PoësieNet - rondom poësie; nuwe gedigteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
No matter how the replica watches online master series simple and classic, it is swiss replica sale very popular, more importantly, Master Series wrist watch, generally are relatively thin, this table is replica watches only one of the basic blue dial, equipped with cheap replica watches automatic movement 896/1, automatic gold has a hollow.
LW Hiemstra Trust



Bekendstelling: Daniel Hugo

Joan Hambidge

By Protea Boekwinkel, Stellenbosch


Dat pyn bestaan, is nodig

sorgelose liefde lei maklik
tot onversorgde verse: die digter
gooi woorde rond, dekadent
soos ’n ryke sy geld strooi

maar sodra die liefde instort
begin die digter op sy woorde let
weet hy verlies is ’n belegging
tel hy sy pyn sent vir sent.


Dit is, wat my betref, een van die klinkendste verse in Die twaalfde letter, die jongste bundel van Daniel Hugo, ’n bedrewe vakman. Hiermee tree die digter in gesprek met oa Van Wyk Louw se vers wat al soveel parodieë en “antwoorde” beleef het. Hugo se digkuns staan in die teken van die gesprek met sy voorgangers soos Opperman, Cloete, en in Engels Auden en Ogden Nash. Hy dra gedigte ook gul op ander digters soos Komrij wat hom goed verteenwoordig in sy Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte.

Die digter is ’n bedrewe vertaler en ek is van mening dat sy vertalings (eintlik: herdigtings) van Herman de Coninck se Liefde, Miskien (Queillerie, 1996) een van die hoogtepunte in sy oeuvre verteenwoordig.

Speels is die digter ook: sy “Persoonlike korrespondensie aan Opperman” (op die maat van Auden se brief aan Lord Byron) uit die bundel Vuurdoring (Haum-Literêr, 1987) is fantasties. So dig hy onder meer oor my:

Pas met ’n bundeltjie Hollywood-kitsch
Gedebuteer jou eks-assistent, Lonestar Hambidge

Die digter is waarskynlik die mees behendige beoefenaar van die speelse vers en satiriese gedig in Afrikaans, ofskoon daar soms ook ’n melancholiese toonaard opval soos in Die boek Daniel en sy gedigte oor sy ontslape broer.

Daniel Hugo, saam met Johann de Lange, Johann Lodewyk Marais, Theunis Engelbrecht, Lucas Malan, en later HJ Pieterse, is digterlike tydgenote. Dan was daar ook groter digters aanwesig soos Krog, Breytenbach en Cloete. Om van Wilma Stockenström en Cussons nie te vergeet nie! Dit is die digterlike genepoel van ons generasie van tagtig. ’n Digter is so goed soos sy/haar tydgenote en waarskynlik het hierdie digtergenerasie so sterk kon praat juis omdat daar woord en wederwoord was. Nie net in die digkuns nie, maar ook in die bloedige bedryf rondom die digkuns. Die belangrikste resensies wat ’n digter ooit ontvang, is van ’n mededigter. Dit is waarskynlik skerper, snerpender en juis tersaakliker. Jou mededigter sien die stoplappe en foute beter raak. Dit is juis hierdie “edge” wat vir die poësie goed was. Voordat alles te maklik geword het en skryfsels as gedigte paradeer.

Nog ’n liefdesgedig

my liefste lief, hoe maak ’n mens
’n liefdesvers uniek? so spesifiek
dat dit alleen op jou kan dui?
want besing ek — met alle respek —
die lyne van jou bors of dy
sien elke geletterde skarminkel
hoe sy meisie net vir hom uittrek,
en sê ek dat jy blond is soos kerswas
is daar ’n paar miljoen vroue
wat perfek by dié beskrywing pas
— ’n gedig is skaars ’n foto of skildery —
verstaan jy nou dat ek liewer stilbly?

en kyk: ’n verliefde digter wat swyg
dit, my liefste, dit is uniek

En inderdaad is hierdie stilte ’n unieke tegniek. Die digterlike dilemma word ook soos volg verwoord:

Digterlike dilemma

ek het jou te lief
vir woorde
lief

dit wil sê

jy is die dief
van my woorde
skat

Dit is ’n gedig wat Auden se bekende uitspraak oor die digkuns aktiveer: dat die digter die gedig liewer het as die geliefde. Maar die gedig kan net ontspruit uit die geliefde en so word Auden se dictum dus verkeerd bewys.

Granaat

Jy sê: “Gaan steel vir my ’n rooi granaat,
toe, die bure het ’n lieflike boom.
Vir my is dit die vrug van passie.”
En ek: “Maar dis mos pure poësie,
jou loflied op die bloeiende granaat.
Vir Audrey Blignault was dit ook ’n droom.”

“O,” sê jy, “só maak ons ’n slinkse sprong
van romantiese diefstal na plagiaat —
en dit om blote laksheid goed te praat.”
Skielik hang dit plofbaar in die lug:
’n granaat is baie meer as ’n vrug.
Verliefde digter, byt liewer jou tong.

Intertekstualiteit, die modeverskynsel van ons postmodernistiese tyd, word deur die digter so aangetree: “romantiese diefstal” eerder as “plagiaat”. Hiermee aktiveer die digter sowel Louw se siening (van die misdoen in die skoene van die grotes) as Eco se opmerking dat elke liefdesgedig ’n antwoord is op die reeds geskryfde, geykte stelling dat ek-het-jou-lief alreeds in ’n Barbara Cartland-roman staan. Vernuftig, speels.

Dikwels is net stilte die antwoord. Asof die digter sy eie posisie wil dekonstrueer en verminder. Tog staan die gedig reeds daar. En kan die impak van die eie selfvermindering nie ongedaan gemaak word nie.

Die bekendste Hugo-temas vind ons: die liefdesvers, die erotiek, die speelse gedig, spel met ander digters, die obsessie met die dood. As jong digter het hy onder die ban van die Opperman-invloed gestaan, soos ons dan ook weet uit die gedigte wat Tom Gouws oor hom skryf in Syspoor wat so pas by Human & Rousseau verskyn het.Toe was daar ook ’n kort Cloete-tydperk. Uiteindelik het die digter sy eie stem gevind.

As digter was ek nog altyd jaloers op sy uitstekende tegniese vernuf en die suiwer afronding van sy verse. Trouens, aan jou vriende sal jy geken word, lui die spreekwoord. Aan jou tydgenote sal jy gemeet word. Die tagtigerjare het opwindende, transgressiewe digters opgelewer en ek onthou nog die Stet-agterblad met my, De Lange, Koekie Ziervogel en Hugo wat so wild baljaar het op die babbeljoentjie. Die letterkundige gemeenskap het gegons oor die gedigte. Myne en De Lange s’n gay; Ziervogel en Hugo s’n jags en opwindend.

Vloekskoot

só wil ek sterf: skielik
en sonder om iets te voel
waar ek by my lessenaar
sit en ’n gedig bedink
oor die genadige dood

sê maar deur ’n dwaalkoeël
wat ongefokkenhoord
die ribbes binnedring
soos tussen die sillabes deur
’n vloek gloeiwarm glip

Die gedigte in die jongste bundel tree ook in gesprek met vroeër verse in Die boek Daniel:

Letter-lyk

Die einde van alle anekdotes
Uiteindelik as ek dood is

Die kolofon-vers en die gedig oor Nijhoff het ouer pendante.

Hierdie letterlike ontginning van die woord se semantiek is eie aan Hugo se skeppingsdrif. Ook heraktiveer hy die proses van die leser as aangesprokene en die skryfproses as ’n dikterende mag. André P Brink het in Rapport (7.10.84) verwys na die bekende anekdote van ’n kamerorkes wat Grahamstad besoek het. Mag hulle volgende keer die hele orkes saambring was ’n oningeligte se versugting. Hiermee het Brink waarskynlik geïntimeer dat Hugo met groter allure moet dig. Die speelse Hugo antwoord die kritikus soos volg:

As ek my wou steur aan die kritiek
op my yl kwartet en limerick
sou ek dit ewe grênd
ruil vir ’n oempa-bênd
met heelnag lank hyg-en-pomp-musiek.

Hierdie antwoord (uit Die boek Daniel) wys waarskynlik hoe die digter voel oor die kritiek: dit gee net stoom vir nog ’n vers. Hugo is, nes Johann de Lange, in Perspektief en profiel nie voldoende bespreek nie. Ook nie deur die Akademie bekroon nie. Gelukkig voed hierdie soort besinnings en bekronings net die ego en nooit die kuns nie, soos Johann de Lange ons leer.

Ook het hy ’n digterlike alter ego geskep: Daan van der Merwe/ Daantjie Donnerbos/ Daniel-in-die-leeukuil; en die selfspot in vele van sy gedigte is eweneens ’n digterlike deug.

Ofskoon die digter al beweer het in Die klein aambeeld (wat hy gepas aan Opperman opdra): “(aan ’n geskryf oor die digterwoord/ het ek, ten slotte, ’n broertjie dood)”, is dit by uitstek ’n digterskap wat sig besig hou met die digterwoord, soos die jongste bundel weer eens bewys. Die twaalfde letter is die liefde, maar ook letter van die liefdeswet. ’n Letter-like besinging van die liefde. Dit is waarskynlik die teken in sy onbewuste as ons Lacan sou moes glo.

In Die klein aambeeld staan die roerende reeks oor die dood van ’n broer. Ook hier vind ons die ironiese blik op die dood:

Jorsie Porsie

Jorsie Jorsie Kankerborsie
geswelde klier en knieë wat swik
hy’t nog nooit ’n vrou gesoen nie
net ’n ma wat oor hom snik

en terwyl sy maats nog speel en veg
raak Jorsie se asem sommer weg


weerklank

môre as hul jou graf uitkap
sal die pik teen ’n vuursteen klap
en ’n kort oomblik suiwer sing
voor dit diep in die swart grond sak


begrafnis

al die kere wat ek jou moes karwei
van rystoel na bed van hier na daar
was maar repetisies vir my
uiteindelike debuut as draer

Waarskynlik was al die ander bundels net repetisies vir die jongste bundel Die twaalfde letter, wat in sy vaardigheid en suiwerheid die kroon span op ’n lang en produktiewe digterskap. Die digter het hoofsaaklik sy werk deur al die jare by Tafelberg en Human & Rousseau gepubliseer. Eersgenoemde uitgewershuis publiseer al hoe minder; laasgenoemde stel kennelik net belang in die tekste van bekendes wat ryme en versies pleeg eerder as om die digkuns te bedryf.

Die twaalfde letter

nuwe liefde, nuwe lied:
enkel elle kan al’s vertel
van dié ruimte: ’n rymgebied

die verloklike letter el
staan eerste in my el-fabet

en jy my aller-elste lief
jy is die alfa van my bed
vir wie ek gloeiend letters giet

’n Laaste gedig wat die toonaard van hierdie bundel goed opsom:

’n Saak van gevoel

die liefde ken geen logika nie — net
so is die taal: klank en betekenis
gaan selde ’n egte verbintenis
aan — daarom is el nie die elfde nie
maar twaalfde letter van die alfabet

en tog is taal en liefde nie dieselfde nie:
die een is ’n weefsel van die verstand
die ander — wel, hoofsaaklik — van die hand
maar beide bewaar ’n gedagtenis
aan die sinne-nes van die liefdesbed

liefde is nie blote sensasie nie
sê jy, dit is ’n saak van die hart dié
van intense emosie
                                   maar hartjie,
het ek dan nie gevra om jou hand nie?
ek begryp dat jy bedenkinge het
maar ons sal ons van harte moet berus
dat die liefde totaal onlogies is

En wie moet ons bedank (behalwe vir die muse Carina)? Natuurlik vir Protea Boekwinkel wat die Kaapse uitgewers troef met hul digkunspublikasies en bewys dat gedigte gelees word en verkoop. Baie geluk, Daniel, met ’n mooi bundel. Mag dit goed ontvang word en veral goed gelees word.

September 2002

Bibliografie

De Conick, Herman. Liefde, miskien. Queillerie, Kaapstad. 1996.

Eco, Umberto: The role of the reader. Explorations in the semiotics of texts. Hutchinson, Londen. 1979.

Gouws, Tom. Syspoor. Human & Rousseau, Kaapstad. 2002.

Hugo, Daniel: Die klein aambeeld. Human & Rousseau, Kaapstad. 1983.
Die boek Daniel. Human & Rousseau, Kaapstad. 1986.
Dooiemansdeur. Tafelberg, Kaapstad. 1991.
Vuurdoring. Haum-Literêr, Pretoria. 1987.

Komrij, Gerrit: Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte. Bert Bakker, Amsterdam. 1999.

terug    /     boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.