Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Om die “stil oog van die storm” te wees

Herman Wasserman

Naas bekende skrywer is Hennie Aucamp ook ’n veteraan-resensent. Ná ’n halfeeu tree Aucamp vanjaar uit die resensiebedryf. Herman Wasserman het met hom daaroor gesels.




Jy is nou 72 jaar oud, en staan 50 jaar lank in die resensiebedryf. Jy moes dus vroeg begin het?

Op ouderdom 22. Ek het Koraal van die dood van Ernst van Heerden op versoek van Johanna van Graan van Die Eikestadnuus geresenseer. Vandag besef ek dat Ernst van Heerden ’n hand in die saak gehad het. Van Graan het my ongehoord baie ruimte gegun, sodat my heel eerste resensie ’n “essay-resensie” was, maar dié term was toe nog onbekend in Suid-Afrika.

Die resensie het verreikende gevolge vir my loopbaan gehad. Prof WJ du P Erlank (Eitemal) het die resensie gelees en my, sonder my wete, gaan inskryf vir ’n MA-tesis. My tesistitel was Die poësie van Ernst van Heerden.

Het jy sedertdien dikwels poësie geresenseer?

Seer selde. Miskien vyf, ses bundels in die loop van 50 jaar. Ek lees wel dikwels poësie, maar prosa is my werklike hartstog. Tog was my MA-tesis ’n belangrike skoling vir my. Eitemal het my dit op die hart gebind dat ’n prosaskrywer ook ’n stipleser van poësie moet wees as hy sy woordbeheer op hoër plan wil kry. Dieselfde geld natuurlik ritme. Slordige prosaritme is net so hinderlik as slordige poësieritme.

Is jy die oudste aktiewe resensent in Afrikaans?

Nee, die “Boeksusters” – dis nou Madeleine van Biljon en Cecile Cilliers – is ouer as ek – ek het dit by Madeleine uitgeklaar – maar hulle het beide heelwat later as ek begin resenseer. André P Brink, Braam de Vries en Ampie Coetzee is tydgenote, en al drie resenseer nog, maar ek is ’n jaar of twee, drie ouer as hulle, sodat ek hulle waarskynlik ’n koplengte voor is. Maar die “statistiek” hier is onbelangrik. Belangriker vir my is die vraag waarom sekere resensente so lank aanhou met resenseer. My teorie is dat akademici, ook die uitgetredenes, resenseer as ’n verlengstuk van hul akademiese en opvoedkundige belangstellings sien. Joernaliste soos Madeleine en Cecile is van die gedugte soort wat vanuit ’n sterk opvoedkundige basis resenseer, en in dié opsig by die MER- en Rykie van Reenen-skool aansluit. Maar daar is nóg ’n oorweging by party skrywer-resensente, en dit is dat hulle resensiewerk as ’n integrale deel van hul oeuvre sien, en selfs ’n keur van hul resensies publiseer, soos André Brink met Voorlopige Rapport 1 & 2, JP Smuts met Burgerband, en ek met Dagblad en Beeltenis verbode.

Wat het jou gemotiveer om vir soveel jaar besig te bly met resensies skryf?

In ’n sin het ek dié vraag reeds beantwoord met my antwoord(e) op vraag 3. Ek wil net dít byvoeg: ’n passie vir boeke. Ek was geseënd om binne ’n boekkultuur groot te word, en tot vandag toe is ek en my suster verbete lesers, en bel ons mekaar klokslag om in besonderhede van ons jongste boekvondste te vertel. Ja, miskien is dit, op sy eenvoudigste gestel, waarom ek resenseer: om my geesdrif vir boeke met ander te deel.

Wat is vir jou die mees opvallende verskil(le) tussen die manier waarop jy tans resensies skryf, en die manier waarop jy dit 50 jaar gelede gedoen het?

Daar is miskien meer ooreenkomste as wat daar verskille is, maar laat ek met ’n verskil begin. Vroeër was jy nie so ingeperk wat lengte betref nie. Jy kon lang resensies skryf waarbinne jy jou betoog rustig kon ontwikkel. Die kompaktheid wat ’n onlangse tydskrif van sy resensente verwag het, het tot die swakste resensies gelei wat ek ooit geskryf het, want as ek net ’n paragraaf langer geskryf het as wat die “formaat” van die bepaalde tydskrif geëis het, is ’n paragraaf summier uitgegooi, dikwels ’n sleutelparagraaf binne my betoog.

En hiermee is ek terug by die ooreenkomste tussen my resensies van vroeër en nou. Ek het spontaan die essayvorm gekies vir my resensies, en dit om bepaalde redes. Wanneer jy ’n betoog skryf, is daar minder geleentheid vir interpolasies en tersydes. ’n Betoog is dus ’n beskermingsmaatreël, vir die resensent, die resensie en die leser van ’n resensie. ’n Leser word nie onderwerp aan die persoonlike griewe en woedes van ’n bepaalde resensent nie. Nog ’n wins van die essay is dat dit die skrywer daarvan herinner aan die betreklikheid van sy waarhede, want die ware essayis weet dat hy nie alle wysheid in pag het nie, en telkens verkeerd bewys mag word.

Die essayvorm kom vir my redelik natuurlik, waarskynlik omdat ek as onderwyser, en later dosent, baie aandag aan paragraaf- en essaystruktuur gegee het, en dit op baie praktiese vlak. Ek het, altyd sáám met studente, paragrawe en essays ontleed om by sekere struktuurbeginsels uit te kom.

Die soort resensie wat my die naaste aan die hart lê, is die “essay-resensie”. Ek het die term in ’n biografie oor Christopher Isherwood teëgekom, waarin gemeld word dat Isherwood hom ’n lang tyd aan die lewe gehou het in Amerika met die skryf van “essay reviews”. ’n Skrywer kry baie ruimte, baie tyd en baie geld vir dié soort skryf, en van dié “essay reviews” het dikwels blywende waarde, soos Isherwood dan ook bewys in Exhumations, ’n bundel met sy verspreide prosatekste. Sy essay oor Katherine Mansfield kan sonder aarseling in dieselfde asem genoem word as dié van Eudora Welty en Katherine Anne Porter.

Johan van Rooyen, stigter van die kultuurtydskrif De Kat, het my gevra om lang, vergelykende stukke oor boeke te skryf, en die nuwe De Kat, tans ’n kwartaalblad, laat my ook die luukse van “essay-resensies” toe.

Watter genre het jy die graagste geresenseer?

In die beginjare oorwegend kortverhale, essays en novelles, en ek keer nog gereeld terug na hierdie genres. Maar daar het tog verskuiwings plaasgevind, veral die afgelope vyftien jaar. Miskien moes ek dit onder “verskille” gehanteer het, na aanleiding van jou vorige vraag? Ewentwil, die verskuiwings: ek resenseer nou by voorkeur niefiksie, en by niefiksie veral egodokumente, soos brief-, dagboek- en memoire-bundels. En dan het ek ook ’n sterk belangstelling in rotskuns, die Boesman- en Holocaust-aangeleenthede. ’n Leesbelangstelling wat van vroeg af in my resensiewerk opgevang word, is die Engels-Suid-Afrikaanse letterkunde, van Schreiner oor Pauline Smith en Doris Lessing, tot by JM Coetzee. En o ja, amper vergeet ek: boeke oor gayverwante sake. Gelukkig hoef ’n mens nie meer ’n blad voor jou mond te neem wanneer dit by homoseksualiteit kom nie.

Jy het in ’n stadium gereeld radioresensies oor boeke gelewer. Verskil hulle van jou dagbladresensies?

In die vroeë negentigerjare van die vorige eeu het ek gereeld resensies vir die ou SAUK in Kaapstad geskryf, onder die kundige redakteurskap en regie van dr Daniel Hugo.

Dr Hugo, as professioneel, het my geen struikeling of aarseling toegelaat nie. Selfs wanneer die leser wéét dat jy jou resensie voorlees, moet jou lewering iets van die spontaneïteit van ’n gesprek suggereer. Ek beny kollegas soos André P Brink en Petra Muller wat uit die vuis uit oor boeke kan praat, so matematies presies asof hulle ’n teks voor hulle het. Dis ’n talent wat ek nie het nie.

Ek lees my resensies hardop voor opnames, en waar ek struikel omdat sinne te lank is, of moeilike woorde leesversperrings veroorsaak, daar hersien ek my teks en dwing dit tot groter bruikbaarheid.

Radioresensies het my gehelp om toegankliker te skryf; so ook die verhale wat ek vroeër jare spesifiek vir die radio geskryf het, soos byvoorbeeld “Die hartseerwals”, “’n Baksel in die môre”, “When the saints go marchin’ in”.

Die skoling wat die radio vir resensente en kortverhaalskrywers gebied het, het helaas verval, en daarmee is nog ’n “publikasieterrein” vir die jong skrywer van vandag daarmee heen.

Hoe beïnvloed die manier waarop jy na kuns kyk, of dit ervaar, jou resensering?

Ek kry tot my spyt nie dikwels kunsboeke ter resensie nie, behalwe boeke oor rotskuns, en hieroor is ek verheug, want my vroegste “kunsgalerye” was die oorhange en bakkransies in die veld, waar ek Boesmankuns ter plaatse kon leer “lees” – o, ja, narratiewe kuns wil “gelees” wees.

Kuns en kunsboeke beteken vir my ’n “opvoeding van die oog”. Kuns laat jou, as jy sonder oogklappe daarna kyk, anders, varser, na die omringende werklikheid kyk.

Maar kuns bied maar één vorm van kyk-dissipline. Wie gerig om hom rondkyk – “aksenawel”, om Boerneef se woord by te haal – wil spontaan benoem. Hy het woorde nodig vir die dinge wat hy sien, en vir die emosies wat dié dinge by hom wek. Kyk en skryf is, wat my betref, ’n Siamese tweeling.

Is daar aspekte van die huidige kritiek wat jou hinder of irriteer?

Ek gaan nie met ’n stok in ’n perdebynes staan en karring nie. Wat my hinder, is algemene neigings wat nie tot die huidige kritiek in Afrikaans beperk is nie. Ek noem enkele neigings wat kritiek kan ontsier, hier te lande en ook elders:

1. Die kritikus (resensent) vergeet soms dat hy bloot ’n tussenganger tussen ’n teks en ’n leser is, een van vele tussengangers, en nie die finale gesag wat ’n bepaalde teks betref nie.

2. Die kritikus (resensent) staan in ’n verantwoordelike verhouding tot die publiek, en mag nie sy resensieruimte as ’n forum vir privaat-relletjies gebruik nie.

3. Die kritikus (resensent) moes iewers in sy verlede skoling in redenering gehad het. Behoort redeneerkuns nie ’n sentrale module by ’n Skool vir Joernalistiek te wees nie? So ’n skoling sal die publiek beskerm teen gruwelike veralgemenings, vals gevolgtrekkings, pseudostatistiek. Wie op aarde durf beweer dat ’n bepaalde Afrikaanse roman een van die tien bestes van ’n bepaalde eeu is? Hoeveel tale en kulture is betrek, hoeveel kontrole was in die spel, om by so ’n uitspraak uit te kom? Die pseudostatistiese uitspraak is onbeskaamd reklametaal, en het niks met wetenskaplike metodes gemeen nie.

4. Die kritikus (resensent) mag in sy geesdrif sy sin vir skaal en proporsie kwytraak. Uys Krige het hom byvoorbeeld sterk uitgespreek teen superlatiewe soos groots, magistraal, ens. Die resensent moet nie probeer om ’n buikspreker vir die toekoms te wees nie, het Krige gesê.

Oordrewe aanprysings het ’n verdere nadeel: hulle kan ook teenproduktief wees. ’n Leser wat eenmaal deur ’n resensent mislei is, en ’n klomp geld vir ’n eendagsvlieg betaal het, laat hom nie weer met ’n slap riem vang nie.

Ek besef dat ek my in die een of ander stadium van my loopbaan as resensent aan al bogemelde “sondes” skuldig gemaak het, maar ek probeer, met wisselende sukses, op die paadjie bly wat ek self aangewys het.

Wat is na jou mening die belangrikste eienskap waaroor ’n resensent moet beskik? En wat is die kenmerke van ’n goeie resensie?

Om saam te vat, die resensent moet respek hê vir die teks wat hy resenseer en vir die publiek wat sy resensie gaan lees, want só behou hy sy professionele geloofwaardigheid. Hy moet deurentyd waak oor sy integriteit.

En wat integriteit betref, wil ek ook dít byvoeg: ’n resensent behoort nie ’n boek te resenseer waarby hy betrokke was nie, hetsy as keurder, hetsy as raadgewer. Op die ou end apploudiseer hy homself.

Die kenmerke van ’n goeie resensent? Hier wil ek nie voorskriftelik wees nie. Elke resensent ontwikkel met die jare sy eie styl en filosofie omtrent resensering. ’n Resensie, wil ek byna kategories sê, moet vakkundigheid met toeganklikheid probeer versoen. Maar toeganklikheid beteken nog lank nie gemoedelike omgang met die leser nie. ’n Resensent wat telkens “Soos ons almal weet …” sê, soek bondgenote en medepligtiges, en nie onafhanklike lesers nie. Natuurlik is daar lesers wat versot is op die “nudge, nudge, wink, wink”-benadering, maar hulle moet hulle maar liewers by skinderrubrieke bepaal; ’n resensieblad durf nie ingetrek raak by wat die Nederlanders die “roddel circuit” noem nie.

Die Afrikaanse literêre wêreld en kunsgemeenskap is klein. Hoe beïnvloed dit die manier waarop jy kritiek kan uitspreek in ’n resensie, en hoe beïnvloed dit op sy beurt weer die manier waarop ’n mens binne dié klein kring aanvaar word?

Die resensent, van boeke sowel as kuns, is ’n belangrike komponent binne die geesteslewe van ’n groep. Vanweë die “sigbaarheid” van die resensent is hy in ’n gunstige posisie om menings te help vorm en bepaal wat bo modegrille (“trends”) uitgaan.

’n Resensent probeer uiteraard die reëls van hoflikheid binne sy bedryf handhaaf, maar as hy openbare populariteit begin najaag, raak hy gou ontrou aan die waarheid van sy vak en die waarheid in eie siel. ’n Resensent skryf nie om aanvaar te word nie, want dit verplaas die aksent van die teks na die emosies van die resensent, ’n skuif waaruit groot slordigheid kan ontstaan. Hy skryf omdat hy ’n diens lewer, en dit so eerbaar en so eerlik moontlik wil doen. As mense daarvan hou, goed en gaaf; as mense nie daarvan hou nie, is dit tot daarnatoe.

Wat is die rol van kritiek en resensente binne ’n literêre of kunsgemeenskap? Anders gestel: waarom is resensente belangrik?

Dis nie individuele resensente wat belangrik is nie, maar die resensiekunde self.

Daar is verskillende funksies wat aan resensies toegeken word, party platvloers, ander hooggestemd.

Prof Fransie Malherbe het resensies as die onontbeerlike purgeermiddel van die literatuur beskou; ’n ander uitspraak, ek glo van Nederlandse herkoms, sien resensies as die barometer van die letterkunde. Beide uitsprake beklemtoon die dienslewerende aspek van resensies.

Wat my betref, wil ek die opvoedkundige funksie van resensies onderstreep. So lank daar ’n segment van die leespubliek is wat voorligting omtrent boeke en kuns verlang, so lank het resensies hulle bestaansreg binne ’n maatskappy. Ook minderhede het intellektuele regte.

Dit lyk of bemarkingsgedruis (“hype”) al hoe luider word op die terrein van die literatuur maar ook ander kunsvorme. Hoe bly die kritikus hoorbaar binne hierdie gedruis?

“Bemarkingsgedruis” – mooi skepping! – is ’n siekteverskynsel van ons tyd. Daar kom so baie op die verbruikersgemeenskap aan by wyse van beeld, klank en woord, tot waansin toe versterk deur elektroniese middele, dat die “boodskap” (reklame) dikwels versmoor word in die bemarkingsproses.

Die kritikus/resensent moet maar probeer om die “stil oog van die storm” te wees, in die kort pouses tussen gedruise in. Dalk glip een van sy “waarhede” by ’n kiertjie stilte in.

Is daar internasionale voorbeelde van kritiek wat vir jou ’n bron van inspirasie is of was, en resensente elders by wie jy wenke of voorbeelde gevind het?

Ek was van my studentejare af versot op die boekeblaaie van koerante, en lees tot vandag toe boekeblaaie soos The Times Literary Supplement en die New York Review of Books, en boek- en rolprentbesprekings in De Standaard en die NRC-Handelsblad. Ook koop ek dikwels die gepubliseerde resensies van skrywers soos Virginia Woolf, DH Lawrence, Eudora Welty, Gore Vidal, Doris Lessing en ander. Die internasionale model hou die resensent nederig wat sy vakbeoefening betref, en herinner hom onsagkens daaraan dat die Afrikaanse letterkunde ’n beskeie letterkunde binne wêreldverband is.

En natuurlik lees ek ook Suid-Afrikaanse resensies, veral dié in Afrikaans. Ek is my jonger kollegas dankbaar vir alles wat ek by hulle kon leer oor nuwe teorieë, ontsluitingstegnieke en invalshoeke.

Wat is jou toekomsplanne, skryfaangaande?

Ek het die afgelope jaar of twee begin agterkom dat die skryf van resensies te veel van my tyd en kreatiewe energie kaap. Die skryf van verhale en essays genereer nuwe energie vir my; op één verhaal volg dikwels ’n tweede en selfs derde verhaal. Maar die skryf van resensies, hierteenoor, laat my dikwels doodmoeg, en vul nie my lampie oornag nie.

Ook het ek my in die jongste tyd skuldig gemaak aan ’n verskrywing of drie, en ek het besluit om soos Beverly Sills by haar uittrede by die Met te sê: “I want to bow out while I can still do so with grace.”

Ek wil tyd inruim vir meer eklekties lees – sommer alle soorte boeke, sonder om daaroor rekenskap te gee. Bowenal wil ek ononderbroke werk aan drie manuskripte wat byna in die pylvak is.


LitNet: 31 Januarie 2006

Wil jy reageer op hierdie onderhoud? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.