Attribute
Charl-Pierre Naudé
Die belangrikste dinge in die lewe
gebeur sonder attribute.
n Persoon sterf sonder sy liggaam.
Anders sou hy nog gelewe het.
n Baba word gebore sonder n siel.
Die siel kom later.
Met goeie rede.
Wie benodig helderheid
as niks nog bestaan nie?
Vra die grootste pyn.
Dit gebeur sonder gevoel.
Wat wysheid betref,
ons weet tog die eindpunt daarvan is die niks.
Tensy dit nog nie gearriveer het nie.
En die liefde?
Liefde gebeur sonder die ander persoon.
Vreemd as wat dit mag klink.
Die liefde gebeur sonder enige attribute.
Jy kies iemand
vir hierdie neus, of daardie oë.
So n lieflike mens,
baie verkieslik bo die ander een.
Wat n lieflike hart!
Maar wanneeer die liefde
eers begin groei,
wanneer dit werklik begin saak maak,
verloor dit al sy voorwaardes.
By die hoogtepunt van gevoel
is al die buitelyne uitgewis.
In die einde is daar geen verskil
tussen die een wat jy gekies het,
en die een wat jy nie gekies het nie.
Dit maak nie meer saak nie.
Met n veelvoud van hoewe
kap vergetelheid die gedigte
in hul bedkassie pierings dood,
vir háár geskryf
en vir niemand anders nie,
nóú geskryf
en nie op enige ander tydstip nie;
kap dit die lentebloeisels fyn
waar hulle mooi gerankskik in hul papierkoppies dryf,
en verbrysel so die fiktiewe banket
deur kinders uitgeknip en gevou
van n uitgeskeurde beskrywing
van die tyd.
Vergetelheid
met sy ontelbare stompe
bokspring oor alles,
op aantrekkingskragte en op al die fyner punte
en roep homself uit as Blinde Liefde,
n Spaanse danser uitgedos soos n vragwa.
En die half-treetjies en die staccatos
word vergruis tot niks
onder één reusagtige skoen.
Jy sien die arme meisie nie meer nie.
Hoe sy lyk.
Wat sy dink.
Alles is oorgetrek in wasem.
En sy sien jou nie.
Die liefde gebeur sonder ander mense.
Dit gebeur sonder attribute.
Wanneer iets
so werklik is soos ware liefde
hou die persoon
waarop daardie liefde gemik is
op met bestaan as iemand anders.
Dis waarom die liefde
so eensaam kan wees.
Hoor ek iemand sê
die liefde kan jou red
van die dood en sy absolusie?
Praat van die laksman!
Dié nederige kêrel noem
homself jou waarlik 'Kleine Dood!
Groter dinge begin in die kiem, nè?
En laat dit wat eerste
moet wees eerste kom …
Die Liefde is n ware heer.
Ja,
Paulus was reg.
Die Liefde sien niks raak nie.
Behalwe sy eie wapens.
En dan sê dit boonop
dat dié ook nie bestaan nie.
Daardie arme kerklui
wat nie aan die liefde wil deelneem nie
omdat liefde kieskeurig is
en die goedheid universeel …
Die armsalige skepsels!
Hulle vergeet waar die liefde opeindig.
Dit eindig op sonder attribute:
n meisie sonder haarself,
n kop sonder n jongman.
n Hele wêreld sonder mense.
Wat op aarde is meer gelykwaardig?
Die klere loop rond
sonder hul base,
die penne skryf
sonder hul hande:
dit lyk op n haar na
n spirituele affêre.
Die Liefde is soos die begin
en einde van die Heelal:
suiwer, vormlose, krag.
En dit bring ons by God.
Die Alfa en die Omega.
Dit wat geen attribute besit nie:
God is gelyk aan die Liefde.
Ja, God ís Liefde.
Dit kan wiskundig bewys word.
En ondanks voorbehoude,
en die bra goedkoop náklankie van daardie reël,
is daar iets daaromtrent
wat baie besonders mooi is.
Moet net nie spesiale behandeling verwag nie.
terug / boontoe
|