Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Heindrich Wyngaard, artikelredakteur van Insig, is een van die “virtuele sprekers” wat aan LitNet se skrywersberaad gaan deelneem. Marguerite Black het hom solank gaan por.

Heindrich Wyngaard: 'n man met momentum

Marguerite Black

Heindrich Wyngaard, politieke joernalis by Naspers, het koppe na sy kant toe laat draai ná sy omstrede uitspraak dat hy vermoed dat die Afrikaners die bruines ter wille van hul eie magstryd teen die swartes voor hul eie politieke karretjie wil inspan (Insig, Maart 2000). Heindrich lyk na iemand wat sonder skroom sy opinie oor die posisie van bruin Afrikaanssprekendes sal lug, want hierdie man is nie op die mond geval nie.

Omring deur Ierse stereotipes in ’n O’Hagans Pub and Grill, waar ons ontmoet, nooi die spyskaart ons uit om die een koppie koffie ná die ander te drink met frases soos: “Winter warmers will melt your heart!” en “There is nothing like Irish hospitality!” Die stereotipering van Afrikaanssprekendes sal moeilik kers vashou by hierdie oordrewe vorm daarvan en dit herinner my daaraan dat stereotipering ’n wêreldwye verskynsel is.

Die lappieskombers-ras

“Daar is mense wat vir jou sal sê daar is nie so iets soos ’n bruin mens nie,” sê Heindrich en lyk hoogs twyfelend as ek hom uitvra na die rol of identiteit van die bruin Afrikaanssprekende ná apartheid. “Wat is daar wat ’n mens nou eintlik kan wys? Bruin mense is so ’n mengelmoes, in die mooiste sin van die woord: daar is nie een geskiedenis, kultuur en tradisie nie; godsdienste verskil ook hemelsbreed, want daar is onder andere Christene, maar ook Moslems. Dit is moeilik om te besluit of jy Griekwa, Khoi of Nama is.

“Die benamings ‘Kleurling’, ‘Bantoe’ en ‘blanke’ is walglik en bring daardie gevoel van gister terug. Maar die benaming ‘Afrikaner’ is nog van toepassing en verwys na ’n Afrikaanssprekende persoon wie se voorvaders in die Groot Trek was, wat liries raak oor die Taal- en Vrouemonument en vir wie die Drakensberge ’n spesiale simboliek het. Die gebruik van ‘wit’, ‘swart’ en ‘bruin’ is aanvaarbaar en ’n maklike manier van onderskeid tref.

“Natuurlik gaan jy in ’n bruin mens vasloop wat sê dat hy swart is omdat hy dieselfde ervarings as die breër swart gemeenskap gehad het. Then so be it.

“Mense wat hulle besig hou met dié soort kwessies (waarvan daar nie veel is nie), praat daaroor of hulle Kleurling, bruin, swart of doodeenvoudig Suid-Afrikaners is. Ek voel dat ons in die eerste instansie bruin moet wees omdat ons uit ’n spesifieke gemeenskap kom waar ons unieke ervarings gedeel het wat ander nie noodwendig deel met ons nie. Ons moet daardie ‘andersheid’ erken, maar daardie ‘andersheid’ moet nie negatief gebruik word nie, byvoorbeeld om ons hetsy minderwaardig of meerderwaardig te laat voel nie. Dit is vir almal beter om binne ’n geïntegreerde samelewing mense se ‘andersheid’ te erken. Dit beteken ook dat ons nie moet sê dat bruin armes eerste gehelp moet word nie. Maar terselfdertyd byt ek nie aan daai storie wat sê: ‘Onthou, bruin mense het ’n beter lewe gehad in die ou Suid-Afrika, so staan bietjie opsy.’ En ek glo ook nie aan ’n trapsgewyse representasie van armoede, naamlik wit, bruin, Indiër en swart (van bo na onder) nie.”

(Skielik onderbreek Heindrich homself en vra vir my of hy bruin of wit suiker in sy koffie sal drink. Dit is ’n dilemma en ek stel voor dat hy Canderel gebruik, want dis die politiek korrekte ding om te doen hoewel nuwe navorsing bewys het dit kan ’n mens steriel maak.)

“Gewone mense hou hulle nie op met dié soort goed nie. As jy my ma op Caledon konfronteer met dié soort van issues, sal sy vir jou sê: ‘My kind, ek wil net aan die lewe bly.’ Net geleerde mense kan oor dié goed praat, want gewone mense se lewe wentel om armoede en geweld. Bruin mense wil hê swart mense wat in die verlede swaargekry het, moet voordeel trek uit die nuwe bestel, maar beteken dit dat bruin mense afgeskeep moet word? Bruin mense het ook maar swaargekry. Ek het nou net vir Insig ’n artikel geskryf oor my kindertyd, toe kos vir my belangriker was as liefde.” Maslow se hiërargie van behoeftes kan gebruik word om die situasie van baie mense in ons land voor te stel. Wanneer die fondament van die driehoek nie daar is nie — basiese behoeftes — kan die res van die driehoek, onder andere emosionele behoeftes en begrip van eie identiteit, nie bestaan nie.

Heinrich sê die volgende oor sy stelling wat in Leopold Scholtz se artikel aangehaal is: “Die Afrikaner het miskien nie meer die politieke mag in die land nie, maar omdat hulle so naby aan bruin Afrikaanssprekendes leef, het die Afrikaner nog steeds ’n houvas op dié gemeenskap. My ma werk in ’n wit man se kombuis en my pa werk op sy plaas. Weens die karige lone wat hulle van die Afrikaner kry, moet hulle dink hoe om die volgende dag aan die lewe te bly en kan hulle nie dink oor taaldebatte en identiteitskwessies nie. ’n Mens kan nie help om te wonder of die Afrikaner die bruin Afrikaanssprekende weer wil gebruik om getalle aan te sterk om vir hulself as’t ware ’n beter ‘bargaining position’ te gee nie.

“Die Burger het 56% bruin lesers. Wanneer die koerant beskuldig word van rassisme, spog hy en sê: ‘Hoe kan enigiemand sê ons is rassisties? 56% van ons lesers is dan bruin.’ Maar die punt is, dis nog steeds Afrikaners wat in beheer is en die sirkulasiesyfer is so hoog onder bruin Afrikaanssprekendes omdat hulle Afrikaans is en omdat die nuusinhoud van die koerant ’n groot verskeidenheid het. Nie soseer omdat hulle hulle assosieer met die politiek van die koerant nie. Bruin joernaliste sal nie die ruimte gegun word om artikels te skryf nie. So byvoorbeeld, skryf Dawie ’n paternalistiese artikel met die titel ‘Bruines besin nou ook oor identiteit’. Met watter outoriteit skryf hy oor hierdie kwessie?”

Die kern van die klopse — ’n herevaluering

“Dit is jammer dat die Kaapse Klopse as ’n stereotipe beskou word. 156 jaar ná die vrystelling van die slawe, voel ’n groot deel van die afstammelinge nog steeds vasgevang in slawerny, want hulle sukkel met sosio-ekonomiese probleme, armoede en met die besef dat hulle nie so baie vrugte gepluk het as swart mense ná apartheid nie. Sekere tradisionele gebruike word dus met al hierdie probleme geassosieer. Maar daar is tog gewoontes en ervarings wat apart staan van die politieke verlede en eie is aan bruin mense. Voorbeelde hiervan is iets so eenvoudig soos om Paasbolletjies te eet oor Paasnaweek; en die Kaapse Klopse: die slimbekke in die gemeenskap is ongelukkig en voel dat dit ’n bespotting is van hul gemeenskap. Ons is ‘jollie’, maar solank mense net nie dink dat, omdat ons ‘jollie’ is, ons nie ernstig opgeneem kan word nie en ons as ’n grap aansien nie. Die feit bly staan dat die Kaapse Klopse al vir hoeveel jaar ’n belangrike deel van die gemeenskap is. ’n Mens kan jou nie ’n Nuwejaar in die Kaap sonder hulle indink nie. En kyk, dis nie iets wat Verwoerd op ons afgesmeer het nie, dit het ontstaan as ’n viering vir die vrystelling van die slawe. Moenie ’n fout maak nie, ek verstaan die sentiment van: ‘Nee, as die Klopse by die pad afgaan, dan sê die ander: ‘Ja-nee-wat, dis al waarvoor hulle goed is. Hulle suip lekker, maak kinders en loop en sing in die pad.’ Laat hulle maar van daar bo uit hul ivoortoring afkyk en dit sê. Die realiteit is, dat hulle een keer per jaar uiting gee aan hul talente. Dit is ongelukkig so dat die dinge wat eie is aan die bruin kultuur oor die jare gestereotipeer is. Daar is ’n lewendige kutuur en die definisie daarvan is die dinge wat oor die jare eie geword en gewoontes geword het van die bruin gemeenskap. Iets soos die Klopse, in my gewone-man-definisie, is deel van die kultuur.”

Wit kind in die pram

‘‘Die Afrikaner weet hy het kak aangejaag en moet daarom vir ’n ruk lank laaglê. Die Afrikaner moet ’n ruk lank kalm en rustig wees en ’n positiewe bydrae probeer maak. As jy sien dat daar ’n behoefte is vir ’n kleuterskool in ’n sekere buurt, gaan uit en help. Willem de Klerk stel in sy nuwe boek, Kroes Kras Kordaat, voor dat die Afrikaner a-polities raak, maar ek weet persoonlik nie hoe ’n mens a-polities raak nie. Selfs ek, as joernalis, wat nie ’n party-politieke baby is nie, kan nie heeltemal a-polities wees nie. Ek weet nie of die Afrikaner regtig om verskoning gevra het nie. Dis nodig om te sê: ‘Ek is jammer’, maar dit moet juis uitgeleef word deur betrokke te raak in agtergeblewene gemeenskappe. Ek het onlangs in die tydskrif Time gelees oor die jonger geslag Duitsers wat moeg is oor stories van die Holocaust en ly aan ‘compassion fatigue’. Party Afrikaners ly op ’n soortgelyke wyse aan ‘apartheid’s fatigue’ en dan gebeur iets soos ’n bespotting van die Waarheid-en-versoeningskommissie. Afrikaners het dit gedemoniseer en dit beskou as die uitrygery van ’n klomp derms. Dis net nie goed genoeg nie. Aan die ander kant kan ek dit verstaan dat Afrikaners wil sug elke keer wanneer iemand na ’n wit kind in ’n pram kyk en beskuldigend sê: ‘Dis ’n wit kind in daai pram.’

“Daar is ’n moedswilligheid onder die jonger geslag wit Afrikaanssprekendes om hul identiteit te ontken. Op die ou end praat hulle Engels en verwerp alles wat met Afrikanerdom geassosieer word. As hulle net hulle agtergrond kon erken en besef dat dit nie noodwendig beteken dat hulle so is nie. So het Jeanne Goosen mos mooi vir ons gesê indertyd: ‘Ons is nie almal so nie.’ Die jong Afrikaner het die vrugte gedeel / geniet van die apartheidsbestel wat hul ouers bevoordeel het en behoort daarom ’n groot sin vir verantwoordelikheid te hê.”

A-morele ambivalensie

“Voordat die Afrikaner begin aanspraak maak op taalregte — het hulle al ooit daaraan gedink om net eers vir die bruines jammer te sê? My ma was julle bediende gewees en is sleg behandel. Maar ondertussen was sy Afrikaans. Sondag is sy na die NG Sendingkerk toe. Jou ma is na die NG Moederkerk toe — selfde Bybel en teksverse. Maar Maandag kom sy by die werk en dan is sy ’n meid. Sy word so genoem in Afrikaans, maar sy voed jou kinders op in Afrikaans. Nou kom die Afrikaner-meningvormers en sê: ‘Bruin mense, julle moet nou nader staan, want ons taal gaan nou in sy moer in.’ Dus kan ’n mens mos nou nie anders om te dink dat die Afrikaners die bruin mense wil gebruik teen die swart regeerders nie. Nou is ons skielik goed genoeg.

“Ek is besig om Die Eerste Steen van Adam Small te lees. In die boek is daar byvoorbeeld ’n bruin vrou wat swanger is. Die agterste sitplekke is vol, maar daar is twee sitplekke wat oop is voor in die bus. Die man van die vrou wonder dan hoekom sy vrou nie maar voor in die bus kan sit nie. In die boek waarsku Small toe al teen dié tipe goed wat vandag gaan gebeur. Hy sê pertinent in die boek: ‘Daar gaan ’n dag kom dat julle ons gaan nodig hê. Moet ons nie verkwalik as ons sê: ‘Los ons uit!’ nie. Op die oomblik is daar ’n stormagtige liefde-haat-verhouding tussen bruin en wit Afrikaanssprekendes. Voor die Groepsgebiede-wet was daar baie liefde tussen wit en bruin. Ek glo dat dit sal weer terugkom met die tyd, maar ons moet geduldig wees. Baie mense in die bruin gemeenskap is vergewensgesind. Die Afrikaner moet net nie voorsê en kom met ’n baas-mentaliteit nie.”

My PC of joune?

“Politieke korrektheid is stront. Max du Preez het eenkeer gesê dat daar net een PC is en dis die PC waarop hy sy stories tik. Ek wonder of die stilte onder bruin leiers nie te make het met politieke korrektheid nie. As hulle die bruin mense se griewe lug, is hulle bang dat hulle daarvan beskuldig sal word dat hulle bruin nasionalisme aanvuur. Dis polities korrek om te praat van swart plakkerskampe. Dis egter nie die gedoene ding om te praat van bruin mense as plakkers nie. Volgens my plak daar soms ’n hele uitgebreide familie in die huis van die ma of die ouma. Dertien mense in een huis is nie ’n vreemde verskynsel op die Kaapse Vlakte nie.”

Heindrich voel duidelik dat die grense tussen wat polities korrek is en wat nie is nie en volgens wie, baie vaag en meer genuanseerd is as wat die politiek ons wil wysmaak.

’n Mens kan niks onderskei in die mistigheid buite die restaurant in Mouillepunt waar ons ontmoet het nie en die onthutsende klank van ’n mishoring, wat skepe waarsku teen die gevare van die kus, herinner aan skepe en ’n ou geskiedenis van mense wat aankom en vermeng in die Kaap van storms.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.