Uit NALN se Sarkofaag - literêre museumstukkeArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Gé Korsten

Die eerste geharnaste man in Mozart se Towerfluit: ’n Vroeë Gé Korsten-storie.

Vandag se skat uit die sarkofaag is ’n operateksboek (met musiek), grootte ongeveer 27 cm X 19 cm. Die bruin omslag dra die naam Gé Korsten in die regteronderkantste hoek, in goudkleurige letters gedruk. Verder ook “Die Zauberflöte”.

Uit die inhoud was enkele belangrike leidrade reeds af te lees: Los ingevoeg, die nou vergeelde, maar oorspronklike argiteksvoorstelling van die verhoog in die Aula. Dis onderteken deur Frank Graves en gedateer Februarie 1960. Volgens dié datum kon ons uit die FCL Bosman-argief koerantartikels opspoor wat die “bruin boek” nuwe lewe ingeblaas het, en wat die res van die leidrade as feite kon bevestig: die paar rooi-onderstreepte teksgedeeltes, en die Afrikaanse vertaling van die libretto wat met blou vulpen naas die oorspronklike Duits ingeskryf is.

Gé Korsten het as klein seuntjie saam met sy ouers uit Rotterdam na Suid-Afrika geëmigreer. Dis nogal moeilik om die aantreklike donkerkopman eerstens as elektriese kontrakteur voor te stel, maar ja, dis hoe hy aanvanklik sy brood verdien het! As operasanger maak hy in 1956 sy debuut (in opdrag van die Pretoriase Operagroep) met Leoncavallo se Pagliacci. Joubero Malherbe skryf oor Gé: “Gé het aanvanklik baie hard gewerk om sy besigheid as elektriese kontrakteur te laat slaag. Soggens dou voor dag het hy al singende met oop vensters na sy besigheid gery. Menigmaal het ons hom vroeg-vroeg op kantoor geskakel om hom geluk te wens met die vorige aand se operaoptrede. Dan was hy al volstoom aan die werk, terwyl sy medesangers waarskynlik nog heerlik aan die slaap was. Van albei hierdie loopbane het Gé ’n sukses gemaak.” (Malherbe, p 64)

Maar terug na ons “bruin boek”. Gé se operaloopbaan was dus nog maar in sy kinderskoene toe daar in 1960 ’n tiendaagse operafeesseisoen onder die beskerming van die Suid-Afrikaanse Federasie vir Opera aangekondig is. Hierdie seisoen sou aanvullend wees tot die Uniefeesvieringe, en sou vir Johannesburgse en Bloemfonteinse gehore aangebied word. Geldelike steun het van die regering gekom, asook van die Transvaalse Provinsiale Regering en die Johannesburgse Stadsraad. Daar was tot in daardie stadium wel jaarliks ’n operaseisoen, maar daar is steeds gehoop op die totstandkoming van die een of ander sentrale beheerliggaam. Die operafees wat in 1960 aangebied is, van 15 Junie tot 25 Junie, was dus veral om twee redes belangrik: die publiek moes besluit of hulle ’n vaste operageselskap in die stad wou hê, en die besoekende sowel as plaaslike operasangers sou kon bepaal of daar vir hulle ’n toekoms in ’n Suid-Afrikaanse sangloopbaan was. Die koerantberigte (sowat 43 van hulle, en meestal Transvaalse blaaie) het met groot fanfare die groot name van die spelers aangekondig, en pligsgetrou berig oor die suksesse en insinkings in die optredes, die ontoereikende verhoogfasiliteite, en die rooskleurige toekoms van opera in Suid-Afrika. Van die buiteland af het gekom Hanlie van Niekerk, Mimi Coertse, Lloyd Strauss-Smith, Dawie Couzyn en Frederick Dalberg. Ander, soos Rudi Neitz, Doris Brasch en Jossie Boshoff, is na behore geprys. Een klein beriggie (Transvaler, 26/05/1960) het egter behoort aan Gé Korsten en Jan Schutte, die twee geharnaste manne by wie Tamino (Lloyd Strauss-Smith) en Pamina (Hanlie van Niekerk) moes verbygaan na die Dal van die Dood. Dis hul laaste en moeilikste toets voordat hulle as “ingewydes tot die hoogste liefde” beskou kan word.


Die rooi-onderstreepte librettogedeeltes van die sewende toneel dui aan dat Korsten die rol van die eerste geharnaste man gespeel het — maar sowat sewentien reëls. ’n Klein rol dus, maar die begin van baie groter musiekdinge. Want Gé het spoedig die liefling van duisende luisteraars geword, en tenoorrolle gespeel in feitlik al die bekende operas. Daarná het ’n roemryke en flambojante ligter-musiekloopbaan gevolg.

Die Towerfluit-opvoering van 1960 het ook ander noemenswaardighede opgelewer: Die Afrikaanse weergawe (vertaal deur Gideon Roos en in hierdie jaar reeds vir die tweede keer op die planke) is vir die eerste keer volledig oor die Afrikaanse radiosender van die SAUK uitgesaai. Bosman de Kock (skrywer Sita se seun) het gesorg vir dié mylpaalgebeurtenis. Victor Ivanoff het die dekor gedoen (én ’n rol vertolk) en Hermien Dommisse was die veelgeprese regisseur. (Later, in die vroeë negentigs, sou sy saam met Gé Korsten optree in MNet se strooisage “Egoli”, albei as lede van die Vorster-dinastie).

Die “bruin boek” uit die Sarkofaag het onaangewins in NALN se versameling beland (“Skenker: Anoniem”). Desnieteenstaande bevat dit ’n skat aan musiek- en kultuurinligting wat met behulp van die Bosmanversameling ontsluit kon word. Gé Korsten se onverwagse en tragiese dood teen die einde van 1999 het, in breër en op nogal ironiese wyse, die woorde bevestig wat op ’n Delftse bord afgedruk is, en wat gehang het in die Korstenwoning in Mouillepunt:
    “Van het concert des levens krijgt niemand een program”

Bronne:

  • Joubero Malherbe. Refrein. UNISA, 1995.
  • FCL Bosman-versameling, Nasionale Toneelmuseum Bloemfontein (tans gehuisves in dieselfde gebou as NALN)

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.