Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Izak de Vries praat met Philip de Vos — en vind dit rym!

Toe ek vir Philip ’n e-pos stuur oor die moontlikheid om te gesels hier op LitNet, was hy aanvanklik glad nie inskiklik nie.

Nee wat, het hy laat weet, hy was op universiteit omdat daar jooloptogte was, nie oor sy akademiese akrobatiek nie — oor die letterkunde weet hy niks.

Ja, maar jy kan versies skryf, antwoord ek. En mense is mal oor jou werk. Asseblief? Kom ons doen dit in rym.

“Hoe de joos doen ’n mens ’n onderhoud in rym?” skryf hy terug, maar voeg ook by dat hy nie onwillig is nie.

Ek weet nie, antwoord ek, kom ons probeer:

Izak
Hallo Meneer die rympiesmaker
Is jy dalk bereid om van jou geheime uit te blaker?
Of eers: aangename kennis
Dankie vir hierdie e-pos vraag en antwoord tennis!

Philip
So sommer met die eerste vraag
kom slaat jy my al wragtag laag:

My kennis van tennis
is rêrig beroerd.
Ek praat liewer eerder
oor Hendrik Verwoerd.
En op jou vragie sê ek “Sjym!”
Want ek verklap geen rymgeheim.
(Ek het beslis die ekspertisie,
maar duld nie werklik kompetisie.)

Izak
Jou versies is nogal stout
— verwys gereeld na ’n dame se boud —
(ek praat natuurlik van die Titanic)
Partykeer dink ek preutse lesers sal dalk panic.

Philip
’n Vrou se boud, o ’n vrou se boud
pas goed in hierdie onderhoud.
Met boude wil ek dolgraag sukkel
veral as hulle dril en wikkel.
Maar dít doen ek (vir my plesier)
net ongelukkig op papier.
En is jy preuts, is ek bevrees
moet jy maar liewers
Hooglied lees.

Izak
Vir jou is dus daar geen meer heilige koeie
Een maal praat jy oor die outjie Moses
Maar in die volgende rympie loeie
Dáárdie popgroep guns en roses!

Philip
Vir my is Moses glad nie heilig
dus reken ek, ek speel steeds veilig.
(Had Moses nooit gebollie nie,
was hy beslis nie jollie nie.)
Kom sê nou vir my:
Wat’s ’n heilige koei?
Dan sal ek my nóóit
met daai antie bemoei.
En wil hul my stenig,
dan sê ek: “O gonna!
Daar’s
een
heilige koei,
en sy heet
Madonna.”
 

Izak
As jy nou moet terugkyk oor jou lewe
Hoe het ’n doodnormale knaap soos jy
Hom in die maak van rympies in begewe
Wat soveel van ons se harte nou verbly?

Philip
Al is my voorkoms dof en vaal
is ek beslis nié doodnormaal.
As jy wil skryf, soos ek kan skryf
oor stoute dinge van die lyf,
moet jy verseker malkop wees
met ewe skewe rymidees.

Eens het ek op my kop geval.
En dit was glo ’n tranedal.
Ek was toe nog maar net ’n bybie,
Dit is ’n feit en glad nie maybe.
Ek het op twaalfjaar vasgesteek.
(Dit was ’n yslike geneuk)
Al klink ek somtyds stout en laf,
hoop ek dat dit plesier verskaf
in hierde nare, droewe tyd
van moord en hi-jacks,
haat en nyd.

Izak
Jy span toe saam met Piet Grobler
En werk ’n bietjie vir De Kat
Nou lees niemand daardie ding meer propper
Hulle blaai eerste na die tweede laaste blad!

Philip
Piet Grobler is besonderlik
en hy dink
ek is wonderlik.
Ons loop figuurlik ingehaak
en is glo vir mekaar gemaak.
Ek hoef nooit-ooit vir hom te sê
hoe strokiesmense lepellê nie.
Hy doen sy ding.
Ek doen my ding
ten spyte van verwydering:
Ek in die Kaap
en hy — Stellenbosch
en saam
skud ons ons strokies los.

Izak
Jy hou jouself verniet tog dom!
Partykeer word jy baie sjiek
En begin dan skrywers in hul huise kiek
Maar die ergtse, grote griet,
Jy is ook ’n kenner (ja tog niet)
wanneer dit by opera-arias kom?

Philip
Ek is nie groot van intellek,
en hou dus liewerster my bek
Maar — tog is ek ’n klein juweel
en met talente wel bedeel.
(Jakkals prys sy eie stert,
want ek’s ’n vos en vol van snert.)
Maar lawwigheid sê glad nie als:
Daar’s bitterals in my heuningwals.
Soms vir die pret, sing ek ’n bietjie
en neem so af en toe ’n kiekie.
En so sprei ek my ekspansief
en doen dit als intuïtief.

Izak
Is ek reg as ek hier sê
Jy is ’n meester van die pret
Dat jy dus — anders as wat sommige graag wil hê —
’n kleintjie dood aan die titel literator het?

Philip
Ja, ek is somtyds lief vir pret,
want woorde is my skans-palet.
En ek vermoed
my pret verhoed
die donkerte
van smart en bloed.

En die titel literator?
Nee,
ek is maar net
’n nonsensprator.

Izak
Daarom dan dat jy (oënskynlik) jou nie steur
Aan rymende pentameters met ’n goeie jambiese voet
Ek kry die idee dat vreugde in jou verse moet gebeur
Die “kenners” kan maar kla oor dekonstruksie en ekrituer,
(of so iets, m’seur) jy pleeg laggies uit sulke ouens se:
begrafnisstoet!

Philip
Vir my
sê grote woorde niks
en kom slegs ryme
nogal fluks.
Nou bieg ek eerlik voor die nasie:
Ek ken alleen alliterasie.
Ek ken my kennis
plus my grense
en los die dink
vir slimmer mense.
En of dit fraai of goor of gek is,
ek sing maar voort soos ek gebek is.

Izak
Daarmee sê ek dan tot straks
Om so te rym is mos moeilik, vervlaks!

Philip
Tot siens
ou vriend
vir eers
goodbye.

As jý
bly rym
en versies dink,
sal jý ook straks
so hinkepink
’n ruk lank
koningkraai.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.