PoësieNet - rondom poësie; nuwe gedigteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
No matter how the replica watches online master series simple and classic, it is swiss replica sale very popular, more importantly, Master Series wrist watch, generally are relatively thin, this table is replica watches only one of the basic blue dial, equipped with cheap replica watches automatic movement 896/1, automatic gold has a hollow.
LW Hiemstra Trust



Die digkuns van Johann de Lange

Joan Hambidge


Leipoldt 1

Hy geur diep in baie blomme,
Die wind in sy groen hare,
Vingerspriete wat tril.

Daagliks nog word hy ontaard
Uit goudgeel klein van moskonfyt,
Uit verse wat diep gekelder lê.

Saans gedenk sy vriende hom
Soos mense ’n glasie wyn klink:
Die nasmaak bly in die volksmond.

Vir kinders dis hy stories uit
Sy lewe op: ’n skeepswrak
Met geraamtes en skepe volgestop.

In die Pakhuisberge by Clanwillian
Groei ’n aalwyn, deurdrenk
Met die bitter sap van eensaamheid.


Leipoldt 2

Saans by die lessenaar:
die borselkop-jonkman,
sy drif soos swael
gesublimeer tot verse,
sy liefde vertaal
tot aanvaarbaarheid:

die meisiemooi mond,
die gepantserde hart,
die blonde slagveld
van maag en dye,
die vesting van boude
nog nie ingeneem
deur die liefde nie,

soek hy ontvlugting
in die sinlike simboliek
van die Ooste,
in die erotiek
van velddiere en plante:
dit word sy hout
vir elke aand
se lyfgesprek.

Met die gordyne diggetrek,
sy kaal lyf teenoor hom
in die spieël,
luister hy na die seun
in die kamer langsaan
wat in swoel drome kreun,
en sy hand soek troos
in sy dye
of in ’n vers: hy
wat woorde
skep, en met
die woorde skep:
digter dus,
en meer-as-mens,
ook sy pyn
bomenslik uitgepuur:
die saadknop
’n mond vol woorde.

(Akwarelle van die dors, 47-49)


I

Die digkuns van Johann de Lange is bekroon met die gesogte Ingrid Jonker-prys vir die digter se debuut, Akwarelle van die dors (1982). Ook vir Wordende naak (1990) word hy bekroon met die Rapportprys. Dit is ’n sterk en gerekende digterskap wat veral in Nederland ’n wyer leserspubliek verdien.

De Lange word in Afrikaans gelees as ’n homofiele digter, en sy digkuns, veral vanweë die omstrede bundel Nagsweet (1991), word as skokkend en grensoorskrydend ervaar.

Tog is die homofiele tematiek net ’n aspek van sy digkuns. Die gesprek met ander digters — soos Leipoldt, NP van Wyk Louw, Sheila Cussons en Ingrid Jonker, onder meer — bied ’n interessante ondersoekveld. In hierdie essay word die genderpolitiek van sy digkuns ondersoek ten einde die redes vir die gesprek met ander digters te probeer begryp.

In sy prosadebuut, Vreemder as fiksie (1996), skryf die digter oor sy ouers en die selfmoord van die vader. Die versaking deur die vaderfiguur lei tot ’n soeke na die digterlike vaderfiguur: Leipoldt en veral Van Wyk Louw.

Ten eerste, dan, die genderpolitiek in sy digkuns. Ten tweede die gesprek met ouer digters wat die soeke na die afwesige vader moet ophef.


II

In ’n essay (“Les Fleurs du mal armé: Some Reflections on Intertextuality”) oor Mallarmé argumenteer Barbara Johnson vir spesifieke genderkonstruksies in skryfwerk. Sy lees intertekstualiteit as interseksualiteit en haar siening van gender in ’n manlike Subjek gaan teen die konvensies van ’n eng feminisme in.

Sy wys op die kastrasie-angs in die digterlike gesprek: die vader-digter inhibeer die seun-digter. Daarom is hy impotent, passief, gefeminiseer, mal armé. Sy skryf:

Yet this state of castration is being invoked as a Muse: the lack of inspiration has become the source of inspiration (in Bloom 1989:213).

Juis omdat daar uit die proses van die stilte geskryf word, ontglip hy konvensionele gender-binariteite. Dit is dus nie meer moontlik om te onderskei tussen oorrompeling en sukses; impotensie en potensie; passiwiteit en aktiwiteit nie.

Dit gaan in sy digkuns dan nie net om passiwiteit per se nie, maar om die poging om anders te skryf.

Through the breaks and blanks in his texts, Mallarmé internalizes intertextual heterogeneity and puts it to work not as a relation between texts but as a play of intervals and interruptions within texts. Mallarmé’s intertextuality then becomes an explicit version of the ways in which a text is never its own contemporary, cannot constitute a self-contained whole, conveys only its non-coincidence with itself (in Bloom 1989:213).

In die gender-analise vra Johnson die relevante vraag: as passiwiteit gelyk te stel is aan vroulikheid, maar die digter is nie ’n vrou nie, hoe ervaar die leser die gedigte? Kan die Muse van Impotensie ’n soort toegang gee tot ’n ervaring van Vroulikheid?

Om haar argument te verhelder, verwys Johnson na Susan Gubar se “‘The Blank Page’ and Female Creativity”:

When the metaphors of literary creativity are filtered through a sexual lens, female sexuality is often identified with textuality … This model of the pen-penis writing on the virgin page participates in a long tradition identifying the author as a male who is primary and the female as his passive creation — a secondary object lacking autonomy, endowed with often contradictory meaning but denied intentionality” (in Bloom 1989:220-221).

Die digter Mallarmé is manlik; die gedig vroulik. Die vrou is dan teken van die poëtiese instink. Sy skryf:

It is though Mallarmé’s interest in writing like a woman about fashion was to steal back for consciousness what women had stolen by unconsciousness, to write consciously from out the female unconscious, which is somehow more intimately but illegitimately connected to the stuff of poetry. Intertextuality here becomes intersexuality (in Bloom 1989:225).

Die gedigte spreek ook genderverskille aan.

The opposition between male and female is an opposition between half-dead language and nourishing non-language (in Bloom 1989:226).

Deur sy vele vroulike impersonasies betree hy die ruimte van die vroulike. Tog, meen Johnson ten slotte, is dit moeilik om enkelvoudig hieroor te argumenteer. Wanneer ’n “werklike” vrou praat/skryf, word die stilte nie noodwendig verbreek nie. Tog is die letterlike vrou nie gelyk te stel aan die figuurlike vrou nie. Hulle ontmoet nie op dieselfde vlak van retoriese diskoers nie en daar moet nog baie nagedink word oor hierdie opposisies in skryfwerk. Die essay is natuurlik geskryf in 1989 en ter wille van die volledigheid van die argument sal sentrale essays oor hierdie kwessie nou behandel word.

Jan Montefiore se Feminism and poetry (language, experience, identity in women’s writing) uit 1987 aktiveer etlike vrae rondom gender en skryf. Montefiore lees digkuns as ’n intellektuele en politieke stryd en daarmee gepaardgaande: as ’n gender-stryd.

Hierdie essay konsentreer op al die bekende debatte oor die “woman-identified-woman”. Dit spreek gender aan as ’n problematisering van die vroulike posisie, en ’n skryfster soos AS Byatt se opmerking dat sy nie ’n feministiese skrywer is nie, maar dat sy deur haar skryfwerk kan ontvlug van haar beperkinge as ’n vrou of vroulike skrywer, is die soort uitspraak wat ongewild is binne hierdie denkrigting.

Die vroulike domein behels die volgende en dit word volledig aangehaal:

  1. an uncolonized, unexploited, unviolated realm of escape from patriarchy’s ruinous present, or
  2. a means of imagining communities of women living, working, and producing a specifically female culture, or
  3. a form of utopia in which feminist ideals and values can exist as norms instead of marginal alternatives, or
  4. a source of numinous female imagery, or
  5. a celebration of the power of women in which biological capacities such as childbirth or menstruation symbolize life-principles, or
  6. a means of evoking qualities of mind (such as intuition) and modes of relationship (such as mutual support) between women which exist under patriarchy, but only under pressure of taboo or discouragement.
           (Montefiore 1987:79)

In hierdie essay word daar dikwels teen die patriargale diskoers geargumenteer, teen die redusering van die vrou tot Ander, tot Gesigslose, tot Geskryfde. Deur onder meer Gilbert & Gubar se The mad woman in the attic (1979) te betrek, word die vrou van stemlose tot stemhebbende verhef.

Ook is die digkuns van Adrienne Rich belangrike dokumente waarin die radikale posisie van die lesbiese vrou beskryf word — meer radikaal as in haar essays oor dieselfde onderwerp. Trouens, sy skep selfs ’n nuwe taal, aldus Mary Gentile, soos aangehaal deur Montefiore (1987:138):

Rich’s language would evoke women’s experience in all its multiplicity and undeniable immediacy in order to recognize it, understand it emotionally as well as intellectually, and affirm it simply because it is true and existent for the individual who experiences it ... This new language and the mode of perception it implies, are the aims of her feminism. If I learn to express my experience as a woman in its entirety, in its physicality, in its complexity, without self-censorship, without employing externally imposed categories and evaluations, and with the conviction that my experience is valid, coherent and deserves attention, I will be speaking a new language.

Dit is uit die essay, “Adrienne Rich and Separatism: The Language of Multiple Realities” (Maenad,1982).

In hierdie verband is haar betrekking van die radikale feminis Luce Irigaray ook tersaaklik. Vroue word tot die Tweede Seks, die Ander, gereduseer en in elke binêre opposisie is daar sprake van ’n vermindering. So sê sy:

‘She’ is indefinitely other in herself. This is undoubtedly the reason she is called temperamental, incomprehensible, perturbed, capricious — not to mention her language in which ‘she’ goes off in all directions and in which ‘he’ is unable to discern the coherence of any meaning. Contradictory words seem a little crazy to the logic of reason, and inaudible to him who listens with ready-made grids, a code prepared in advance (Montefiore 1987:148).

Iragaray gebruik die metafoor van “when our lips speak together” (“quand nos lèvres se parlent”) om die spesifieke posisie van die vrou te beskryf. Vir haar is daar ’n analogie tussen vroulike seksualiteit en taal:

Wait. My blood is coming back from their senses. It’s getting warmer inside us. Their words are becoming empty, bloodless, dead skins. While our lips are becoming red again. They’re stirring, they’re moving, they want to speak (uit “When our lips speak together”, 1980:75).

Iragaray se werk word geëggo in Monique Wittig se Les Gúerillères en Le corps lesbien (1973, vertaal as The lesbian body 1976), eweneens ’n studie wat relevant is vir die siening van vroulike tekstualiteit.

Tekstualiteit impliseer ’n siening van taal. Praat (skryf) vrouens anders as mans? Women, men and language (1986) van Jennifer Coates gee ’n linguistiese perspektief op hierdie uiters komplekse problematiek. Coates probeer om haar argumente te staaf vanuit die antropologie, dialektologie, sosiolinguistiek en sosiale sielkunde.

Vir haar is dit ’n gegewe dat daar verskille is en sy probeer aantoon hoe hierdie verskille manifesteer. Coates sien vroue as ’n minderwaardige sosiale groep en sy gebruik Tajfel se teorie om sosiale interaksie te beskryf:

ACCEPT (inferior status) *compare with others

* join superior group

(tokenism)
INFERIOR SOCIAL GROUP


REJECT (inferior status) *assimilate +
demand equality

*redefine negative characteristics

*create new dimensions for comparisons (Coates 1986:9).

Genderverskille bepaal altyd die interaksie tussen gespreksgenote, hoe dit ook al ontken mag word asof daar ’n neutrale ruimte mag bestaan.

In Double talk — The erotics of male literary collaboration (1989) skryf Wayne Koestenbaum, soos die titel reeds suggereer, oor ’n andersoortige genderkonstruksie, naamlik die onbewustelike verbintenis tussen manlike skrywers. In hierdie verband is die essay “The waste land: T.S. Eliot’s and Ezra Pound’s Collaboration on Hysteria”.

Die basis vir hierdie essay is terug te voer na die studie wat Freud en Breuer oor histerie gedoen het. Die teks word ’n liggaam, ’n speelveld van geïnhibeerde, gerepresseerde seksuele begeertes tussen Eliot en Pound, aldus Koestenbaum (112-139). In welke mate, vra die leser sig af, is Koestenbaum besig om miskien speelse, grappige verwysings met homoseksuele betekenis te laai? Of lê dit opgesluit in die teks?

Koestenbaum noem verskillende voorbeelde: soos ’n brief waarin Pound aan Eliot bely dat ’n insig of idee sy voorvel ontglip het (1989:124) en hierin word ’n substitusie vir voorvel as denke gelees. Eliot se senu-ongesteldhede rondom die skryf van The waste land is bekend. Sy dokter het bevind dat hy geestelik en intellektueel uitgeput was. Hy het in sanatoriums in Margate en Lausanne begin werk aan die gedig — teen sy dokter se instruksies in. Met Pound se hulp herwin hy wéér sy kreatiewe stimulus.

Koestenbaum maak provokatiewe stellings soos:

The first verses revealed that Pound was the midwife of The waste land, and that Eliot was the mother, but left ambiguous how he had been impregnated. Insemination depends on sperm that the expurgated verses supply: ‘His foaming and abundant cream / Has coated his world’ (1989:121).

Of hy lees woordspeletjies as verwysings na die anus en dus ’n onuitgesproke begeerte tot anale seks — met die teks as ’n soort psigiese slagveld vir al die gerepresseerde gevoelens. Dit is uiteraard binne die psigoanalise en genderdiskoers ’n geldige benadering. Hier is dan ’n verdere voorbeeld:

Much is broken in The waste land: the river’s tent, fingernails (“The broken fingernails of dirty hands”), and Coriolanus. The name “Coriolanus” itself suggests broken places. A “broken (Coriol)anus” was the fate of Claude the Cabin Boy (with broken glass up his “ass”), and of the vates cum fistula in Pound’s comic verse (1989:135).

Dit gaan nie om die vrees vir ontmanning in hierdie gedig nie; dit vrees eerder die anale penetrasie wat alrééds plaasgevind het:

Eliot may have longed for Pound’s editorial insemination, but the poem’s hysterics experience it as rape. Like the raped and tongueless Philomel, the poem has translated its experience of being penetrated (by Pound) into a hysterical method of speaking.

Pound het natuurlik die teks gepenetreer toe hy dit geredigeer het:

Eliot owed him the illusion of unbroken textual hymen, and the accompanying sense of power (1989:138).

Die voetnote agterna impliseer ’n manlike leser. Dit demonstreer, volgens Koestenbaum, dat die teks leë plekke het wat die kritiese leser moet vul. Die voetnote verleen ook krag aan die gedig se histerie, omdat dit so getransformeer word van betekenislose chaos na ’n ryk verwysingsveld.

Die leser moet egter hierdie komplekse essay lees teen die agtergrond van die verhouding tussen Freud en Breuer se teorie van histerie waarop Koestenbaum die meeste van sy sieninge baseer. Die “double talk” verwys na die onvermoë om iets direk te kan sê of bely en in hierdie literêre proses is dit presies wat psigoanalities gebeur: die teks word ’n plek waar gerepresseerde gevoelens na vore kom.

Koestenbaum verwys ook na intellektuele samewerking tussen vroue, hoewel sy studie spesifiek op die manlike begeerte gefokus is: Sandra M Gilbert en Susan Gubar se The madwoman in the attic (1979), die bundel poësie van Jane Miller en Olga Broumas getiteld Black holes, black stockings (1985), en Hélène Cixous en Catherine Clément se La jeune Née (1975) (Koestenbaum 1989:13).

Freud en Breuer se Studies on hysteria (1895) ondersoek die redes vir Anna O se histeriese reaksie. Ondertussen is sy in die geskiedenis geïdentifiseer as die feministiese aktivis Bertha Pappenheim wat die betekenis van histerie verander. Dit word deur feministe gesien as ’n rewolusionêre en selfaangeleerde strategie om die patriargie te ondermyn.

Freud vergelyk histerie met “a photographic script which has become intelligible after the discovery of a few bilingual inscriptions” (Koestenbaum 1989:34). Ook Derrida in sy lesing oor Freud en die onbewuste, “Freud and the Scene of Writing”, wys op die metaforiese aard van Freud se beskrywings en dat iets altyd in terme van iets anders beskryf word (Writing and difference, 1978:196). Trouens, Freud beklemtoon dat die onbewuste ook nie ’n duidelike onderskeid kan maak tussen beelde nie: geld = faeces.

Die histeriese pasiënt praat twee tale; sy is soos ’n steriele dubbelblom — mooi, maar steeds steriel. Vervolgens dan gedigte.

Die meerderheid gedigte opgeneem in Gay & lesbian poetry in our time is waarskynlik meer om die polities-sosiale relevansie as werklik digterlike gehalte geplaas. Ons vind wel uitstaande gedigte hier van Thom Gunn, WH Auden — om twee name uit te sonder — maar in die geheel gesien bevredig die bydraes nie as gedigte nie. Daarvoor is die aanslag te polemies, die versbou te los. Dit is nie digters wat praat nie, maar eerder aktiviste. Dieselfde problematiek was ook aanwesig in die tagtigerjare in Suid-Afrika toe die boodskap van die gedig belangriker geag was as die vorm-aanbod. Daar was selfs geargumenteer dat die soort gedigte hul eie digterlike eise stel en dat dit volgens ander voorskrifte gelees moet word.

Johann de Lange se bundel Nagsweet verskyn in 1991. In hierdie bundel word genderpatrone eweneens omgekeer. Hier tref ons ’n man as kyker, as voyeur, aan wat ’n ander man (dikwels anoniem) tot seksuele objek verklaar.

Tongnaai II

Op jou maag, met een been hoog opgetrek,
kan ek sien tot waar jou blonde beenhare
strek, verdonker en verdig, en die dik rif
van jou horing tussen harde boude in verdwyn.

Judasoog wat vir ’n tongnaai oper plooi,
geurige kreukel met ’n vag bruin krulle,
ring wat ritmies knel as die eerste fel spasmas
die skoot diep uit my swaar balle boontoe bring

en stoot tot by die rooi geswolle knop wat klop
en taai wit wiele oor jou rug uitrol.
Jou lyf maak my jags vir growwe taal
- hol en horing, pielkop, fok en tos -

want in my mond is sulke soepel woorde
dik en vlesig en vrank soos jy. (91)

De Lange se digkuns problematiseer die liefdesdiskoers op vele vlakke. In die eerste instansie word die konvensioneel aangesprokene (naamlik ’n vrou of die sogenaamde donna angelicata in die Middeleeuse digkuns) ’n man. In die tweede instansie ontbloot hierdie gedigte hul problematiek of energie. Die leser word gekonfronteer met ’n genderdiskoers wat die onderliggende energie van die teks is.

Nagsweet is in 1991 gepubliseer toe hierdie soort gedig as uitdagend beskou is. Ook was gayregte binne die pre-demokratiese Suid-Afrikaanse konteks ’n volledige onwerklikheid. Nie alleen oortree die digter dus die konvensies van die digkuns nie, maar hy betree ook die gevaarlike terrein van die homofiele liefde wat as onwettig beskou is. (Pas in 1998 is anale seks nie meer ’n oortreding binne die Suid-Afrikaanse gemeenskap nie en word homoseksualiteit as wettig beskou.)

Die teks funksioneer dus op twee vlakke, te wete op die vlak van die genderdiskoers en die politieke wet. Beide wette word oortree in hierdie gedig wat opsetlik die banale, grensoorskrydende aard van die homoseksuele seksaksie as fisiek kru wil uitstal voor die leser as voyeur. Dit word dan gekoppel aan die digterlike taal wat ’n verdere oortreding van wetmatighede is.

Die konvensioneel Afrikaanse leser is dikwels heteroseksueel, wat die skokwaarde van die teks verder manipuleer. Die digter stel homself (en sy liefdesobjekte) uit voor die speurende blik van die leser wat die banale ruimte van ’n toilet of steeg betree. Ook word die leser voorgestel aan die anus van die liefdesobjek (soos Johnson en Koestenbaum aantoon in die teoretiese afdeling) en so word die taboe dus verbreek. Sodomie word allemansgoed.

Teenoor die implisiete metaforiek van Leipoldt en ID du Plessis word die metaforiek by De Lange eksplisiet, kru en terselfdertyd gelaai met nuwe poëtiese krag. Deur kruheid op sigself aan te bied as poëtika word die seksuele nuut beskou of is hier in Sklovsky se terme dus sprake van ostranenie of vervreemding.

Hierdie oortreding van die patriargale orde kom duidelik na vore in die gedig “Aars poetica”, opgedra aan DJ Opperman, waarin die wet van die vader (as kastreerder en beheerder van orde in Lacan se terme) en die poëtiese wet van die vader (as kanoniseerder en simbool van die metaforiek) verseksualiseer word.

Aars poetica
vir DJO

Ek het jou opgetel
en deur die smal
geswolle poort
die warm skuit

gestoot
tot jy blink
gebeuk het
soos die see

en in jou sweet
geswel
tot dié steil mas
van bloed

wat steierend
’n skuiwergat bly soek. (92)

Opperman se ars poetica word geapproprieer en bloedskendig “vermink”. Dit is asof hierdie gedig van De Lange as ‘t ware saamslaap met Opperman se vers: ook is daar ’n letterlike seksuele begeerte wat uitgespreek word om die (vader)digter te penetreer. Hierom word die gedig aan DJO opgedra: ’n soort intertekstuele kortpad, maar ook ’n psigoanalitiese begeerte tot die liggaam van die ander teks en die digter Opperman.

Maar ook wil hierdie gedig ’n stelling maak teen die kanon van die Afrikaanse digkuns — met Opperman as hoofkanoniseerder — met sy spesifieke voorskrifte van goed/sleg of groot/klein. Die hele bundel staan dus in die teken van oortreding en betreding.

Ook “Kroegvaart” (opgedra aan Bertus) met sy Latynse motto: “Otiosis locus hic non / est discede morator” Graffiti Pompeiji (“Hierdie plek is nie om te luier / slenteraars gaan weg”) bewys dat die digter ironies genoeg besig is met sy reis van betreding binne die Afrikaanse digkuns.

De Lange se digkuns aktiveer ’n bepaalde genderpolitiek van aggressiewe manlike cruising en Vigs, van anale seks en blow-jobs. Die estetiese voorskrifte en implisiete morele kodes van die digkuns word oortree.

Dit is ’n digkuns waarin die genderpolitiek aggressief vooropgestel word, maar steeds deur poëtiese tegnieke ondersteun word. Selfs al gru die leser vir die eksplisiete aanbod, kan die digterlike energie nie ontken word nie. Die digter stal sy voorkeure uit aan die leser wat gekonfronteer word met hierdie dikwels blatante ervaringe van gay seks. Terselfdertyd word die leser ook geposisioneer as voyeur of afloerder:

Loergat

Die loergat is ’n judasoog,
sê nooit: ek’s eensaam, of het lief,
wys lies of lul, die skaam bruin oog,
’n mond wat rond pleit: Asseblief — (29)

Hierdie gedig som die transaksie op van sowel die gay seks as die leser as afloerder in die judasoog van die gedig. Die een wat asseblief sê, is die cruiser en die digter wat pleitend vra om gelees en aanvaar te word.

Ofskoon die spreker in die gedigte dikwels aggressief en afwysend op die oppervlak blyk te wees, verraai die gedigte ook ’n soeke na aanvaarding binne die Afrikaanse kanon. Die spreker erken deur al die intertekste ’n bekendheid met die Afrikaanse digkuns. Die genderpolitiek is aggressief, waarskynlik saam met Koos Prinsloo se Slagplaas van die mees skokkende en uitdagende tekste in Afrikaans.

Die verse in Nagsweet skryf teen die gevestigde norme van die Afrikaanse digkuns in. Dit onthul ’n bepaalde genderdiskoers wat buite die ervaringsfeer van die meeste lesers lê. Juis hierom kan dit aandag trek gewoon net om die skokwaarde. De Lange aktiveer egter ook ’n sterk digterlike diskoers wat genderpolities werk. Dit is egter die genderdiskoers wat eerste die aandag trek: die gebruik van kru, manlike taal; seksuele aksies in toilette, en so meer. Dit is gedigte wat dus die genderpolitiek voorop wil stel, soos wat pornografie in die eerste instansie die liggaam as seksuele objek wil beklemtoon.

Hierom het De Lange se kortverhaaldebuut in 1996, Vreemder as fiksie, so ’n hewige reaksie ontlok van ’n behoudende kritikus soos Ia van Zyl in Die Burger. Die emosionele geweld wat hierdie genderpolitiek aktiveer, is vir die meeste konvensionele lesers onnodig kru en aanstootlik. Hierom rand so ’n skrywer sy lesers met woorde aan (in Ia van Zyl se woorde) juis omdat sy genderkonstruksie buite hul raamwerk val.

So beskou is feminisme (of dan: feminismes) soos die tekste van De Lange identiek in hul “double voicing”. Hierdie soort tekste kritiseer die genderkonstruksies van die patriargie, maar kan, ironies genoeg, nooit los daarvan gelees of begryp word nie.


Resepsie van Nagsweet

Etienne Britz som die problematiek rondom hierdie bundel ten beste op in ’n oorsig in die verdwene weekblad, Vrye Weekblad (12-18 Julie, 1991) onder die titel: “Nagsweet: Nóg ’n aangereikte warm patat”.

Dit is ’n bundel wat weens sy “weerlose inhoud buitengewone beskerming en toeligting nodig het”, argumenteer Britz. Ofskoon hy geen smaak vir die gedigte het nie, verwys hy na die gevaarlike skoonheid van Nagsweet. Sy hele argument word geposisioneer teen die literêre establishment se vrees vir gevaarlike en grensoorskrydende tekste. Ironies genoeg is een van die resensente wat die teks nie wou bespreek nie, Merwe Scholtz, ’n teoretikus wat poësie nog altyd gelees het as ’n talige vorm met sy eie stilistiese wetmatigheid eerder as om te fokus op die tematiek.

Nagsweet is, kortom, ’n aangrypende boek van die middestad, die nag, van honger, verlatenheid en lugubere bevrediging.” Volgens Britz skep hierdie bundel ’n ruimte of stuk vryheid vir alle mense en in navolging van WF Hermans is dit ’n boek wat “die eensaamheid van alle mense ophef”. Vir Britz is die aggressiewe aard van hierdie gedigte juis begryplik vanweë die literêre establishment se onvermoë om daarna as poësie te kyk. Dit is dan ’n bundel wat ’n slagoffer is van konvensionele vooroordeel en meer spesifiek gender-vooroordeel.

’n Resensent wat al hierdie vooroordele vertoon, is Andreij Horn in Die Volksblad (10 Junie, 1991) onder die voorspelbare titel: “Verstommende talent misbruik”. Die resensent vind dit jammer dat die digter se talent misbruik is vir die bevrydingstryd van gay mense wat hy gelyk stel aan ’n politieke bevrydingstryd, en meer spesifiek, die stryd in Namibië.

Wordende naak was vir hom aanvaarbaar en dit het selfs simpatie by die leser gewek. Ook kan hy nie sy afkeur verberg oor die Battiss-afdruk nie — ’n rede waarom die bundel nie deur Tafelberg-Uitgewers gepubliseer is nie en hierom by die indertydse “ondergrondse” Taurus uitgegee is. Hy vind die gedigte aanstootlik en walglik en hy skryf: “’n Mens het met dié bundel nie ’n keuse nie. De Lange verkrag jou daarmee.”

Horn gebruik ook ironies genoeg seksuele metafore om sy afkeer mee uit te druk: “Hy doen sy ding sonder aansiens des persoons. En hy druk dit in jou keel af. Hy vryf jou dit onder die neus. En hy stoot jou van hom af weg.” Ook meen hy dat Wordende naak meer volwasse en beheerst was en spreek die hoop uit dat die digter uit hierdie fase sal breek. (Oorspronklik was dit een bundel, wat die digter geskei het bloot om tematiese redes.)

Wilhelm Liebenberg sien die bundel raak vir die politiek wat dit wil uitdra. “Hierdie tong is ’n springmes” (De Kat, Desember 1991) analiseer die seksistiese metaforiek van die bundel en dit wys in welke mate die leser gevangene is van die digter se projeksie. Dit gaan om mag en die tong word met ’n springmes vergelyk en die liefde laat diep wonde. Liebenberg aktiveer ook die sadomasochistiese kode van die bundel. Ten slotte vrees hy dat die wêreld van die loergat die wyer werklikheid vernou en mag verloor.

Henning Snyman lees die bundel teen die agtergrond van ’n gay paradigma (“Skokkende word literêre skoonheid” in Rapport, 14 Julie 1991). Hy lees Wordende naak en Nagsweet as ’n tweeluik en betrek Walt Whitman, García Lorca, Allen Ginsberg, WH Auden en die “oorlogsdigter” Wilfred Owen.

Die emosionele en lyflike aard van die gedigte word bespreek, maar Snyman wys daarop dat die digter as verfynde woordkunstenaar die oënskynlik skokkende gegewe tot literêre skoonheid verwerk. Die styl pas ook die gegewe — vir Snyman die elementêrste eis van die letterkunde.

TT Cloete skryf in “Die erotiese as vertrekpunt ...” (Beeld, 8 Julie 1991) eweneens oor die skokkende aard van die gedigte, maar hy wys daarop dat dit binne ’n internasionale konteks nie meer as sodanig ervaar sal word nie. Hiermee beklemtoon die resensent die kodes van die Afrikaanse poësie en die ontvangs van gedigte binne so ’n klein letterkunde.

Dit gaan om verydeling en breekbaarheid vir hierdie resensent, wat die gedigte lees kennelik met ’n vermoë om dit wyer te situeer. Hy meen wel dat die gedigte kan klaarkom sonder die blatante. Waarskynlik is dit ’n verbloemde morele beswaar van die resensent, wat ten slotte meen dat die digter in staat is tot die vertaling van die mees delikate, getemperde menslikheid en tot ’n geraffineerde sintuiglikheid en taalgebruik.

Marthinus P Beukes skryf in “Die sweet van die erotiese spel” (in Die Transvaler van 12 September 1991) oor voyeurisme en die oog wat waarneem. Hierom spekuleer die kritikus of die titel Judasoog nie meer geslaag sou gewees het binne bundelverband nie. Die cruising-aspek word uitgewys en dat daar nooit vervulling in hierdie soort verhouding kan wees nie. Die geslaagdheid van die gedigte as gedigte word erken.

JC Kannemeyer bespreek die bundel “’n Kyk deur ’n seksuele lens” in Die Burger (25 Junie 1991) die bundel se strukturele tekortkominge. Hy wys op die retoriese en eksplisiete beelding. Hy sien dit as “gewaagde poësie” wat oppervlakkige indrukspoësie blyk te wees. Dit is gewoon literêre voyeurisme wat uiterlike skittering vertoon, maar nie ’n verborge geheim bevat nie. Die leser word onbevredig gelaat weens die verwarde beeldspraak.

Kannemeyer gebruik die antwoord op Opperman se “Ars poetica” (uit Kuns-mis) om sy besware te staaf. Waarskynlik omdat die digter met Nagsweet, wat Kannemeyer as ’n insinking beskou, die tradisie van die Afrikaanse digkuns “banaliseer”. Die kritiese leser vermoed dat morele besware as strukturele besware verbloem word. Dit is duidelik af te lees uit “Dagsweet of nagmerrie: ’n Tweetalige bespreking oor kontroversiële letterkunde in die openbare biblioteek met spesifieke verwysing na Nagsweet deur Johann de Lange” (Vrystaatse Biblioteke: April-Junie 1992).

Hierdie verslag word gelewer vanuit ’n konvensionele perspektief op ’n hoogs kontensieuse bundel en die effek daarvan op ’n biblioteek. Die keurders wil ook die skrywer se intensies in ag neem en die vraag is: moet hierdie bundel as poësie gelees word?

Die Calvinistiese gemeenskap van die Vrystaat wat hierdie boek as aanstootlik sal beskou en ook die groot gay gemeenskap in hul samelewing word verreken. ’n Seminaar by NALN op 23 Oktober 1991 het duidelike riglyne na vore gebring.

Literêre kwaliteit word as universaliteit gekenmerk en hierom is die bundel volgens die keurder (Gill Siebert) geslaagd. Films behandel hierdie tema openlik; tog word daar ten slotte aangevoer dat die kwaliteit van Nagsweet ongelyk is. Sy verset haar wel teen sensurering wat op ’n kontrole van denke sou neerkom en wys daarop dat ’n bundel soos Nagsweet juis denke wil stimuleer.

Sy sien die sentrale tematiek van die bundel as verlies wat ’n tema is waarmee elke leser kan identifiseer. Op suiwer literêre grondslag is die werk vir haar “flawed” en op ’n morele vlak oorskry dit die norme van ’n groot aantal mense. Tog is hierdie mense nie lesers van poësie nie. Die werklike leser sal in staat wees om dit in perspektief te sien en die meriete te kan bepaal.

Desirée Nordier het die funksie van die skrywer bespreek. Sy betrek die resepsie van enkele literatore en verwys dan ten slotte goedkeurend na Izak de Villiers se uitspraak by die Nasionale Leeskringseminaar in Welkom (1991): “Geen skrywer is vry om te skryf wat hy wil nie. Sy grense word vir hom deur die leser afgebaken. As die leser nie in ag geneem word nie, sal die boek op winkelrakke bly lê.”

Ironies genoeg was hierdie bundel op 16 September 1991 vierde op die sagteband-topverkopers van Exclusive Books.

Reona van der Nest het sensuur en keuring en die openbare biblioteek as sedebewaker uiteengesit. Sensuur beskerm mense teen potensieel skadelike invloede. Keuring is die evaluering en seleksie van nuwe bronne volgens bepaalde norme. Hierdie keurder gee dan duidelike omskrywings van haar “norme”:

(M)et keuring word verder beoog om:

— ’n gebalanseerde versameling wat alle redelike standpunte weerspieël op te bou, veral t.o.v. kontroversiële onderwerpe. (Dus is bronne wat gemeenskapskritiek bevat aanvaarbaar, terwyl werke wat rewolusionêre verset propageer nie tot die versameling toegevoeg sal word nie.)

— ’n balans te handhaaf tussen groepbelange en algemene aanvraag.

— ’n balans te handhaaf tussen populêre aanvraag en doelwitte t.o.v. kwaliteit.

— bronne wat doelbewus sensasioneel, ekstreem, oppervlakkig en in swak smaak is uit die versameling te sluit.

Hierdie keurder is wel van mening dat ’n keurder belangstellings buite ’n eie raamwerk moet aankoop en ’n gebalanseerde versameling behoort alle redelike standpunte te weerspieël.

Ilse Craven, daarenteen, is ten gunste van die handhawing van morele standaarde. Sy beskou homoseksualiteit as afwykend, ofskoon die ervare leser verby vooroordele kan vorder. Sy beskou homoseksualiteit as verkeerd in die etiese uitlewing daarvan.

Ook Edelgard Stander ondersteun die morele standpunt en verantwoordelikheid van die biblioteek.

Nagsweet is wel aangekoop omrede ’n komitee die verskillende standpunte kon beskou, en in die woorde van Jacomien Schimper is daar verskillende balanserende meganismes wat die kritiek van een aankoper kan beheer. Hierdie bundel is dan ’n interessante toetsgeval vir gendervooroordele. Dit wys ’n onvermoë uit by sommige van die keurders om die gedigte binne ’n gay paradigma te plaas, soos die kritikus Snyman aantoon.


III

Die leser sal waarskynlik kon oplet dat die dubbelspraak kenmerkend van hierdie digterskap is en dat die gedigte meer oordra as ’n gender-kwessie. Die ekshibisionistiese aard van hierdie gedigte is juis ten nouste gekoppel aan die digter se digterlike voorgangers of “vader”-figure.

De Lange is waarskynlik ’n buikspreker vir Leipoldt se “closet”-posisie. Deur hierdie twee gedigte gee hy stem aan die digter se onvermoë om sy seksualiteit openlik uit te leef, en in die gefiksionaliseerde verhaal “Wys my die plek” uit Vreemder as fiksie word Leipoldt se vermeende homoseksualiteit aan bod gebring.

De Lange aktiveer hier dieselfde probleem as wat Janet Malcolm aanspreek in The silent woman (1993) oor Sylvia Plath. Die “figuur” Plath is ’n komplekse persoonlikheid wat vanweë verskillende mites en tekste nie as ’n skoon lei benader kan word nie. Hierom benader Malcolm haar vanuit verskillende perspektiewe of vertel sy as ‘t ware verskillende verhale oor haar.

JC Kannemeyer se biografie Leipoldt — ’n lewensverhaal (1999) betrek ook die komplekse kwessie van Leipoldt se seksualiteit. Kannemeyer skryf:

Die vraag wat onwillekeurig by ’n mens opkom wanneer jy van die talle seuns hoor wat Leipoldt grootgemaak het, is waarom hy dit gedoen het. Was Leipoldt suiwer altruïsties geïnteresseerd in kinders of het hy behae daarin geskep om hulle naakte liggame te sien? Erger nog: was daar sprake van enige homoseksuele verhoudings en het Leipoldt pedofiliese neigings gehad? By ’n gekompliseerde mens soos Leipoldt moet ’n mens by voorbaat verwag dat ook die liefdeslewe ’n groot en ingewikkelde aangeleentheid sal wees (615).

Tog is dit so dat Kannemeyer probeer bewys dat die digter nie homoseksueel was nie; die getuienis van Jeff ten spyt oor die opmerking dat Leipoldt bely het dat hy homoseksueel is (615-618).

Die vraag is nie of Leipoldt homoseksueel was nie. Dit is eerder dat sodanige perspektief nie uitgesluit kan word en bo alle redelike twyfel bewys of ontken kan word nie. Elke lesing, gedig of verhaal bly bloot ’n mening, soos wat dit die geval is met mitiese figure soos Sylvia Plath of Ingrid Jonker.

Dit is dus ook opvallend dat Kannemeyer probeer bewys dat Leipoldt nie homoseksueel was nie met “bewyse” waarmee hierdie leser ook die teendeel sou kon aanvoer. Die verhouding as jong seun met mentor Baxter het duidelik ’n homo-erotiese grondslag en om oor die graad van intimiteit uit te wei, is onsinnig — veral gedagtig aan die feit dat die digter in ’n erg gerepresseerde samelewing geleef het en dus nie daaroor sou geskryf het nie.

Dit is ook nie duidelik waarom Kannemeyer die siening dat Leipoldt die glimlag van ’n jong seun as bekoorlik gevind het, nie as ’n duidelike bewysstuk kan sien nie (615). Om die aangenome seun, Jeff Leipoldt, as ’n outoriteit oor die digter se seksualiteit aan te haal, is eweneens bevraagtekenbaar. ’n Kind sal waarskynlik altyd sy ouer se seksualiteit as “normaal” probeer verdedig. Vergelyk ook Peter Shields se opmerking: “Leipoldt certainly never had any effeminate inclinations. If he was a homosexual, he was very much a closet one” (616).

Hierdie uitspraak — gemaak op 15 Desember 1996 — verraai ’n siening oor homoseksualiteit asof dit gelyk te stel is aan vroulike of verfynde gedrag!

Volgens Kannemeyer is die naakfoto’s van jong seuns gewoon memento’s en as ’n mens hieruit meer sou aflei, sou jy as leser “buitensporige en groteske afleidings” maak. Dieselfde geld Kannemeyer se negering van die feite. Volgens hom was daar net ’n homo-erotiese element in sy samestelling. ’n Homo-erotiese belangstelling, maar nie ’n praktiserende homoseksueel nie.

Ook die seun Jeff word aangehaal: die vader is homoseksueel, maar nie praktiserend nie en die leser voel dat die biograaf sy uiterse bes probeer om almal te oortuig dat slegs praktiserende homoseksuele in wese homoseksueel is. Inderdaad het die digter in ’n Victoriaanse tydperk geleef en waarskynlik het sy Boeddhistiese siening ook ’n rol gespeel met betrekking tot die uitlewing van sy seksualiteit, maar dit kan steeds nie die kondisie ongedaan maak nie.

Daar word nie in hierdie essay geargumenteer dat Leipoldt gay was nie, maar eerder dat daar nie ’n finale interpretasie van sy seksualiteit gemaak kan word nie. Dit bly in wese ’n perspektief op die komplekse psige van ’n digter wat binne ’n gerepresseerde tydvak nie openlik durf uiting gee het aan sy begeertes nie.

Die digter Johann de Lange se interpretasie van sy seksualiteit via ’n gedig gee eweneens ’n ander perspektief wat saam met die verhaal “Wys my die plek” uit Vreemder as fiksie gelees moet word. Die spekulasie tussen die spreker en die Prof word gebaseer op ’n brief wat Leipoldt geskryf het. Dit handel oor ’n besnydenis. ’n Karakter wat homself besny het, skryf vir Leipoldt. Daar vind ’n erotiese eenwording plaas tussen die karakter en Leipoldt wat ’n soort obsessie openbaar met hierdie daad. Deur Leipoldt tot vertroueling te verklaar, maak hy hom medepligtig aan die daad en is die suggestie dat Leipoldt gay is, of die karakter se kondisie simpatiekgesind is. Die leser weet helaas nie wat die werklikheid is nie. Wat wel fassinerend is, is dat Leipoldt hierdie brief bewaar het.

Die slot van die verhaal lui soos volg: “By ’n swak digter sou daar geen raaisel gewees het nie, of soos die Prof op ’n keer teenoor my gesê het: ‘Swak digters se lewens is dikwels een te veel vir hulle talent.’”

Vervolgens word die twee gedigte eers gelees en dan die verhaal betrek.

Leipoldt 1

Hy geur diep in baie blomme,
Die wind in sy groen hare,
Vingerspriete wat tril.

Daagliks nog word hy ontaard
Uit goudgeel klein van moskonfyt,
Uit verse wat diep gekelder lê.

Saans gedenk sy vriende hom
Soos mense ’n glasie wyn klink:
Die nasmaak bly in die volksmond.

Vir kinders dis hy stories uit
Sy lewe op: ’n skeepswrak
Met geraamtes en skepe volgestop.

In die Pakhuisberge by Clanwillian
Groei ’n aalwyn, deurdrenk
Met die bitter sap van eensaamheid.


Leipoldt 2

Saans by die lessenaar:
die borselkop-jonkman,
sy drif soos swael
gesublimeer tot verse,
sy liefde vertaal
tot aanvaarbaarheid:

die meisiemooi mond,
die gepantserde hart,
die blonde slagveld
van maag en dye,
die vesting van boude
nog nie ingeneem
deur die liefde nie,

soek hy ontvlugting
in die sinlike simboliek
van die Ooste,
in die erotiek
van velddiere en plante:
dit word sy hout
vir elke aand
se lyfgesprek.

Met die gordyne diggetrek,
sy kaal lyf teenoor hom
in die spieël,
luister hy na die seun
in die kamer langsaan
wat in swoel drome kreun,
en sy hand soek troos
in sy dye
of in ’n vers: hy
wat woorde
skep, en met
die woorde skep:
digter dus,
en meer-as-mens,
ook sy pyn
bomenslik uitgepuur:
die saadknop
’n mond vol woorde.

(Akwarelle van die dors, 47-49).


In die eerste gedig wys die digter op die verskillende rolle wat Leipoldt vertolk: die storieverteller, die volksanger, en dan sluit die gedig af met die onthulling: dat die digter eensaam was. In die tweede gedig, wat saam met die eerste gelees moet word, verskaf De Lange as ‘t ware die redes vir hierdie eensaamheid: die verlange na ’n seksuele genoot, en waarskynlik ’n verlange wat aangevuur en nie versag word nie deur die aanwesigheid van jong seuns, word hier weergegee. De Lange gee dus in die eerste gedig die konvensionele blik op Leipoldt: dit wat die volk van hom wil weet. In die tweede gedig demistifiseer hy die digter deur ’n onthutsende blik te gee van ’n onanistiese persoon wat die voyeur is van jong seuns.

In die verhaal “Wys my die plek” behandel De Lange die mites rondom Leipoldt. Die verhaal word binne die raamwerk van ’n postmodernistiese bundel aangebied met voetnote om daaraan die skyn van “wetenskaplikheid” en “objektiwiteit” te gee. Uiteindelik besin hierdie verhaal ook op ’n uiters komplekse wyse oor die implikasies van Leipoldt se lewe en dat daar ten einde laaste nooit ’n finale interpretasie gegee sal kan word nie. Tog intimeer De Lange dat daar wel ’n duideliker homoseksuele belewenis aanwesig is as wat Kannemeyer toegee.

Hierdie verbluffend komplekse verhaal ontgin die effek wat skinderstories, ou briewe en foto’s op die “geskiedenis” van ’n lewe het. De Lange se verhaal demonstreer hierdie versplintering en ook die verwysing na die karakter se selfbesnydenis; lewer ook implisiete kommentaar op die teks as selfmutilasie.

In die slotparagraaf skryf hy:

Soms wanneer ek deur die boek blaai, dink ek daar’s heelwat te sê vir die teorie, maar soos met Shakespeare se sonnette is die persona agter die boek meer potent as die raaisel. By ’n swak digter sou daar geen raaisel gewees het nie, of soos die Prof op ’n keer teenoor my gesê het: “Swak digters se lewens is dikwels een te veel vir hulle talent.”

Ook is hierdie dubbelspraak aanwesig in De Lange se oeuvre. Sy hele oeuvre kan gelees word as dit wat behae vind by die Afrikaanse kritiek en dit wat grensoorskrydend, gay en opstandig is. Dieselfde geld waarskynlik vir Leipoldt, behalwe dat hierdie spanning eerder tussen sy lewe en tekste aantoonbaar is; maar in die tekste van De Lange word hierdie repressie opgehef en word daar as ‘t ware uiting gegee aan die digter se donker begeertes.


Desember 2001 — Maart 2003

BIBLIOGRAFIE

Beukes, Marthinus P. “Die sweet van die erotiese spel”. Die Transvaler, 12
September 1991.

Britz, Etienne. “Nagsweet: Nóg ’n aangereikte warm patat”. Vrye Weekblad, 12-18 Julie 1991.

Cloete, TT. “Die erotiese as vertrekpunt ...”. Beeld, 8 Julie 1991.

Coates, Jennifer. Women, men and language. Longman, Londen. 1986.

De Lange, Johann. Akwarelle van die dors. Human & Rousseau, Kaapstad. 1982.

De Lange, Johann. Nagsweet. Taurus, Johannesburg. 1991.

De Lange, Johann. Vreemder as fiksie. Human & Rousseau, Kaapstad. 1996.

Derrida, Jacques. Writing and difference. Vertaal deur Alan Bass. Routledge & Kegan Paul, Londen. 1978.

Gentile, Mary. “Adrienne Rich and Separatism: The Language of Multiple Realities”, Maenad, vol 2, no 2 (Winter 1982).

Gilbert, Sandra. “Life’s Empty Pack: Notes Toward a Literary Daughteronomy” in Robert Con Davis (red). Contemporary literary criticism. Longman, New York. 1986.

Gilbert, Sandra and Gubar, Susan. The madwoman in the attic: The woman writer and the nineteenth century literary imagination. Yale University Press, New Haven. 1979.

Horn, Andreij. “Verstommende talent misbruik”. Die Volksblad, 10 Junie 1991.

Iragaray, Luce. “When our lips speak together”, vertaal deur Carolyn Burke, Signs, 1980, vol 6, nr 1. 1980.

Johnson, Barbara. “Les Fleurs du mal armé: Some Reflections” in Harold Bloom (red) se Stéphane Mallarmé — Modern critical views. Chelsea House Publishers, New York. 1987.

Kannemeyer, JC. “’n Kyk deur ’n seksuele lens”. Die Burger, 25 Junie 1991.

Kannemeyer, JC. Leipoldt — ’n lewensverhaal. Tafelberg, Kaapstad. 1999.

Koestenbaum, Wayne. Double talk — the erotics of male literary collaboration. Routledge, Londen. 1989.

Liebenberg, Wilhelm. “Hierdie tong is ’n springmes”. De Kat, Desember 1991.

Malcolm, Janet. The silent woman. Papermac, Londen. 1993.

Montefiore, Jan. Feminism and poetry (Language, experience, identity in women’s writing). Pandora, Londen. 1987.

Morse, Carl & Larkin, Joan: Gay & Lesbian poetry in our time — An anthology. St Martin’s Press, New York. 1988.

Prinsloo, Koos. Slagplaas. Human & Rousseau, Kaapstad. 1992.

Snyman, Henning. “Skokkende word literêre skoonheid”. Rapport, 14 Julie 1991.

Vrystaatse Biblioteke. “Dagsweet of Nagmerrie: ’n Tweetalige bespreking oor kontroversiële letterkunde in die Openbare Biblioteek met spesifieke verwysing na Nagsweet deur Johann de Lange”. April-Junie 1992.

Walters, Minette. The dark room. MacMillan, Londen. 1995.

Wittig, Monique. The lesbian body. Vertaal deur David le Vray, Avon Books, New York. 1976.


Joan Hambidge is skrywer, professor en ’n vise-dekaan aan die UK.

terug    /     boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.