Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die skrywer as argeoloog

Marguerite Black

Dalene Matthee ontsyfer die potskerwe

Dalene Matthee kan beskou word as ’n argeoloog wat die “potskerwe” van die Afrikaanse kultuur en identiteit opdiep en dan, ná deeglike navorsing, die stukke aanmekaar lym om ’n betekenisvolle geheel te skep.

Marguerite Black het met haar gesels.

MB: Wat het u geïnspireer om Pieternella van die Kaap te skryf?

    DM: Wat het my geïnspireer vir Pieternella? Die heerlikheid van geskiedenis — dat dit dikwels die enigste venster is waardeur ’n mens kan klim om na ’n stuk waarheid te gaan soek. Hard en eerlik te soek.

MB: Die tema van ras en identiteit staan sterk in u oeuvre. Hoekom hierdie belangstelling?

    DM: Ras en identiteit in my werk? Die samestelling / DNS / persoonlikheid / Iets van die ras waartoe ’n mens behoort, gee jou ’n uniekheid. Sommige rasse dwing groot bewondering by my af en dus “kuier” ek graag by hulle; dit is dikwels ou rasse; soms “nuwe” rasse.

MB: Een van die kwessies wat sterk na vore kom, is die kwessie van bloedvermenging. Pieternella van Meerhof, dogter van Eva-Krotoa en die Hollandse sjirurgyn Van Meerhof, is die beliggaming van hierdie tema. Sy word dikwels na verwys as ’n “halfslag-Hottentottin” of “halfbloed”. Die feit dat sy met ’n wit man, Daneél, trou, beteken sy is meer bewus van haar “andersheid”. Selfs aan die einde van haar lewe soek sy nog verbete na haar identiteit, wanneer sy sê: “Om ’n halfslag- Hottentottin te wees, is nie erg nie. Die erg kom wanneer ander jou as halfslag-mens begin sien. Die ergste kom wanneer jy jouself as halfslag-mens begin sien.” (2000: 608) Voel u dat bruin Afrikaanssprekendes in die vorige bestel dieselfde verwarring beleef het en, indien wel, voel u dat daardie verwarring tans aan die verdwyn is?

    DM: Bloedvermenging en verwante aangeleenthede. Hier is die antwoord moeilik en grotendeels geskool op vermoedens en dinge wat ek waarneem. As ek ’n goeie lemoen en ’n goeie suurlemoen in een glas meng, kry ek ’n goeie mengsel. Pieter van Meerhoff se dagboeke, sy handskrif, sy opdragte en so meer het my ’n gegronde rede gegee om af te lei dat hy ’n hoogs intelligente man was. ’n Agtermekaar man. Eva / Krotoa, die vrou uit die dagboeke van Van Riebeeck en die Kerk en ander, die beskikbare inligting en waarnemings van besoekende reisigers oor die Hottentotte en hul gebruike, het van Eva vir my ’n besondere slim vrou gemaak. Ek het dus twee besondere mense gehad om mee te werk. Plus hul dogter, Pieternella, ’n halfslag-Hottentottin. Om reeds in daardie tyd ’n mengsel van Deense en Hottentot bloed te gewees het, moes ’n moeilike ervaring wees; en jou tussen die klomp Europeërs iewers soos ’n halfslag-mens laat voel het.

MB: Dink u dat u nuwe boek “ons huidige selwe in kontak bring met ons voorafgaande selwe in die verlede”? (Insig, April 2000)

    DM: Ek hoop so. Ons voorafgaande selwe en huidige selwe is inmekaar gestrengel en ons moet vir ons selwers daaruit sin graaf. Sodat ons by ons eie waarhede kan kom.

MB: In die National Geographic staan daar in ’n artikel oor Londen, dat hibriditeit ’n sekere energie skep wat die Heilige Graal is van alle samelewings, omdat hibriditeit alle ontstellende onderskeidings afbreek (Vol.197, No. 6, Junie 2000). Word hibriditeit as ’n positiewe energie gesien in die Afrikaanse milieu?

    DM: Goeie lemoen, goeie energie / elektrisiteit. Goeie suurlemoen, goeie energie / elektrisiteit. Voeg die twee saam en jy kry ’n nuwe energieryke vrug. Altans, dis hoe dit vir my wil lyk. (Dieselfde geld ook swak vrugte; swak voortplanting van swak energie.) Gelukkig het hibriditeit die geneigdheid om die sterkes nog sterker te maak en die swakkes stadig uit te skakel. Dikwels, wanneer ek die sterkes in die Afrikaanse genepoel bedink en bekyk, vind ek die tekens van ’n baie positiewe energie.

MB: Is daar nog steeds ’n paternalisme vanaf die Afrikaner teenoor die bruin Afrikaanssprekende?

    DM: Paternalisme. Ja, nog steeds — MAAR nie meer net verfoeilik nie. Miskien meer die begin van ’n les waaruit respek en waarheid moet opstaan.

MB: Hoe beskou u die Afrikaner se verwerking van apartheidskuld ná apartheid?

    DM: Die tragedie is vir my die feit dat die Afrikaner grootliks ’n lamgeslaande skuldige is wat dikwels nie weet hoe hy homself só kon laat mislei het nie.

MB: In Pieternella van die Kaap beskryf u Maria, Pieternella se “Hottentottin-dogter”, as ’n “potskerf-kind”. Tot watter mate pas hierdie begrip vandag nog by bruin Afrikaanssprekendes?

    DM: Miskien meer as wat algemeen besef word. Hoe harder die Afrikaner met sy skuldigheid baklei, hoe lammer raak hy. Hoe harder ’n potskerf-mens met sy identiteit / waarde baklei, hoe lammer raak hy. Net ’n diep inner journey kan albei groepe son toe help.

MB: Ook in Fiela se Kind beeld u ’n “wit-bruin” verhouding uit tussen Fiela, die matriargale bruin “ma” en Nina, die wit meisie (“weggooikind”/ “weeskind”). Kan u kommentaar lewer op die verloop van hierdie verhouding tussen bruin en wit Afrikaanssprekendes, oor die algemeen, deur die jare?

    DM: Daar is ’n band tussen bruin en wit Afrikaans sprekendes wat dieper as diep is. Moenie vra waar dit vandaan kom nie. Dis net eenvoudig dáár. Persoonlik dink ek dis ’n enorme Kosmiese les wat hierdie twee groepe besig is om te leer.

MB: Een van die karakters in Pieternella van die Kaap, Anna, word deur die ander karakters beskryf as “die malmeid” of “simpel slavin”. Maar sy het bonatuurlike en magiese kragte, soos die vermoë om orkane en geboortes te voorspel. Waarvan is sy simbool, in rasseterme gesien?

    DM: Die malmeid. Hulle ervaar haar uniekheid as “mal” omdat hulle haar andersheid, haar “verhewe” kontak met die onsienlike nie verstaan nie, selfs vrees. Sy’s anders, en andersheid moet gevrees word, dis die gebruik.

MB: As u self moet voorspel: Waar staan Afrikaans oor sowat tien jaar?

    DM: Ek het in werklikheid nie ’n voorspelling te maak oor Afrikaans nie. Ek weet net dat ’n mens en sy taal sy oorlewing moet verdien.

MB: Met watter van die karakters in Pieternella van die Kaap, vereenselwig u uself en hoekom?

    DM: Ek sou in ’n vorige lewe Eva / Krotoa se suster kon gewees het. Iewers het ’n heilige respek vir die oermens, die regte mens, in my gewortel.

Dalene Matthee se boeke reflekteer haar fassinasie met die uitkringende identiteit in die Afrikaanssprekende milieu en die displacement en verwarring wat by mense voorkom wat nie by die kern van hul wese kan uitkom nie. Pieternella van die Kaap is ’n sprekende voorbeeld hiervan en die kompleksiteit van die kwessie word direk gekonfronteer en verbeeldingryk aangespreek.


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.