannes Kerkorrel se Gereformeerde Blues Band, en het saam met James Phillips gewerk aan Sunny Skies, een van die beste albums wat tot nou toe nog in Suid-Afrika opgeneem is.

Albert de Vos se Wolfman

Op Wolfman is Willem Möller weer die hoofsamesweerder — hy is verantwoordelik vir die verwerkings en die produksie. Albert self sing en speel kitaar en die mondfluitjie. Sy stem is so droog soos sy sin vir humor, en die verwerkings bou om die lirieke. Willem speel onder andere kitaar en baskitaar, maar is ook verantwoordelik vir tromme en geprogrammeerde perkussie. Die verwerkings bou op die rock-en-blues-inslag van Diep Karoo, asook ’n streep country — van die góéie soort country (nie Dolly Parton nie, eerder Wilco). Maar oor die algemeen is dit meer gewaagd, veral omdat daar baie meer met elektroniese klanke geëksperimenteer word. Hier en daar kry ’n mens amper die gevoel dat van Radiohead se meer onlangse klanke wil-wil deurslaan. Van die verwerkings is heeltemal minimalisties — met net stem en kitaar. Een van hierdie songs, “Die Oomblik”, is skaars langer as ’n minuut:

maak my dronk met die dwelm van jou oë
al is dit net vir ’n paar minute
ek en jy was al oral rond en ons weet
ware liefde is net ’n mite
so laat ons drywe deur die strate van Jozi
met die son op ons vel
dié oomblik is al wat tel …

As die song klaar is, wens ’n mens dit wil aangaan. Maar dit bring ook die punt wat Albert daarin maak op ’n ander manier tuis.

Op die omslag verduidelik AD: “Sommige van die karakters in die songs is denkbeeldig. Die songs handel in geen spesifieke volgorde oor: klankgolwe, die engel op jou linkerskouer, die verlore Breyten Breytenbach, jou psigopatiese buurman, die vrou in die skadu, paranoia, boemelaars, gebreekte lywe en siele, magiese oomblikke, kitsliefde, die ewige soektog en die dier in die mens (of is dit die mens in die dier?).”

Die titelsnit, wat eerste op die CD is, handel oor laasgenoemde. “Radio” is ’n lekker rock ’n roll tune wat sing oor Elvis en Chuck Berry. “Spierwit Blues” spot met mense se vrese in Suid-Afrika. Maar ek vermoed dat twee van die laaste songs op die CD mense hier op LitNet nogal sal interesseer. Dis twee songs wat ek nog kan onthou nadat Albert hulle ’n paar jaar gelede in die Abelarde Sanction in Brixton gesing het — ek is baie bly hy het hulle nou opgeneem. In “Soek na Salome” sal aanhangers van Etienne Leroux veel kry om oor te wonder en te glimlag:

hy verkoop sy boeke, hy verbrand sy gedigte
hy verruil die reënboog vir die neonligte
hy teken ’n kontrak met haar vriend die laksman
maar hy kan nie ophou droom nie, hy soek na Salome …

Maar my gunsteling op die oomblik is “Strate van Oudtshoorn”. Elke nou en dan skryf iemand ’n song wat praat oor ’n heel eenvoudige idee — in hierdie geval iemand wat by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn deur die strate stap — maar deur blote understatement en subtiele woordspelings soveel meer tussen die lyne sê (ek dink postmoderniste praat van “interteks”). Ek hoop Albert sal my vergewe, maar ek wil graag die hele liriek hier tik — dis nou juis ’n bietjie soos ’n fliekresensent wat die storie weggee. Maar ek hoop dit spoor mense aan om hierdie CD aan te skaf, want ’n briljante liedjieskrywer en ’n ewe briljante verwerker van musiek het hier saamgespan om ’n CD te maak waarna ’n mens oor en oor kan luister:

die plakkate is teen die vensters, ’n ballon dryf in die lug
deur die tralies van die stede het ons na die Klein Karoo gevlug
Afrikaners raak plesierig, hulle speel en wroeg en lag
ek loop deur die strate van Oudtshoorn, ek soek na Breyten Breytenbach

ek dwaal in Jan van Riebeeck, raak verlore in Voortrekker
my Sarie Marais is in die wolke, dis nie van witblits nie — dis iets sterker
is daar ’n storm aan die broei? ek weet nie, want die wind waai nou nog sag
ek loop deur die strate van Oudtshoorn, ek soek na Breyten Breytenbach

gou verdwyn die name van Botha, Biko en Hani
nooit sal jou kinders wat trou is eers na hulle vra nie
na die blou van ons hemel staar ek sonder om iemand te verwag
ek loop deur die strate van Oudtshoorn, ek soek na Breyten Breytenbach

ek is Boer, ek is Brit, ek is vry en vreemd
ek is al die kleure van die reënboog nou
ek is lig soos die son, ek is donker soos die nag
ek loop deur die strate van Oudtshoorn, ek soek na Breyten Breytenbach

in die verte flikker die vlamme van gister se vreugdevure
eers was hier graffiti, nou net afgebreekte mure
ek voel so half leeg nou, al die heilige beeste geslag
ek loop deur die strate van Oudtshoorn, ek soek na Breyten Breytenbach.

Lanklaas het iemand in Afrikaans so mooi oor verlies gesing …

* * *

Op die CD se omslag sê AD dat “vrae en klagtes” aan adtvos@iafrica.com gerig kan word. Hy het pas ’n paar shows as ondersteuning vir Gert Vlok Nel in Pretoria gedoen. Hy kan by die Woordfees gesien word by “Laertrek by Pramberg”, saam met onder andere Jackie Nagtegaal (wat natuurlik verantwoordelik is vir die naam van die event), Tertius Kapp, Saamrou (ons eie Erns se band), Toast Coetzer se The Buckfever Underground, Abel Kraamsaal, en ek gaan ook probeer om ’n paar note en woorde in te kry (Woensdag 10 Maart om 21h00 in die Hidden Cellar).

Sien julle in Stellenbosch, waar ons tussen plakkate in die strate gaan rondloop op soek na …



LitNet: 25 Februarie 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@yahoo.com om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.