|
Tien vrae wat nooit gevra word nieEKM Dido(LitNet het vir EKM Dido gevra om n onderhoud met haarself te voer, spesifiek tien vrae wat sy nie gewoonlik van joernaliste ontvang nie. Hier volg haar fassinerende vrae en antwoorde ...) Ek sal verkies dat ek niks sal gevra word nie, want ek het min woorde en die senuwees neem altyd oor, al loop my gedagtes oor. Maar dit is die vrae wat miskien sou gevra moes wees: 1) Sedert die verskyning van jou eerste boek, Die storie van Monica Peters, is daar groot verbetering in jou werk. Waaraan skryf jy dit toe? Met Die storie van Monica Peters was ek vaal, valekile, tóé, en het nie geweet waar om vir hulp aan te klop nie. Maar danksy lees en nogmaals lees, die kritiek vanaf foendies in die letterkunde en lesers se reaksies, kom ek stadig maar seker reg. 2) In al die onderhoude betreffende leeskultuur praat jy van my mense. Na wie verwys jy eintlik? Ek verwys na kleurlinge. Nee, wag! Moenie my kop wil afbyt nie. Of ons dit nou wil erken of nie, dis hoe ons wetlik geëtiketteer word. Dit pla my nie, want ek is n kleurling. Maar terug na die leeskultuur. Die Afrikaanses lê wyd verspreid oor die hele land en daar doer in die platteland is daar nie biblioteke of leesstof te kry nie. En waar dit wel beskikbaar is, verkies ons televisie bo lees, of tel ons nie n boek op nie. Ek sou graag n leeskultuur veral onder die jeug wil aanwakker. Ek is ook ontsettend dankbaar vir alle bibliotekaresse wat alles in hulle vermoë doen om kinders meer leesgierig te maak. Ons as ouers moet daardie werk by die huis voortsit en verstewig. 3) Jou werk handel veral met dinge wat in die gemeenskap plaasvind. Is dit doelbewus? Ja. Ek skryf graag oor dit wat hopelik belangstelling gaan prikkel, asook waarmee die leser maklik kan identifiseer. Die hoofdoel is om n liefde vir lees aan te wakker en as dit wel daar is, dit behoue moet bly. Nie net om my werk te lees nie, maar om veral alle Suid-Afrikaanse boeke te lees. 4) Jou nuutste boek, Die Onsigbares watter een van die karakters weerspieël jou lewe? Geeneen. Wel, daar is seker so n tikkie van my in elkeen. Maar ek sou graag Magda se ekstroverte persoonlikheid wou hê. Sy is kostelik! 5) Vir n bibliotekaresse is Nadia Viljoen maar taamlik dof om nie die gevaartekens by haar man te sien nie. Het jy dit so beplan? Eintlik is Nadia baie sensitief en skrander. Maar ongelukkig is sy soos baie vroue wat nie wil erken dat daar iets met n geliefde skort nie. Nadat ek deur al die ou koerante en tydskrifte gelees het, was dit duidelik dat baie mense die teruggetrokkenheid gesien het, maar nooit kon droom dat dit op gesinsmoord sou afstuur nie. 6) Die twee liefdestonele Joan en Gladys sn: kom dit uit eie ervaring? My mond is toe. Weet, vrouens praat dikwels by ander oor dinge wat pla, en Dido luister graag. As ek Joan was, sou ek Willem se lyf lankal by n sielkundige kry, of hom vol Viagra gestop het. Gladys weer, offer haarself met die hoop dat haar man ten spyte van hul probleme sal oorleef. 7) Is daar enige noemenswaardigheid verbonde aan Gladys wat vir Joe ná die sekstoneel was? Ja. By die isiXhosa-sprekende gemeenskap in my tuisdorp is die wassery belangrik. Nie net om higiëniese rede nie, maar ook as n blyk van erkenning dat die samekoms wedersydig was. Die vrou sal altyd eers die man was voor sy na haarself omsien. Maar by n tref en trap-ontmoeting, waar die man sy eie blyplek het en die vrou n gas is en tot die daad inwillig, is dit die man wat die water, seep en handdoek vir die vrou aandra sodat sy na haarself kan omsien. 8) Gee jy met Adam se misdrywe te kenne dat korrupsie net in die Oos-Kaap gekonsentreerd is? Goeiste, nee! Ek kon hulle in enige ander provinsie geplaas het, want deesdae kom korrupsie oral voor. Maar kom ons wees nou eerlik. Te oordeel aan die berigte in die media is dit altyd die Oos-Kaap wat met die eerste prys wegstap. 9) Die manlike karakters in Die Onsigbares is baie oortuigend. Is daar n polisieman in jou lewe? Nee! Ek het niks teen hulle nie, maar ek het nie die geduld of die persoonlikheid om met al daai stresfaktore opgeskeep te sit nie. 10) Wat is jou drome vorentoe? Behalwe vir n Afrikaanse leeskultuur-ontploffing in die land, is daar sommer baie. Een wat paal bo water staan, is dat die regering skryfkuns as n volwaardige beroep moet sien en erken en skrywers sodoende finansiële ondersteuning sal kry. |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |