Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Laat die langpad jou vat waar hy jou heen moet vat …

Andries Bezuidenhout

Ek het vroeër vanaand my tradisionele gin en tonic gedrink. Ek doen dit elke jaar. Klokslag om Paasfees. Ek ken die pad al so goed — of ek nou van Pretoria of Johannesburg af ry. Jy moet eers deur Brits ploeter. Dan vat jy die pad in Thabazimbi se rigting. Die kleinhoewes lyk soos kraaineste, maar stadig word hulle al hoe minder. Dan hou hulle op en begin die plase. Op ’n stadium besef jy net: “Nou is ek in die Bosveld.” Soms sien jy ’n koedoe deur die wildsdraad, soms net beeste. Dit voel asof die las op jou skouers ligter word. Later vat jy die afdraai Northam toe — oor die Krokodilrivier. Jy’s amper daar. Jy ry by Northam se graansilo’s verby, verby die Swartklip-myn. Dan, net voor die teerpad ophou, draai jy regs by die bord wat sê:

OppiKoppi.

Elke keer hoor ek daardie pragtige song van Liela Groenewald in my kop. Dan begin ek sommer sing:

In the rear-view mirror industrial mementoes fade
The destination means when I return I’ll wish I stayed
Could I ever bring you half the joy that you give me just with your time?
There’s a road leading to you now — in the distance shines a light
There’s a road leading to you and I’m driving it tonight …

Die gin en tonic drink ek by die uitkykpunt langs die verhoog wat bo-op die koppie gebou is. Die Bosveld lê tot in lengte van dae uitgestrek. Op ’n helder dag kan jy sien waar Thabazimbi se ysterberg staan. In die nag kan jy Dwaalboom se liggies sien. Reg na onder het mense reeds honderde tente opgeslaan. Musiek blêr uit vele karre se luidsprekers. Jy hoor Koos Kombuis, Tweak, Valiant Swart, Pink Floyd, Karen Zoid, Tom Waits, Relax, Soulwax, Vusi Mahlasela en Kobus! Sommige het kitare uit en sing:

Lalie, jy’t vir my gesê
So lank soos die lepel in die pappot lê …

Vure is al aangesteek vir koffie, braaivleis en atmosfeer.

Maar dit was vroeër vanaand. Die bands het al begin speel by die verhoog op die Koppie. Duck & Cover het sulke regte 1970’s-rock gespeel. Al was hulle waarskynlik nog nie eers in die seventies gebore nie, het hulle die regte houding en haarstyle. Dan Platansky en sy band, die Mississippi Muthers, het hartseer blues gegooi.

Nou sit ek vir ’n oomblik by my eie kampeerplek in Oom Piet se Duikweg — ver weg van die meeste tente. So tussen die musiek deur hou ek soms van stilte. Ek wil net ’n rukkie stilsit voor ek weer teruggaan na die Koppie toe om te hoor hoe The Narrow in lewende lywe klink.

Deur die doringboomtakke sien ek ’n maan wat amper rond is. Vlieswolke laat die maan altyd mooier lyk — veral in die Bosveld. Teen die helder wolke is die takke pikswart. Verder weg, links van my, word die bome rooi gekleur deur ’n groot kampvuur. Ek wonder hoe Karel Schoeman die toneel sou beskryf. Met so baie mense sou hy waarskynlik heeltemal te verbouereerd gewees het.

Maar wag, voor ek soetsappig raak, moet ek die laptop wegsit en die tog terug Koppie toe aandurf. Daar’s musiek om na te luister, nuwe bands om te ontdek, en yskoue bier.

* * *

Ek’s weer terug by die tent. Die laptop se battery loop laag, maar ek wil gou ’n paar gedagtes neerskryf — ook voor my eie battery afgaan.

The Narrow was toe ongelooflik. Hanu de Jong was voorheen Not My Dog se vocalist. In sy nuwe band kom sy stem baie beter tot sy reg — hierdie ou mág maar sing. Hulle songs is ook baie goed. Waar Not My Dog meer met jazz begin geëksperimenteer het, werk The Narrow met baie sterk melodieë en ’n terugkeer na die strukture van rock. Dit sal baie interessant wees om te sien wat in die toekoms met albei bands gebeur — twee redes uit baie hoekom enige iemand baie opgewonde oor Suid-Afrikaanse rockmusiek kan wees.

Vroeër, toe ek terugstap na die Koppie toe, het ek verby die groot kampvuur gestap. Daar was net twee mense langs die vuur — hulle is amper verdwerg deur die massiewe bol vlamme, en die doringbome was net buite bereik van die gloed. ’n Man het uitgepass op sy rug gelê. Sy voete was naby die vuur met sy een been so effens opgetrek sodat sy knie in die lug gesteek het. Langs hom, met haar een arm op sy knie gestut, was ’n vrou. Sy het doodstil gesit en diep in die vlamme in gestaar.

Wat ’n vreemde gesig! Die vrou wat langs ’n man op die grond sit — hy wat oënskynlik onbewus is van wat om hom aangaan. Was sy kwaad vir hom? Ek dink nie so nie. Sy het tog aan hom geraak — sy knie gebruik as ondersteuning vir haar arm en haar ken. Waaraan het sy gedink? En was dit sy wat al die hout op die vuur gegooi het — amper oordadig langs hulle twee stille figure in die nag? Tog het sy heeltemal alleen gelyk — amper verwese.

En ek — die voyeur — wat stadig verbystap in die donker. Waarom wonder ek so oor twee mense langs ’n vuur?

* * *

Mense praat altyd van seks, drugs en rock ’n roll. As ek nou uit ondervinding moet praat, is dit seker maar heel gepas, maar ek dink hulle los een baie belangrike element uit — die langpad. Om by al die seks, drugs en rock ’n roll uit te kom, moet jy gewoonlik baie ver ry. Dis veral die geval in groot lande soos die VSA, Australië of Suid-Afrika. Ek het nou die dag met die ouens van Relax — ’n Nederlandse hip-hop-band — gesels. Hulle kan binne twee uur by enige plek in Nederland wees om ’n gig te doen, want alles in Nederland is min of meer twee uur van Amsterdam af. Wel, dis nie die geval in Suid-Afrika nie. Alles in Suid-Afrika is ver van Amsterdam af, maar ook ver van ander plekke in die land. Dis hoekom mense praat van “die Stellenbosch-scene”, of die “Pretoria-bands”, of “die gespuis van Johannesburg”. Daar’s natuurlik bands reg oor die land. Ook in plekke soos Nelspruit, Bloemfontein en PE. En Beaufort-Wes het darem vir Gert Vlok Nel en Worcester vir David Kramer.

As ’n band begin om gigs te doen, speel jy maar naby aan die huis. In Brixton kon ons darem op die arme regulars by die Abelarde Sanction eksperimenteer voor ons by ander plekke begin speel het. Met een van ons eerste gigs het die kroegeienaar agter sy toonbank ingeduik. Ek weet nou nog nie hoekom nie. Toe het die regulars darem begin lyk of hulle van die musiek hou. Sommige het die deuntjies begin fluit in hulle slaap en moes terapie daarvoor kry.

Eers toe kon ons by ander bars in Johannesburg begin speel, en later moes die niksvermoedende Pretoria dit ontgeld. En veel later ander plekke, soos Sannieshof, Kaapsehoop, Heidelberg en Stellenbosch. By elke plek moet jy van voor af ’n fan base opbou (dis waaroor die seks en soms ook die drugs gaan). Die TV, radio en koerante maak die proses darem ’n bietjie makliker, maar op die ou end moet die langpad jou vat waar hy jou heen moet vat — kroeë, restaurante, sale, skure — enige plek waar jou klankstelsel min of meer harder kan speel as wat die mense gesels.

Dis geen wonder dat die langpad nogal ’n groot tema in rockmusiek is nie.

* * *


Hierdie keer wil ek net oor twee ou staatmakers skryf — Koos du Plessis en Valiant Swart. (Ek is nogal bang Klara Majola kla my weer daarvan aan dat ek iemand uitlos wat belangrik is — nou bly ek eers maar net by twee.)

Koos du Plessis is natuurlik nie ’n rocker nie, alhoewel hy waarskynlik sy drank baie beter kon vat as die meeste lewende of dooie rockers. En ten spyte van die feit dat die establishment hom gekaap het, put baie van die rockers tog inspirasie uit sy musiek. Dis dalk tyd vir die rock ’n roll fraternity in Suid-Afrika om ’n tribute-album vir Koos du Plessis te maak. Dink net hoe sal Valiant Swart byvoorbeeld “Die pad na Nooitgedacht” doen! Battery 9 het reeds ’n ongelooflike weergawe van “Kouevuur” opgeneem.

Maar om terug te kom by die tema waaroor ek wou gesels: die langpad. Vat byvoorbeeld hierdie ou classic van Koos du Plessis:

As my wrak nog kan loop en die pad is oop
en die wêreld lê alkant te koop
en ek’t ’n rand of tien en, wie weet, miskien
nog ’n paar hier en daar, wie-weet-waar,
dan vat ek die pad na die bose ou stad
want hy’s grys en wys en hy’s gul -
en die naald bly dwaal net so regs van nul
want ek maak net soos ek wil.

Hierdie liriek is ’n voorbeeld van uitmuntende vakmanskap (verskoon tog asseblief die seksistiese term). Dit loop glad oor die tong as jy dit sing, tog is die rym noukeurig in die struktuur van die song ingeborduur — sonder dat dit geforseerd oorkom. Die ritme en die vloei van die song beaam wat die woorde sê — ’n mens voel amper dat jy saam met ou Koos die pad na die stad wil vat.

In Valiant Swart se musiek is die langpad ook nogal ’n belangrike tema. Dis geen wonder nie, want Valiant is seker een van die rockers wat die meeste rubber aan die land se nasionale paaie afgestaan het. Dink maar aan “Sodom en Gomorra” op Deur die donker vallei:

ek ry die hele dag lank
ek druk hom in die rooi
drie keer trek ek af
om juice in te gooi

die langpad lê en slaap
op my agterste seat
die kilometers vlieg verby
met ’n wicked, wicked backbeat

twee stede in die noorde
sonder wette, sonder orde
te lekker vir woorde
Sodom en Gomorra.

Sowel Koos du Plessis as Valiant Swart sien die langpad as bevryding. Albei is op pad na die stad toe — vir beide is die stad “boos”, maar die bevryding lê juis in die feit dát dit “boos” is — grys en wys en gul, of “te lekker vir woorde”. Ons weet nie waar Koos du Plessis se “bose ou stad” is nie, maar as jy versigtig luister, sal jy kan uitfigure dat Valiant Swart na die pad van die Kaap af na Pretoria en Johannesburg verwys.

Terloops, vir versamelaars van Valiant se musiek — daar’s ’n baie mooi weergawe van “Sodom en Gomorra” op die eerste Wingerdrock-CD — ’n samestelling van musiek deur Stellenbosch-bands op Dirk Uys se Trippy Grape-label. Daar’s ook baie mooi songs van Brolloks en Bittergal op hierdie CD. Ek wonder wat van hierdie band geword het? Ek was nog altyd jaloers op hulle naam.

Terug by Koos du Plessis. Een van sy mooiste songs ooit is “As almal ver is” op die CD met dieselfde titel. Dit gaan nie noodwendig oor die langpad nie, maar oor afstand:

As almal ver is,
word die hart skielik oud.
As die wêreld ’n ster is,
afsydig en koud,
smee die gordyne
’n komplot teen die lig,
krimp die kosyne
en deure sluit dig

As almal ver is, vind jy jouself
waar jy in laaie in stil hartkamers delf.
As almal ver is, vind jy jou siel -
weerloos en eensaam, soos ’n vrou voor ’n spieël.

Hier sing iemand oor afstand wat nie noodwendig fisies is nie, maar eerder oor eensaamheid as afstand. “As almal ver is” beteken tog dat die posisie van die sanger verwyderd is van álmal — al sit jy dalk saam met ander mense in ’n kroeg, of dalk langs ’n vuur in die Bosveld, met jou elmboog op jou boyfriend se knie. Maar dit kan ware afstand in tyd en ruimte ook wees.

In “Jou vreemde naam”, wat deur Karla du Plessis getoonset is, praat Koos verder oor hierdie tema. Hier is die reis nie ontvlugting nie, maar dit praat oor vervreemding, oor eensaamheid:

Ek het so baie lande kruis en dwars deurreis,
in soveel vreemde wêreldstede rondgedwaal.
Ek het so veel geglo, en tog so min bewys
en soveel laaste treine van die nag gehaal.
Jou vreemde naam het ek so baie, baie keer
vergeefs vir kroegman, klerk en predikant gespel
en daar was soveel leë winternagte
saam met mense wat nie weet waarheen nie,
maar tóg vertel …

Later in die liriek sê hy:

Ek het so dikwels die verkeerde trein gehaal
en was so stiptelik net ’n minuut te laat …

“Jou vreemde naam” se oorspronklike titel was “Dagboek vir ’n swerwer”. Na wie se vreemde naam verwys Koos du Plessis hier? Is dit ’n onbekende geliefde? Of is dit dalk die dood?

Dan is daar nog een wat gaan oor die reis as ontvlugting. Hierdie keer nie ná die bose ou stad toe nie, maar eerder ’n ontvlugting uit die stad — wat hier ’n simbool van iets heeltemal anders word as in “Nes ek wil”:

As ek vanaand op die middernagtrein
stil uit die stad en die rookmis verdwyn
moet jy maar voortslaap
stil, ongestoord slaap
totdat die son weer skyn

Jy wou my bind en ek wens soms jy kon
aan hierdie doolhof van glas en beton
maar soos tevore
loop al my spore
weer terug na die perron.

Ek hou baie van die dubbelsinnigheid van die gebruik van “spore” hier — dit kan “voetspore” of “treinspore” wees.

Daar’s ’n paar ander van Koos du Plessis se songs wat verder na reise en die langpad verwys, maar vir eers wil ek hierby volstaan. Ek dink ’n mens sou veilig kon beweer dat dit nogal ’n groot tema in sy musiek is.

Terug na die ander swerwer — Valiant Swart. In sy “Duisend myl blues” sing hy weer oor die langpad en stede:

soms as ek in ’n vreemde stad is
gaan staan ek op die hoogste gebou
dan laat ek dat die liggies my wegvat met die langpad
en dan vergeet ek so bietjie van jou
maar dan stap ek af en stap uit in die strate
en ek mis jou

En dan weer in “Ek en jy en die highway”:

onthou jy daai dag in Dorpstraat
toe jy gesê het jy kom saam
die langpad sou alles regmaak
wat gebreek het in jou naam.

Soos in Koos du Plessis se lirieke verwys die langpad vir Valiant Swart telkens na ontvlugting en bevryding, maar ook na die afstand tussen hom en die “jou” in “Duisend myl blues” en die “jy” in “Ek en jy en die highway”. Soms vergeet hy so ’n bietjie, maar dan stap hy deur die straat van die stad, ver van sy blou oseaan, en hy mis haar.

* * *

En hier sit ek nou op my kampstoel by OppiKoppi. Dis al baie laat, maar mense speel nog musiek in hulle karradio’s. Dis nie net my batterye wat môre gaan pap wees nie. Die vure brand ook nie meer so hoog nie.

Ek wonder wat geword het van die twee by die vuur. Sy het haar ken met haar elmboog op sy knie gestut, maar hulle het so ver van mekaar af gelyk in die vuur se lig. Miskien, as ons almal terugry na Sodom en Gomorra toe, sal alles weer reg wees. Ten minste terwyl ons wrakke nog loop en die pad oop is.

Van een ding is ek seker — dis lekkerder om na OppiKoppi toe te ry as wat dit is om huis toe te gaan. Maar toemaar. Daar’s nog twee dae se musiek oor. Sondag sal Valiant Swart sing oor die langpad. En Gert Vlok Nel sal ons herinner aan hoe dit is om afskeid te neem van Koos du Plessis. Koebaai, Koos, koebaai, koebaai. Soms vat die langpad jou baie ver weg van almal … dan gaan al die treine staan.


boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.