|
Die jagter-versamelaars van name, woorde en wysiesAndries BezuidenhoutAs PW Botha met n oop gemoed na byvoorbeeld Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band se Eet Kreef! geluister het, sou hy dalk nie tot so n patetiese politieke einde gekom het nie. Ek weet nie of hy ooit die voorreg gehad het nie, maar as hy het, het hy waarskynlik met die ore van n sensor geluister. Ek wonder of ou PW óóit na enige musiek geluister het? Waarna luister Robert Mugabe of George W Bush? Van watter tipe musiek hou diktators? En as hulle in die politieke wildernis aftree, kry hulle kans om CDs te koop? Dalk sit hulle maar net in doodse stilte. Daar is wel mense wat nooit na musiek luister nie. Hulle verkies om in algehele stilte te leef. Al wat hulle hoor, is die ritme van hulle eie asemhaling en hartklop. n Mens kan hulle seker klankkluisenaars noem. Ek sou sukkel om so n bestaan te voer. Ek kan myself n lewe sonder my CDs en my kitaar nie voorstel nie. Om jouself van musiek af te sonder, beteken jy sny jouself af van die wêreld waarin jy woon. Aan die ander kant wonder ek of dit nie beter sal wees as alle musiek in restaurante, hysbakke en winkelsentrums verbied word nie. In ons verbruikersamelewing word ons konstant met kleure, reuke en klanke gebombardeer. Elkeen het iets om te verkoop, elkeen het iets om te sê, elkeen het iets om jou lewenskwaliteit mee te verbeter teen die regte prys natuurlik. Dalk het ons lewens in n ewigdurende kakofonie van white noise verander. Soms word jou gunsteling song as n jingle in n advertensie gebruik. Dan kan jy nooit weer na die song luister sonder om aan die afstootlike produk te dink nie. Daar was natuurlik n tyd gewees toe mense nog nie klanke kon opneem nie. In daardie tyd, as jy na musiek wou luister, moes jy dit self maak (soos Nero), of jy moes na n uitvoering gaan luister. Soms het n reisende troebadoer by jou dorpie verbygekom om mense met ballades van ver lande te betower. Kerke het natuurlik ook n rol gespeel in die ontwikkeling en bewaring van musiek deur die eeue. As jy baie geld gehad het, kon jy na die opera toe gaan. Maar die meeste mense het maar luidkeels in die kroeg saamgesing. Baie van die vroegste tradisionele liedere gaan dus oor drank en oor liefde eeu-oue temas wat steeds in vandag se populêre musiek voortleef. Aanvanklik was musiek van nature kollektief. Daar was nie wette wat kopiereg beskerm het nie. Iemand sal n deuntjie komponeer en iemand anders sal help om woorde daarvoor te vind. As die lied aanklank vind, het ander dit ook gesing en so het woorde en musiek verander soos dit van kampvuur tot kampvuur gereis het. Soms is die geskiedenis van groepe mense in musiek bewaar die dade van helde is besing en só het mites en legendes voortgeleef. In lande waar mense n nomadiese bestaan gevoer het, soos byvoorbeeld in Australië voor kolonialisme, is musiek baie keer gebruik om die verwantskap van groepe mense uit te lê. Die woord wat antropoloë gebruik om hierdie vroegste groepe jagter-versamelaars te beskryf, is band. (Ek weet nie wat die Afrikaanse vertaling vir band is nie miskien groep?) Nie stam of tribe of volk nie. Dit het veel later gekom. Mense het in bands deur die wildernis beweeg met hulle kalbasse, pyle en musiek. Hulle musiek het gegaan oor waar hulle vandaan kom, en die shamans of toordokters het gesing oor die wêrelde wat hulle nie kon sien nie. Musiek was dus veel meer as net vermaak dit was deel van hoe mense hulle eie identiteit verstaan het. Vandag maak bands nog musiek. Hierdie bands is die troebadoers van die moderne era. Hulle is die jagter-versamelaars wat met hulle tunes van dorp tot dorp reis om ons te vertel van die samelewing waarin ons woon. Hulle sing steeds oor drank en liefde, maar ook oor waar ons vandaan kom en waarheen ons gaan. Sommige van hierdie bands lewer kommentaar op n siniese wêreld van besoedeling en die diepste klowe wat daar nog ooit tussen ryk en arm in die mensdom se geskiedenis bestaan het. Maar ander doen dit net vir die geld daar is nou n komplekse stel internasionale wette om hulle intellectual property te beskerm. Net soos musiek gebruik is om vir die bands van jagter-versamelaars n identiteit te gee, kies rock bands ook n identiteit deur die musiek wat hulle maak, die kombinasie van instrumente wat hulle gebruik, die klere wat hulle dra maar ook deur die naam wat hulle kies. n Mens het min inspraak oor die naam wat jou ouers vir jou gee, maar as jy musiek maak, kry jy n kans om weer te kies. Die vroeë blues-sangers en kitaarspelers van die Mississippi en Chicago het lank terug reeds n tradisie begin deur eksotiese name soos Muddy Waters, Howlin Wolf, T-Bone Walker en BB King te kies. Hulle regte name was McKinley Morganfield, Chester Arthur Burnett, Aaron Thibeaux Walker en Riley B King. Van die vroeë gospel bands het name soos Soul Stirrers en The Orioles gehad. Dan was daar The Drifters omdat die band se lede gedrift het van band tot band. Later was daar die Beach Boys, The Mamas and the Papas, The Kinks en The Who, en Lou Reed se Velvet Underground. Robert Zimmerman het die geleentheid gebruik om sy naam na Bob Dylan toe te verander. Sy band se naam was doodeenvoudig The Band. Leonard Cohen se band se naam was The Army. Verder het die lede van die Beatles onder n aantal name gespeel voor hulle die naam van Silver Beatles verander het net na Beatles. Buddy Holly se band se naam was The Crickets, so die Beatles het n bietjie daarmee gespot, maar die naam het ook blykbaar na die Beat-beweging van die 1950s verwys. Buddy Holly se regte naam was natuurlik Charles Hardin Holley. The Rolling Stones se naam het weer verwys na een van Muddy Waters se songs. Pink Floyd het weer hulle naam gekry van die blues-musikante Pink Anderson en Floyd Council. Die meeste bands se name is gewoonlik redelik ironies. Baie keer verwys dit na obskure konsepte wat jy net kan verstaan as jy deel van die subkultuur word. Soms kan n obskure naam maak dat mense vir lank bespiegel oor waar die naam vandaan kom dis natuulik baie goed vir bemarking. Ander kere word name gekies bloot om te skok. Maar oor die algemeen sê bands se name iets oor hulle identiteit oor waar hulle vandaan kom. Baie van die bands in Suid-Afrika spreek boekdele veral die name wat Afrikaanse bands vir hulself kies. James Phillips was een van die eerste rockers wat vir homself n ander naam gekies het. Phillips was interessant, want hy het die naam Bernoldus Niemand gekies as n aparte identiteit toe hy in die vroeë 1980s as Engelse muso n Afrikaanse plaat gemaak het die plaat se naam was dan ook Wie is Bernoldus Niemand? Die Niemand is natuurlik n tong-in-die-kies-verwysing na die feit dat daar nie so n persoon bestaan nie. In die konteks van plate wat deur die staat verbied en verban is, daag Bernoldus Niemand mense uit om hom as ongewens te verklaar juis omdat hy nie bestaan nie. Dan was daar natuurlik Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band een van die beste name wat nog ooit uitgedink is. Die Johannes Kerkorrel kom blykbaar van n orrelhandelaar af Johannus Kerkorrels. Ek kan sien hoe Ralph Rabie by die winkel verbystap en hoe die brainwave hom tref: A! Johannes Kerkorrel! Ek weet nie of dit is hoe dit gebeur het nie, maar sy naam, asook die naam van die band, die Gereformeerde Blues Band, spot met die kerk as heilige koei. Alhoewel beide name nou deel van die volksmond geword het, kan ek onthou hoe mense na hulle asems gesnak het toe hulle vir die eerste keer hierdie name gehoor het. Natuurlik is dit name wat jy nooit vergeet nie. Soos Kerkorrel en sy band met die kerk gespot het, het Anton Goosen, Lucas Maree, Karlien van Niekerk en Helena Hettema Die Kommissie van Ondersoek gevorm dit was n tyd van vele sulke kommissies. Al die verslae wat die staatsburokrasie laat skryf het, het baie keer bittermin beteken. Al hoe meer verslae staatsburokrate het nog probeer voorgee dat hulle in beheer was, maar die winde van verandering het op die ou end te sterk gewaai. Daar was ook Joos Tonteldoos en Die Dwarstrekkers, met eksotiese name soos G-Kol Gouws en Kaas Koek. Ek kan onthou dat n clueless joernalis in hierdie tyd gevra het wanneer die alternatiewes nou gaan ophou met hulle belaglike name. Siestog. Die arme mens het nie besef dat die pret toe eers begin het nie! Koos Kombuis is iemand wat al n paar keer van identiteit verander het. Miskien is hy ons eie Madonna, wat homself die hele tyd reinvent. Hy was eers André le Roux du Toit, wat toe later André Letoit geword het, blykbaar omdat te veel die Afrikaanse skrywers reeds André of Le Roux of Du Toit geheet het. Letoit was ook dan n anagram vir toilet. As André Letoit het hy primêr as digter en skrywer bekend geword, maar het ook in die laat 1980s sy debuut as sanger gemaak toe sy kasset Ver van die ou Kalahari deur Shifty Records (self n goeie naam!) uitgereik is. Maar André Letoit het toe heel dramaties n brief vir De Kat geskryf waarin hy aangekondig het dat hy nou selfmoord gepleeg het. Hy het gevoel dat André Letoit net met biblioteektannies kon praat dit was nodig om n identiteit te ontwikkel wat met meer mense kon praat. So is Koos Kombuis die rockster gebore. Sy band se naam was Die Warmblankes n naam wat n argaïese konsep vat en dit heeltemal n ander betekenis gee. Ek voel jammer vir mense wat hierdie line-up nooit in aksie gesien het nie. Intussen het Koos teruggeskaal op die rockster-identiteit en skryf nou weer boeke. So gepraat van skrywers. Twee van die name waaroor ek die lekkerste lag, is die ou wat in die styl van die DJs in dansmusiek (soos DJ Sasha, DJ Digby, ens), sy naam verander het na DJ Opperman. Hy het n aantal bekende Afrikaanse toesprake van politici uit die verlede gevat en dit saam met n techno-beat gemix. Ek het hom eenkeer vlugtig in Oudtshoorn ontmoet, maar kon ongelukkig nie weer van sy musiek daarna opspoor nie. Weet iemand dalk waar DJ Opperman hom nou bevind? Dan het ek heerlik gelag toe ek nou die dag van Seeleeu Leipoldt hoor hy is een van die musos op Wildebeest Records se comeback CD Volk Jou Ook. Dan is daar ook Brolloks en Bittergal, n band van Stellenbosch wat ek al vantevore genoem het. Soos die Sex Pistols in Engeland het Theunis Engelbrecht se Randy Rambo en die Rough Riders mense na hulle asems laat snak. Later het hy sy band se naam na Die Naaimasjiene toe verander. Dit mag baie banaal voorkom, maar mense vergeet soms dat seksuele bevryding n groot deel van politieke bevryding is, en dat die seksuele onderdrukking van Afrikaanse mans en vroue n groot deel uitgemaak het van die stel reëls wat die Afrikaner-nasionaliste in die kerk en die staat in stand probeer hou het. Dan is daar n hele paar Afrikaanse bands wat spot met die name wat Engelssprekendes vir Afrikaners gee, baie soos die hip-hop-beweging die term nigger gevat het en die betekenis daarvan verander het. Daar is Plank en Spinnekop. Dan is daar bands wat spot met die klasseverskille en snobisme wat so deel van die Afrikaanse establishment is, soos Diff-Olie. Verder is daar Klopjag, Die Rampokkers en Die Skobbejakke wat jou in die nag kom haal. Twee rockers wat gesout is in die spel van parodie en spot, is Theo Crous en Francois Blom van Kobus! Soos James Phillips het beide n vorige lewe as musos in Engelse bands. Met Kobus! vra hulle ook, Wie is Kobus? Blom ontken dat dit staan vir Kom Ons Besing U Satan. Daarmee spot hy lekker met die obsessie in Suid-Afrika met satanistiese conspiracy theories en pogings om ons kinders te verlei. Mense hier rond dink mos AC/DC staan vir After Christ/Devil Comes, of soms vir Anti-Christ/Devil Community dit hang af van watter bible basher jy vra. Oor die algemeen dink ek nogal Afrikaanse rockers staan nie vir n oomblik terug met die name wat hulle vir hulself kies nie. Hierdie bands bring hulle musiek van dorp tot dorp en sommige maak baie geld in die proses. Baie van hulle help ons om nuwe woorde en wysies te vind om uit te figure waar ons vandaan kom en waar ons heen gaan. In die wildernis van advertensie-jingles, toeters, talking heads, sirenes en gille is hulle die jagter-versamelaars van populêre betekenis. n Laaste vraag. Weet iemand dalk waarna die Zoid van Karen Zoid verwys? Ek het gewonder toe ek haar jare gelede in die Abelarde Sanction vir die eerste keer in Brixton hoor speel. Maar daardie aand het sy n clue gelos … |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |