PoësieNet - rondom poësie; nuwe gedigteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
No matter how the replica watches online master series simple and classic, it is swiss replica sale very popular, more importantly, Master Series wrist watch, generally are relatively thin, this table is replica watches only one of the basic blue dial, equipped with cheap replica watches automatic movement 896/1, automatic gold has a hollow.
LW Hiemstra Trust



Poësie: die ‘stiefkind’ van die literatuur

Voordrag oor die poësie gelewer by die TC Pienaar-leeskring op 14 Desember 2000.

Henning Pieterse

Departement Afrikaans: Hoërskool Overkruin (Pretoria)

Tel: (012) 567 3489
E-pos: hpieterse@worldonline.co.za



1     INLEIDEND

Geagte leeskringvriende. Hier aan die einde van die jaar 2000 is dit my voorreg om ’n paar insigte oor die poësie in die algemeen en in die besonder in die Afrikaanse taal met u te deel. Die doel is hoofsaaklik om te bevestig dat die poësie vandag beskou kan word as die ‘stiefkind’ van die literatuur.

Die tradisionele voorstelling van ’n stiefkind (byvoorbeeld in sprokies) is dat dit ’n kind is wat dikwels kil en met onbegrip bejeën word. Sulke kinders word selde gereken en word daarom selde waardeer. Ouers en selfs vriende koester hierdie kinders nie en dikwels word hulle randfigure in die samelewing. Die argument is dan dikwels dat stiefkinders nie volkome verstaan word nie en dat hulle bestaan ongewens is. Hoe waar is dit tog nie van die Afrikaanse poësie nie! Daar is sekerlik meer as een rede waarom hierdie genre afgeskeep word.

Om genre so terloops net kortliks vir u te omskryf voordat ons voortgaan: Dit is ’n Franse leenwoord en dui op letterkundige soort. In enige taal se literatuur word gewoonlik onderskei tussen drie hoofgenres, te wete, poësie, prosa en drama. Elk van die genres kan weer in subgenres verdeel word. Kyk ’n mens maar na die prosa, is dit moontlik om te onderskei tussen die roman, die novelle, die kortverhaal, die essay, die reisverhaal en baie ander nuanserings wat ek nie nodig vind om te noem nie.

Die hoop is nou dat u aan die einde van hierdie diskoers iets meer van die poësie sal begryp. Belangriker nog is dat u dan ook hopelik ’n begeerte sal begin koester om self poësie te begin lees en dat u lewe daardeur verryk mag word. Mag hierdie gesprek bevrugtend inwerk op alle lede van hierdie leeskring se belewing van die Afrikaanse poësie.

Te teoreties kan en wil ek nie wees nie, want teorieë het die nare gewoonte om mense af te skrik, en dit is allermins wat ek vanaand wil bereik. Hoe wonderlik sal dit nie wees nie as ek oor ’n paar maande terugvoering kan kry dat u almal “ekstatiese” poësielesers geword het en dat elkeen deur die lees van poësie u lewens kan verryk. Ek spreek dus by voorbaat, moontlik bietjie voorbarig, die hoop uit dat my beskeie poging oor die poësie die moeite werd vir elke leeskringlid sal wees. Mag dit die vonk wees wat ’n groter vuur sal aansteek en brandend vir die Afrikaanse poësie sal hou.

2     WAAROM WORD POËSIE AFGESKEEP?

Een van die moeilikste vrae om te beantwoord is sekerlik waarom poësie wel die stiefkind van die literatuur en, by implikasie, van leeskringe is.

Tientalle antwoorde sal skynbaar hier gegee kan word. Daar sal myns insiens gaan kyk moet word na die omstandighede van die moderne mens — die potensiële poësieleser. Genoemde mens moet, ten einde sinvol te kan lewe, aan talle vereistes voldoen. Hierdie moderne mens word verder deur allerlei omgewingsfaktore beïnvloed om aan talle maatskaplike eise te voldoen.

  • Ter aanvang wil ek noem dat poësie, veral moderne poësie, gewoon net te moeilik is om te lees en te verstaan. Die leeftempo van die deursneemens is vinnig, wat meebring dat daar nie tyd ingeruim kan word vir lees van “goeie” poësie nie. Dit is nie moontlik om die nuutste digbundel van bv Antjie Krog langs die swembad of op die strand te probeer lees nie. Poësie is ingewikkeld en word nie noodwendig met die eerste lees ten volle verstaan nie. Kyk maar na TT Cloete se poësie, wat wemel van die neologismes. Cloete se verwysingsraamwerk is wyd en sluit sake soos die volgende in: visvang (die natuur), argeologie, geografie, geskiedenis, godsdiens en sterrekunde. Lesers van sy poësie moet dikwels woordeboeke, ensiklopedieë en ander naslaanwerke byderhand hou ten einde die verse sinvol te kan dekodeer. En laasgenoemde is vir die meeste van ons moderne en gejaagde mense onmoontlik. Daarom lees ons maar liewer kortverhale en vermy die poësie.

  • Digbundels van gerekende digters kos vandag enigiets van R70,00 af en meer. Ouer digters se bundels, waarvan gedigte nie in versamelbundels opgeneem is nie, is dikwels nie meer in boekwinkels te koop nie. Daar verskyn ook baie meer romans en kortverhaalbundels as digbundels. Ja, poësie is die stiefkind van die literatuur. Soos dit nou maar eenmaal in die wêreld is, draai alles om geld. Min debutante kan vandag publiseer, omdat die aanvraag na poësie so klein is. Gelukkig is daar internetruimtes waarin die eksperimentele digter kan “publiseer”. PoësieNet (LitNet) is tans die belangrikste ruimte vir Afrikaanse “versiemakers”. Die boekbedryf is ook maar ’n besigheid en waar die vraag na poësie so klein is, resulteer dit in ’n skamele paar gepubliseerde bundels per jaar. Dit is juis hier op grondvlak, by leeskringe, waar die scenario verander kan word. Word ons wel opgevoed in ’n poësieleeskultuur, sal dit moontlik die aanvraag vergroot, wat sal meebring dat meer jong digters kan debuteer en dat die bundels dalk meer bekostigbaar mag word.

  • Die wêreld waarin ons leef, is pragmaties ingestel, wat meebring dat poësielesers geen nuttigheidswaarde uit die lees daarvan kan put nie. Daarom word dit tersyde gestel. Poësie, en glo my enige literatuur, het geen pragmatiese doel nie: Dit is woordkunswerk. Wat kan ’n mens bereik deur die beeldhoukuns of die skilderkuns te bestudeer en te waardeer, selfs die ernstige musiek? Ons poog almal vandag om stokperdjies te beoefen wat spaargeld kan genereer, en om poësie te lees, laat net nóg ’n groter gat in die beursie. Die mens wat in elk geval geen waardering vir kuns het nie, maak nie saak watter kunsvorm nie, sal in elk geval nooit vreugde kan vind in die lees van poësie nie. Tog is ek van mening dat wanneer ’n mens meer weet van die fenomeen poësie, hoe dit werk of inmekaarsit, asook watter lewenswyshede daaruit spreek, sal dit jou wél aanspreek en motiveer om dit te lees, te verstaan en te leer waardeer.

    Laastens wil ek ook die begrip verwagtingshorison aanraak — ’n begrip wat sy ontstaan te danke het aan die resepsie-estetika. Van Gorp (1984: 255) omskryf die term verwagtingshorison soos volg: dit is, eenvoudig gesien, die literêre ervaring van ’n leser. Die verwagtingshorison van ’n leser word hoofsaaklik bepaal op grond van sy/haar kennis van die poëtika, genres, werke uit die literêr-historiese omgewing en die teenstelling tussen feit en fiksie, poëtiese taal (taal van die literatuur) en alledaagse taalgebruik. Na al die voorafgaande argumente glo ek dat die gemiddeld leser se verwagtingshorison met betrekking tot poësietekste baie klein is. Dit bring mee dat die betrokkenes geen behoefte het om nuwe poësie te lees nie, aangesien nuwe tekste vir hulle nie noodwendig iets anders of iets nuuts inhou nie. Op dié wyse verval lesers in ’n groef van “ek weet wat poësie is” met die rampspoedige gevolg dat die teendeel waar is.

        Volgens Jauss, ’n resepsie-estetikus, beleef die leser nuwe tekste slegs as kuns, in ons geval dan poësie, as daar ’n “estetiese distansie”ontstaan tussen die leser se verwagtingshorison en die nuwe teks. Kortliks kom dit dus daarop neer dat nuwe tekste voortdurend die tradisionele lesersverwagting deurbreek met varshede/andershede, en dit is juis laasgenoemde wat die leser laat besef dat hy/sy besig is met nuwe en betekenisvolle literatuur.

         Soos wat die dekades verbysnel, vind daar altyd vernuwing in enige kunsvorm plaas. U is hopelik almal bekend met periodisering, byvoorbeeld in die prosa waar daar eers die plaasroman was, daarna die vernuwing van die Sestigers, met die Sewentigers, die Tagtigers en die hedendaagse postmodernistiese woordkunstenaars. Kunstenaars, ook skrywers en digters, is voortdurend besig om die geykte norme waaraan die lesers gewoond is, te deurbreek. Ek glo die gemiddelde leser se klein of eng verwagtingshorison met betrekking tot die poësie veroorsaak dat hulle poësie nie verstaan nie en dat digbundels daarom ook nie aangekoop word nie. Laasgenoemde persone het gewoonlik vooropgestelde opvattings van wat poësie is en wat dit moontlik nie is nie.

         Kom speel saam en toets u eie verwagtingshorison — of liewer: pas u leeskonvensies toe en verklaar Johann Lodewyk Marais se gedig “Sefapano” hier onder.

              SEFAPANO
              Kruis
         na die
         opslaan
       ons oë
        waarheen ons
         op die berg
             ditapole
               mekopu
                 poone
                  dikgoho
                    dipodi
                     dipere
                      dikgomo
                      vir reën
            gaan bid
            sing
            met ’n stok
            agter die moruti
            werksklere
                 mans in
                   komberse
           vroue met kopdoek
                stofbesaai
                   deur die suurveld
                       beweeg
                    begin die stoet
                      kom hulle bymekaar
                          van Hlomisa
       aan die voet

         Hoeveel van u het dalk dadelik gesnap dat dié gedig van onder na bo gelees moet word en dat die sig-sag-tipografie die bewegende swart pelgrims voorstel?

  • Terloops wil ek dan ook net noem dat baie lesers bevooroordeeld is teenoor digters as sou hulle versteurde en eksentrieke mense wees. Om dié rede word die lees van poësie vermy. Cloete (1986: 5) slaag in groot mate daarin om koue water op hierdie stelling te gooi as hy die mening uitspreek dat digters/kunstenaars nie noodwendig abnormale mense is nie. Volgens hom was daar baie versteurdes onder die kunstenaars, maar daar is duisende versteurdes wat nie kunstenaars is nie. Die kunstenaar kan self doodnormaal wees, maar sy kuns kan anormaliseer, dit kan versteur en onrus stig, selfs revolusies stig. Kunswerke wil orden, dit wil op hulle manier ’n verweer wees teen die chaos, dit wil normeer, en tog wil baie kunswerke van allerlei aard anormaliseer. In die musiek vind ons dit by Bach — Bach, wat wiskundig presies kon harmoniseer en tegelyk kon versteur. Baie van die gesigte wat Picasso of Van Gogh geskilder het, is anormaal skeef, verwronge. Sang is anormaal, want wie gesels normaalweg sing-sing? Dans is anormaal. Wie loop natuurlikerwys in sy kantoor dans-dans rond?

    3     DIE VERSKIL TUSSEN GEWONE TAALGEBRUIK EN POËTIESE TAALGEBRUIK

    In die tydperk voor die Romantiek is die siening gehuldig dat ’n teks poësie is as dit voldoen aan ’n stel voorwaardes waarvan die volgende voorbeelde genoem kan word: vaste beelde, stylfigure, vaste metriese skemas en rymskemas. Met die Simbolisme in die 19de eeu vind daar ’n verskuiwing plaas na die poësie as taalbousel. Die gedig word in die lig van laasgenoemde beskou as taalbousel sonder enige nuttigheid wat instrument word om tot die essensie van die lewe deur te dring.

    Vandag huldig ons hier te lande meestal nog hierdie siening. Poësie is nie informatief soos die koerantberig nie. Jonathan Culler gebruik Wittgenstein se siening in sy studie oor die poësie, Structuralist Poetics (1975):

      I think a poem, even though it is composed in the language of information, is not used in die language-game of giving information (vgl Beekman & De Rover 1987:29).


    Culler onderskei ’n drietal leeskonvensies van die poësie. Hiermee word bedoel dat poësielesers ’n vooropgestelde aantal stategieë het wat geïmplementeer word sodra daar met die leeshandeling begin word. Ek ag dit gerade om iets oor elk van die drie leeskonvensies te sê:

    Die konvensie van distansie ’n Leser stel hom anders in teenoor ’n brief as teenoor ’n gedig. Die ek en die jy in ’n brief is bestaande persone, terwyl die ek of liriese subjek in ’n gedig, asook die aangesprokene en die objekte waarna verwys word, fiktief is. Die veronderstelling is dat lesers glo daar is ’n afstand tussen die teks en die leser. Dit mag onder andere universaliseer. Die ek (spreker) is dus nie die digter nie en dit is hier waar menige poësielesers en lesers van ander literatuur ’n groot denkfout begaan: “Ek hou nie van Lina Spies nie omdat sy so egosentries is, daarom haat ek haar poësie.” “Breyten Breytenbach is ’n groot Kommunis en aanhanger van die Zen-Boeddhisme. Hy is geneig daartoe om banale woorde in sy poësie te gebruik. Sy opvatting verskil radikaal van myne, daarom lees ek nie sy poësie nie.”

         Die maker van die teks is egter nie gelyk te stel aan die persoon wat in die gedig aan die vertel of beskryf is nie. Hiermee kan ’n mens glad nie ontken nie dat die menswees van die digter/skrywer negeer kan word by die interpretasie van ’n gedig nie. TT Cloete, wat dikwels in sy lewe ernstig siek was, se ervarings oor ernstige siekte word in sy poësie gereflekteer. Net so handel Opperman se Komas uit ’n bamboesstok oor sy beroerte en geleidelike herstel daarna — soos hy dit self noem, sy (her)ontwikkeling van “fetus tot professor”. Johann de Lange se homofiele poësie kan in verband gebring word met sy seksuele oriëntasie; net so is Joan Hambidge De Lange se vroulike teenhanger.

    1. Die konvensie van koherensie (samehang) Skynbare loshede en verbandlose sake in ’n teks dui op “oop plekke”. Lesers lees met die doel om eenheid te skep. In die proses om eenheid te skep, is dit meestal die geval dat lesers die oop plekke invul en sodoende die gedig voltooi. Dit is nou eenmaal so dat lesers eenheid wil skep; Jonathan Culler gaan van die veronderstelling uit dat ’n leser altyd van die afsonderlike dele wat in ’n bepaalde raamwerk voorkom, tydens die leesproses probeer om ’n samehangende geheel te genereer.

    2. Die konvensie van dieper of simboliese betekenis Tydens die leesproses soek lesers na ’n tweede laag, dieper betekenis of simboliese betekenis (Beekman & De Rover 1987:32). Selfs op skoolvlak met die behandeling van ’n gedig verwag leerders dat die onderwyser hulle meer van die “eintlike betekenis” of “boodskap” van die gedig moet vertel.


    3.1    Gewone taalgebruik versus poëtiese taalgebruik

    Die Russiese taalkundige Roman Jakobson het in die twintigerjare van die vorige eeu ’n onderskeid gemaak tussen alledaagse taalgebruik en poëtiese taalgebruik. (Eintlik geld laasgenoemde vir literêre taalgebruik in die algemeen, waarvan die poësie één van die genres is.) Wanneer ’n mens die bydrae van Jakobson wil verstaan, is dit raadsaam om die lees van literatuur, hier spesifiek die poësie, as ’n kommunikasiesituasie te verstaan. Volgens Jakobson se elementêre kommunikasiemodel het literêre kommunikasie heeltyd te doen met ’n sender (skrywer) wat ’n boodskap (teks) aan ’n ontvanger (leser) bring. Die voorwaarde vir die ontvanger om die boodskap te kan verstaan of te dekodeer, berus op ’n gemeenskaplike kode, en konteks. Daar bestaan verskillende tipes kodes. Die primêre kode in die teks is die taal, terwyl die sekondêre kodes die literêre kode, genrekode, periodekode en die idiosinkratiese kode is.

    SENDER -----------> BOODSKAP ------------> ONTVANGER
    Gemeenskaplike kode en konteks


    Jakobson onderskei verder verskillende funksies wat ’n rol speel tydens die kommunikasieproses. Slegs een funksie is normaalweg dominant in ’n bepaalde kommunikasiesituasie. Wanneer die sender domineer tydens die kommunikasiesituasie, is die emotiewe funksie dominant. As die klem val op die situasie waaroor daar gekommunikeer word, domineer die referensiële kode omdat verwysing ter sake is. Waar die klem val op die onderhoud van die gesprek/kommunikasie, is die fatiese funksie dominant, terwyl die konatiewe funksie domineer waar die klem op die ontvanger val.

    As die aandag of klem egter val op die boodskap of die taal self, is daar sprake van die poëtiese funksie. Dan gaan die kommunikasie oor niks anders nie as die teks self en die taalgebruik staan in die brandpunt Poësielesers moet konsentreer op die teks self en die wyse waarop die taal in die teks aangewend word. Die fokus mag nie op die sender val nie, aangesien ’n mens dan kwalik van literatuurstudie of literatuurwaardering kan praat, maar eerder van sielkunde — hiér die sielkundige agtergrond van die skrywer/digter.

    Poëtiese taalgebruik(as sinoniem van literêre taalgebruik) berus altyd op twee fundamentele operasies, te wete, seleksie en kombinasie. Die spreker/skrywer kies uit verskillende min of meer ooreenkomstige moontlikhede (paradigma) ten einde ’n sintagma te vorm. Kyk byvoorbeeld na Hans Lodeizen se versreël:

      het paard ploegende de aarde


    Hierdie sintagma kon ook bloot informatief soos volg gelui het:

      die viervoetige dier bewerk die aarde.


    Omdat die digter egter nie bloot informatief wil wees soos die joernalis nie, het hy uit verskillende paradigmas ’n seleksie gaan maak en dit sintagmaties saamgevoeg.

    Miskien is dit nou die aangewese stadium waarop ek die begrippe paradigma en sintagma moet verduidelik. Die term paradigma word in die literatuurstudie, net soos in die linguistiek, gebruik in teenstelling tot die begrip sintagma. ’n Sintagmatiese verwantskap is ’n verhouding tussen elemente in ’n lineêre reeks. Sulke relasies is onder meer belangrik vir die analise van ’n handelingsverloop, terwyl paradigmatiese verhoudings meer gemik is op die tematiese aspek van ’n teks (Van Gorp 1984:223).

    In elke taalsisteem is daar taalitems wat met betrekking tot ’n sekere kenmerk met mekaar ooreenstem en wat dus ekwivalent en uitruilbaar is. So kom die items seun, dogter, man, vrou byvoorbeeld ooreen wat die semantiese kenmerke lewend en menslik betref. So ’n groep items staan in ’n paradigmatiese verhouding tot mekaar en vorm ’n paradigma (patroon of model). Wanneer ’n mens sinne formuleer, vind daar seleksie plaas. Die spreker moet uit verskillende paradigmas taalitems selekteer en dit in ’n lineêre of sintagmatiese struktuur orden.

    Ek gaan terug na Lodeizen se woordkeuse in: “het paard ploegende de aarde”. Die digter moes eerstens uit die naamwoordparadigma kies. Hy het paard gekies. Daarna moes hy ’n handeling uit die werkwoordparadigma kies. Hy het ploeg gekies. Voorts moes hy ’n item kies uit die naamwoordparadigma, wat aarde is. Onthou, as hy anders geselekteer het, kon dit bv iets soos die volgende wees: “die ossewa eg die mielieland”.

    Ek het vroeër gesê dat die fokus in die literatuur op die boodskap en hoe die boodskap oorgedra word, lê. Dit is dus belangrik dat literêre taal sal verskil van die doodnormale gesprekstaal of joernalistieke taal waar die verwysingsfunksie dominant is. In die literatuur is die boodskap of teks en die manier waarop dit gesê word, dominant. Die aandag val dus op die estetiese funksie. Die teks wil nie onderrig nie, dit wil ook nie nuttige informasie oordra nie. Terug na Lodeizen:

      het p aa rd p loegende de aa rde.

    Let nou net daarop hoe die skrywer/digter baie fyn selekteer. Ek het pas na woordsoortlike paradigmas verwys, maar daar is nou verdere paradigmas wat ’n belangrike rol speel. Daar is bv klankparadigmas, grammatikale paradigmas en semantiese paradigmas. In bg geval het die digter ook taalitems uit meer as een klankparadigma gekies. Ten einde alliterasie en assonansie te kon laat plaasvind, het die digter juis paard, ploeg en aarde gekies. Dit is dus duidelik dat literêre taalgebruik die aandag op sigself en niks anders nie, vestig. In ’n koerantberig of brief of verslag sou halfrym irrelevant en toevallig wees.

    Digterlike taalgebruik word gewoonlik beskryf as ’n afwyking van normale taalgebruik. Om op te som kan gesê word dat een van die redes waarom min mense hulle met die poësie vermoei, ook toe te skryf kan word aan die anormale aanwending van die taal, wat meebring dat die betekenis nie voor die hand liggend is nie.

    Benewens die kwessie van seleksie en kombinasie in literêre taalgebruik is daar ook twee ander begrippe wat van belang is in literêre taalgebruik, nl outomatisering en vervreemding. Die geoutomatiseerde waarneming van die werklikheid word deur vervreemding opgehef. Die teks kry sy literariteit (dws literêre status) deur die toepassing van literêre procédés of kunsgrepe. Kunsgrepe vewys na daardie artistieke werkswyse in tekste wat hierdie vervreemdingsfunksie aanhelp. Kunsgrepe wat ek uit die vuis kan noem, is sake soos beeldspraak, rym en stylfigure. As gevolg van hierdie vervreemding word die aandag gefokus op die taal, of die teks self. Elke taal se literatuur verkeer in ’n voortdurende proses van verandering. Die bekende werke/temas raak geoutomatiseerd. Deur middel van vervreemding ontstaan daar vernuwing en is daar sprake van ’n estetiese distansie tussen die leser se verwagtingshorison en die vernuwende elemente van die teks. In die Afrikaanse poësie het die Dertigers veral ’n nuwe beweging geopen. Daarna volg die Veertigers, Vyftigers, Sestigers en so aan.

    3.2     Die verskillende elemente in ’n gedig

    Soos reeds gesê, moet die leser van poësie altyd bedag wees op ongrammatikaliteite in die teks. Die woordorde kan bv ongewoon wees. Halfrym en eindrym is reeds ’n aanduiding van anormaliteit, aangesien ons nie in gespreksituasies al rymende praat nie.

    Wanneer ’n mens ’n gedig benader, moet rekening gehou word met al die elemente, maar elke element in die struktuur is nodig en elke element dien al die ander elemente tegelyk. Elemente wat ek hier vlugtig kan noem, is sake soos ritme, klank(rym), tektoniek (tipografie), ruimte, tyd, perspektief en persoon (die spreker en die ander persoon of persone wat ter sake is). Dit is onmoontlik om ’n gedig sonder ’n spreker te hê en hierdie spreker moet sy vertelling binne ’n bepaalde ruimte situeer, en dit is weer tydgebonde, en so kan ek aanhou verduidelik.

    In die poësie is patroonvorming meestal van groot belang. Betekenisvol is dan dikwels ook die verbreking van patrone. Patroonverbreking het meestal ’n semanties (betekenis-) verrykende funksie. Lesers moet dus algaande geskoold raak met betrekking tot die verskillende elemente in ’n poësieteks. Lees nou die volgende gedig van Ina Rousseau en bepaal die patroonvorming en die moontlike funksie daarvan. Wat wil die gedig sê indien die sintaksis ongrammatikaal vertoon?

      ERKENNING

      1 Jy bepleit die lewe se saak:

      2 jy ontpit vir my die granaat,
      3 jy ontgraat vir my die brasem[1]
      4 jy ontstrik vir my die knoop,
      5 jy ontkern vir my die knop,
      6 jy ontkroon vir my die kwaad,

      7 jy neem uit my hande ferm
      8 en ontleed,
      9 ont-leed en ontleed en ont-leed vir my
      10 in jou liefde, elke leed.




    Die hele tweede strofe vertoon dieselfde sintaktiese patroon: onderwerp, werkwoord, indirekte voorwerp en direkte voorwerp. Daar kom ook woordherhaling voor: jy en my. Daar is verder die herhaling van die ont-woorde. Hierdie ont-woorde wys vooruit na die woordspeling in die slotstrofe, ontleed/ont-leed (wegneem van leed). Hopelik kan u hieruit aflei hoe die taalgebruik van hierdie gedig verskil van alledaagse omgangstaal.

    Die verwronge sintaksis in die slotstrofe het bepaald ’n betekenisfunksie. Hier word nie alleen die bekende patroon van die tweede strofe verbreek nie, maar word die boodskap ondubbelsinning soos volg gekommunikeer: Die ek (my) doen soveel moeite vir die jy en dit uit liefde om alle struikelblokke van die jy weg te neem. Die ongewone plek wat ferm in r. 7 beklee, lê klem op die jy se kragtige beskerming. Reël 9, wat tipografies die langste is, het ook iets op die betekenisvlak te sê. Die jy maak buitengewoon baie erns met die analise van die ek (my) se struikelblokke en doen moeite om die lewenslas vir die my ligter te maak. Die slotstrofe sou seker in normale woordorde soos volg kon lees: “Jy neem elke leed ferm in jou liefde uit my hande en ontleed dit.” Die ongewone woordorde maak die taal en manier van segging ’n voorgrondaspek en bevestig die vroeëre stelling dat die boodskap en die taalgebruik in die gedig die aandag op sigself trek, anders as ’n bloot alledaagse vertelling waar die informasie die botoon voer.


    3.3     Die tipografie van die gedig en die betekenis of boodskap tree kokommunikatief op

    Lees die gedig “Safari” van DJ Opperman en bepaal die funksie van die tipografie.

              SAFARI
              Niks
               staan
              stil —
              alles
                kry
              voete,
       beweeg
       in
              lang
                stoete:
              Grassteeltjies,
            kosyne,
      stede
      en
      treine;
      oor
      Sahara’s
        en
        savannes
      die
          optog
      van
              alle
          paaie
         oor
          die
      wêreldrond
         na
          die
      gaatjie
          in
          die
      grond
        Ο


    Sonder twyfel kan gekonstateer word dat die sig-sag-tipografie die menslike lewensreis tot by die dood visueel uitbeeld. Let daarop dat daar steeds ’n vloeiende ritme in die gedig is en dat daar selfs eindrym is wat woorde wat betekenisverwant is, saamsnoer. Die woorde voete en stoete rym en albei dui beweging aan, suggereer dus die lewensvoortgang van die mens. Die woorde gaatjie in die grond sinspeel op die graf.




    3.4     Sintaksis (sinsbou) en betekenis kan kokommunikatief optree

    Kyk na die volgende gedig van TT Cloete.

    SONNEBLOM

    1 die sonneblompit
    2 weet die sak saad
    3 weet die sonneblomplant
    4 weet wortels en stronk en blom
    5 en blaar die hele oes
    6 weet die saad binne wit
    7 buite swart in elke land
    8 van Rusland tot Modderfontein
    9 dat die son geelgroen oos opkom

    In hierdie gedig word die sintaksis duidelik anormaal gebruik, met die gevolg dat die aandag op die boodskap of teks self val en op niks daarbuite nie. Dit gaan hier weer om die estetiese belewing van die poëtiese taal, soos Jakobson dit noem.

    In hierdie gedig sluit versreël en sin nie. Die sinsbou is opvallend omdat dit ongrammatikaal voorkom. Dit bring ook mee dat die leser die gedig op meer as een wyse kan lees. Dit is dus duidelik dat die woord weet telkens deur voorplasing in ’n bevoorregte posisie staan. Die woord word dus beklemtoon. Dit gaan dan juis in hierdie gedig oor die entelegie; of soos Cloete dit self verduidelik, die intuïtiewe weet. Die aard en groeipatroon van die sonneblomplant lê reeds opgesluit in die saad. Daar is dus sprake van intuïtiewe kennis.

    Daar is sprake van progressie in die gedig. Telkens is daar groter wordende eenhede. Eerstens is dit die sonneblompit, dan die sak saad, die sonneblomplant, die hele oes, en elke land. Lg kan ook universalisering genoem word. Entelegie is deel van alle dinge in die ganse skepping. Reël 2 en reël 3 word telkens langer en ikoniseer die groei. Die leser kan dus die gevolgtrekking maak dat die pit ook tegelyk die sonneblomplant is.

    3.5     Leestekenloosheid as bonus in die poësie

    Leestekenloosheid in die poësie kan beskou word as een van die wyses waarop die poësie saam met betekenis kommunikeer. Leestekenloosheid figureer dus op die semantiese vlak.

    Ek verwys weer eens na ’n gedig van Cloete:


    TENNISSPELER

    1 hy moet kan voorspel
    2 in die spel
    3 die kampioen

    4 moet kan antisipeer
    5 as hy dit reg wil raketteer
    6 moet hy dit doen

    7 soos in die gedig kom
    8 woorde polskal
    9 op hom
    10 afgebal


    Sedert Van Wyk Louw en Opperman skryf digters soms oor die maak/skep van poësie/kuns. Dit word ars poëtikale gedigte genoem en verklap dikwels die “fabfieksgeheime” van die betrokke digter. “Tennisspeler” kan as ars poëtikale gedig gelees word. Weer eens sê ek dit kan en hoef nie noodwendig so gelees te word nie.

    Dit bring my by ’n ander aspek van interpretasie. Van Wyk Louw het jare gelede poneer dat die laaste woord oor ’n gedig nooit gesê sal kan word nie. Geen gedig is bedoel om ten volle verstaan te word nie. Dit maak die literatuur en die poësie in die besonder ’n boeiende verskynsel. Dit is immers waar dat indien ’n kritikus die “betekenis” van ’n teks weergegee het, daar nie juis veel meer aan daardie teks is nie. Tog bly daar ’n misterie van vaagheid en onsekerheid hang aan enige “goeie” gedig. Behalwe die klankrykheid of die ritme wat dit altyd mooi laat klink, bly die teks altyd ’n uitdaging vir die leser om dit nuut en vars, maar verantwoordbaar te interpreteer.

    Daar is beslis so iets soos naïewe interpretasies, maar die deurwinterde poësieleser leer ken die onderskeie leesstrategieë en laat hom daardeur lei om by die eintlike of ware betekenis, iets wat relatief is, uit te kom.

    Moet dus nie sleg voel as u sekere gedigte nie ten volle verstaan nie. Dit is juis daar om nie ten volle begryp te word nie. Van Wyk Louw het nie sonder rede in een van sy gedigte tot die volgende slotsom gekom nie: “Die aarde is nie eenvoudig.”.

    Terug by “Tennisspeler”. Cloete het heelwat tennisgedigte geskryf. Tennis is vir hom ’n spel wat “streng volgens reëls gespeel word”. (Uitsprake deur Cloete kom in korrespondensie in my besit voor.) Dit is ook vir hom aanskoulik en dinamies. Net so sien hy die literêre teks as ’n eiesoortige fenomeen met wetmatighede (reëls) waarin die estetiese funksie domineer. Met lg word bedoel dat die gedig nie ’n instrumentele waarde het nie. Daar kan nie juis veel met die gedig gedoen word, behalwe om dit as estetiese objek te bewonder en te waardeer nie.

    As gevolg van die leestekenloosheid in “Tennisspeler” word meer as een lesing toegelaat. Hierdie gedig demonstreer onder andere die leeshandeling van die “parate” leser. Die lees en interpretasie van ’n gedig is ’n spel met meer as een moontlikheid. Die gedig demonstreer hierdie spel onder andere deur die sintaktiese keuse wat die leser tussen verskillende moontlikhede kan maak:

      hy moet kan voorspel
      in die spel

      en:

      die kampioen

      moet kan antisipeer
      as hy dit reg wil raketteer

      OF:

      die kampioen
      moet kan antisipeer

      en:

      as hy dit reg wil raketteer
      moet hy dit doen


    Reël 6 kan ook prominensie verkry deur dit ’n retoriese vraag te maak:

      moet hy dit doen?



    Die hy kan as die skerpsinnige, antisperende leser (kampioenleser) beskou word wat ’n teks teen die agtergrond van sy eie verwagtingshorison benader. So vinnig as wat die tennisballe op die tennisspeler afgeslaan word, word die leser van ’n gedig met die woorde in die teks gekonfronteer.

    Die kortheid van hierdie gedig het tot gevolg dat dit vinnig gelees word. Dit kan die flinke balspel, asook die skielike tussenposes tussen bal en opeenvolgende bal (woord na woord in die teks) aandui.


    4    DIE POËSIELESER SOEK NA EENHEID OOK IN DIE VRYE VERS

    Vroeër in hierdie diskoers het ek gewys op die leeskonvensie van eenheid. Sodra die leser ’n gedig begin lees, streef hy daarna om te analiseer, maar uiteindelik weer saam te voeg. Ons kry vandag baie min tradisionele poësie soos sonnette, kwatryne, ballades ens. Die digvorm wat tans aan die orde is, is die vrye vers. Laasgenoemde is ’n gedig wat bestaan uit wisselende versreëllengtes en strofes van wisselende lengte. Die eindrymskema is nie vas nie en die metrum of ritme varieer. Tog kommunikeer hierdie tipe gedig óók en is dit nodig om te weet waarna om op te let om ’n vrye vers voldoende te kan verstaan. Om hierdie aspek te illustreer, gebruik ek ten slotte twee vrye verse, nl “Hansie en Grietjie” van Eveleen Castelyn en Breyten Breytenbach se “Met ’n bossie bergblomme”.


    HANSIE EN GRIETJIE

    1 daar was eendag ’n woud
    2 aan die kant van die son,
    3 die maan is ’n flou olielamp,
    4 saans brand honderde kersies,
    5 die volgende môre word die kindertjies
    6 afgelaai by die heks se huisie
    7 hulle huil tot vanaand
    8 na-vyf, na-werk kom die
    9 stiefmammies en -pappies hulle haal
    10 met ’n ysterswaan
    11 die nuutste model blaas rook
    12 en jaag oor riviere teer
    13 tot by kelders parkering
    14 dan word hulle opgehys
    15 gebad en gevoer in ’n hok
    16 moet hulle soet gaan slaap
    17 eennag het hansie en grietjie
    18 weggeloop, bo-oor die tralies geklim
    19 en fyn en flenters geval
    20 op die paadjies sement
    21 ver van die huis af


    Hierdie gedig is ’n poëtiese transponering van die bekende kindersprokie wat u almal seker nog onthou. Die meeste sprokieselemente is nog teenwoordig, maar kry ’n geheel ander betekenisinhoud.

    Op die eerste betekenisvlak dui die titel op die twee bekende sprokiesfigure, maar kragtens die moderne strekking van die gediginhoud kry die titel ’n universele draagwydte. Dit gaan hier oor moderne kleuters in ’n betonoerwoud; die wyse waarop hulle onvermydelik emosioneel verwaarloos word as gevolg van werkende ouers. Uiteindelik ontspoor hierdie jongmense. Net soos ons moderne tyd gekenmerk word deur anomalieë (teenstrydighede) soos gejaagdheid in plaas van kwaliteit-tyd tesame, materialisme in plaas van naasteliefde, medemenslikheid en liefdeloosheid in plaas van geborgenheid, demonstreer hierdie gedig die teenstrydighede verstegnies. Die leser moet net ’n bietjie dieper gaan delf om dit raak te sien.

    Ons het eerstens hier glad nie meer met ’n sprokie te doen nie: die tradisionele gelukkige einde is hier rampspoedig en dit bring mee dat die bekende sprokie hierdeur geïroniseer word. Die tradisionele eendag was daar …. word sintakties vreemd verdraai na daar was eendag ... Hierdie aanvangsintaktiese versteuring open die weg na ’n eietydse uitsiglose situasie.

    ’n Aantal metafore help mee om die teennatuurlike te konstitueer: woud in reël 1 dui op die moderne betonoerwoud. Die honderde kersies (r 4) sinspeel moontlik op die stadsliggies wat die natuurlike nagtelike ligte, die maan en die sterre, vervang. Die hok in reël 15 is die ouerhuis; die heks se huisie (r 6) is die dagmoederhuis. Die ysterswaan (r 10) is ’n motor. Swane beweeg met grasie oor water en skep gewoonlik ’n idilliese atmosfeer. Die eietydse motor mag grasieus wees, maar bly ’n gederomantiseerde objek.

    Versteurde woordorde is ’n bindingselement in die gedig — ek het gesê die leser van die poësie is durend op soek na eenheid.

    Volgens die sprokie het ’n arm houtkapper met sy vrou en twee kinders aan die rand van ’n groot bos gewoon. In die gedig word dit getransponeer na ’n woud aan die kant van die son. Laasgenoemde kan aandui dat die moderne stad, aan die kant van die son, nie soos normaalweg die volle bestraling van die sonstrale geniet nie. In hierdie teennatuurlike milieu verloor ook die maan sy romantiek tussen al die stadsliggies en verflou dit tot ’n flou olielamp. In die sprokie dui die maan telkens die pad terug huis toe aan. In die gedig is daar geen sprake van ’n pad terug huis toe nie. In die sprokie het Hansie en Grietjie in die bos op hul ouers “gewag en gewag”. Grietjie was die een wat dikwels gehuil het. Die gedig transponeer dié gegewens na: hulle huil tot vanaand / na-vyf, na-werk kom die / stiefmammies en -pappies hulle haal. Die woord stief in die gedig konnoteer die liefdelose ouer-kind-verhouding, terwyl die ma in die sprokie werklik nie Hansie en Grietjie se moeder was nie.

    Die volgende is funksionele voorbeelde van “versteurde woordorde” omdat dit die stad as gederomantiseerde leefruimte teken:

  • Reël 5-6: Die verwagte woordorde is: die volgende môre word die kindertjies by / die heks se huisie afgelaai. Die werkwoord afgelaai, staan nou in ’n ongewone posisie aan die begin van ’n versreël. Daardeur kry die hartelose daad van die ouers direkte aandag. Tog suggereer die spreker paradoksaal dmv die verkleinwoord kindertjies dat daar ’n tere band tussen ouers en kleuters bestaan. Die verkleinwoord wys voorts uiters funksioneel op die weerloosheid van hierdie kinders binne dié betrokke opset.

  • Reël 8-9 sou soos volg natuurliker lees: na vyf, na-werk kom haal die / stiefmammies en -pappies hulle. Weer eens is dit ’n diskrepante handeling, met die werkwoord wat hier prominensie aan die versreëleinde kry. Net soos die emosielose aflaai, geskied die oplaaihandeling. Hierdie emosielose handeling word verder beklemtoon deur die h-alliterasie wat ook klankmatig skakel met hulle huil in r 7 wat eweneens ’n emosie verbeeld.

  • Reël 14-15 is ook ongrammatikaal. ’n Beter lesing sou wees: dan word hulle opgehys / in ’n hok gebad en gevoer. In hierdie geval is dit die naamwoord hok wat aan die einde van die versreël staan en die ouerhuis as ingeperkte ruimte uitbeeld. Die h-klank resoneer ook in hok en dit gryp klankmatig terug na r 6, waar woorde met ’n negatiewe betekeniswaarde voorkom, nl. heks se huisie.

    Let daarop dat die leser van ’n vrye vers dus meer moet let op halfrym as eindrym. Hierdie allitererende of assonerende klanke stig dikwels verbande met ander woorde waarin dieselfde klank(e) voorkom en op dié wyse groepeer woorde nie slegs klankmatig saam nie, maar op grond daarvan dat hulle ook op die betekenisvlak verband hou met mekaar. Dit word dus duidelik dat die lees van ’n gedig nie net horisontaal (sintgmaties) geskied nie, maar ook vertikaal.

    Op dié wyse word na verbande gesoek om die eenheid van die gedig te bevestig.

  • Die hele voorlaaste versreël is sintakties misplaas en lyk na ’n parentese (inlassin of bygedagte). Die gedig sou makliker soos volg gelees het: en fyn en flenters / ver van die huis af / op die paadjies sement geval. Dit is asof die slotwoord in r 19, geval, addisionele klem dra. Weer eens is dit ’n werkwoord wat op ondergang dui. Reël 19 roep Hompie Ke-Dompie voor die gees en sluit aan by die sprokie as grondstof vir die gedig. Dit roep ook ’n kindersfeer op. Selfs die volksliedjie “Hansie Slim” eggo in die slot waar daar sprake is van ver van die huis af: Hans is in die huis nie meer!

    Ander ongewoonhede of ongrammatikaliteite is riviere teer (r 12), kelders parkering (r 13) en paadjies sement (r 20). In al drie gevalle is daar sprake van foutiewe woordorde. ’n Mens sou teerrivier (vir teerpaaie), parkeerkelder en sementpaadjies wou lees. Let ook op die negatiewe suggestie in parkeerkelders wat indirek dui op die kinders se lewe wat gekelder word.

    Emosioneel verwaarloosde kinders bereik ’n stadium waar hulle uit die gevangenheid van ’n onnatuurlike ruimte wil ontsnap. Hulle klim bo-oor die tralies om bevry te word, om dan maar net ver van die huis af (buite ouerlike geborgenheid) op harde sement pynlik bewus te word van hulle ontsporing.

    Voordat ek “Met ’n bossie bergblomme” bespreek, wil ek na ’n Hambidge-gedig verwys wat demonstreer dat die gedig dikwels sy ontstaan te danke het aan ’n buitetekstuele werklikheid. Die meeste van u onthou moontlik nog die skoolbusramp in 1985 by die Westdene-dam in Johannesburg. Hoewel Hambidge se gedig “Westdene” na die betrokke insident verwys, word die gedagte of tema hier universeel omdat dit nie by die enkele treurige gebeurtenis bly vaskleef nie:


    WESTDENE

    1 Gelukkig is julle
    2 wat slaap
    3 hermeties verseël
    4 ’n toe vuis.
    5 Nooit sal pyn
    6 se perforasie
    7 (stigmata op
    8 die polse) wys.

    9 ’n Bus verpas,
    10 ’n sinnelose
    11 reis, nie weer.
    12 Nimmermeer
    13 die wagwoord tussen mense
    14 verleer. Nee.

    15 Die ontoereikendheid
    16 van ouers vergeef.
    17 Slaap rustig,
    18 slaap soet. Kinders

    19 moet gehoor, nie
    20 gevoel word.


    Die saligsprekinge van die Nuwe Testament resoneer in Gelukkig is julle. Slaap word metafoor van die dood. Die woorde slaap soet kan sinspeel op die verwagting dat kinders soet moet wees. Die bekende spreekwoord dat kinders gesien moet word en nie gehoor moet word nie, word aan die einde van die gedig in ’n gewysigde vorm aangetref. Kinders moet liewer gehoor word; dit is goed om hulle kinderlike vreugdes te hoor, gelukskrete ens. Maar nou word net die hartseer oor hulle afwesigheid gevoel deur die ouers. Hoe ironies! Deur die dood is die kinders letterlik op hulle plek gesit, maar word terselfdertyd ontsettend gemis.

    Nou Breytenbach se “Met ’n bossie bergblomme”.

    MET ’n BOSSIE BERGBLOMME

    1 nederige blomme van ’n vreemde berg
    2 vir jou verjaarsdag
    3 sodat jy berghelder kan lag
    4 en jou hande kan klap by die venster

    5 pers blomme — die angeliere van dwerge -
    6 om ons huis se skaduwees te terg,
    7 skurwe klein kelkies van kyk
    8 wat die wind en die vog in hul dra

    9 hulle brand net vir jou
    10 want jy is mos jarig,
    11 hulle geur net vir jou
    12 hulle berge soet geur

    13 oeillets du poète: klein oë van die digter,
    14 en as jy lank genoeg daarín kan kyk
    15 sal hulle nog dieper en vuriger blom, verryk
    16 tot die vlerke waarmee jy óór skaduwees gaan vlieg
    17 na die vreemde berge deur die venster


    Breytenbach skryf van die mooiste en intiemste liefdesgedigte in Afrikaans. Vlerke, voëls en die handeling “om te vlieg” het by hom ’n bevrydingsrol. Oë en vensters is dikwels sinoniem in sy poësie.

    Dr M Lombard het in die tagtigerjare daarop gewys dat Breyten se poësie dikwels roep na ’n vervangende leesmodus. Breyten skryf ’n vrye vers wat as praatpoësie bekend staan, soos by M M Walters. Baie lesers vind dit moeilik om Breytenbach-tekste te lees.

    In ’n uitspraak deur Aart de Villiers oor Breyten se drama Boklied word die volgende opmerking in Insig van September 1998 op p 41 gemaak:

      Breyten is ’n meester met die taal — daardeur kan geen twyfel bestaan nie. En soos ek Boklied deurgelees het en herlees het van voorblad tot agterblad, het ek opnuut onder die indruk gekom van hoe skerp en subtiel hy die woord hanteer.


    Wat sê hierdie gedig? Die titel is instrumenteel, want die spreker kan met ’n bossie bergblomme iets doen/regkry. Deur middel van die bossie bergblomme is dit moontlik dat die jy bevry word, losgemaak word van die tydelike (skaduwees) en deel van die ewige paradys word, wat by implikasie die vreugde van ’n liefdesverhouding kan wees.

    Hierdie bevrydingsproses veronderstel ’n transformasieproses wat besonder goed in en deur die gedig geïllustreer word. Die jy is eers bly omdat sy verjaar. Dan, in reël 7, word die blomme oë, klein kelkies van kyk. Daarna verinnerlik die proses waar sprake is van brand in reël 9. In die slotstrofe transformeer die blomme, wat eintlik al oë geword het, na die oë van die digter, moontlik die ek -spreker in die gedig. Dit weer verinnerlik verder, want as die jy lank genoeg daarin kyk, blom dit vuriger, en gee dit aanleiding tot die vlerke waarmee die jy uiteindelik die paradyslikheid van die liefde betree.

    Die digterlike oë is kreatiewe oë wat kan skep en in staat is om die gewone / alledaagse van reël 1 te transformeer in kuns; in hierdie geval die poësie, wat uiteraard fantasties is.

    Daar is sprake van ontwikkeling in die gedig. Die jy is aanvanklik vrolik omdat sy verjaar. Dan terg sy dit wat moontlik haar liefdesverhouding kan belemmer (die skaduwees). Om jarig te wees, beteken om te verjaar, maar ook om hubaar of troulustig te wees. Daarom skakel dit met die vuriger blom (r 15).

    ’n Berg of berge staan tradisioneel vir ewigheid, standvastigheid, maar suggereer ook die idilliese, veral omdat dit vreemd is en berge met dwerge vervang kan word. ’n Dwerg is onmiskenbaar ’n sprokiesfiguur en skakel daarom direk met die fantastiese/fantasie. As ’n mens in reël 2 die angeliere van dwerge vervang met angeliere van berge (kragtens die ooreenstemmende rymklank) dui dit op bergangeliere — plante wat veral in Tulbagh en omgewing groei en korrespondeer met Breyten se kinder- en jeugleefruimte, die Boland.

    Let op na die volgende teenstellings. Die “nederige” (gewone) blomme in reël 1 staan teenoor ’n idilliese (vreemde) omgewing. Nederige blomme kontrasteer ook met reël 5 se pers blomme. Pers dui op koninklikheid, trotsheid en statigheid. In reël 6 word skaduwees geterg en in reël 16 word die skaduwees ontwyk deur met vlerke daaraan te ontstyg.

    Ook merkwaardig is die andersheid van strofe 2, waar die berg/berge afwesig is. Indien dwerge met berge vervang word, is berge implisiet teenwoordig. Strofe 2 is die enigste strofe waarin ons, die ek en jy, pertinent saam genoem word, wat die vermoede versterk dat dit ’n liefdesgedig is.
    Breyten wil eintlik hier te kenne gee dat die skryf van poësie ’n soort bevryding is vir die digter. Daarmee mag ons as lesers nie uit die oog verloor nie dat dit ook op die eerste letterlike vlak hier wel ’n ordinêre liefdesgedig wil wees.

    Die verskillende gedaantes wat die bossie bergblomme dus binne die verloop van die teks aanneem, hou verband met die digter se vermoë om kuns te skep. Die gedig beskryf dus nie slegs ’n transformasieproses nie, maar ís self transformasioneel.

    5     SLOTSOM EN AANBEVELING

    Die ideaal sou wees dat leeskringe meer aandag aan die Afrikaanse poësie sal gee. Daar is meer as een wyse waarop dit gedoen kan word. Volgens my beskeie mening kan elke leeskring jaarliks besluit op ’n bepaalde Afrikaanse digter, verkieslik dié wie se werk al in versamelbundels opgeeneem is, soos Van Wyk Louw, Opperman en Krog se poësie. In groepverband kan lede dan mettertyd aan mekaar terugvoering gee. In spanverband is dit makliker om tendense en interpretasiemoontlikhede raak te sien.

    Die rede waarom ek eerder ’n enkele digter voorstel in plaas daarvan om ’n bloemlesing soos Groot Verseboek te begin lees, is bloot dat dit die leser in staat stel om bepaalde gemene delers binne die oeuvre van ’n betrokke digter raak te sien. Kry eers een of twee digters se werk onder die knie, en lees daarna die werk van moderne of eietydse digters. Gestel u lees Elisabeth Eybers se poësie: u sal mettertyd agterkom hoe baie sy die voorvoegsel on - gebruik, hoe dikwels sy die woorde balans of ewewig en weerbaar gebruik. Mettertyd word dit makliker om haar styl te verstaan en sal u sien dat die strekking of die bedoeling van haar poësie al hoe duideliker word. Mag die Afrikaanse poësie herleef in leeskringverband!


    [1]Brasem is ’n riviervis in die noordelike halfrond met ’n ruitvormige liggaam, lang stertvin en silwer-agtige loodkleur. Die vis vertoon groenagtig agter op die rug en witterig op die buik.

    LYS VAN GERAADPLEEGDE BRONNE ASOOK BRONNE WAT AANBEVEEL WORD

    Beekman K & F de Rover. 1987. Literatuur bij benadering. Vormens van literatuurbeschouwing. Dordrecht: Foris Publications.

    Breytenbach, B. 1967. Die huis van die dowes. Kaapstad: Human & Rousseau.

    Brooks, C & Warren Robert Penne (reds). 1976. Understanding Poetry. New York: Holt, Rinehardt and Winston.

    Castelyn, E. 1986. Hansie en Grietjie. In: Nienaber, PJ ea (samest). Digters en Digkuns. Johannesburg: Perskor, p 318.

    Cloete, TT. 1980. Angelliera. Kaapstad: Tafelberg.

    Cloete, TT (red). 1985. Gids by die literatuurstudie. Pretoria: Haum-Literêr.

    Cloete, TT. 1986. Idiolek. Kaapstad: Tafelberg.

    Cloete TT. 1996. Is die kunstenaar werklik abnormaal? Beeld (Kalender) , 22 Oktober, p 5.

    De Villiers, A. 1998. Resensie oor Boklied. Insig. September, p 41.

    Grové, A P. 1973. Woord en wonder. Kaapstad: Nasou.

    Hambidge, J. 1987. Palinodes. Pretoria: HAUM-Literêr.

    Heuvel, Pim. 1999. Erwtjes blazen naar de zon. Over het lezen van moderne poëzie. Leiden: Dimensie Boeken.

    Lombard, M. 1983. Vervanging en aanverwante verskynsels in die poësie van Breyten Bretenbach. Potchefstroom: PU vir CHO. Ongepubliseerde DLitt-proefskrif.

    Marais, Johann L. 1987. Palimpses. Kaapstad: Human & Rousseau.

    Opperman, DJ. 1987. Safari. In: Opperman , DJ. Versamenlde Poësie, p. 269.

    Roberts, PD. 1986. How Poetry Works. London: Penguin.

    Rousseau, I. 1985. Erkenning. In: Cloete, TT ea (reds). Gids by die literatuurstudie. Pretoria: HAUM-Literêr, p 35.

    Van Luxemburg, Jan ea (reds). 1987. Over literatuur. Muiderberg: Coutinho.

    Van Gorp, H. ea (reds). 1984. Lexicon van literaire termen. Leuven, België: J.B.Wolters.

    terug    /     boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.