Mummie skryf:
n Peuterwerker
in (sy) kerker
Deesdae het vulpenne seker nog net kuriositeitswaarde. Uit Jan FE (vir Johannes François Elias) Celliers se sarkofaag kom egter n pen met n besonderse verlede:
Die verfynde en hoogs opgevoede Celliers, wat in die begin van hierdie eeu n geruime tyd lank met sy gesin oorsee gewoon het (onder meer in n groot villa, die Maison Perret, by Montreux) kom in 1907 terug na Suid-Afrika. (Hy het hom in 1899 by die Boeremagte aangesluit en een van die bittereinders geword wat nie die wapen wou neerlê nie. Met goue Krugerponde wat hy in die agterplaas van Klein Scheidingstraat 166 begrawe het, kon hy vir hom en sy gesin na die oorlog n passaat oorsee koop.)
Toe hy in 1907 terugkom in Suid-Afrika, het hy sy vroeëre pos as staatsbibliotekaris verloor, en is hy agt maande lank werkloos, voordat hy n possie in die Departement van Binnelandse Sake kry. Die argief van hierdie departement is sonder vertaler, en Celliers word aangesê om hul vertaalwerk te doen. Hy vertel verder:
Die ou Brandwag was toe net opgerig. Dr. WMR Malherbe tans professor in Stellenbosch het redakteur geword. Dis ek wat die tydskrif sy naam gegee het. Ek was vuur en vlam daarvoor. Dog in plaas van nou met hart en siel daarvoor te kan werk, moes ek sit en vertaal van die môre tot die aand, my aandag wy aan die fynste besonderhede van polisieregulasies, varkenskos, ..., slaghuisregulasies, pluimveevoer, ontmanning van bulle en hoenderhane, en net alles wat vir my onsimpatiek en prosaïes en vies was. Dis in dié tyd dat ek die gediggie Ironie gemaak het; nadat my by geleentheid van n lesing in Bloemfontein gelewer n pen present gegee is deur die vereniging Ons Taal.
Ek het somtyds gevoel of ek kan beswyk. En die marteling het tien lange jare aangehou.
Vir hierdie marteling is hy £20 (sowat R40) per maand betaal. Die lesing waarvan hy melding maak, is op 13 Junie 1914 in Bloemfontein gelewer onder die opskrif Kuns. Celliers was redelik bekend as n besielende openbare spreker (en het ook die etiket van volksdigter in literatuurgeskiedenisse gekry). Die inhoud van sy boekrakkie in NALN lewer getuienis van sy verfynde leessmaak: Engelse, Duitse, Franse en Nederlandse klassieke werke. Dit was dus rêrig n ironie dat hy met hierdie pen oor die realiteite van elke dag moes skryf (en onder meer resepte vir varkenskos moes vertaal):
n Goeie genius gee n pen
en sê my: skryf daarmee.
Maar ek staan bedroef met die pen in my hand
so vol vertroue gegee:
Die pen is net sterk in n meester se mag
wat sou tog die geefster van my verwag?
Ek staan verleë daarmee:
Ek wil die pen in die hemelblou,
in die geur van blomme doop,
in awendgloed,
in heldebloed,
in son en môredou.
Maar n kwelgees ruk die pen van my af,
en doop dit diep in swynedraf
en gryns: Dè, skrywe nou!
Celliers se pen (aanwinsnommer 226/77/81) vorm deel van die Jan Celliers-uitstalling in die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN).
boontoe
|