PoësieNet - rondom poësie; nuwe gedigteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
No matter how the replica watches online master series simple and classic, it is swiss replica sale very popular, more importantly, Master Series wrist watch, generally are relatively thin, this table is replica watches only one of the basic blue dial, equipped with cheap replica watches automatic movement 896/1, automatic gold has a hollow.
LW Hiemstra Trust



Afgerond. Skaflik. Waardige debuut. (Gaap)

Eckhard Cloete

In die oog van die stilte deur Willie Kühn

Gérard Genette beweer dat paratekste (boektitels, flaptekste, loktekste, voorwoorde, omslagontwerp, selfs resensies en onderhoude) bepalend is vir die interpretasie wat 'n leser van 'n teks maak. In die geval van Willie Kühn se debuutbundel speel die parateks 'n deurslaggewende rol in die leesproses wat plaasvind.

Die flapteks van Willie Kühn se debuutbundel maak die leser attent daarop dat Willie Kühn voormalige redakteur van Beeld en Huisgenoot is (hoekom enigiemand met laasgenoemde publikasie geassosieer sou wou word, gaan my verstand te bowe). DOKTOR Daniel Hugo sê pertinent dat Kühn 'n "vaardige, verbeeldingskragtige digter" is. Voeg hierby twee resensies in dagblaaie van twee hoofbrulpaddas in die visdam van die Afrikaanse letterkunde (edelagbare Hambidge noem die bundel "intelligent" en "belangrik") en die jong, onervare vryskutresensent swem stroomop as hy nie ook self die bundel as 'n billike, gerespekteerde en welverdiende debuut tipeer nie.

Dat die bundel goed afgerond, netjies in samehangende afdelings verdeel kan word en tematies oorkoepelend funksioneer, is nie te betwyfel nie. In kort: al die vereistes vir 'n Afrikaanse digbundel wat deur 'n hoofstroomuitgewer uitgegee word, is hier beslis teenwoordig. Maar die leser wat op soek is na poësie wat inspireer, nuwe moontlikhede van uitdrukking oopsplinter, of pleinweg vars en opwindend is, gaan lank soek daarna in hierdie bundel.

Mens kry die idee dat die gedigte in hierdie bundel geskryf is soos wat gedigte geskryf "behoort" te word. Niks daarmee verkeerd nie, maar ook niks wat die asem wegslaan nie. Waarde-oordele oor die poësie is egter dikwels niks anders as persoonlike smaak nie en daarom dink ek dis nodig dat ek dit hier duidelik stel dat ek waarskynlik nie die ideale leser is nie en nie in die beoogde teikenmark val nie. Human & Rousseau sal waarskynlik 'n beter idee as ek hê oor wie die teikenmark vorm.

Die bundel het wel 'n aantal mooi gedigte, en die eenvoud van gedagte en beeld in van die verse is treffend en selfs roerend. Die titelgedig se slotstrofe som 'n sentrale tema in die bundel op:

Jy moet die storm trotseer
om die oog van die stilte te bereik
vir een oomblik se geluk:
jou hemelnes, jou vertrouende val.
Hierdie gedagte, dat die digter se taak die vasvang van die "suiwer oomblik" is te midde van die skynbaar betekenislose kragte van die heelal, gee die digter toestemming om in alle natuurverskynsels betekenis te gaan soek. Groot gedeeltes van die bundel gaan oor die mens se besinning oor sy verhouding tot die natuur. Hierdie besinnings is die suksesvolste en toeganklikste wanneer dit in verband met die erotiek gebring word, soos in "aardse bod":
die westersee paar met die lug
en stuur 'n vogwind landwaarts
oor halslynstrande
berge met gestrekte ledemate
deinland en soetgras
woude van nooienshaarvaring
mos en skaam orgidee
en vrugte barstensvol sap.
In die treffend-eenvoudige gedig "Vlamdans" word natuurbeeld en menslike verganklikheid saamgedig in die slotstrofe:
As net jou oë nog helder is
sal ek die vlamdans van jou lyf onthou
en jou rondings soepeler as water.
Wat my betref, is die hoogtepunt van die bundel die enkele gedigte wat op sobere, dog empatiese wyse die aard van verganklikheid probeer begryp. "Nota bene" is 'n voorbeeld van volgehoue beeldspraak met 'n angel in die stert. Ook "Encore" oor Jacqueline du Pré se dood, gebou rondom die beeld van God wat die lyf van Du Pré speel soos 'n tjello, is aangrypend en deernisvol.

Die gedig "uithangplek" oor die dood van Johannes Kerkorrel (seker die mees holgetrapte tema in die Afrikaanse kollektiewe bewussyn) verval egter in die middelmatige, té voor die hand liggende beeldspraak wat hierdie bundel stewig binne die reeds bestaande kanon laat vassit. Die impak wat meer treffende metafore soos "sy dun lyf swaaiend/ soos 'n moeë metronoom" word deeglik ondergrawe deur die slotreël: "voëlvry". 'n Meer clichématige woord kon beswaarlik in hierdie konteks opgeroep word.

Of hoe's hierdie vir die slotreëls van 'n gedig in 'n bundel wat veronderstel is om die kruin te vorm van wat aangaan in hedendaagse Afrikaanse poësie?

ryk aarde, jy is verskriklik
wonderlik.
Miskien kon die digter hier eerder bietjie van die Engfrikaans waarteen hy hom so sterk uitspreek in "Die laaste Afrikaanse gedig", aangewend het om die gewoonheid van hierdie reëls te kamoefleer.

Die sosiale kommentaar wat veral in deel 3 gemaak word, is myns insiens ook minder suksesvol. "Paarspeletjie" is nie snaaks óf insiggewend in die komplekse aard van die seksuele magspel wat hier so gestroop van nuanse aangebied word nie. Vir 'n skrywer wat, soos blyk uit die ars poëtiese gedig "'n Gedig moet sleutels hê", skynbaar wel bewus is van die verskillende maniere waarop gedigte benader kan word, is 'n gedig soos "piet-my-vrou" waarskynlik net so teleurstellend as vir die leser.

Om op te som: In die oog van die stilte bied presies dít wat die omslagontwerp belowe: toeganklike en lesersvriendelike gedigte wat tuis hoort in die voorgeskrewe sillabusse van plattelandse skole. Ten koste van ander, meer opwindende digters.


Eckhard Cloete is 'n digter en is tans besig met 'n kursus in kopieskryf. Van sy gedigte is in Nuwe Stemme 3, 'n versamelbundel saamgestel deur Antjie Krog en Alfred Schaffer, opgeneem.



LitNet: 10 Oktober 2005

terug    /     boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.