Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Allesbehalwe net nog ’n (kamer-) meisie

Naomi Maartens

Sy is medeprofessor in Frans by Unisa en ’n gaslektor by die Vrystaatse Universiteit, waar sy letterkunde doseer. Vroeër het sy ook Italiaans as vak aangebied. Dit is Naòmi Morgan, wat pas benoem is tot een van twee debutante op die kortlys van Sanlam/Insig/Kwêla se Groot Romanwedstryd vir haar roman Nog ’n kamermeisiedagboek. LitNet het per e-pos ’n onderhoud met haar in Pretoria gevoer.

Wie is jy en waar kom jy vandaan?

Ek weet nie eintlik wie ek is nie. Miskien is skryf ’n manier om myself op papier te sit en te bekyk soos ’n prent op ’n uitstalling. Ek is dikwels ’n karakter in die boek wat ek lees, in die film waarna ek kyk.

Ek is nie ’n abstrakte denker nie. Ek kom van die Vrystaat af. Dit is ’n landskap wat ek verstaan. Dit was baie lank die agtergrond van my wêreld. Waarheen ek ook al reis, dit is altyd vanuit die Vrystaat. Dis makliker, dink ek, om van ’n klein plekkie af na die res van die wêreld te kyk of te reis, as andersom. Jy bly verwonderd en geïnteresseerd.

Glo jy aan inspirasie, of is dit in jou opinie oorgeromantiseer?

Ek glo nie aan inspirasie in die verhewe sin van die woord nie. Ek glo aan die inspirasie van emosie, wat ook al die vorm wat dit aanneem.

Wanneer het jy tyd gehad om die manuskrip af te handel met al die rondreis en lesings aanbied in Pretoria en elders?

Die boek is oor jare geskryf, soms net ’n paar bladsye per jaar. Die styl en die gang van die verhaal het in daardie tyd nogal verander. Ek het ernstig aan die roman begin werk in 1996. Maar dit is nie ideaal om so stuk-stuk te werk nie. Ek beny skrywers wat ten minste ’n paar uur elke dag aan ’n manuskrip kan werk. Dit bly ’n frustrasie dat ’n mens afskeeptyd moet gee aan wat jy as jou belangrikste aktiwiteit beskou.

Het jy rondgeloop met Nog ’n kamermeisiedagboek in jou kop? Wat beskou jy as die finale sneller tot die verhaal — of die meerdere faktore, indien jy enige kan uitsonder?

Ek het rondgeloop met ’n kop vol herinneringe van ’n jaar as au pair in Frankryk. Die boek was ’n manier om dit te verwerk. Dit was in die dae ná 1994: daar is baie gepraat oor wit Suid-Afrikaners se kolonialistiese bestaan; stereotipering was aan die orde van die dag. Ek wou ’n verhaal skryf oor ’n wit bediende. Dit was natuurlik net die begin; hopelik gaan die verhaal oor veel meer as dit.

In ’n ideale wêreld sal ’n mens ’n boek kan skryf totdat dit perfek is, maar in afwagting daarop het sluitingsdatums nogal ’n heilsame uitwerking op my. Ek het laaie vol half- en kwartgeskryfde stories en dramas. Skryfkompetisies dwing jou om volgens ’n kalender te werk, en die jurie bestaan meesal uit ervare en sensitiewe lesers. Tyd word al hoe meer vir my die bepalende faktor wanneer dit kom by skryf: die voor die hand liggende bekommernis is dat daar nie tyd sal wees om alles te sê wat ’n mens wil nie, maar ook dat sekere stories sal verouder en later nie meer van belang sal wees nie. Soms, wanneer ’n mens in ’n buitengewoon swartgallige bui is, is daar die vrees dat daar, teen die tyd wat jy jou dik roman geskryf het, nie meer ’n Afrikaanse uitgewer in die land sal wees nie, of dat die lesers wat Afrikaanse boeke koop, almal in Kanada of Australië sal woon. Daar is soms angstigheid dat my taal die potensiaal het om te verdwyn, al is daar oënskynlik nog soveel mense wat dit praat en lees. Soms wens ’n mens jy kan ’n vraag soos hierdie bloot persoonlik beantwoord, maar in Suid-Afrika is selfgesentreerdheid ’n onbetaalbare luukse.

Genereer stories in jou geval stories? Stem die feit dat jy gedurigdeur rondbeweeg tussen die groot geeste van die literêre wêreld — as gevolg van jou verdiep-wees in die literatuur — jou nie eerder soms negatief om self die hand aan papier te slaan nie?

Ek kry nie idees vir stories in die boeke wat ek in my lesings behandel nie. Ek kry wel die kans, omdat lees (gelukkig) deel is van my werk, om te sien hoe skrywers die temas wat my interesseer, aanpak. Ek het baie aanhalings uit relevante boeke in my roman gebruik, omdat boeke vir my ’n parallelle ervaringsveld is. Boeke leer ’n mens om nuut na ’n ou wêreld te kyk. In my geval is dit danksy boeke dat ek kyk. Die aanhalings was ’n manier om dankie te sê.

Groot geeste is dikwels intimiderend, ja. Soms lees jy ’n sin wat in perfekte balans is: elke woord staan op die regte plek, en die geheel bevat die insig van ’n leeftyd. Sodanige sinne maak dieselfde indruk op ’n mens as Karen Blixen se eerste vliegtuigrit: ‘I see’, I have thought. ‘This was the idea. And now I understand everything.’ Miskien is dit ’n voordeel dat die meeste groot geeste wat ek in boekvorm ontmoet, ’n ander taal as ek praat — wat my met die illusie laat dat ek miskien nog in Afrikaans iets te sê het. In Frans of Nederlands of Italiaans of Engels sou ek miskien minder voortvarend wees.

Noem boeke, skrywers, flieks, musiek, kuns wat ’n indruk op jou maak

Daar is te veel om op te noem, dus sal ek my beperk tot die boeke, films, musiek en kuns waarna ek altyd weer terugkeer.

  • Skrywers: Marcel Proust, omdat ek ook skryf verstaan as ’n soeke na verlore tyd; Marguerite Yourcenar se historiese romans, waarin intelligensie, insig en intuïsie in perfekte balans is; Marcel Pagnol en Victor Hugo, vir hul kinderdialoog; die digter Arthur Rimbaud, omdat hy met soveel oorgawe bly soek het; die dramaturg Edmond Rostand, vir die Cyrano de Bergerac-monoloë.

  • Films: die Chinese en Iraniërs maak onvergeetlike films, maar die films waarna ek vyf of tien maal kyk, is films met sentimentele waarde vir my: Goodbye Mr Chips en Dead Poets’ Society, twee films oor buitengewone onderwysers, ligjare verwyderd van uitkomsgebaseerde, markgerigte onderwys; Reds, omdat die spel en die regie briljant is; die filmweergawes van Marcel Pagnol se outobiografie, La gloire de mon père, en Le château de ma mère, omdat dit vanuit my onveilige, gewelddadige wêreld lyk na ’n paradys op aarde, al was dit ook, soos alle paradyse, van korte duur. En dan ook Out of Africa, al sê die kritici dit is Hollywoodiaans en kolonialisties: dit bevat, soos die boek waarop dit gebaseer is, roerende passasies waarin daar gesoek word na die sin van ons bestaan in Afrika, soos die bekende:

      If I know a song of Africa — I thought — of the giraffe, and the African new moon lying on her back, of the ploughs in the fields, and the sweaty faces of the coffee-pickers, does Africa know a song of me? Would the air over the plain quiver with a colour that I had had on, or the children invent a game in which my name was, or the full moon throw a shadow over the gravel of the drive that was like me, or would the eagles of Ngong look out for me?

    Ek wonder dikwels daaroor.

  • Musiek: Weer eens onmoontlik om ’n verteenwoordigende lys saam te stel. My ma was ’n musiekonderwyseres, soos twee van haar dogters; drie van haar kleinkinders speel klavier, tromboon en perkussie. My eie, nederige ambisie was om in ’n koffiekroeg te sing. So waar begin ’n mens? Die absolute minimum-lys bevat: die versamelde werke van Fauré; Leos Janacek se On the overgrown path; alle opnames van Jacqueline du Pré; die Gustav Mahler-lied Ich bin der Welt; John Williams se opnames van Piazzolla, Ponce en Brouwer; Keith Jarrett se 1999-CD, The melody at night, with you; die volledige Jacques Brel, en Stef Bos.

  • Kuns: my drasties verkorte lys bevat die name van Frida Kahlo, Lukas Cranach, Rembrandt, Van Gogh, Gauguin, Vuillard en ’n Vrystaatse kunstenaar, Ben Botma (veral sy visuele kommentaar op die Boere-oorlog). Ben is ook nog bekostigbaar, in teenstelling met die ander name op my lys.

    Waarom het jy hierdie manuskrip afgehandel? En wanneer het jy geweet hy’s klaar?

    As ek die vraag reg verstaan, het ek die manuskrip afgehandel omdat daar geen tyd meer was nie. Ek het dit Kaap toe gekoerier en dit het op die 2de Januarie, die allerlaaste dag, daar aangekom. Dit is waarskynlik nie heeltemal klaar nie. Flaubert het seker geweet wanneer om die woord Fin onderaan die manuskrip te skryf; ek nie. Ek skryf waarskynlik soos ek praat: onophoudelik. Sperdatums is dus vir my net so belangrik soos die tema van die boek.

    Het jy afstand van jou karakters gehad? Wie was jou gunsteling?

    Nee, ek het seker nie afstand gehad nie. Miskien sou ek afstand hê as ek wetenskapsfiksie sou skryf. Baie van dit wat ek beskryf, het ek self beleef. Die enigste afstand is dan dié tussen die nostalgie van die herinnering en die estetiese ekwivalent wat jy daarvan moet gee. Ek skryf om dinge nie te vergeet nie. As ek ’n leuse sou hê, sou dit seker Verba volant, scripta manent wees, wat ’n Nederlandse vriend vir my mooi vertaal het as Het gesproken woord vervliegt, het geschrevene blijft.

    My gunsteling-karakter is Parys. Dit is nie ’n plek nie. Daar ontstaan uiteindelik ’n driehoeksverhouding tussen Esther, Frederich en Parys wat Frederich laat besluit om sy verhouding met Esther te beëindig. Ek hou ook nogal van die hoofkarakter, Esther.

    Het die boek jóú al gelos?

    Ja, ek dink so. Ek sal nog ’n bietjie skaaf daaraan, maar die belangrikste is gesê.

    Waarom het jy die boek in Afrikaans geskryf? En sou jy in ander tale werke wou publiseer?

    Wanneer ’n mens in jou loopbaan met vreemde tale werk, dink jy noodwendig in terme van inisiëring in ’n ander taal en kultuur, en in terme van vertaling, en dus in terme van die skryf van moeilik vertaalbare boeke. Ek sou wou dink dat hierdie boek net in Afrikaans (met Franse dialoog en aanhalings) kan bestaan; sodra dit byvoorbeeld in Frans vertaal sou word, sou die hele kruisbestuiwing tussen die twee tale en kulture verlore gaan. Peter Mayle se Provence-boeke is byvoorbeeld vanuit Engels in Frans vertaal, maar dit werk nie. Die betowering is weg. Ek hou van hierdie idee van noodwendigheid: ek beleef noodwendig Frans vanuit my moedertaal, Afrikaans. Daar is dus boeke wat net deur Afrikaners geskryf kan word, noodwendige boeke. Dit is miskien ’n illusie, maar dit gee vir my sin aan wat ek doen.

    Omdat onderwerpe vir my ’n noodwendige taalkonnotasie het (binne perke: ek het nie meer tyd om ’n geheel nuwe taal, soos byvoorbeeld Spaans, aan te leer om ’n drama oor Frida Kahlo te skryf nie), sou ek graag wou publiseer (of ten minste skryf, iets op papier hê) in ander tale wat vir my bekend is (Engels, Italiaans, Nederlands). As ek ooit ’n roman skryf wat myns insiens nie onvertaalbaar is nie, sou dit wonderlik wees om vertaal te word: dit sou wees soos om stories voor te lees vir die wind, vir mense aan die ander kant van die aarde.

    Voorsien jy verdere skryfwerk in die toekoms?

    Ja. Ek neem altyd notas vir ingeval ek ’n beeld of ’n woord eendag, iewers sou kon gebruik. Ek het aanvanklik begin deur dramas te skryf; hopelik skryf ek eendag iets wat opvoerbaar is. Ek beplan al jare aan ’n Groot Roman. Maar ek het dieselfde probleem as Richard II: iewers langs die pad het ek blykbaar baie tyd gemors, en nou mors tyd met my. Skryf is een van die dinge wat nog sin maak vir my: ek begryp dinge wanneer ek die woorde daarvoor gevind het, wanneer ek dit esteties herrangskik het. Ek sou wou glo dat Rilke se raad aan die jong digter op my van toepassing sou kon wees, dat ek skryf omdat ek nie anders kan nie. Baie min van wat ek skryf, word ’n manuskrip of ’n publikasie; maar dit is my manier om sin te maak. Al is dit net vir myself.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.