Uit NALN se Sarkofaag - literêre museumstukkeArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Soos belowe in die vorige aflewering (DIE TAALSTRYDER SE DESK, EN DIE HORLOSIE TEEN DIE MUUR) vertel ons nou ook die verhaal van taalstryder Willem Postma se muurhorlosie, wat tans te sien is in die Willem Postma-uitstalling in NALN.

As die horlosie op twaalfuur gaan staan ...

Sanette Vermeulen

“Moet tog nie jou gesig so lelik trek nie,” het die grootmense partykeer gesê toe ons klein was. “Netnou slaan die horlosie twaalfuur en dan bly staan dit vir altyd op daardie befoeterde uitdrukking ... !”

So sou mens seker kon uitgevang word as jy in die veertigerjare klein was, in die tyd toe die skrywer Minnie Postma haar ses kinders grootgemaak het. Toe was die muurhorlosie wat eens in die Vrystaatse taalstryder Willem Postma se studeerkamer gehang het, nog deel van die nederige maar trotse besit van sy seun Philippus Snyman Postma, die vyfde van Dr O’Kulis se tien kinders. En Philippus of Phil, soos sy hom genoem het, was niemand anders nie as die “Daaf” in Minnie Postma se outobiografiese Meintjie-romans.

In die vyfde en laaste van die reeks romans, Meintjie word mevrou (in 1955 gepubliseer), vertel sy van haar en Daaf se eerste besoek aan sy familie in Bloemfontein, die “Bouwers”, wat in die werklike lewe die weduwee Postma en haar kinders was:

    Gedurende die vakansie maak die kind met een ding vriende: die ou huisklok teen die muur. Die eerste keer toe sy die klok gewaar, span sy al die lyfie styf soos ’n boogsnaar, rek die ogies en gil dat die huis weergalm. Na ’n tydjie begin sy al met haar vingertjie die swaai van die slinger namaak as sy voor die klok vasgehou word. En toe sy die dag sê: tiek-tiek, is die trotse vader uitgelate soos ’n kind. Hy roep die familie wat binne bereik is om te kom luister hoe oulik sê sy kind tiek-tiek.

    Die aand toe die outjie slaap, gesels Fy vir die eerste keer oor die saak waarvan sy in haar brief geskryf het. Met die oog op haar reis na die buiteland gaan maak sy haar hele huishouding tot niet, dit weet Daaf-hulle nou reeds.

    “Wil Pa die huisklok vir sy groot dogter hê?” vra sy met ’n terglaggie, waardeur Daaf verleë sy kop laat hang. Hy neem egter die klok met dank aan, want hy het ook onder die tik daarvan grootgeword. Bedags het hy onder sy vader se skryftafel sit en lees, terwyl die klok teen die muur tik, en snags het hy na die dowwer getik daarvan lê en luister as hy sukkel om te slaap.

Die kleintjie wat Minnie in die storie “Welma” noem, is haar en Phil se eersteling, niemand anders nie as die skrywer Wille Martin, gebore in die dertigerjare. Nou, meer as sestig jaar later, pryk hierdie ou muurhorlosie teen die muur van ’n uitstalkamer in NALN waar dit saam met Willem Postma se lessenaar, Statebybel en ander personalia ’n veilige rusplek gevind het. Byna tagtig jaar ná Dr O’Kulis se dood, soos wat die sterfdatum onderaan sy portret teen die muur ons vertel: 13 Desember 1920.

Langs die portret hang ook ’n familiefoto, toe Stephanie (gebore in 1920), die jongste van sy kroos van tien, nog ’n baba in haar ousus Sophie se arms was. Dit is geneem in sy sterfjaar, maar dominee Willem Postma lyk nog sommer jonk. Inderdaad was hy toe maar 46 jaar oud. Maar hy het longontsteking opgedoen en in die dae vóór antibiotika en dergelike hulpmiddels was dit dikwels fataal.

Sy oudste seun, Willem, ten tye van sy dood 22 jaar oud, het later vertel:

    Die dokter is dadelik geroep en hy het my vrees bevestig. Ná die oggendete het my vader die wens uitgespreek dat ek hom na sy studeerkamer sou neem, want hy wil daar gaan lê. “Waarom, Vader?” Maar hy wou gaan. Die dokter en ek kon hom nie keer nie. Eindelik roep hy my weer (ons was toe alleen). “Ou seun, as ek miskien nie weer hier opstaan nie, dan wil ek graag in my tuie (sy boeke) sterf.”

Willem het verder vertel dat hy sy vader se bed tussen sy boekrakke moes instoot, sodat hy altyd op die groot horlosie kon sien. Hy het drie weke lank so gelê, toe daar skielik ’n opflikkering kom. Dit was egter van korte duur, en in die paar dae wat gevolg het, het die sieke ’n bejaarde vriend laat kom en hom meegedeel dat hy nie sy gesin wou ontstel nie, maar dat hy weet hy sou die volgende Maandagoggend nie beleef nie.

Ons laat weer sy seun Willem self verder vertel:

    Saterdag het die siekte skielik ’n ongunstige wending geneem en die agtermiddag het sy sterfbed begin. Hy het egter met die dood geworstel tot Sondagnag (13 Des. 1920) om twaalfuur. Toe die horlosie (wat hy so aanhoudend dopgehou en die klokslae gereeld getel het) twaalfuur slaan, tel hy, so swak as hy was, sy hand op om dit agter sy oor te bring ten einde die laaste slae te kon hoor. “Ou seun, was dit twaalfuur wat daar geslaan het?” “Ja, Vader.” “Dan kan jy maar die professore vra om my boeke te kom toemaak.” Die doodsroggel het begin en tien minute oor twaalf was hy van sy lyding verlos. Toevallig het die horlosie ook gaan staan op tien oor twaalf. ’n Grappie was dus sy laaste woorde.

Die horlosie was “toevallig” afgeloop om tien oor twaalf — nadat dit weer opgewen is, het dit nog vir jare die ure afgemeet in die huis van ’n volgende geslag Postmas. Vandag het dit nie meer nodig om aangehelp te word nie, dit het nou ’n ander, meer tydlose rol om te vervul in die museum.

Amanda, ons versamelingsbestuurder, het tóg gedink dit sou gepas wees om die wysters weer aan te stel tot by tien oor twaalf, terwyl dit nou bokant die lessenaar hang waar Willem Postma en later sy skoondogter, Minnie, se skeppende werk uit hulle penne gevloei het. Aan die sleutel waarmee die horlosie opgewen word, sou ons nie raak nie. Maar groot was die skrik toe die slae van die ou horlosie onverwags weer deur die rustige gang weerklink ... !

Het iemand gedink museums is net bergplekke vir dooie goed?

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.