|
n Paar klanke uit die Nasionale ToneelmuseumDie sarkofaag vandag : n Paar klanke uit die Nasionale Toneelmuseum, met begeleiding vanuit letterkunde-kant. Ek het Anna Neethling-Pohl by drie geleenthede ervaar: in 1982 toe ek haar n voormiddag lank gehelp het om die boekrak in die Pohl-kamer na haar sin te rangskik; in 1989, toe sy met my oor haar vriendskap met ID du Plessis (wat sy Doepels genoem het) gesels het; en weer in die vroeg-negentigs op die bekoorlike maar stowwerige Vrystaatse dorpie Philippolis. Vee af julle voete voor julle inkom! was die sin waarmee sy my en n manlike kollega dié dag begroet het; want op dié plek waai God se wind ELKE DAG! Nouliks twee asemteue verder het sy gevra of ons lovers ook is en of ons net saam werk. Ek kan my dié bruisende, driftige vrou dus kwalik voorstel as iemand wat van spanning en senuagtigheid (haar) tande so dikwels gekners (het) dat (sy) een skoon deurgebyt het. Tog is dit presies haar herinnering aan die amptelike opening van die Anna Neethling-Pohl-kamer in Naln (Mei 1974, nog in die dae van prof Petrus Nienaber). En o, sarkofaag! wat sê sy volgende? Dit was asof jy by jou eie begrafnis staan en in jou afstandsdimensie weet hoe min jy eintlik uitgevoer het met al die kanse tot jou beskikking. Onder die skuilnaam AP Niehaus skryf Anna Neethling-Pohl n paar romans, te wete Skewe potte (1946), Die susters Dupont (1946), My liewe Magda (n dagboekroman, in 1950) en Ken u haar? (n bundel sketse, ook in 1950). Saam met WA de Klerk skryf sy, as Anna Heymans, die briefroman Van Willem en San. En as vertaler is sy ewe aktief. Twee van die sewe Shakespeare-stukke wat sy vertaal het, is in boekvorm uitgegee: Julius Caesar (Van Schaik) en Othello (Human & Rousseau). Van die oorblywende vyf stukke (Coriolanus; Die koopman van Venesië; Die storm; Antonius en Cleopatra en Die wintersprokie) sê sy: Dit was maande en maande se baie harde werk en sal bewys lewer dat ek wel iets van Shakespeare geweet het ... Dié stukke, hoewel slegs in getikte vorm, is almal in die teater gebruik, óf deur die (destydse) streekrade óf deur die (destydse) SAUK. In 1997 het haar vertaling 25 Shakespeare-sonnette in Afrikaans ook in boekvorm permanensie gekry. Anna Neethling-Pohl het ruim geskenk vir die Pohl-kamer, en steeds toegevoeg, tot met haar dood in Augustus 1992. Onder meer goetertjies van vriende en kollegas soos Koos Roets, André Brink die uitsaaiman, Neels Hansen, Hannes Horne, Betsy de la Porte nie net plaaslike presente nie, maar ook kosbare vriendskap-mementos uit Oberammergau, Portugal, Spanje en Israel. Daars ook n sprekende verskeidenheid professionele herinneringe : n swart onderrok (wat deur verskeie produksies en in meer as die gebruiklike gedaante diens gedoen het!); die Moeder Courage-vodde; haar beroemde koeksisters (lapvlegsels wat sy as haarbande gebruik het en wat haar persoonlike kenmerk geword het), en natuurlik vele méér. Wat hulle veral beïndruk, is die unieke bed, en die serfyntjie, skryf sy oor die reaksie van Transvaalse museumvriende na n besoek aan die Pohl-uitstalling in Bloemfontein. Die bed is intussen terug na die familie, maar die serfyntjie kon gelukkig bly. Oor die versending van laasgenoemde twee kosbaarhede skryf sy op 3 Mei 1981 uit Berghoek, Villieria: Die trek en vervoer is verseker, en ek is seker dat dit goed by jou sal aankom, maar weet, my hart is nou ook daar in die museum, saam met hierdie, vir my, kosbare goed. Die serfyntjie*, deur Tabler, is kleiner as ander traporrels, en van n mooi ligte hout gemaak. Dit bevat maar vier oktawe wit klawers, en geen stoppe nie, en is sonder n verhoogde rugkant. Behalwe vir die twee smal voetpedale, waarop liermotiewe aangebring is, is die serfyntjie smukloos en sonder enige siermotiewe. (Terloops, in talle van haar briewe gee prof Anna haar voorkeur vir klassieke eenvoud te kenne.) Volgens haar dogter, mev Linda Biddell, het sy graag songs, en psalms gespeel, uit boeke wat in die musiekbankie gebêre was. In Dankbaar die uwe vertel sy dat sy dikwels, sonder enige vrypostigheid, by die groot mense, liewe dames, gaan kuier het, op pad terug van haar musiekles of korfbal. Baie van haar broer, Jan Pohl, se liedjies (soos Die mannetjie en Dis lekker om te lewe) het ook outobiografiese oorspronge, wat sy in dié teks in herinnering roep. In n brief aan prof Nienaber (27 Mei 1982) skryf sy driftig (en sonder om agtergrond te gee oor die aanleiding): Ek voel bitter omdat ek gehoor het dat my kamer die indruk maak van iemand wat lekker op n mooi bed gelê en lees het of in n aandrok op die serfyntjie gesit en speel het! Ek hét, ja, maar daar was darem helse opofferende dinge ook aangepak en deurgevoer. Inderdaad, Anna Servasina Neethling-Pohl. [*Item-aanwinsnommer T55/81/14, Nasionale Toneelmuseum] |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |