Johann P Boshoff
Johann P Boshoff (Jan Kempdorp, 1956) het sy kleinkinderdae in Johannesburg deurgebring, in 1973 in Bloemfontein gematrikuleer en in 1983 sy BA Hons in Afrikaans-Nederlands (letterkunde) aan die Universiteit van Johannesburg (destyds RAU) verwerf.
In sy beroepslewe was Boshoff onder meer klerk, akteur, onderwyser, taalpraktisyn en uiteindelik, tot 30 Maart 2004, hoof van Afrikaanse vertaling en redigering van die Nasionale Taaldiens, Departement van Kuns en Kultuur.
Dan verhuis hy na jare in Gauteng terug Vrystaat toe om hom toe te spits op sy skryf- en vryskutvertaalwerk.
Boshoff publiseer (as solo-publikasies en bydraes tot versamelbundels) sedert 1983 aanvanklik grootliks akademies en sedert 1998 veral nie-akademies, te wete poësie, kunsprosa, Christelike oordenkingsbundels en joernalistieke werk. Laasgenoemde toon sy belangstelling in alle kunsvorme, kunstenaars, die dorp Rosendal en fotografie.
Sedert 5 April 2006 woon Boshoff op Bethlehem in die Vrystaat. |