|
Kom slyp jou Afrikaanse digterstem by die UK!
Die digter Joan Hambidge* het onlangs hier op LitNet 'n uitnodiging gerig aan voornemende digters om in te skryf vir die kursus in skeppende skryfwerk (poësie) aan die Universiteit van Kaapstad. LitNet het met haar oor die kursus gesels. 'n Kursus in skeppende skryfwerk? Is dit moontlik om iemand te leer skryf? En wat behels die kursus? Is dit 'n tipe slypskool waar studente se gedigte bespreek en gekritiseer word, en is daar ook 'n akademiese komponent? 'n Mens kan iemand leer skryf, nes jy iemand kan leer sing. Jy slyp en jy leer die persoon tegnieke. Hierom kyk ons na gedigte van mekaar, in 'n groep van ses, bespreek en analiseer dit. Die bedoeling is nie om iemand net te prys nie, maar om konstruktief te kyk na die ontwikkeling van 'n talent. Daarom word daar ook na ’n bekende digter soos Sheila Cussons, Opperman of Breytenbach se werk gekyk om iets van hulle fabrieksgeheime te leer. Dit is sowel akademies as "prakties". Die student moet 'n elke week 'n essay skryf van drie bladsye oor byvoorbeeld die metafoor by Opperman of die interteks by Cloete. Ek meen 'n mens moet jou tradisie ken ten einde te kan skryf of ontwikkel. Is dit 'n moeilike kursus? Hoe lank duur dit? Ja, dit is moeilik. Dit is 'n uitdaging. Dit duur 'n jaar, maar studente neem gewoonlik 'n jaar en 'n half om die portefeulje af te rond: veertig gedigte en 'n essay rondom die proses van dig. Die kursus is vir sowel die student as die mentor 'n uitdaging en ek was al ontsettend bevoorreg om met jong digters te werk wat uitsonderlike talent het. En ook om die digter Johann de Lange in so 'n opset mee te maak. Die kursus is soos groepsterapie: dit werk omdat almal 'n invloed het op mekaar en mekaar se werk lees. Daar word dus deurbrake in so 'n kursus gemaak wat vir almal belangrik is. Ek is baie betrokke by die ontwikkeling van die digters. Ek lees per e-pos weeklikse bydraes, help met senuweeprobleme, verslawings en ander pyn. 'n Mens moet leer om jou pyn te bestuur, en die beste gedigte spruit uit terugkeer na die jeug of afseggings. Ek het 'n student gehad wat haar pynlike jeug in Pretoria-Wes ondersoek het en met pragtige verse na vore gekom het. 'n Ander het weer die jeugjare in Naboomspruit bekyk en die Afrika-idioom ontgin. 'n Ander digter het Neruda opwindend herdig – waarskynlik omdat hy ook deur sy eie jeug en konfrontasie daarmee by Neruda se Memoirs uitgekom het. Wat is die toelatingsvereistes? 'n BA in Tale of enige ander B-graad. Ek het al 'n prokureur aanvaar sonder enige letterkundige kwalifikasie, wat ‘n skitterende manuskrip geskryf het. Die student moet egter ook ander kursusse volg (2 ander per semester) benewens my klasse. Daar word dikwels gesê dat daar 'n tekort is aan nuwe Afrikaanse stemme in die poësie. Wat is jou standpunt? Ís daar jong talent? Absoluut. Dit bewys die Nuwe Stemme-reeks, die pragtige Boomplaats van Gilbert Gibson. Ek dink mense is te haastig. Die nuwe stemme is op pad; gee hulle kans. Dit moet egter nie sonder erkenning aan die tradisie wees nie – dit is belangrik om te weet waar jy vandaan kom ten einde iets nuuts te skep.
*Prof Joan Hambidge is direkteur van die Skool vir Tale en Letterkundes aan die UK. Sy is gereelde resensent en polemikus, en behartig weekliks 'n reisrubriek, "Wegkomkans", in Die Burger.
LitNet: 14 Oktober 2005
|
|||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |