The shape of my heart
Joan Hambidge
My woorde gaan mank aan beelde
jy hou nie van my gedigte nie dit lewer jou uit aan ander se mond en oog
dit beskut jou nie dit lê jou neer in n dal van doodskaduwee
waar skandeerders en ryme vergaan.
Tog is dit al wat ek jou kan bied:
n gedig. n Ding kwansuis in woorde
wat agter woorde lê, wat verby woorde praat.
n Gedig is iets wat jy opsê en dis iets waarmee jy afsê.
In ons geval grense besê of trek, hoor ek jou korrigeer.
Voor jou was daar ander. Ná jou sal daar nooit weer iemand
wees nie. Nooit weer iemand wat die vorm van my hart
so noukeurig, so absoluut, so totaal
soos n hartoorplanter verstaan.
Miskien lewe my verse almal op geleende ure,
op Louis Washkansky-tyd. Boonop die aantyging dat die digter
meer op die voorblad soos die sjirurg wil staan.
En die oorspronklike doel voor oog aanskoulik gemis.
Op n dag sal ek ophou om te wonder oor hierdie proses
soos waarom moes daardie meisie presies op daardie nood-
lottige dag haar hart afstaan aan n ou, afgeleefde man? En terugkeer na die oorspronklike doel van die woord:
sy het gelewe met n kunshart, het sy nie?
|