hoi hoi die sprinkaanvrou
Elzabe Kritzinger
teen die skuinste bol die opgewarmde ledemate
van die natuurliefhebber koersvas, stewig, voortstuwend
dis die tik-tak van die sprinkaanvrou op rollerblades
haar swart bolyf kaal onder die lemmetjiegroen onderbaadjie
skilderwerk van Braziliaanse slange en papegaaie
met haar oë dromerig sonder parkeerprobleme, maar vol gebede
hark sy suurstof uit seewater om in te asem (sterre sê haar voor)
sementerige katspore ontplooi (soos sonsirkels) op haar voorarms
Kaapstad luister met n skraapsel ongelowigheid
hoe die sprinkaanvrou haar woorde oopsny
hoe haar woorde boomsaag oor die Boland en die Kaapse Vlakte
snags span sy nette van Tafelberg afwaarts na die stad en die see
wapens, dwelms en eksotiese diere word onverpoos gesmous
bome loop oor die kole van die hel en huil melk
Brazilië se charcoal slange en raar papegaaie
bo-op pakdiere, binne-in drasakke, naellopend in vliegtuie
immermeer word meesterstukke opgefrommel
hoi-hoi die sprinkaanvrou, liefhebber van die natuur
fraai swart borste inkennig en sku seil teen Tafelberg op
die engelagtige natuurliefhebber op haar rollerblades
op die M3 verby Rondebosch, die universiteit en Mostert se Meul
haar bankier stoor sy slaapprobleme binne die blaaie van haar navorsing
(vigs, verkragting, vroue, kinders en mae gevul met blare en water)
blink en swart hare op haar skouers dra weeksdae maskers
hoi-hoi die sprinkaanvrou
op 23 geen doodsgedagtes. Sy droom en werk roomysure
op die ferm vlerkslag van haar harp grafeer sy geregtigheid
sy boor die grondwater van volop sondaars oop
sy martel en pynig die goddelose van ons land
vuur, donderweer, as en son in kettingbotsings op die N1 en N2
die swart bolyf van die sprinkaanvrou hou haar leeutande in toom
beide hande omvou haar saksofoon as sy snags jazz in die Kaap
hoor net haar musiek
haar note borrel tussen rook en vuur
sy blaas sewe note op haar fluit en die mis kitaar en trom oor die stad
soos vroue en kinders vinnig sterf waar polisiehonde uit ambulanse klouter
soos kinders met brandwonde op hospitaaltrappe woon
soos die president alles bly ontken
hoi-hoi die sprinkaanvrou: sy is nooit weg of weggesteek nie
haar vingerpunte blink langs Victoriaweg
haar internasionale rybewys hang in haar hare as sy dans
sy hoop om eendag
haar landsvlag
by die poorte van die hemel te plant
|