Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Max du Preez ... mens, Afrikaan, Afrikaner

Johan Pienaar

Dit gaan goed met Max du Preez. Dit gaan goed met sy vriende ook, vertel hy jou as jy hom vra of hy dink dat dit beter gaan in die nuwe Suid-Afrika.

Ons sit op ’n Dinsdagoggend by Spiro’s in Melville. Max sou die volgende dag Kaap toe vlieg om verder navorsing te doen vir die dokumentêr oor die lewe van koning Moshoeshoe.

Tussendeur is hy behulpsaam met die vestiging van die nuwe Museum vir Demokrasie wat opgerig gaan word op die perseel van die ou World Trade Centre in Kempton Park. Hy skryf ook rubrieke vir verskeie koerante, hy het ’n hoofstuk in John Pilger se nuwe boek voltooi en sy Sondagaand-geselsprogram op kykNET het pas ten einde geloop. Hy boer in die Vrystaat en dien daar in die landbou-unie.

Ek besef gou dat dit nie net goed met Max gaan nie; dit gaan ook besig met hom.

So met die eerste koppie koffie vertel Max my dat hy ’n Afrikaner is, en dat hy niks anders wil wees nie. “Ek wil nie wegkom van my Afrikanerskap nie, dis vir my cool. Nie net is ek ’n Afrikaner nie, ek is ’n boer ook,” benadruk hy sy punt. Hy vertel ook dat hy nog nooit Suid-Afrika wou verlaat nie, ten spyte van twee aantreklike oorsese werksaanbiedings.

Ek vra Max wat hy dink van Dan Roodt en Praag en die stryd wat hulle met die nuwe regering het. “Dan Roodt het ’n etniese fascis geword,” sê hy. “Dan was op Wits — hy was nie eers op ’n Afrikaanse universiteit nie. Hy sê nou mens moet op ’n Afrikaanse universiteit wees om ’n goeie Afrikaner te wees, maar hy was nie op een nie en hy is dan die Superafrikaner. Dan is ’n geleerde man en hy kom uit ’n Engelse agtergrond uit. Hy het geen verskoning vir dié etniese fascisme nie.”

Ek vra hom wat hy dink Dan Roodt se motief is. Hy peins so ’n rukkie en antwoord dat hoewel hy nie weet wat Dan se motief is nie, daar een ding is wat soos ’n goue draad deur al sy argumente loop. “Hy dink Afrika is minderwaardig en Europa is meerderwaardig en ons (Afrikaners) is Europeërs; en al gebruik hy wátter woorde om te sê hy hoort hier, in sy hart hoort hy nie hier nie, hy hoort in België of in Holland of in Parys. Dis daai soort van nuwe intellektuele regses wat nie uit die hart van die volk praat nie. Dan Roodt skryf in die Sunday Times dat daar net twee honderd Afrikaanse skole in die land oor is. Dis ’n blatante leuen. Dan vergeet dat ek in ’n dubbelmediumskool in Kroonstad opgevoed is en ’n beter Afrikaner as ek sal jy nie kry nie.”

Nie dat Max negatief is oor Europa of Afrikaners wat Europa toe gaan nie — hy dink dis ’n goeie idee. Hy praat van Breyten Breytenbach, Uys Krige en André P Brink wat almal in Frankryk studeer het en almal die intellektuele wyshede na Suid-Afrika gebring het en dit hier ingeploeg het.

Maar hy sê ook daar is geen beter universiteite om by te gaan studeer as Potch en RAU en Stellenbosch en Pretoria as jy Afrika wil verstaan nie.

Die gedagte loods Max sommer in ’n heel nuwe rigting in. “Ek probeer my hele lewe lank uitvind hoekom het Afrikaners apartheid ondersteun, want ons is nie bose mense nie. Ek kom uit die hart van die Afrikanerdom uit. Letterlik uit die hart van die Afrikanerdom uit. Ek is ’n nasaat van Paul Kruger aan my ma se kant en my pa se oupa was ’n Boere-generaal gewees.”

Hy verduidelik dat gedurende die twintiger- en dertigerjare van die twintigste eeu die Afrikaner intellektueel arm was. Intellektuele en die bevoorregtes soos Eben Dönges en andere het toe besluit om verder te gaan studeer in Holland en Duitsland, waar die Nazi-denke besig was om pos te vat. Die nuwe mode in akademiese denke was dat daar ’n nuwe manier was om na mense in terme van ras te kyk. “Kyk hoe lyk hy, meet sy kop, meet sy lippe, kyk na sy hare. Ons het nie daai soort fascisme geken nie. Ons het bloot saam met swart mense en bruin mense en Khoi en die Boesmans, die San, gelewe. Daar was nie ’n ideologie daaroor nie. Ek probeer nie sê daar was ’n groot liefde nie, maar dit was doodgewone kulturele botsings,” gesels hy verder.

Hy vertel die storie van die eerste president van die Vrystaat, Josias P Hofman, en koning Moshoeshoe wat dierbare vriende was en by mekaar gekuier het. Hofman het Moshoeshoe aanvaar as sy koning en gesê dat die Vrystaatse Republiek die kuiken is wat onder Moshoeshoe se vlerk gaan sit.

Max voel dat die Afrikaner-intellektuele toe teruggekom het en die nuwe Nasionaal-Sosialistiese denke verkoop het aan die Afrikaner, wat eindelik tot die stigting van die Ossewa-Brandwag gelei het en die basis van apartheid gevorm het. Dat apartheid eintlik sy basis gevind het in die vreemde Westerse denke van die groep intellektuele.

So saam met die tweede koppie koffie draai die gesprek na Pieter van Zyl toe wat onlangs sy 15 minute van roem opgeëis het met ’n plettervat op ’n Drienasies-skeidsregter. Hy sou graag wou gehad het Beeld moes vir Steve Hofmeyr vra of hy die aksies van Pieter van Zyl ondersteun, want dis presies dieselfde ding, sê Max.

Op ’n vraag of daar nog ’n mentaliteit is onder Afrikaners om dinge reg te slaan, het hy die volgende te sê: “Daar is ’n oorblyfsel onder ’n klomp van ons mense van 'mag is reg’, want ons is so lank gewoond daaraan dat as jy nie jou sin kry nie, gaan donder jy die ou.

Dit lê nogal in ons geskiedenis ook. Ons kom uit ’n gewelddadige geskiedenis en dit deel ons met ons swart landgenote. Mens sou hoop dat mense dit sou afsweer, maar daar is die onverdraagsaamheid — 'Ons is reg, almal is ons vyande.’” Dis egter darem nie ’n oorweldigende ding nie, sê hy as jy hom vra of dit iets is wat kan verbeter.

Max is gelukkig in die nuwe Suid-Afrika. Sekere goed werk nie so goed as vantevore nie, maar die meeste werk beter. Hy kan nou goed skryf en sê waarvoor die vorige regering hom sou hof toe sleep en waarvoor sy kantoor opgeblaas is. Hoewel hy dink dat daar ’n mate van onverdraagsaamheid ingetree het by die nuwe regering oor kritiek teen hulle gemik, glo hy nie dat mens ’n koerant moet begin net om die ANC te opponeer nie.

Vrye Weekblad was nie gestig om die Nasionale Party te kritiseer nie, maar om die Afrikaner los te maak. Ek droom soms saans wat mens sou kon doen vandag met ’n koerant soos Vrye Weekblad wat nie apartheid-bagasie gehad het nie. Vrye Weekblad sou ’n wonderlike rol kon speel nou, maar die ekonomiese werklikhede het nie verander nie.

“Ons is nie ’n land wat hou van Mavericks nie. Ons is nie ’n land wat hou van regtig onafhanklike gatskopper-tipes nie. As jy dit wil wees dan is dit sweet, maar jy trek aan die kortste ent en jy moet dit maar nou net weet. As jy bereid is om daarmee saam te leef, dan is dit dit en dis hoe ek my lewe geleef het.”

Die pers moet volgens Max nie nou ’n veldtog teen die ANC begin soos die Mail and Guardian nie, maar ’n veldtog teen korrupsie, wanadministrasie en swak bestuur. Hy verwys na Danie Goosen se brief waarin hy hom, Marlene van Niekerk, en Antjie Krog gevra het waar hulle sin vir demokrasie is oor die regering se taalbeleid.

“Die punt is dit en dis belangrik: die stelsel wat ons nou het, die sisteem, is regverdig. Ons grondwet is ’n manjifieke een. Ons moenie die grondwet hier aanval nie. Ons moet die regering van die dag aanval, ons moet die amptenare, die President en ook die private sektor wat droogmaak, aanval.”

Hy meen dat Danie Goosen-hulle nie ’n veldtog voer vir ’n goeie demokrasie nie, maar dat hulle weer op ’n etniese perdjie gaan klim het. Hulle beveg die regering net wanneer dit kom by wit minderheidsregte en Afrikaans.

Hulle neem nie deel aan gesprekke oor buitelandse beleid of die regering se posisie oor Vigs nie. Dit maak hulle nie goeie burgers nie, dit maak hulle etniese burgers. Dis nie nodig nie. Ons behoort eerstens te doen wat die beste is vir al die burgers van die land. Die grondwet beskerm die regte van mense wat etniese groepe wil vorm.

“Dis tyd dat Afrikaners ophou om politiek as Afrikaners te bedryf en dit begin bedryf as burgers van die land. Die Afrikaner in die land is ryk en dis tyd dat hulle begin omgee vir ander mense.

“Ek droom van ’n ding. Iets soos die Helpmekaarfonds. Die Helpmekaarfonds het tienduisende Afrikaners deur universiteit gehelp. Ek droom van ’n nuwe Helpmekaarfonds wat Afrikaners begin met Afrikanergeld en sê, 'Onthou julle die Helpmekaarfonds? Hier is die nuwe Helpmekaarfonds. Ons is nou geholpe dankie, nou help ons ander.’ En dan help jy Afrikaners ook, maar nie omdat hulle Afrikaans is nie, maar omdat hulle behoeftig is. Dié soort van gebaar kan simbolies belangrik wees,” meen Max terwyl hy gesels oor die rol wat Afrikaners in Suid-Afrika behoort te speel.

“Die vaardighede wat die Afrikaner opgedoen het toe hy die land regeer het, behoort teruggeploeg te word in Suid-Afrika in. Nie net sal dit die res van die burgery baat nie, maar dit sal ook aan die Afrikaner ’n sense of belonging gee, want Afrikaners voel half stief. Dit lê aan die bodem van baie van die goed wat verkeerd gaan.

“Ons voel so ’n bietjie skaamkwaad — skaam-oor-die-verlede-bang-vir-die-toekoms soort van ding. Daar is ook ’n rede daarvoor. Ek dink Thabo Mbeki kan nie wag om ’n raskaart uit te haal nie. Dis moeilik vir Afrikaners om terug te sit en te sê eintlik is wat hy sê, korrek. Ek dink nie hy behoort dit nog te sê nie, maar wat hy sê, is korrek en dit laat ons half soos stiefkinders voel in ons eie land.”

“Dit is ’n baie negatiewe ding en ons moet dit self afwerk; ons moenie vir Thabo sê kom omhels ons nie. Ons moet vir onsself sê ons gaan onsself inlewe in die harte van swart Suid-Afrikaners wat nog vooroordele teenoor ons het. Ons gaan daai vooroordele afbreek deur ons optrede en wie ons is.”

Max du Preez ... mens, Afrikaan, Afrikaner. Stewig in Afrika gewortel, en hy gaan nog lank hier wees. Van die regse voorspellings dat hy een van die eerste mense gaan word wat die land verlaat, of dat die nuwe swart regering heel eerste van hom ontslae gaan raak, het gelukkig niks waar geword nie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.