Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

De Kleine Prinsje/Le Petite Prince

’n Interview met Tom Lanoye

Antonia Steyn


Antjie Krog, Tom Lanoye en Marthinus Basson tydens die voorlees van Mamma Medea
Tom Lanoye beskryf homself as’n literêre multinational. Nie net vind hy homself tuis in ’n magdom van literêre genres nie, maar ook word sy tekste in vele tale vertaal. Lanoye was vir ’n paar dae in Kaapstad vir die voorlees en repetisie van sy drama, Mamma Medea, wat in Afrikaans vertaal is deur Antjie Krog. Die produksie het dié week geopen by die Aardklopfees onder regie van Marthinus Basson. Antonia Steyn het met hom gesels oor die produksie van Mamma Medea, die omskakeling van die geskrewe teks na ’n visuele produksie en sy status as literêre popster.


“Ek wil addisioneel wees. Ek wil ook kommentaar lewer oor die kultuur waarin ek leef.”

Ek en Tom sit en koffie drink by Carlucci’s in Oranjestraat, ’n klipgooi van sy huis in Kaapstad. Tom praat ’n eie taal, ’n mengelmoes van Afrikaans, Nederlands en Engels.

In aansluiting by sy popsterstatus vra ek hom na ’n stelling van Nicholas Mirzoeff: “There is a growing tendency to make literature more accessible by making it more visual.”

“Madonna is ’n goeie voorbeeld — sy reinvent haar persona met elke CD. Die hele persona is ’n soort klein teater op heel groot skaal. Dis ’n klein teater, maar die skaal is die hele wêreld. Sy toon deur haar persona wat die inhoud en atmosfeer van die CD is. Vir akademiese outeurs is dit ludicrous en ’n doodsonde.”

“Vir elke boek wat ek doen, kry ek ’n nuwe bril en dan probeer ek iets met foto’s maak wat op dieselfde manier ’n icon maak van my. Maar omdat Vlaandere so klein is, word dit ’n bietjie ironies, natuurlik. Ek sê vir myself ek is die Madonna van die Vlaamse literatuur. Die hele taal van die populêre kultuur is iets wat ek in literatuur wil bring, soos Andy Warhol dit gedoen het vir die visuele beeldende kuns, maar deur die skaalbegroting kan ons nooit so ’n impak hê nie. Juis daarom moet jy dit doen.”

“As ek Shakespeare bewerk, dan gaan dit só ver (sonder dat ek daarvoor vra) dat hulle Shakespeare portretteer met een van my brille. Of vir my, met ’n bril, en die gesig van Shakespeare saamgesmelt in Photoshop.”

Vir Lanoye is dit belangrik om sy voorlesings visueel interessant te maak. Hy glo ook dat literatuur entertaining moet wees.

“Ek het ’n toer met my voorlesings gemaak deur Vlaandere, met ’n toerbestuurder en met posters. Daarna het ek ’n CD gemaak, The Very Best of the Artist Formerly Known as a Young Man. Dit is ’n merging van James Joyce, Portrait of an Artist as a Young Man en Prince, wat een van my groot idole is, The artist formerly known as Prince.

“As jy kyk na die stukke van Shakespeare, waarom dit na al die jare nog so populêr is — naas elke koning het jy ’n nar, na elke grote dramatiese sêding het jy ’n sêding van die low life wat altyd ’n bietjie humor bybring. Dis een van die oudste truuks — ’n groot spreker, ’n groot pedagoog, is iemand wat weet om die spanning te breek voordat ’n belangrike ding gesê word. Die probleem met akademiese mense is hulle dink dat humor en entertaining ’n soort laksheid is, dat dit afbreek. Inteendeel, as jy eers gelag het en iets verskriklik gebeur, dan ontspan jy en kom die beeld baie sterker oor. Die entertainment is daar om die harte van die mense oop te maak sodat jy wéét jy kan hulle tref.”

Dit laat my dink aan wat die klein prinsie aan Antoine De Saint-Exupéry gesê het: “In one of the stars I shall be living. In one of them I shall be laughing. And so it will be as if all the stars were laughing, when you look at the sky at night …”

Tom vertel verder: “Jy moet die classics vereer en onteer to recompose it. Die wiel van die tyd draai en elke keer moet jy dit [die klassieke tekste] opnuut interpreteer. Dit is nodig dat elke tyd, elke generasie, elke gemeenskap opnuut met die elemente wat nóú aanwesig is, die ou universele temas reinvent. As jy dít nie doen nie, maak jy kuns dood. Dan maak jy statuskuns. Hulle [die akademiese outeurs] haat populêre kultuur. Hulle haat televisie. As jy met sulke mense praat, is hulle trots omdat hulle nie ’n televisie besit nie. Dit is ’n statement. Die trots daarin begryp ek nie. Hulle dink werklik televisie is ’n soort verbygaande fenomeen. Television is here to stay!

“’n Goeie skrywer, volgens my, gebruik dit juis. Ook struktureel. Die hele trilogie wat ek so pas geskryf het, Goddelikemonsterswartetranebozetongen, gebruik televisietegnieke. Die cuts, die montages — jy lees dit asof dit binne ’n sepie is. Dis baie lekker om televisie ernstig op te neem en te sien wat tegnies daar aangaan. Terselfdertyd is dit goed om die ou, Hoogafrikaans ernstig te neem en te sien wat dáár aangaan en wat useful is.”

Dit bring ons terug na Mamma Medea en Antjie Krog se vertaling daarvan. Sy lokaliseer die drama deur ’n magdom van Afrikaanse aksente. Medea praat ’n deftige, Hoogafrikaans in versvorm terwyl Jason, haar geliefde, ’n moderne Afrikaans in prosavorm praat. Tom verduidelik hoe sy Nederlandse teks funksioneer en sy ervaring van die Afrikaanse vertaling.

“Die helfde van België praat Nederlands en die ander helfde Vlaams. Die Vlaamse variant van Nederlands is bietjie soos die Ierse variant van Engels, of soos Britse Engels en Amerikaanse Engels. Hulle kan mekaar verstaan, maar hulle voel ook dat dit baie verskillend is — in aksent, die musikaliteit van taal, ensovoorts. Die Nederlanders is Calviniste, die Vlaminge is Katoliek. Soos die Iere en die Britte. As Mamma Medea in Engels vertaal word, sal ek vra dat dit só gedoen word.

“Suid-Afrika is heel interessant vir my omdat daar meerdere ‘taalstryde’ aan die gang is, soos in België Vlaams/Nederlands veg teen Frans/België waar daar ook die rare taalwette en dieselfde gevoeligheid vir taal is.

“Die moeilikheid van om te vertaal is dat jy dit nie nét so kan oorplaas nie. Jy moet daarvan ’n simfonie van verskillende aksente maak, van verskillende tale binne een taal. Ek het aanvanklik gedink om dit ’n volledig tweetalige stuk te maak. Om Jason en sy groep in Engels te laat praat en Medea in Afrikaans, of vice versa. Ek het dit heel interessant gevind, maar almal in die Afrikaanse teater het gesê dit is alreeds gedoen. Hulle voorstel was om eerder in Afrikaans sélf al die verskillende identiteite te gebruik.

“Kreosa, byvoorbeeld, praat nou met ’n Pretoria-aksent. Blykbaar is dit heel snaaks maar ek hoor dit nie. Ek kan net die resultaat sien en dit is dat iedereen lag. Aanvanklik is sy ’n bimbo, maar geleidelik moet sy die publiek kasty vir die stereotipe. Sy het die lines to become real en dís interessant, en as jy daarvoor ’n taal, ’n aksent, ’n plaats, ’n konnotasie kan gebruik dan moet jy dit doen. Tydens die voorlesing, met die botsing tussen Kreosa en Medea, het Medea (gespeel deur Anthea Thompson) op ’n sekere moment begin huil.

“Daar het twee dinge gebeur: aan die eenkant is sy ’n baie goeie aktrise en het sy die dilemma in die toneel emosioneel aangevoel. Aan die anderkant is haar ma en ouma Afrikaans. Dis nie ’n toeval dat moedertaal “moedertaal” heet en vaderland “vaderland” nie. Taal is so emosioneel, is so dig by jou, omdat dit jou emosionele en passionele identiteit is. Vaderland is die meer rasionele identiteit. Dit is die plek, die wet, die ratio. Sy, die personage Medea, verlaat haar vaderland en wat sy oorhou, is die moedertaal.

“Anthea sê dit is vir haar humbling om Afrikaans te praat; elke woord ráák haar. Dit raak mens so omdat dit die má is: die ma is altyd emosioneel die digste by ’n kind. Die verdoeming van die vader is dat hy nooit die plek van die moeder kan inneem nie. En dis met Antjie en die taal: sy’s so dig by die persona van Medea.”

Ek vra aan Tom hoe hy daaroor voel dat Anthea, ’n Engelssprekende aktrise, juis die een is wat die Opperafrikaans moet dra?

“As buitestaander kan ek my opinie gee, maar dit is net as buitestaander. Ek dink dit werk. Mens vind dieselfde ding by die Vlaminge. Hulle is so op die taal gespits dat dit vernouend en kloustrofobies is. Hulle veg eintlik téén die taal, in plaas van om vír die taal te veg. Die fees van taal is juis die verskillende aspekte van die taal. Ek dink dis goed dat Marthinus Basson nie sê nee dit kan nie, want Anthea se moedertaal is nie Afrikaans nie.

“Marianne Tam, lid van die jurie van die Fleur de Cap Theatre Awards, het vir my gesê dat Anthea baie bekend is in die Engelse teaterkringe. Dit sal interessant wees om te sien of Engelssprekendes vir Anthea sal kom sien as sy Hoogafrikaanse verse praat. Ek hoop so. Dan kan jy op ’n meer effektiewe manier iets aan die Engelssprekendes toon (instead of shouting at them) wat nie moontlik is in hulle taal nie. Hulle het maar één Engels hier, die Suid-Afrikaanse aksent; miskien is dit tog wel ’n bietjie verskillend hoe die Jode dit praat, hoe die Indiërs en Afrikaanssprekendes dit praat. Tog is die verskille nie so sterk soos in Afrikaans nie.”

Tydens die voorlesing van Mamma Medea het Lanoye aan die spelers verduidelik: “Violence on stage is boring, violence in language is not.”

Hoe ervaar die skrywer die omskakeling van geskrewe teks na visuele verhoogproduksie en op watter manier is die skryf van ’n drama anders as die skryf van ’n rubriek of ’n roman?

Subtekste is die sleutelwoord. Subtekste is soos ironie — dat jy die teenoorgestelde bedoel van wat jy sê. Die boteks is net wat daar staan. Die subteks is wat geïmpliseer is. Ek skryf ook gedigte, ek skryf ook rubrieke en romans. Teater is tegnies die moeilikste een. Teater moet jy aanleer. Jy moet dit leer deur te gaan kyk na wat op die verhoog gebeur, deur te luister wat die regisseurs sê, wat dramaturge sê. Die tegniek van ’n dramaturg is dat jy jou eie verhaal moet skryf, ’n eie struktuur maak, wat die basis, die kern van die stuk is, maar jy moet dit só skryf dat verskillende interpretasies moontlik is. Sodra jy dít kan doen, kan jy teater skryf.

“Goeie teater gaan altyd oor ’n dilemma. Elke persoon wat praat, is reg solank hy of sy praat. As elke karakter empatie by die gehoor het, dan het jy werklik goeie teater. Dit het jy by Jason en Medea. Hulle is in ’n love battle en jy weet die pynlikste is dat hulle albei ’n truth het. Die oertoneelstuk vir my is Antigone, waar die wette van die familie en die emosie bots met die wette van die gemeenskap, die wette van die reg. Antigone wil haar broer begrawe. ’n Kreoon sê nee sy kan dit nie doen nie, want haar broer het die reëls en wette van die gemeenskap geskend en daarom moet hy die straf dra wat daarvoor belê is. Dit kan nie verander word nie, want dan word die basis van die gemeenskap aangetas.

“So, die hele konflik is dan dat ons ’n gemeenskap nodig het. Ons het mag nodig, ons moet mag delegeer. Sonder mag het jy nie ’n staat nie en sonder ’n staat het jy chaos. Aan die anderkant, as jy mag het wat geïnstitusionaliseer is, in ’n parlement, politici en politieke partye, dan weet jy ook dat daar magsmisbruik en korrupsie sal wees. Dít is die hele dilemma. Teater is slegs goed, glo ek, wanneer dit oor ’n dilemma gaan. Die tegnies moeilike is dat jy só moet skryf dat die basiese daarvan klop, maar dat regisseurs en akteurs nog ’n interpretasie daarvan kan maak.”

Tafelberg reflekteer in die bril wat Tom vandag gekies het om te dra. Ek kyk op na die berg. ’n Pers tafeldoek vir ons berg vandag en vannag miskien ’n buitjie Purple Rain …

“Een van die victims van apartheid is die taal. Jy kan nie van ’n taal ’n instrument van politiek maak nie. As jy dít doen, dan ly die taal skade. Taal is ’n organisme wat gemaak is vir kommunikasie. Jy kan alleen ’n taal van bevryding hê as jy eers ’n taal van verdrukking gehad het. Die stigma van bevryding wat nou aan Engels kleef, dat dit die taal van die struggle is, sal wegval. Ek kan dit as buitestaander sien. Die afgelope tien jaar wat ek Suid-Afrika besoek, word Afrikaans, volgens my, elke keer meer hip. In die onderwys, regspraak, politiek en alles wat offisieel en posh is, word Engels gepraat. Maar die lekker dinge in die lewe, soos as jy ’n braai het, of as jy ’n jol het, dan praat jy Afrikaans. So dit is unbeatable. Dis ’n lekker taal.

“Daar is twee punte wat kuns en taal bedreig. Die een is politiek, wanneer kuns en taal gebruik word vir ’n politieke agenda. In my oë kastreer en amputeer dit kuns. Kuns moet ook kan gaan oor die dinge wat ongemaklik is, wat nie so polities korrek is nie.

“Die ander amputasie is die amputasie van die snobs, wat kuns en taal net gebruik as ’n statussimbool. Hulle ry ’n BMW en hulle praat goed Afrikaans. Hulle wil kuns sien waarin hulle status vereer word. Hulle gaan Baxter toe om teater te sien, maar hulle applous nie vir die spelers nie, maar vir hulself. Hulle het nou die status bereik waar hulle dit kan geniet. En al die ander mense niet. Dit is ’n groot gevaar, want wat jy dán kry, is kuns wat geïmplementeer word. Sulke mense hou nie van te veel humor in ’n teks nie, want hulle hou nie daarvan om gerelativeer te word nie. Hulle wil vereer word.

“Dit is hoekom so baie jong mense nie van kuns hou nie — hulle dink dit is nie vir hulle nie. Hulle soek ’n jol. Mamma Medea het goed gefunksioneer in Vlaandere, veral vir die jong audience. Baie jong mense het dit bygewoon en dit fantasties gevind omdat hulle opeens kon sien wat die lekker kant van teater is. Dis nie beleërend nie.”


Ek stap by Carlucci’s uit, my hart singend oor die Vlaamse prins wat entertain; en ’n gunsteling Prince-song, “7”, draai rond in my kop:

There will be a new city with streets of gold
The young so educated — they will never grow old
And there will be no death for with every breath
The voice of many colors sings a song
That’s so bold
Sing it while we watch them fall

All seven and we will watch them fall
They stand in the way of love
And we will smoke them all
With an intellect and savoir-faire
No one in the whole universe will ever compare
I am yours now and you are mine
And together we will love through all space and time
So don’t cry — one day all seven will die.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.