Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Verlede en toekoms: sonder klere om te spaar

Wat is die verlede? Wat is die toekoms? Met die eeuwending wat nou vinnig nader kom kyk die mensdom meer as gewoonlik vanuit die hede terug op die verlede en terselfdertyd ook vooruit na die toekoms. In Suid-Afrika, waar daar soveel verandering plaasgevind het in die laaste dekade van hierdie eeu, is die bemoeienis met die verlede en die toekoms besonder intens.

Vir elke individu is die verlede seker iets wat spesifiek verband hou met persoonlike ervarings. Die mate waartoe dit oorvleuel met ander individue se belewenisse bepaal of daar enigsins sprake is van ’n soort gemeenskaplike verwysingsveld wat verband hou met wat gister of eergister gebeur het: ’n gedeelde verlede, dus. In ’n verdeelde en gefragmenteerde samelewing is die soort gemeenskaplikheid tussen individue, maar veral tussen verskillende groepe, skaars.

Ook, hoe verder terug in die tyd die gebeurtenis lê, hoe groter is die moontlikheid dat die gebeurtenis heel ander betekenisse en waardes vir diegene wat dit meegemaak het, sal hê. Die herinneringe wat individue van die verlede koester, is dikwels so uiteenlopend dat die idee van ’n eenvoudige en samehangende kollektiewe verlede ’n mitiese konstruksie is. Daarom sal pogings om ’n gemeenskaplike verlede aan Suid-Afrikaners te verskaf waarskynlik net tot nuwe verdeeldheid lei. Dié keer ’n verdeeldheid oor wat die verlede was en die betekenis daarvan vir die toekoms. Die dokumentasie van die Waarheids- en Versoeningskommissie is ’n voorbeeld hiervan. So geskakeerd is die beeld van die verlede wat daarin voorkom dat selfs die ANC-regering, wat die Kommissie in die lewe geroep het in die oortuiging dat die skending van menseregte net uit een oord gepleeg is, homself nie in dele van die verslag kan herken nie. Om nie te praat van die sekuriteitsagente en moordbendes van die ou orde nie.

Met in gedagte die strydpunte oor wat in die verlede gebeur het, snuffel ek in boeke gemoeid met die verlede en herinnering. Romans en memoires, opgestapel soos ruïnes, omring my en die woorde tik-tik in die voue van die droë bladsye soos retroaktiewe tyd. Stof vlek my vingers. Marcel Proust skryf in A la recherche du temps perdu dat dit “tevergeefse arbeid is om die verlede te probeer herskep: alle pogings van ons intellek is nutteloos. Die verlede lê iewers versteek buite sy eie domein in een of ander materiële voorwerp (in ’n onverwagte sensasie wat die voorwerp ons verskaf”. Dit alles gebeur toevallig. Vir Proust bestaan die verlede nie as ’n dimensie van tyd nie. Die verlede is opgesluit in ’n objek, en herinnering is dit wat ’n spesifieke sensasie in die bewussyn loslaat. Bergson, terloops, noem die proses onwillekeurige herinnering.

In JM Coetzee se memoir Boyhood skryf hy met karakteristieke beheersing oor sy seunsjare. Die derdepersoonsvertelling skep ’n effek van afstand:dis asof Coetzee oor iemand anders en nie homself nie skryf. Alles hier is willekeurig.

In die eerste hoofstuk lees ons van sy moeder wat ’n fiets koop. Sy voel vasgekluister tuis en verlang na groter vryheid van beweging. Sy pa, skryf Coetzee, spot haar. Die jong John ondersteun hom. Sy ma moet onder die gelag van die mans op haar eie leer fietsry. Vasberade kry sy dit tog reg.

Hy onthou: “Sy neem ekspedisies na Worcester in die oggende, wanneer hy op skool is. Slegs een keer sien hy haar vlugtig op haar fiets. Sy is geklee in ’n wit bloes en ’n donker romp. Sy kom in Populierlaan na die huis toe afgery. Haar hare vloei in die wind. Sy lyk jonk, soos ’n meisie, jonk, vars en misterieus.”

Veel sterker in die teks as die erotiese beeld, is die klem wat val op sy pa se leedvermaak. In sy gespot onderbreek die mense van Worcester *hulle sake* om sy ma *aan te gaap* terwyl sy op die fiets verbyry. “Trap! Trap!” roep hulle uit en lag. Dan, as sy ma op ’n dag onverwags van die fiets ontslae raak, weet hy dat sy verslaan is: “Niemand sê ’n woord nie, maar hy weet sy is verslaan, op haar plek gesit en hy weet dat hy deel van die blaam moet dra.”

Dan: “I will make it up to her one day, he promises himself.”

Die herinnering van sy ma op haar fiets spook by die seun. Die vrou op die fiets sal seker altyd in die skrywer se geheue opdoem. So word die fiets dan die objek wat sy ma in herinnering roep.

Hoe maak mens op vir iets wat in die verlede gebeur het? Hoe stel mens dít wat gebeur het reg? Terug na Proust. Waarheen anders?

Op Nuwejaarsdag, ná die tradisionele besoeke aan familie, neem Marcel hom voor om sy vriendskap met Gilberte te hernu. Gekwets deur wat in die verlede tussen hulle gebeur het, skryf hy ’n brief: die ou jaar is verby en die teleurstellings van die verlede moet agtergelaat word: “Die eerste dag in die nuwe jaar sal vir ons ’n nuwe vriendskap begin wat deur niks vernietig sal word nie,” skryf hy.

Maar dan koop Marcel, vergesel deur Francois, sy tante se kok, ’n poskaart van die aktrise Berma. Francois self koop foto’s van die Pous. Marcel se bewondering vir Berma ondergaan ’n skielike transformasie as hy na haar afbeelding staar en besef hoe armoedig haar kwesbare gesig is: “soos die klere van mense wat niks het om te spaar nie”.

Met die nag wat uitsak, kry hy ’n skielike voorgevoel dat Nuwejaar nie die eerste dag van ’n nuwe wêreld is nie. Dis nie die eerste dag van die Skepping, “asof die verlede nie bestaan nie”, besef hy met meer as ’n tikkie ontluistering.

Hy kom tot die gevolgtrekking dat die begeerte na vernuwing ’n droom is. Sy hart het nie verander nie. Ook Gilberte is dieselfde persoon wat sy die vorige dag was. Die verlede en die toekoms. Hieroor word daar in Suid-Afrika, soos aan die begin genoem is, deesdae baie gepraat. Hoe het die werk van die Waarheids- en Versoeningskommissie neerslag gevind in die letterkunde? Dit vra iemand my onlangs. Ek onthou Antjie Krog se boek, Country of my Skull en voor dit, William Kentridge se Ubu and the Truth Commission en hier en daar ’n drama, skerts ek. Dan onthou ek dat ek so pas ’n bundel postapartheid-kortverhale saamgestel het. In ’n paar van die verhale is daar ’n gemoeidheid met belydenis. In ander is daar konfrontasie met die verlede. Sommige broei oor die toekoms.

In een van die verhale, “God’s Finger”, deur Graeme Friedman, vertel ’n down-and-out blanke pompjoggie, in die diens van ’n swart eienaar, van sy ontmoeting met ’n swart staatsamptenaar by ’n petrolpomp in die Karoo. Die swart man in ’n blink motor is vermink toe hy deur polisie uit ’n gebou laat val is. Die polisie, so vertel hy, wou sien of hy kon vlieg. Die petroljoggie raak so verdiep in die man se verhaal dat hy vergeet om hom te vra om vir die petrol te betaal. Eers as hy wegry, besef hy dat die koste vir die vol tenk van sy salaris afgetrek gaan word.

Daar is vele, insluitende politici en ander wat dink of verwag dat die WVK ’n instrument van die waarheid en geregtigheid is. Miskien. Dis dalk gerade om die liggaam as soort beslegtingsinstrument in ’n postkonflik-situasie te beskou. Dis ’n meganisme om te verhoed dat mense die reg in eie hande neem. Dit lyk nie asof dit werk nie.

Of die toekoms anders sal wees as die verlede, is ’n ope vraag. Sal ons dalk, soos Marcel, die een of ander tyd besef dat die nuwe begin waarna ons almal verlang die droom van ’n armsalige “sonder klere om te spaar” is? So is dit seker ook met al die verwagtinge op die nuwe millennium.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.