Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Om sonder ’n padkaart in Amsterdam te verdwaal …

Roof Bezuidenhout

“My name is Pieter, but you can call me Peter.”

Die twee Amerikaners kyk na hom met totale onbegrip. Ek kan sien hulle hou hulle lag met moeite terug. Vir hulle klink die twee presies dieselfde. Maar in ’n plek wat jy nie ken nie, is jy versigtig voor jy vir ’n dronk ou lag. Pieter-but-you-can-call-me-Peter was so dronk dat hy sowat twintig minute later uit die coffee shop gegooi is.

In Amsterdam is dit onaanvaarbaar as mense só dronk word. Hoekom sal iemand homself in ’n toestand van onsamehangendheid in suip as hy heel onsamehangend genoeg kan word deur dagga van reg oor die wêreld oor die toonbank te koop? Ek het trots na die hopie van die Transkei af gekyk. Patriotisme darem — jy kry dit op die vreemdste plekke. Ten minste beweer hulle dis van die Transkei af. Daar’s geen formele sertifikasieskemas vir “point of origin” in die dwelmhandel nie. Behalwe natuurlik as jy ’n gesoute connoisseur van ganja is, wat ek ongelukkig nie is nie — dan kan jy sommer proe waar dit vandaan kom. Maar met globalisering en al die kultivars en versnitte wat beskikbaar is, raak dit ook blykbaar moeilik.

Ek wou nou nie juis met ’n relaas begin oor onderwerpe waaroor ek min weet nie. Amsterdam roep seker maar sulke beelde op.

Hierdie betrokke coffee shop was my gunsteling-uithangplek in Amsterdam. Die plek se naam was De Dampkring — ’n heel toepaslike naam. Ek moes dít ook aan die Amerikaners verduidelik, soos die verskil tussen Pieter en Peter. Ten spyte daarvan het dit vir hulle baie snaaks gebly. Om die waarheid te sê, na ’n rukkie was dit vir my ook nogal snaaks. “I’m sorry, but he has a serious problem,” het die eienaar van die coffee shop gesê na Pieter-but-you-can-call-me-Peter uitgegooi is. “Hie hie hie,” sê die Amerikaners.

As iemand my nou vra waar in Amsterdam om De Dampkring te kry, sal ek nie die pad kan verduidelik nie. Tog, as ek eendag die voorreg het om Amsterdam weer te besoek, is dit een van die eerste plekke wat ek sal opsoek. Dit was weg van die coffee shops wat incash op die toeriste. Regte Amsterdam-locals het hulle koffie daar gedrink en hulle spliffies gerook. Maar die soektog om die plek weer op te spoor sal waarskynlik net so lekker wees, selfs al kry ek dit nie weer nie. ’n Mens leer mos maar ’n stad ken deur daarin te verdwaal.

Hierdie besoek van my aan Nederland, ’n hele paar jaar gelede, was die eerste keer wat ek buite die grense van Afrika gereis het. Die Bezuidenhouts se stamvader het in 1666 in Afrika aangekom — as tuinier vir die Kompanjie. Ek wou graag gaan kyk of daar iets van my “roots” in Nederland oor was. Daar is tog nog ’n voorstad van Den Haag wat Bezuidenhout genoem word. Volgens een Nederlander wat ek vantevore ontmoet het, is die van Benoordenhout baie meer algemeen daar. Die Bezuidenhouts beland toe in Afrika en die Benoordenhouts bly agter — die geskiedenis se sin vir orde!

As ek nou aan hierdie besoek dink, kan ek nog die vreemde gevoel van vrede onthou tydens die wandelings tussen bome, parkbankies en skaduwees in Vondelpark. Die gragte en die huise het my betower, al lyk dit op poskaarte baie kitsch. Selfs die krokette uit die muntmasjiene was vir my lekker. Ek onthou ook besige skemerdonker aande op Leidse Plein, met mense wat sit en koffie of bier drink terwyl ander op fietse verby ry. Die Van Gogh-museum was ’n belewenis wat ’n mens jou hele lewe lank sal onthou. Selfs my beknopte hotelkamertjie met die hol bed was op ’n manier heel karaktervol.

Maar ek kon glad nie volg wat die mense kwytraak nie. Die Nederlanders het anders gelyk as “my” mense, en een was so astrant om my taal “African Dutch” te noem. Hy het die “u” in “Dutch” uitgespreek soos jy die “u” in “wurg” sal sê. Dis amper wat ek met hom gedoen het.

Ek het maar met mense in Engels gepraat en op die ou end saam met die twee Amerikaners rondgekuier. Ons het saam die huis waar Anne Frank geskuil het, gaan besoek, en ek en een van die Amerikaners (van Joodse afkoms) het dieselfde intense emosies ervaar — van twee kante van verskillende geskiedenisse: ek verwant aan die skuldenaar, en hy verwant aan die slagoffer. (Dit klink nou vreeslik melodramaties, maar besoek gerus self hierdie huis.)

Het ek my “roots” gekry? Ek dink nie so nie. Nederland was ’n vreemde plek — ’n ander land op ’n donker kontinent.

* * *

In “Johnny Raakvat” sing David Kramer oor sy soektog deur die Karoo na ’n legendariese kitaarspeler: “Ek soek na Johnny Raakvat met sy blikkitaar.” Orals weet mense van Johnny, orals het iemand hom ’n rukkie terug gesien, maar niemand weet waar hy nóú is nie.

David Kramer het in der waarheid deur die Karoo gery op soek na van die land se mees eksentrieke kitaarspelers en ander musikante. Soos Hannes Coetzee, wat slide-kitaar met ’n lepel in sy mond speel. In die Karoo Kitaar Blues-show het David vertel van hoe moeilik dit was om al die Johnny Raakvatte op te spoor. Iemand sal die pad verduidelik deur te verwys na bome, windpompe, damme, stofpaaie wat om koppies ry. Na ’n lang verduideliking sal die persoon sê: “Maar as jy by daardie plaas wil uitkom, sou ek nou nie hier begin nie.”

Elkeen van ons se kaarte van die plekke waar ons woon, verskil. ’n Mens kan ’n lugfoto neem en ’n kaart van ’n plek laat opstel, maar die mense wat daar bly, leer dit ken sonder kaarte. Hulle leer dit ken deur te verdwaal. Na ’n paar jaar in Johannesburg weet ek nou al waar jy twee-uur in die oggend ’n cheeseburger kan kry, waar jy heen gaan as jou kar se venster al weer uitgeslaan is, waar daar op Sondae wettige karparte verkoop word, waar daar vars croissants in die oggend is, en waar jy na ure ’n bottel bier in die hande kan kry.

Kaarte vertel nie hierdie dinge nie. Jy leer dit self — so met stampe en stote. Probeer dit maar aan ’n vreemdeling verduidelik. Dis baie moeilik. Jy kan nie eers meer onthou hoeveel verkeersligte daar is voor jy byvoorbeeld links moet draai nie, want jy doen dit outomaties na ’n ruk. Dit word soos asemhaal en eet. Om dan aan ’n ander local te verduidelik waar jy hom of haar vir ’n bier gaan ontmoet, is heel maklik, soos: “Ek kry jou by die nuwe plek bokant Japie’s.” Of: “Verby daai park waar jy vir Marius geraps het daai aand.” ’n Mens deel ’n padkaart met sekere gemeenskaplike verwysingspunte met die mense van jou buurt, jou valley, of jou dorp.

Daar is sulke kaarte in Afrikaanse musiek met strate se name wat ons almal ken — dalk juis as gevolg van die songs. As iemand byvoorbeeld verwys na Roelandstraat, weet almal wat dit beteken. Hulle hoor sommer onmiddellik die song in hulle koppe: “Voor die deur van die magistraat …” Dan is daar meer obskure verwysings uit die subkulture van Afrikaanse musiek. Dalk is sommige mense nog besig om daardie padbordjies te leer ken, stadig, soos wat hulle in die wonderlike agterstrate van Afrikaanse musiek verdwaal.

Alhoewel ons nie almal ál hierdie strate ken nie, is daar een straat wat bekend is in élke dorp. Selfs in enige land. Sonder uitsondering. Paul Riekert sing daarvan op Battery 9 se CD Sondebok:

Hier sit ek alweer in Kakstraat
Alles lyk tog so bekend
Ek ken elke mens hier persoonlik
Ek ken elke kraak in die sement
So welkom, welkom, hier in Kakstraat
At least kan ons nog kla en kakpraat
Want alles is tydelik, alles vergaan
Maar die goeie ou Kakstraat hou aan en hou aan …

Jy hoef nie eers te verdwaal om Kakstraat te vind nie, alhoewel dit soms seker help  …

Dan is daar regte strate wat jy ook op ’n regte padkaart sal vind.

Hier in Johannesburg weet ’n mens waar in Hillbrow om ’n prostituut op te tel, want Johannes Kerkorrel het die naambordjie vir ons opgesit: “In Quartstraat hoor ek ’n meisie my roep …”

In die einste Hillbrow weet ons om links en regs en dan weer links te kyk en versigtig te loop op plekke, danksy Koos Kombuis: “Ek vat die pad skuins oor Kotzestraat se traffic, soek dringend na ’n coffee bar met sagte laid back music …”

Danksy Anton Goosen is ons bewus van die “trendies” van Yeoville wat uithang in “Rockey Street” in die nag. Ons kan nou maar net met deernis aan daardie tye dink. Die trendies het lankal uit Yeoville gevlug in die rigting van Melville. Net Kleinboer kuier nog lekker daar.

In Pretoria is Lucas Maree ons gids — oor die meer seedy dele van Sunnyside: “Op die bodem van ’n bottel soek ’n boemelaar sy maat, terwyl hy slinger slinger deur Esselenstraat …” Ons weet ook dat daar in Marabastad ’n man dans “in Bloedstraat aand na aand” wat terugdink aan die dae toe hy nog ’n seuntjie was “iewers in die heuwels van Natal …”

In die ooste van die klasbewuste Pretoria herinner Piet Botha jou aan die “ryk man op Waterkloofstraat”.

In Buitenkantstraat in Kaapstad sing Valiant Swart: “Die wit kinders dans met die Rastas vanaand, hoor hoe sing daai boer van Babilon, Vrydagaand met ’n bottel in die hand …”

En weer danksy Anton Goosen weet jy hoe om huis toe te gaan met Waalstraat. As jy down en out is, kan jy langs die nimmereindigende Voortrekkerweg, met sy ontsierde art deco-winkelfasades, afstap: “It’s raining in Voortrekker Road,” sing Koos Kombuis weer. Daar’s ook olievlekke op sy hoed van plekke soos “Langstraat, Hillbrow en Goodwood”.

Baie van ons onthou ook “die aande in Birdstraat” in Stellenbosch en die “maande van fokkol doen en kakpraat” met vreemde karakters soos “‘Liewe Jesus’ in sy vuil blou jeans”.

Miskien is dit net die subkultuur waarin ek my bevind wat hierdie paaie ken. Maar daar’s baie van ons. Ons ken Roelandstraat, Bloedstraat, Rockeystraat en Voortrekker Road. Hierdie paaie sê waar ons vandaan kom en waar ons verdwaal. Dit maak dat ons op ’n musikale vlak mense is van dieselfde dorpie of suburb. Vir ons is mense soos Koos Kombuis goeie skrywers van musikale padkaarte. Soos Johannes Kerkorrel gesing het:

En jy ken die agterstrate
Van Stellenbosch tot in Waterkloof
En as Windhoek se fasciste smile
Kan jy die beste two-step dans
Of jy in Bellevue na die hawe gaan
Of in Amsterdam verdwaal …

* * *

In Vondelpark sit ’n man op ’n bankie. Thomas Acda en Paul de Munnik, twee sangers van Amsterdam, sing oor hom:

Vrijdagmiddag in het Vondelpark
November en nat
Vlakbij de vijver zit een man,
Herman
En Herman is het zat
Heeft een kutjaar gehad

Een man met alles
Wat je hebben kan
Vrouw, kind, huis, auto, baan
Zo’n baan
Maar Herman wilde het ooit anders
En dinkt daar nu al maande aan

Hij denkt aan wat ie wou
En denkt ik was te laf
Hij denkt is dit het nou?
Herman denkt zichzelf in het graf

Was het niet gisteren
Dat ik aankwam hier
Pas achttien jaar jong?
Zou ik niet feesten, zuipen, reizen?
Zou ik niet doen wat ik ooit zong?

Maar reizen kan ik niet meer
Dat het ie mooi gedacht
Ja, reizen terug naar huis
Want er wordt met het eten
gewacht

Als het vuur gedoofd is
Dan komen de wolven.

Hier in ons dorp is ook mos ’n Herman. Hy wou ook reis, na Java en Malta, Beiroet en Bombaai. Maar waar hy vanaand is, kan ons maar net raai.

* * *

As jy die stasie in Amsterdam kry, is dit moeilik om verder te verdwaal. Jy kan die trein na amper enige plek in die land vat. As jy byvoorbeeld by Utrecht se stasie afklim, is daar ’n groot winkelsentrum waardeur jy moet stap om by die ou dorp uit te kom. As ek reg onthou, is die winkelsentrum vernoem na een of ander koningin. Maar as jy verby al die uitnodigings na transaksies kom, sien jy die ou kerk — of eerder dalk ’n katedraal.

Ek vra of daar iemand is wat my meer van die kerk kan vertel en kry ’n persoonlike gids. Sy’s ’n ou tannie met spierwit hare — seker al verby sewentig. Soos gewoonlik, val ek weg in Engels. Sy verstaan nie ’n woord daarvan nie. Ek slaan oor na Afrikaans en ons kom ooreen om albei stadig te praat — sy in Nederlands en ek in my African Dûtch.

Ons stap stadig onder die koepels deur. Sy vertel my van die deel van die kerk wat verwoes is, maar nooit weer herbou is nie. Die toring staan nou eenkant op die plein. Ons stap verby beelde waarvan die gesigte kru weggebeitel is en sy praat oor die ikonoklasme. In die een hoek staan ’n kruis wat van doringdraad gemaak is. Sy praat oor die holocaust en die invloed daarvan op die Nederlandse kultuur. Oor hoe mense nog steeds sukkel om sin te maak van wat gebeur het — vir baie is dit baie persoonlik, want hulle dra direk skuld. Stadig begin ek baie beter verstaan wat sy sê, amper soos ’n bekende deuntjie, maar met ander woorde. Ek begin ook om te vertel oor waar ek vandaan kom.

Ek onthou dat ons appeltert bestel het na ons besoek aan Anne Frank se huis. Die Amerikaners was ontstoke: “This is not apple pie!”

Maar vir my was dit baie bekend. Soos my ma dit bak.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.