Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die sirkelende tyd en literêre sterflikheid

1

Ons leef in ’n moment van groot afwagting. So oorweldigend is dit, oral op aarde word daar gepraat oor en voorberei vir wat gesien word as die einde van die twintigste eeu. Dis ’n moment waarin almal, miskien meer as ooit, hiperbewus is van tyd.
    Tyd, tyd, tyd. Die onverbiddelike stap van die tyd. Wie is dit wat so uit die blaaie van ’n ou boek of uit die donker ruimtes van ’n verhoog sanik? Oedipus of Macbeth?
    Môre, gister en vandag, soos altyd, eindeloos aaneengeryg soos woorde in gesprekke, in briewe en die ontelbare sinne van verhale. Die een woord wat instaan vir alle woorde in alle letterkundes is miskien die woord “tyd”. Die sterflike en onsterflike se medium is immers tyd. Die vloek van tyd so ongenaakbaar en demonies soos die vloek op Oedipus by sy geboorte: dat hy, as hy eendag ’n man is, sy pa sou vermoor en sy ma as vrou sou vat.

2

Dis die einde van die eeu. Belangriker nog, die einde van die millennium. Die nag van die twintigste eeu is byna verby. So word daar gehoop. Nog ’n duisend jaar is verby en die mite van ’n wederkoms wat verantwoordelik is vir ons liniêre opvatting van tyd lê in skerwe.
    Die media, onversadig soos nooit tevore, kan nie genoeg kry nie van die honger na ’n nuwe tyd. Tog, ten spyte van al die histerie, is die millennium-manie eintlik ’n morbiede gemoeidheid met die verlede.
    Die verlede is immers die enigste tyd waaroor ons dink ons iets weet. Die toekoms, soos Derrida dit by herhaling gestel het, kan nie as anders as ’n monstrositeit gesien word nie. Die verskriklike en skrikwekkende monsteragtigheid van die onvoorsienbare toekoms kom duideliker na vore aan die einde van eras. Die opeenvolging van moment is meer hanteerbaar. Maar die aanbreek van ’n nuwe eeu en ’n nuwe millennium? Hoe verskriklik is dit nie. Vandaar die doemvoorspellings waarvan die Y2K-fenomeen ’n voorbeeld is. Die fanfare rondom dié moment in tyd spruit uit die gebruiklike rituele wat die eeuwisseling as ’n keerpunt beskou. ’n Keerpunt ten opsigte van wat? Die verlede, natuurlik. Wat anders? Die nadering van die einde van tyd self? Die tweede koms van die Messias? Die absurde sinlose opstapeling van die jare?

3

Dit is so dat Januarie 2000 die begin van die laaste jaar in die eerste duisend jaar van die Christelike kalender is. Dit is as mens chronologies begin tel van die jaar een en nie soos astroloë van die jaar nul nie. In die eerste geval breek die nuwe millennium eers met die jaar 2001 aan. As ons van die jaar nul tel, dan is 2000 die begin van die tweede millennium. Dieselfde geld die einde van die eeu.
    Maar as mens in aanmerking neem dat die Christelike kalender, volgens historici, in werklikheid eers na die inkarnasie van Christus ’n aanvang neem, dan moet ons, met dié twyfelagtige baken, aanvaar dat die aanbreek van die jaar 2000 reeds verby is. In elk geval, hoe lyk die jaar nul?

4

Waarom die haarklowery oor tyd en chronologie? Om oor tyd te praat is om tyd, die skaarste van alle kommoditeite te vermors. Waarom die gekibbel? Eerstens, die chronologiese konvensies waarbinne ons leef, is arbitrêr. As taal – soos Plato, de Saussure en al hulle napraters aanvoer – konstituerend is vir menslike konsepsies van die werklikheid, dan lewe ons nie in die voorlaaste jaar van die eeu en op die drumpel van ’n nuwe millennium nie, maar in die kammatyd wat ons kalender vir ons skep. Die seisoene en die kleurespektrum wat in wese onafgebroke kontinuums is, word deur taal konseptueel en in vaste eenhede verdeel. Tog weet ons die jaar is ’n tydsgeheel sonder abrupte oorgange.
    Die seisoene wissel van plek tot plek. Die kleurspektrum is ’n vlek. Tog is die benoeming van die verskynsels in verskillende kulture verantwoordelik vir ons ervaring van kleur en tyd as aanduibare werklikhede.

5

Dié willekeurigheid geld ook die chronologiese orde waarbinne ons leef. Die aarde is immers veel ouer as ’n duisend jaar.
    Hoe oud is die aarde werklik? Almal spekuleer. Niemand weet presies nie. Die tyd as materie is kool in die klippe.
    Ons glo ons leef aan die einde van die 20ste eeu omdat ons kalender die tyd as sulks aangee. Dit kan tog geen skade aan die tyd self doen nie. Dit help ons immers om die mens se kortstondige lewe langer te laat ly as wat dit eintlik is. ’n Honderd jaar is mos lank.

6

Nou, omdat ons besluit het dat die eeu en die millennium sy einde op 31 Desember bereik, is elke publikasie en instansie betrokke by die peiling van die openbare mening in pogings om te bepaal wie die mees invloedryke individue van die eeu of die millennium in die verskillende lewensfere soos die kunste, wetenskap, ekonomie, sport en politiek is. Daar is nasionale en internasionale nominasies. In Suid-Afrika is die Sunday Times se persoonlikheid van die eeu ’n voorbeeld van ’n nasionale projek. Time Magazine in New York se projek is internasionaal.
    Onlangs het Herman Gilliomee, op dié patroon die tien mees invloedryke Afrikaanssprekende figure uit ’n reeks sfere vir Beeld uitgewys. Dus, naas dissiplinêre verband en nasionale of internasionale konteks, kan daar selfs mense uit ’n bepaalde taalgroep aangewys word. So is Robert Musil se ’n Man sonder kwaliteite aangewys as die grootste roman wat hierdie eeu in Duits geskryf is. So lyk dit met die dinge van ons tyd.

7

In dié trant is ek en ander deur die Financial Mail genader om deel te neem aan een van ’n reeks panele vir die publikasie se millenniumprojek. Ek het gedien op ’n paneel wat die Suid-Afrikaanse Skrywer van die Eeu moes aanwys. Dit sou geskied by wyse van ’n bespreking waarna elke paneellid ten minste twee kandidate, in orde van voorkeur, op ’n kortlys moes plaas. Hierna is daar oorgegaan tot ’n geheime stemming.
    Die resultate sal in die laaste uitgawe van die publikasie saam met die resultate van die ander panele gepubliseer word. Die ander kategorieë is Ekonomie, Krygsdiens, die Kunste, Wetenskap en Medisyne, Politiek en Sport.
    Stel jou voor, die Soldaat van die Eeu: ’n generaal met ’n staf, uitgeteer van al die aksie.

8

Ek het navraag gedoen oor die ander lede van die paneel. Ek is ingelig dat Lionel Abrahams, Stephen Watson, Njabulo Ndebele en Patrick Cullinan die ander paneellede sou wees.
    Hoewel ek hoegenaamd niks teen die bekwaamheid en die integriteit van al die here het nie, (my eie, natuurlik, ingesluit) het ek tog gewonder hoe so ’n eensydig Engels-georiënteerde paneel reg kon laat geskied aan die groot verskeidenheid Suid-Afrikaanse letterkundes. Die projek was immers nie daarop gemik om die Suid-Afrikaanse Engelse Skrywer van die Eeu aan te wys nie. Wat ’n millenniumprojek!

9

Omdat ek sat is van protesteer, en in elk geval op ’n buitelandse besoek sou vertrek ’n dag voor die ontmoeting van die paneel in laat-Oktober, het ek die gefakste of befokte uitnodiging onder die berg papier op my lessenaar laat verdwyn. As die publikasie weer navraag sou doen oor my beskikbaarheid, sou ek ’n goeie alibi hê om die versoek af te wys sonder om op ’n seepkis te spring.
    Ongelukkig het ek vergeet dat ek met die kunstenaar Wyne Barker, hy met die plat hoed, en die kurator Susan Glanville, sy met die groot hoop, afgespreek het om by die loods van hul reeks kort dokumentêre films oor Suid-Afrikaanse beeldende kunstenaars, Seeing Ourselves, te praat. Dit sou die dag van my beplande vertrek in Cinema Nouveau plaasvind. Ek was vas.

10

My reisskedule is verander. Toe die Financial Mail vroeg daardie week bel om uit te vind of ek wel aan die paneel sou deelneem, het ek ingestem. Ja, net so. Sonder ’n woord.
    Tog was die besware wat ek vroeër geopper het sterk in my bewussyn aanwesig. So sterk, ek voel die wrewel in my opwel hier waar ek sit en skryf. Ek het ’n hekel aan die gebrek aan veeltalige sensitiwiteit.

11

Toe die paneel uiteindelik vergader het, was dit sonder Njabulo Ndebele. In sy plek was die skrywer en boekverkoper Jane Fox. Die paneel was nou nog meer onverteenwoordigend van die Suid-Afrikaanse letterkundes.
    My misnoeë was nou groter as ooit. Ek het my beroep op die ironie van tyd: dis in elk geval nie die einde van die eeu nie. “Daar is geen goddelikheid in heel die mensdom nie” betreur die koor die ondramatiese gebeure in Oedipus. Die woorde was seker op my gerig. Die paneel se samestelling is ’n manifestasie van die wyse waarop die literêre diskoers in die verlede en vandag nog in Suid-Afrika bedryf word. Sal dit in die nuwe eeu verander? Kom ons hoop. Die hoop beskaam mos nie.

12

Die omvang van die projek en die skrywers wat in aanmerking geneem kon word, het vroeg ter sprake gekom. Ek het my sê gesê sonder om ’n eier te lê. Die paneel het sonder protes toegegee dat dit slegs gekwalifiseer is om te besluit oor die Suid-Afrikaanse Engelse letterkunde en daarom slegs daaroor kan beslis.
    Met ’n gevoel van verskriklike eensaamheid het ek voorgestel dat ons nietemin al die skrywers van die land in aanmerking moet neem. Indien nie, moet die paneel ontbind word, en hersaamgestel word om veeltaligheid te verseker. Dit is aanvaar dat skrywers uit alle tale genomineer kon word. Só is my slegte gewete gesus.

13

Die name wat uit die daaropvolgende bespreking gekom het, sluit – in alfabeties volgorde – die volgende skrywers in: Herman Charles Bosman, Breyten Breytenbach, André P Brink, Guy Butler, Roy Campbell, John Coetzee, Athol Fugard, Nadine Gordimer, Bessie Head, Dan Jacobson, Douglas Livingstone, Zakes Mda, Sarah Gertrude Millin, Ruth Miller, Thomas Mofolo, Es’kia Mphahlele, Alan Paton, Sol Plaatje, Olive Schreiner, Wally Serote, Barney Simon, Wilbur Smith, NP van Wyk Louw.
    Al die skrywers verdien seker om op die lys te wees. Ek sê seker, omdat Patrick Cullinan voorgestel het dat Adamastor ook ’n kandidaat moet wees. In reaksie hierop gee ek toe dat dié mite verantwoordelik is vir ’n groot deel van die Suid-Afrikaanse letterkunde, maar dat Adamastor ongelukkig nie ’n outeurskontrak met ’n plaaslike of buitelandse uitgewer sal kan produseer nie. In elk geval, dit gaan oor ’n twintigste-eeuse skrywer, nie ’n figuur uit die antieke mitologie nie.

14

Opvallende in hul afwesigheid in Afrikaans is Etienne Leroux, Antjie Krog en Karel Schoeman. Daar is ongetwyfeld ander Afrikaanse skrywers soos Elisabeth Eybers en DJ Opperman wat oorweging regverdig.
    In Tswana is die naam van CLS Nyembezi ’n ander geval van afwesigheid. So ook is die name van verskeie hedendaagse skrywers. Die lys, hierbo, sal nie byval by alle lesers vind nie.

15

Die debat het die kwessie van literêre grootheid gepak. Moet die skrywer beoordeel word slegs binne nasionale verband of moet die figuur en die werk gesien word in die konteks van die wêreldliteratuur? Is die populariteit van die skrywers, gemeet in terme van boekverkope of die inherente estetiese waarde van die oeuvre, die beslissende faktor? Hoe meet mens estetiese waarde? Volgens die prys van die boek of na gelang van die pryse wat die boek verower het? Pryse? Lof en prys aan alle pryse!
    Is die reeds waarneembare invloed van die skrywer se werk binne die Suid-Afrikaanse letterkunde en wyer gesien van deurslag of moet die moontlike toekomstige invloed daarvan in ag geneem word? Watter van die twee is die belangrikste? Is albei ewe belangrik?
    Soveel vrae kon slegs tot soveel, indien nie meer, uiteenlopende standpunte lei. ’n Babelse verwarring het geheers waarin niemand na mekaar geluister het nie. Dit alles het nietemin sonder voorval geskied.

16

My siening is dat mens in die beoordeling van ’n skrywer moet uitgaan van beskikbare inligting, feite en bewyse gegrond op estetiese en kultuurhistoriese oorwegings binne beide lokale en globale verbande. Op grond hiervan kan projeksies gemaak word oor die moontlike toekoms van die werk.
    In hierdie verband het die Suid-Afrikaanse letterkunde van die twintigste eeu geen werklike groot digters opgelewer nie – Van Wyk Louw, Breytenbach, Roy Campbell, Douglas Livingstone en Mazisi Kunene, ensovoorts ingesluit. ’n Dramaturg van wêreldstatuur is Athol Fugard, en beduidende romanskrywers is daar wel. Die twee groot name van die eeu is ongetwyfeld Nadine Gordimer en JM Coetzee. Hiervoor sal ek seker gehang word. Dis hoe ek dit in elk geval sien.

17

Oor literêre status en kanonisering skryf Harold Bloom in sy provokatiewe boek The Western Canon: The Book and School of the Ages, dat kritici en ander kommentators nie die finale arbiters is van literêre grootheid nie. Skrywers oor generasies heen, gewikkel in ’n bloedskandelike Oedipale stryd met mekaar, bepaal wie voortleef. Die stryd geskied oor tale heen omdat literêre tradisies nie noodwendig taalgebonde of geografies beperk is nie. Die sogenaamde Westerse literatuur omvat verskeie tale en strek oor byna alle wêrelddele. Groot dele van die Suid-Afrikaanse letterkunde geskryf in Afrikaans, Engels, die Nguni, Sotho, en ander tale is deel daarvan as hibridiese letterkundes wat rus op ’n Afrika-ontologie uitgedruk in Westerse genres. Geskrewe literatuur in Suid-Afrika is ’n uitvloeisel van Westerse kolonialisme.

18

In dié sin is literêre grootheid iets wat nie binne die lewe van ’n skrywer bepaal kan word nie. Dit is iets vir die toekoms. Dante en Shakespeare moet, volgens Bloom, gesien word as figure wat in die sentrum staan van die Westerse literêre kanon. Die res is rebelse kinders van die twee vaders. Die een Angel-Saksies; die ander Romaans.

19

Bloom se betoog is genealogies instel. Dit berus op ’n Freudiaanse siening van vaderskap, bloedskande en die rebellie van die seun teen die vader. ’n Seun, ’n rebel wat óf nie weet nie óf ontken wie sy vader is. Geen wonder feministe wil niks weet van die Westerse kanon nie.
    Die growwe manlike siening van literêre produksie en verwantskap is natuurlik bevraagtekenbaar. So ook is die vergissing dat skrywers buite die invloed van kritiese instansies soos die skool, universiteit, skrywersgroepe, leeskringe, die uitgewerswese, die media en ander histories-gekondisioneerde institusionele kragte staan.
    Die wyse waarop die skrywer in die leesproses in aanraking met ’n ander kom, word bepaal deur wat kritici dink gelees moet word. Die proses van kanonisering berus op die wyse waarop opinies lesers beïnvloed. Anders gestel, die langtermynstatus van ’n skrywer berus op hoe hy of sy oor geslagte heen gelees, geabsorbeer en teengestaan word.

20

Ons lees omdat ons verlos wil word van ons eie beperkte wêrelde. Ek is iemand anders as ek lees, beweer Bloom.
    Skrywers doen dieselfde. Hulle skryf om anders te wees. In dié opsig moet die letterkunde gesien word as die vergestalting van ’n droom: ’n soort spel van die moontlike en die onmoontlike.

21

Waarvan droom die mensdom nou aan die gewaande einde van ’n eeu? Is dit die droom van ’n wêreld waarin tyd nie meer bestaan nie? Indien wel, sou dit beteken dat die kwessie van sterflikheid daarmee verdwyn? Is alles in elk geval dood? Volgens Francis Fukuyama in sy The End of History and the Last Man het die geskiedenis tot ’n einde gekom met die triomf van liberalisme. Tyd is die sirkelende ure, die dae, die maande, die jare, die dekades en die eeue. Geskiedenis is die verhaal van menslike samelewings: ’n onvolledige chronologie van gebeurtenisse.
    Die vraag is bedoel om sydelings lig te werp op die moontlike einde van die letterkunde soos ons dit ken. Die boek teenoor die digitaliteit van die kuberruimte. Dit wat dood is, kan mos nie sterf nie. Lank lewe die illusies van tyd en tydloosheid. Die jaar, oplaas, is so te sê verby. Tyd, soos die wêreld, is boeke van die eeue wat brand. ’n Duisend jaar in die gety van tyd is in werklikheid maar ’n nag sonder drome.

22

Die aanwysing van die Suid-Afrikaanse skrywer van die eeu, in ’n geskrewe letterkunde wat in baie gevalle skaars ’n eeu oud is, is om die einde van die jaar te vergis met die einde van die eeu. Alle aankondigings van eindes is gerugte en so ook is alle verklarings van ’n nuwe begin.
    Miskien sal die paar groot Suid-Afrikaanse skrywers saam met die res van die wêreld se literêre erfenis in vergetelheid verval omdat die skryfkuns soos ons dit ken, en daarom ook die leesaktiwiteit, vergaan.
    Tog moet ons dankbaar wees vir die feit dat nog ’n jaar van illusie byna verby is. Daar is in elk geval drie-en-twintig maande in die jaar. Miskien vier-en-twintig of enige ander getal. Dit, die vermoë om te tel, bring ons almal in elk geval nader aan die einde.

23

Tog moet alles, ten spyte van wat ons begeer, op ’n tyd begin en op ’n tyd tot ’n einde kom. Die einde, soos ons weet, is nie ’n nuwe begin nie, nog is dit ’n verlossing van tyd. Die einde is ’n stokoue mite van vernuwing.
    Tyd is die laggende masker van verganklikheid. Alles, ook die wêreld, sal vergaan en voortleef in die wet van verganklikheid. Sterflikheid tot in alle ewigheid is die rede waarom die mens sing, skilder, dans, skryf. Sterflikheid.
    Die jaar 2000, sover die aarde betref, is ou nuus. Ons is vasgevang in die tyd. Verstrik in sterflikheid.
    Wat sal die nuwe eeu bring? “Dinge nuut, of oud soos die sirkelende jaar?” vra die koor wat reeds van koning Oedipus, die een met die geswolle voet, se moord op sy vader en huwelik met sy moeder weet.

24

Intussen wonder ek: Is tyd diskreet of aaneenlopend? Is tyd homogeen of gevarieerd? Is tyd gebonde of grensloos? Is dit miskien albei pare en die drie stelle tegelyk? Wat, met ander woorde, is die eintlike eienskappe van tyd?
    Hierby wonder ek verder waarom ervaar ek dié moment as uniek? En is daar ’n bestaan buite tyd? Waarom vergaan alles wat bestaan? Wat is die verhouding tussen tyd en kousaliteit?
    Terwyl ek wonder, volg die een oomblik op die ander en in die onmeetbare ruimte tussen die twee verander die tyd en die wêreld. En ek en jy, waarop wag ons? Op die begin van ’n nuwe tyd? Die gode wat ’n vloek oor Oedipus uitgespreek het, is dood. Hulle het in elk geval nooit werklik gelewe nie; net maar die vervloeking teen bloedskande leef voort.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.